Die Middeleeue is die periode tussen die Oudheid en die RENAISSANCE. Dit word dus as 'n middelperiode beskou, vandaar die benaming Middeleeue. Die Grote Nederlandse Larousse encyclopedie beskryf dit soos volg: "... de periode tussen de ondergang van de klassieke cultuur en de wedergeboorte daarvan was een middentijd" (Anon, 1976: 275). Vir hierdie middeltyd is die term media tempestas gebruik deur Johannes Andreae in sy lofrede oor Nicolaas van Cusa. Gedurende die 16e eeu is verskeie variante gebruik, maar die term wat vanaf die 17e eeu algemene inslag gevind het, is die term medium aevum. Dit is veral gebruik deur Georg Horn in 'n handboek oor kerkgeskiedenis en deur Christophorus Cellarius (Keller) in 'n handboek wat oor algemene geskiedenis handel (getitel Historia medii aevi a temporibus Constantini Magniusque ad Constantinopolim a Turcis captam wat vertaal as: Die geskiedenis van die Middeleeue vanaf die tyd van Konstantyn die Grote tot die inname van Konstantinopel deur die Turke).

Tradisioneel word die tydperk wat die Middeleeue omvat op die volgende datums gestel: van ongeveer 476 (die val van die Heilige Romeinse Ryk) tot 1453 (die val van Konstantinopel (Istanboel)), dus vanaf die 5e tot die 15e eeu. Daar bestaan nie eenstemmigheid oor hierdie datums nie, maar dit is wel die datums wat die algemeenste aanvaar word.

Klasseverdeling was in die Middeleeue geweldig prominent. Daar was drie stande, nl. die kerklikes, die adelstand, waaronder die ridderstand ressorteer, en die burgery. Die adellikes het wel gesag gehad, maar dikwels net in naam. Die eintlike gesag was in die hande van die Rooms-Katolieke kerk, omdat die geestelikes die geleerdes van die tyd was. Hulle het ook 'n groot aandeel gehad in die aanstelling van die adellike heerser en die bepaling van sy pligte. Vergelyk Brett (1984: 142) se beskrywing in The New Encyclopaedia Britannica: "The church, which played so large a part in creating oaths and prayers insisted upon his obligation to protect the church, the defenseless, and the poor, to make war upon the heathen in the service of Christ, and to ensure that justice was done". Die pous was eintlik die president in die Middeleeue: "Around the pope, conducting an everincreasing volume of business, there grew up all the institutions of a centralized monarchy" (Brett, 1984: 154).

Die twee Middeleeuse periodes wat veral van belang is, is die periode van 1170 tot 1275 en 1275 tot 1430.

Gedurende die eerste periode word die stede toenemend belangrik, hoewel 'n mens op die platteland nog landbougemeenskappe gekry het. Die feodale gesag (die Middeleeuse leenstelsel waarby landgoedere van die besitter in leen gegee is) het gegeld maar — soos gesê — die eintlike gesag was in die hande van die kerk, ook op die gebied van die literatuur. Daar tree deur die toenemende verstedeliking 'n verandering in die gemeenskap in. Dit is ook die tyd waarin die mense oor geloofkwessies besin. Veral van belang is Thomas van Aquino se Summa theologica (teologiese samevattings). Dit is 'n boek met leerstellings wat die gebied van die teologie en die wysbegeerte dek. In hierdie periode word die wetenskap gestimuleer, so ook die literatuur. Die bevolking toon 'n toename in getalle, sodat die landboumetodes verander en verbeter moet word. Dit veroorsaak op sy beurt 'n stimulering in die handel en nywerheid.

Die tweede periode word gekenmerk deur probleme en konflikte. Hongersnood breek uit en daarmee saam allerlei epidemies. Die gesag verskuif nou van die pous na die hande van wat 'n mens die nuwe nasionale magte kan noem, nl. Frankryk, Engeland, Boergondië, Kastilië en Aragon. Die gesag was nou in die hande van die vorste. Hierdie gesagverskuiwing het nie op 'n vreedsame wyse plaasgevind nie. Die Honderdjarige Oorlog (1337 — 1453) vind bv. in dié tyd plaas. Dit is ook die tyd waarin die Turke die Bisantynse Ryk aanval. Talle nuwe ontdekkinge vind plaas, bv. nuwe lande, buskruit en vuurwapens word uitgevind, asook die kompas en die boekdrukkuns.

