'n Fabliau (Lat.: fabella; Fr.: fableau; Pikardies (dialek van Fr.): fabliau, mv.: fabliaux) is 'n komiese, dikwels anonieme vertelling. Die woord fabliau is in noordelike Frans die verkleiningsvorm van fabel. In terme van morele inhoud is die fabliau nader aan die roman as die parabel. Dit is dikwels deur jongleurs (professionele storievertellers) geskryf. Die fabliau was in die 12de en 13de eeu (die Middeleeue) in Frankryk gewild; dit was in die 14de eeu in Engeland gewild. Dit word ook soms die contes à rire en vers genoem (vgl. Conte). Blykbaar het die fabliau geen literêre voorloper in die Weste gehad nie, maar in die 12de eeu het die terugkerende kruisvaarders dit uit die Ooste saamgebring. Die literêre genre wat die naaste daaraan kom, is Yannis Aesopos se fabels, maar dit het nie so 'n didaktiese en morele inslag soos die fabel nie.

Die oudste bekende fabliau is Richeut (1159–1175), hoewel sommige kritici Esopet ("klein Aesopos") uit die 8ste eeu van Marie de France ook as 'n fabliau beskou. Richeut word as 'n tipiese fabliau beskou, maar besit 'n klompie unieke kenmerke, bv. dit is buitengewoon lank (1 019 reëls), dit gebruik die sg. stertrym i.p.v. agtsillabige verse, en bloedskande kom daarin voor. Hierdie genre beleef sy bloeitydperk in die 13de eeu. Die laaste fabliaux kom aan die einde van die 14de eeu voor. Ongeveer 150 Franse fabliaux het bewaar gebly.

'n Fabliau het gewoonlik uit 200–400 agtsillabige verse bestaan wat paarsgewys rym (koeplette). Tog is daar buitengewone gevalle van fabliaux wat uit minder as 20 reëls bestaan en ander wat uit meer as 1 300 reëls bestaan. Die meeste fabliaux is anoniem hoewel 'n paar skrywers aan ons bekend is: sommiges was amateurs, veral Philippe de Beaumanoir, terwyl ander professioneel was, soos Je(h)an Bodel (hy het ook 'n aantal chansons de geste geskryf) en die troebadoers Rutebeuf, en Gautier le Leu (Gautier le Long).

Die fabliau word gekenmerk  deur erotiese en obsene onderwerpe. Die humor daarin was gewoonlik kru en het teen die grein van die kerk en adellikes gegaan. Die fabliau konsentreer op die uitbeelding van die elemente van die liefde wat die digters van die verhewe liefde, soos Ovidius in die Ars Amorata (Kuns van die liefde) en Chrétien de Troyes in Le chévalier de la charette (Die ridder van die koets), uitgelaat het. Anders as die exemplum het die fabliau geen morele strekking nie en is daarom verwant aan die Middeleeuse boerde wat ook 'n kort klugtige vertelling was. Die fabliau word gekenmerk deur duidelike detail en realistiese waarneming. Baie fabliaux is gebaseer op eenvoudige grappe en woordspelings, bv. Estula: dit kan iemand se naam wees, maar dit kan ook "Is jy daar?" beteken. Ironiese situasies kom dikwels in die fabliau voor, bv. in een fabliau word 'n man van verdrinking gered met dieselfde boothoek wat sy oog uitsteek.

Aan die begin van die 16de eeu het die fabliau geleidelik verdwyn en is deur kortverhale (prosa) vervang wat sterk deur die fabliau beïnvloed is. Beroemde Franse skrywers soos Molière (Jean-Baptiste Poquelin), Jean de la Fontaine en Voltaire (François-Marie Arouet) is sterk deur die fabliau beïnvloed.

