'n Schwank (Mid. H-Dts.: swanc: swaaiende beweging; Dts.: Schwank: streek) is 'n eenvoudige klugtige vertelling. Dit is realisties van aard. Die Schwank loop gewoonlik uit op 'n pointe ('n verrassende sinwending, woordspeling of 'n verrassende gebeurtenis).

Die Schwank is 'n Middeleeuse GENRE. Met die koms van die boekdrukkuns is baie daarvan versamel en in sg. Schwank-bücher uitgegee, bv. Tyl Ulenspiegel (1515).

Die Schwank kan ingedeel word in die epiese Schwank en die dramatiese Schwank. In die epiese Schwank het 'n mens twee partye wat teenoor mekaar staan, bv. 'n domme en 'n slimme. Die uitbeelding is klugtig en erotiese tonele kom dikwels daarin voor. Dit het soms 'n didaktiese, SATIRIESE of moralistiese inslag.

Die Schwank is nie van besondere literêre waarde nie maar hoort tot die volksliteratuur. Dit is verwant aan die FABLIAU, die BOERDE en die verhale in die Engelse jestbooks.

Die Schwank kom sedert die 9e of 10e eeu al voor. Die eerste belangrike versameling is Strieker se Pfaffe Amis uit die 13e eeu. Dit word as die eerste Schwankroman beskou. 'n Ander Schwankversameling is Der Pfaffe vom Kalenberg van Philip Frankfurter. Die Schwank bereik sy hoogtepunt in die 16e eeu. 'n Hele aantal versamelings het hulle verskyning gemaak, bv. J. Pauli se Schimpf und Ernst (1522), J. Wickram se Rollwagenbüchlein (1555) en M. Montanus se Wegkürzer (1597). In Nederlands het kluchtboeken verskyn. (Vgl. KLUG (MIDDELEEUSE).)

Die dramatiese Schwank is die Duitse ekwivalent van die Nederlandse SOTTERNIE. Die dramatiese Schwank is 'n komiese toneel. Dit het voorgekom in die vorm van die sg. Fastnachspiele soos geskryf deur o.a. H. Sachs (Der schwangere Bauer) en J. Ayer.

Na die 16e eeu het die belangstelling vir die dramatiese Schwank verdwyn. Sachs se werk is later herontdek en talle Fastnachspiele (ook genoem Passe of Farce) is weer geskryf.

Die dramatiese Schwank is soos die epiese Schwank van weinig literêre waarde. Volgens Van Hoeken in die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur (1972: 598), is die 19e-eeuse Weense volkskomedie 'n uitsondering hierop.

Die moderne weergawe van die Schwank word 'n Witz (Dts.: om te weet) genoem. Die Witz is korter en meer gevat as die Schwank. Die Witz het ook 'n verrassende wending wat gewoonlik die resultaat is "van een onvoorziene overeenkomst of verschil tussen woorden en opvattingen of situaties", aldus Van Gorp (1986: 453) in Lexicon van Literaire termen.

 

Bibliografie

Renner, K.N. 1984. Witz. In: Kanzog, K., Kanzog, D. & Masser, A. (Hrsg.). Reallexikon der deutschen Literatur, IV. Berlin: De Gruyter.

 
Anna-Marie Bisschoff