Die nasionale grense was nie in die Middeleeue sterk gedefinieer nie. Dit sien 'n mens bv. in die literatuur. Elckerlijc behoort nie net aan die Nederlandse literatuur nie, maar ook aan die Engelse (Everyman) en die Duitse literatuur (Jederman). Die Roelantslied bestaan nie net in Nederlands nie, maar ook in Frans as die Chanson de Roland. Vir die Nederlanders was Hendrik van Veldeke 'n Nederlandse skrywer, maar die Duitsers het hom op hulle beurt as Heinrich von Veldeke, 'n Duitse skrywer, beskou. Die interkulturele en "internasionale" verkeer was dus lewendig.

Daar word in die volksmond dikwels gepraat van die donker Middeleeue, maar dit was in der waarheid 'n periode van groot kreatiwiteit, nie net op die gebied van die wetenskap en handel nie, maar ook op die gebied van die literatuur.

Die literatuur kan ingedeel word in dié van die ridderstand, die geestelike literatuur (waaronder die *mistieke literatuur val) en dié van die burgery.

Verder kan die Middeleeuse literatuur verdeel word in werke wat in Latyn geskryf is en werke wat in die volkstaal geskryf is. Die Latynse literatuur kan beskou word as 'n voortsetting van die laat-Romeinse en vroeg-Christelike literatuur, maar het tog 'n eie karakter gekry a.g.v. kulturele invloede. Subgenres wat beoefen is, is kerkgeskiedskrywing, preke, Bybelkommentare en grammatikaboeke. Enkele skrywers van belang is Gregorius die Grote van Italië (die Moralia in lob — 'n kommentaar op Job, Cura pastoralis — pastorale sorg, en die Dialogi), Benedictus van Nursia (Regula monachorum — riglyne vir monnike), Cassiodorus Senator (Lectiones divinae et humanae — Goddelike en menslike (d.w.s. sekulêre) voorlesings), Isodorus van Seville (Etymologiae) en Paulus Diaconus (Homilarium — 'n preekbundel van die beroemdste kerkvaders, en Historia Langobardorum — geskiedenis van die Longobarde), almal van Italië. Uit Engeland is daar bv. Beda Venerabilis met sy Historia ecclesiastica gentis Anglorum - die kerkgeskiedenis van die Engelse volk, De arte metrica — oor versmaat-kuns, en De temporum ratione — 'n kort chronologie van die eeue. Ander belangrike skrywers is Alcuinus (Epistolae), Alanus van Lille (De arte praedicatorium — oor preekkuns), William van Malmesbury (Gesta regum Anglorum — die geskiedenis van die Engelse konings); en teen die laat Middeleeue, vroeë Renaissance, Erasmus van Rotterdam wat die eerste Bybelteks in Grieks in die vorm van 'n gedrukte boek laat uitgee het.

Tydens die kerstening is die literatuur wat tot dusver mondeling oorgelewer is, op skrif gestel.

Die oudste Middeleeuse literatuur wat in die volkstaal geskryf is, is deur die geestelikes geskryf. Dit toon 'n vermenging van Christelike en tradisionele (paganistiese) elemente.

Van die oudste oorgelewerde literatuur is die ou Ierse literatuur wat voorkom in die vorm van koningsages, jagtersages (vgl. SAGE) en seereise, en die Oud-Germaanse verhale, veral dié wat handel oor Karel die Grote en sy volgelinge, bv. die Chanson de Roland, die siklus van Willem van Oranje, wat sentreer om die figuur van Willem van Oranje, bv. die Chanson de Guillaume en die siklus van Doon van Mayence, bv. Renaudde Montauban.

Die CHANSON de geste ('n gedig wat van die heldedade van meestal historiese figure vertel) is hoofsaaklik 'n Franse vorm maar het ook in die ander tale voorgekom, soos Nederlands en Duits. Die chansons is mondeling voorgedra deur TROEBADOERS of jongleurs. Hulle het hulleself begelei op die vielle, 'n eenvoudige snaarinstrument. (Vgl. RIDDERROMAN.)

