EKFRASE

Die term ekfrase of ekphrasis (Gr. ékphrasis, “beskrywing”) word toegepas op ’n lang beskrywing in poësie of prosa van ’n visuele, beeldende kunswerk (beeldhouwerk, skildery, tapyt, instrument). Die digter of skrywer poog om die visuele kunswerk in woorde te herskep, maar ook te oortref, deur die aandag te vestig op eienskappe wat in die kunswerk afwesig of beperk is: beweging, spraak, emosies, effek op die kyker en inligting oor die kunswerk. Die kunswerk kan werklik of versin wees, en die oordrag kan van enige kunsvorm na ’n ander geskied (bv. ook in musiek). Die doel is om ’n nuwe skepping, met sy eie lewe, maar steeds met die verbintenis aan die visuale kunswerk, daar te stel. Daar is egter wel ’n soort ekfrase wat nie die kunswerk probeer herskep nie, maar net daarna verwys. Dit is die sogenaamde representasionele intermedialiteit. ’n Goeie voorbeeld is Auden se “Musée des Beaux Arts”, waarin Breughel se skildery net terloops genoem word.

Die verskynsel van ekfrase gaan terug na Plato en Aristoteles se opvattings dat die skepping van kuns nabootsing (mimesis) van ’n objek is. Daar is talle voorbeelde in verskillende tale en genres. Onder die vroegstes is Homeros se beskrywing van Achilles se skild (Ilias 18.474-608), die model vir Vergilius se beskrywing van Aeneas se skild (Aeneïs 8.626-731) en, weer, van W.H. Auden se “The shield of Achilles”. Ekfrase was besonder gewild onder die Griekse epigrammatiese digters van die Hellenistiese tydperk (c. 323-27 v.C.). Dante se beskrywings van Bybelse en Klassieke kunswerke in die reliëfwerk aan die wande van Purgatorio (Canto 10) is voorbeelde uit die Renaissance. Onder die Romantiese digters is John Keats se “Ode to a Grecian urn” seker die bekendste, maar daar is ook sy tydgenoot Percy Shelley se gedig “On the Medusa of Leonardo da Vinci in the Florentine Gallery”.

Modest Mussorgski se “Prente by ’n uitstalling” is ’n goeie voorbeeld van skilderye wat in musiek nageboots word.

Kyk ook intertekstualiteit; INTERMEDIALITEIT.

Literatuur

Manakidou, Flora. 1993. Beschreibung von Kunstwerken in der hellenistischen Dichtung. Stuttgart: Teubner.

Egelhaaf, Ulrike 1997. Ekphrasis. In: Cancik, H. & Schneider, H. (reds.). Der neue Pauly. Enzyklopädie der Antike Altertum, 942-50. Stuttgart & Weimar: Metzler Verlag.

Scholz, B.F. 2007. Ekphrasis. In: Cancik, H. & Schneider, H. (reds.). Brill’s New Pauly, 151-4. Leiden: Brill.

Aanlyn: www.poets.org/poetsorg/text/notes-ekphrasis (06/08/2015).


W.J. Henderson

(Gepubliseer November 2017)