'n Reeks geykte karakters kom in die fabliaux voor, soos die verkulde eggenoot, die minnaar, die onkuise priester, gierige kerklikes, en dom boere. Die status van die boer het gewissel na gelang van die gehoor vir wie die fabliau geskryf is: as dit vir die adellikes geskryf is, word die boere as dom en gemeen uitgebeeld; as die fabliau vir die laer klasse geskryf is, is laasgenoemde dikwels uitgebeeld waar hulle die oorhand oor die kerklikes gekry het.

Baie van die fabliaux se plots kan teruggevoer word na die folklore; sommiges het hulle wortels in die Klassieke literatuur, en ander in die Asiese literatuur. Sommige fabliaux is egter só eenvoudig dat dit moontlik is dat hulle spontaan kon ontstaan het.

Een van die vroegste fabliau-skrywers wat aan ons bekend is, is die troebadoer Rutebeuf/Rustebuef (dit was sy skrywersnaam). Ander bekende fabliau-skrywers is o.a. Henri d'Andel, Durand van Douai, die reeds genoemde Phillipe de Beaumanoir en Je(h)an Bodel en Phillipe de Rémi (hy was Philippe de Beaumanoir se pa). Omdat die milieu en ruimte waarin die gebeure in die fabliaux afgespeel het altyd realisties was, kan dit as realistiese kuns beskou word. Bekende fabliaux is Le villain mire (Die lelike gesig; anoniem; 13de eeu) en Les trois aveugles de Compiègne (Die drie blinde mans van Compiègne; deur Cortebarde; 13de eeu).

Die fabliau het 'n groot invloed uitgeoefen op die latere literatuur. Die farce (Fr.: opvulling) uit die 15de eeu word beskou as 'n voortsetting van die fabliau. Die fabliau het ook as inspirasie gedien vir verskeie ander Franse skrywers, bv. vir Molière vir sy Le médecin malgré lui; vir La Fontaine vir sy Fables, en vir die veelsydige François Rabelais. Die fabliau is in wese 'n Franse vorm, maar dit kom ook voor in Engels by Chaucer ("The Miller's Tale" uit The Canterbury Tales), in Italië by Boccaccio (Il decamerone), in Rusland in die werk van die 18de-eeuse digter I. A. Krylov en in Duitsland in die poësie van C.F. Gellert. (Vgl. ook klug (Middeleeuse).)

 

Bibliografie

Barbazan, E. 1976. Fabliaux et contes des poètes français des XIe, XIIe, XIIIe, XIVe et XVe siècles. Genève: Slatkine Reprints.

Bodel, J. en P. Nardine. reds.  1974. Fabliaux. [kritiese uitg. met aant’e en glossarium]. Paris: Nizet.

Burrows, D. 2005. The Stereotype of the Priest in the Old French Fabliaux: Anticlerical Satire and Lay Identity. Oxford: Peter Lang.

Guiette, R. 1981. Fabliaux et contes. Paris: Stock.

Hellman, Robert; Richard F. O'Gorman, Ashley Bryan. 1976. Fabliaux: Ribald Tales from the Old French. Westport, Conn.: Greenwood Press..

Huot, Sylvia. 2007. Madness in Medieval France. Identities found and lost. [2de uitg.] Oxford: Oxford University Press.

Menard, P. 1983. Les fabliaux: contes à rire du Moyen Age. Paris: Presses Universitaire de France.

Mercadal, C. 1979. Fabliaux et contes du Moyen Age. [nuwe, uitgeb. uitg.] Paris: Hachette.

Omont, H. 1932. Fabliaux dits et contes en vers francais du 13. siècle [faksimilee-uitg.]. Genève: Slatkine Reprints.

Kyk ook:

Baldwin, John W. 1994. The Language of Sex: Five Voices from Northern France around 1200. Chicago: University of Chicago Press.

Noomen, W. en Nico Van Den Boogaard. reds. 1983-1998. Nouveau recueil complet des fabliaux. Van Gorcum: Assen. 10 dle. ['n Volledige versameling van die fabliaux.]

 

Anna-Marie le Roux

(Hersien Julie 2018)