Naas die chanson de geste kom die roman (Lat.: romanice: in die Romaanse taal, dus die volkstaal) courtois voor, d.i. hoofse literatuur. In die hoofse literatuur gaan dit om hoflikheid en vrouediens — vandaar die benaming hoofse literatuur. Dit kom voor in prosa- sowel as versvorm. "As literature, it ministered frankly to the imagination and fancy; the claims of clarity might be ignored for the sake of the thrills awakened by marvellous episodes and the endless surprises of unexpected events. No longer declaimed on the sing-song of the juggler's set tone but carried forward more nimbly on the tripping rhymed couplet of eight syllables, the romans let themselves go and reached inordinate length" (Cazamian, 1960: 19). Vier siklusse kan onderskei word. Tot die eerste siklus behoort die Eracle van Gautier d’Arras. Die tweede siklus word die romans bretons genoem. Min is hieromtrent bekend. Die derde siklus bestaan uit die lais, dit is kort *romanses in versvorm. Die meeste is geskryf deur Marie de France. Die vierde siklus word die roman d'aventures genoem. Baie van hierdie romanses is anoniem. 'n Naam wat wel bekend is, is dié van Chrétien de Troyes: "He stands at the source of several moments, or fashions, that shaped the course of fiction directly during his age, and indirectly throughout the whole subsequent history of the novel. In his main works he takes the lead towards new motives of interest" (Cazamian, 1960: 21). Van sy bekendste werke is Tristan, Erec et Enide en Lancelot, ou le chevalier de la charette.

Die SATIRIESE, didaktiese en ALLEGORIESE poësie neem 'n belangrike plek in die Franse Middeleeuse literatuur in. Somtyds is al drie eienskappe in een werk teenwoordig. Voorbeelde is die Roman de Renart en die Roman de la rose (1235) van Guillaume de Lorris en Jehan de Meung.

Ander genres en subgenres wat beoefen is, is die FABLIAU, geskiedskrywing, die KRONIEK en die DRAMA. Laasgenoemde het voorgekom in die vorm van die jeu (KOMEDIE), bv. die Mystère d'Adam. 'n Ander soort jeu wat voorgekom het, sentreer rondom die lewe van 'n heilige, bv. Jean Bodel (vgl. TROEBADOERS) se Jeu de saint Nicolas. Die pastourelle was ook 'n vorm van die komedie, bv. die Jeu de Robin et Marion. Cazamian (1960: 48) noem dit die eerste komiese opera. In die later Middeleeue figureer die MIRAKELSPEL, bv. die Miracles de Notre-Dame. Die MORALITEIT het ook voorgekom, asook die sotties en die farce (vgl. KLUG (MIDDELEEUSE) en PROVENSAALSE LITERATUUR).

'n Ander subgenre wat in die Franse Middeleeuse literatuur voorgekom het, is die diereverhaal (vgl. DIERE-EPOS). Dit het d.m.v. Latyn sterk ingang gevind, bv. die baie bekende Roman de Renert (12e eeu).

Vanaf die 13e eeu het die troebadoerliriek (vgl. TROEBADOER en PROVENSAALSE LITERATUUR) 'n groot invloed op die Italiaanse Middeleeuse literatuur uitgeoefen. Hieruit het 'n eie tiperende styl ontwikkel, genaamd die dolce stil nuovo (vry vertaal: die soet nuwe styl). Christelike motiewe kom naas paganistiese motiewe voor.

Die Italiaanse Middeleeuse mistieke literatuur is dikwels allegories van aard. Die allegoriese literatuur bereik sy hoogtepunt in Dante se Divina commedia, waarin hy 'n reis deur die hel, vaevuur en hemel beskryf. Dit is ook een van die eerste werke wat in Italiaans, en nie Latyn nie, geskryf is.

Vanaf die 13e eeu het baie werke in die volkstaal (Italiaans) voorgekom. 'n Hele aantal subgenres is beoefen, bv. die BALLADE, die LIED, die ABELE SPEL, die MIRAKELSPEL, die passiespel, die MISTERIESPEL, die MORALITEIT, die LEERDIG, die KLUG en geskiedskrywing. Hierin kom 'n vermenging van realisme, moralisme, kritiek, satire, simboliek en mistisisme (vgl. MISTIEK) voor.

In die geheel beskou, neem die Italiaanse Middeleeuse literatuur nie so 'n belangrike plek in nie, omdat dit nie 'n baie vrugbare tydperk in die Italiaanse literatuur was nie.

In die Engelse literatuur, daarenteen, was die Middeleeue 'n vrugbare periode. Dit was 'n tyd wat gekenmerk is deur sosiale onrus en die Swart Dood en die Wars of the Roses. Dit was ook 'n tyd van toenemende nasionalisme en die eerste spore van die Humanisme is opmerkbaar.

Baie van die literatuur is deur geestelikes geskryf, maar "a few compositions seem wholly secular, and two of them (Wife's Lament and Eadwacer) purport to be by women. But even here we cannot be certain of lay authorship; in every period of English literature clergymen have composed works secular enough in tone and spirit, and a male author might perfectly well make a woman his mouthpiece" (Malone & Baugh, 1967: 22). Individuele skrywers wat veral van belang is, is Bede, Alfred, Aelfric, Cynewulf, Caedmon en Chaucer.

Die Engelse Middeleeuse literatuur toon 'n ryk skat van misteriespele. Die epiese gedig is 'n subgenre wat druk beoefen is. Die bekendste voorbeeld hier is die anonieme Beowulf (8e eeu). Dit word beskou as die oudste bestaande epiese gedig en die beste in die moedertaal. Teen die einde van die Middeleeue was die moraliteit (Everyman) ook gewild.

Die interlude kom ook dikwels voor. Die volksdrama was gewild onder die burgery. Op die gebied van die prosa kan Wycliffe se preke, sy vertaling van die Bybel en Mandeville se Travels genoem word. Dit is ook die tydperk van die kroniek (veral die middel-Engelse periode) en die romanse. Laasgenoemde is in prosa- sowel as versvorm geskryf. Sir Gawein and the Green Knight word as die beste voorbeeld hiervan beskou. Die Engelse Middeleeuse literatuur bereik 'n hoogtepunt in die werk van Chaucer se The Canterbury Tales (laat 14e eeu). Die ballade was ook 'n gewilde subgenre.

Ander Engelse Middeleeuse subgenres wat beoefen is, is die Christelike epiese gedig, bv. Andreas en Judith; die ELEGIE wat persoonlik en religieus van aard is, bv. "The husband's message", "The wanderer and the seafarer" ('n sekulêre elegie) en die religieuse liriek, bv. "Caedmon's hymn"; Caedmoniaanse gedigte waarin 'n mens 'n vermenging van paganistiese elemente en Bybelse temas het; Cynewulfiaanse gedigte waarin die Middeleeuse retoriek vooropstaan, bv. "Juliana" en "Elene"; historiese strydgedigte, bv. "The battle of Maldon"; die towerspreuk (vgl. SPREUK), RAAISEL en gnomiese vers. Laasgenoemde is 'n gedig wat 'n lewenswaarheid verwoord op 'n kort, bondige, manier.

Die Duitse Middeleeuse literatuur lewer ook heelwat materiaal op. Dit kan ingedeel word in die hoofse ridderlike epiek, die Middelhoogduitse liriek en die helde-epos (vgl. EPOS). Die eerste belangrike skrywer van die hoofse ridderlike epiek is Heinrich von Veldeke (wat in die Nederlandse literatuur as 'n Nederlandse Middeleeuse skrywer beskou word en daar Hendrik van Veldeke genoem word). Hy het bekendheid verwerf deur sy epos Eneit. Dit is 'n verwerking van Vergilius se Aeneas. Hartmann von Aue het uit 'n ridderfamilie gestam. Hy is veral bekend vir gedigte soos Erec, Gregorius, Der arme Heinrich en Iwein. Erec is 'n vrye verwerking van Chrétien de Troyes se werk. 'n Ander belangrike skrywer is Wolfram von Eschenbach, wat veral bekend is vir sy Parzival. Hiervan het ongeveer 70 handskrifte bewaar gebly. Sy hoofbron was Chrétien de Troyes se "Le contes de graal": "Die taal van die epos is verward en dikwels duister, vol seldsame wendinge en individualistiese uitbeeldings, maar dit is beeldend en spreek regstreeks, skeppend uit die volksidees. In 16 boeke laat die digter sy helde in drievoudige metamorfoses groei van kinderlike geloof tot formele kennis van die tradisie en uiteindelike erkenning van God" (eie vertaling) (Grabert & Mulot, 1966: 39).

Die Middelhoogduitse liriek kan verdeel word in die Spruchdichtung (spreukgedigte), dit is leerdigte met 'n volkse karakter, wat meestal bestaan uit een strofe, en die Minnesang wat deur die meeste adellike digters beoefen is. Volgens die hoofse tradisie staan 'n vasal in diens van 'n getroude vrou: hy het haar guns probeer wen en het op sy beloning genoeg in die vorm van vriendelikheid en geneëntheid (eie vertaling) (Grabert & Mulot, 1966: 45). Die inheemse ridderliriek maak ook deel uit van die Middelhoogduitse ridderliriek. Hier kan die name van Dietmar von Eist (sy dagbreeklied) en die Kürenberger genoem word. Laasgenoemde was waarskynlik 'n ridder wat in Linz aan die Donourivier gewoon het. Sy gedigte het 'n volkse karakter. Die hoofse minnesang dateer ook uit die Middelhoogduitse periode. Vreemde invloede het hier 'n groot rol gespeel en die artistieke en sosiale vorm daarvan het aan die hof van die Moslemvorste van Codoba ontwikkel (Grabert & Mulot, 1966: 48). Die Minnesang was 'n ruimtelik erg begrensde Provensaalse digsoort (Grabert & Mulot, 1966: 49) en is deur troebadoers gesing. Die tema van dié poësie was die verering van en diens aan die vrou.

Naas Wolfram von Eschenbach, word Walther von der Vogelweide as die grootste digter van die Duitse Middeleeuse literatuur beskou. Hy was van ridderlike afkoms en was 'n ruk verbonde aan die Weense hof, maar na die dood van keiser Frederik van Oostenryk het hy 'n Wanderleben deur Duitsland gelei. Hy was o.a. 'n spreukdigter en minnedigter. In sy latere jare het hy veral religieuse poësie geskryf asook kruistogliriek. Bekend van hom is die gedig "Owê war sint verswunden alliu mîniu jâr", "Ir sult sprechen willekomen der iu maere saget daz bin ich" en "Ich saz ûf eime steine und dachte bein mit beine".

Die Middelhoogduitse hoofse dorpspoësie is minneliriek. Die hoofeksponent is Neidhart von Reuental, wat bekend is vir sy somer- en winterliedere.

Teen ongeveer 1200 het die helde-epos prominensie verkry in die Duitse literatuur. Die motiewe en figure van hierdie poësie reik terug na die volksverhuising. Voorbeelde van die helde-epos is die sg. Nibelungenlied. Die SAGE is die hoofbron van hierdie poësie, bv. die sage van Siegfried, waarop Wagner se Nibelungenlied gebaseer is. Die Kudrunlied (Gudrunlied) is die tweede groot helde-epos. Die stof van die liedere kan teruggevoer word na die ou heldeliedere van die Noordseegebied.

Die misteriespel en kersspel, asook die volkslied en die Meistergesang, word tot die Duitse Middeleeuse burgerlike literatuur gereken. Laasgenoemde is 'n vorm van en voortbouing op die hoofse kuns.

In die Nederlande was die mense baie aktief op literêre gebied.

Die chanson de geste ressorteer onder die ridderlike literatuur. Soos reeds gesê, is hierdie gedigte oorspronklik in Frans geskryf. Voorbeelde hiervan is die Roelantslied en Renout van Montalban. Die ridderroman kan op grond van sy inhoud en oorsprong verdeel word in die Klassieke romans, die Brits-Keltiese romans en die Frankiese ridderromans (vgl. RIDDERROMAN).

Die tema van die hoofse LIRIEK is hoflikheid en toewyding aan 'n beminde vrou (vrouediens) — vandaar die benaming hoofse liriek. Die vrou was die objek van verering en die minnediens is deur die ridder verrig. Die hoofse liriek is geskryf en gesing deur troebadoers.

Gedurende die Middeleeue was die kloosterlinge die geleerdes; 'n mens tref dus baie voorbeelde van geestelike literatuur aan. Die literatuur handel oor Godsverering, Jesus Christus, Maria en die heiliges. Subgenres wat beoefen is, is die heiligenleven, *epiek wat oor die lewe van 'n heilige handel, bv. Sinte Servatius deur Hendrik van Veldeke, en die *legende waarin Maria 'n belangrike plek inneem, bv. Beatrijs. Hadewijch en Jan van Ruusbroec is belangrike verteenwoordigers van die mistieke literatuur.

Die burgery was gedurende die Middeleeue in die Nederlande ook aktief op literêre gebied. Belangrike skrywers is Jakob van Maerlant (Naturen bloeme, Spieghel historiael) en Jan van Boendaele (Brabantsche yeesten). Verder is die DIERE-EPOS beoefen, bv. Van den vos Reinaerde wat aan Willem en Arnout toegeskryf word. (Dit is in Afrikaans vertaal deur Eitemal as Reinaard, die jakkals.) Verder is die BOERDE, die SPROOK en die drama beoefen. Onder lg. val die trope, misteriespel (Eerste bliscap van Maria) en die mirakelspel (Marieken van Nieumegen).

Die tema van die dood het 'n belangrike plek in die Middeleeuse kultuur ingeneem: "Zonder ophouden klinkt door het leven de roep van het memento mori" (Huizinga, 1975: 134). Drie motiewe was belangrik: "... waar zijn alles gebleven, die vroeger de wereld vulden met hun heerlijkheid? Dan was er het motief van de huiverende aanschouwing der verrotting van al wat eenmaal menselijk schoonheid was" (Huizinga, 1975: 134). Ten slotte die motief van die dodedans en die dood (Huizinga, 1975: 134), wat mense sonder aansien des persoons gaan haal het. Dit het ook ingang gevind in die literatuur, bv. in François Villon se werk in Frans; die motief van die dodedans word geïllustreer in Antonis de Roovere se "Van der mollenfeeste".

(Vgl. MIDDELEEUSE LITERATUUR (DIE BESTUDERING VAN DIE).)

 

Bibliografie

Cazamian, L. 1960. A History of French Literature. London: Oxford University Press.

Cloete, T.T. 1963. Inleiding. In: Cloete, T.T. Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel. Pretoria: Van Schaik.

Grabert, W. von & Mulot, A. 1966. Geschichte der deutschen Literatur. München: Bayerischer Schulbuch-Verlag.

Henderson, W.J. 2004. Op Griekse lier. Vroeë Griekse liriese poësie, vertaal en toegelig. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Henderson, W.J. 2009. Vir Griekse Fluite. Vroeë Griekse elegiese poësie. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Henderson, W.J. 2011. Die berispende stem. Vroeë Griekse jambiese poësie. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.

Huizinga, J. 1975. Herfsttij der Middeleeuwen. Groningen: Tjeenk Willink.

Lacroix, P. 1878. Science and Literature in the Middle Ages and at the Period of the Renaissance. London: Bickers.

Malone, K. & Baugh, A. 1967. The Middle Ages. London: Routledge & Kegan Paul.

Steinen, W. von den. 1959. Der Kosmos des Mittelalters. Bern: Francke.

Raadpleeg ook:

Burrow, J.A. 1982. Medieval Writers and Their Work. Oxford: Oxford University Press. 

Olson, G. 1986. Literature as Recreation in the Later Middle Ages. Ithaca: Cornell University Press.

Pleij, H. 1984. Het literaire leven in de middeleeuwen. Culembourg: Educaboek.

 

 

 

 

 
Anna-Marie Bisschoff