GOTIEK

Oorspronklik is die woord gotiek gebruik om te verwys na die Gote, ’n Germaanse volk wat die Romeinse Ryk in die derde en vyfde eeu ingeval het. Tydens die Renaissance (1300-1700) het die Italiaanse kunshistorikus Giorgio Vasari (1511-1574) die woord gótico (“barbaars”) gebruik om uiting te gee aan sy minagting van die Middeleeuse boustyl met sy kenmerkende spitsboë, loodglasfasades en kruisribgewelf, wat tot sy misnoeë teenstrydig was met die Klassieke style.

Streng gesproke is gotiek dus ’n argitektoniese term, maar dit verwys ook na verhale, films, skilderye, dramas of musiek waarin geheimsinnige, spookagtige of bonatuurlike elemente soos voorbodes, besoekings, visioene, vampiere, geeste, naglopers, drome, ensovoort voorkom. Gotiese kortverhale en romans word veral gekenmerk deur ’n atmosfeer van misterie, spanning en vrees, asook ’n onherbergsame omgewing wat deur onverklaarbare gebeurtenisse en gekwelde karakters met ’n doodsobsessie oorheers word (Van Gorp 1991:165; Hogle 2002:2; Abrams 2009 137-8; Lemmer 2010:185).

Volgens Van Gorp (1991:165) is die handeling binne die Gotiese teks dikwels gewelddadig of grotesk, en omdat die gebeure meestal in die nag plaasvind, is die atmosfeer beklemmend en onheilspellend. Verder beskou hy die motiewe van verbode seksuele drange (bloedskande, verkragting), ’n oordrewe begeerte na kennis en melodrama as tipies van hierdie genre.

Oor die eeue heen het die gotiek veral binne romanvorm gestalte gekry. Die gotiese roman (kyk Gothic novel) het in Engeland ontstaan (1764-1830), word tot die literatuur van die Romantiek (1789-1830) gereken en het al sinoniem geword met Horace Walpole se The castle of Otranto (1764), Ann Radcliffe se The mysteries of Udolpho (1794), Matthew Lewis se The monk (1796) en Mary Shelley se Frankenstein (1819). Die gotiek het later weer ’n opbloei beleef in die Victoriaans-Gotiese romans van die 1880’s, byvoorbeeld in Robert Louis Stevenson se The strange case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde (1886) en Oscar Wilde se The picture of Dorian Gray (1891).

In ongeveer dieselfde tydperk as wat die gotiek in Brittanje begin het, het soortgelyke literatuur in Duitsland, Nederland en Frankryk ontwikkel. In Duitsland het die Schauerroman ontstaan, in Nederland die griezelroman en in Frankryk die roman noir, romanvorme wat gekenmerk word deur die toetrede van bonatuurlike karakters en ervarings, grusame gebeurtenisse en die immerteenwoordigheid van die dood.

Suiwer (tradisionele) gotiek is skaars in die hedendaagse wêreldliteratuur, omdat min van hierdie verhale/films/musiek/skilderye nog volkome voldoen aan die vereistes van “adventure-time in Gothic-architectural space” (Townshend 2014:xlii-xliii), maar omdat hierdie tekste ’n “gothic effect” het, gotiese elemente bevat of die gotiese tradisie ontgin, word dit steeds as “gotiese tekste” beskou.

Oor die eeue heen het die gotiek verskeie metamorfoses en “herskeppings” ondergaan om by verskillende tydperke en kulture aan te pas (Townshend 2014:xliii), en sodoende het velerlei variante daarop ontstaan, byvoorbeeld die Victoriaanse gotiek, die “female Gothic”, “terror Gothic” en “horror Gothic”. Derhalwe word die gotiek eerder as ’n veranderlike modus as ’n konstante literatuurvorm met ’n vaste karakteristiek beskou.

C.J. Langenhoven kan met sy Die wandelende geraamte en ander verskynings (1930) as die pionier van Afrikaanse gotiek beskou word, omdat die meeste van dié verhale grieselrige elemente bevat, naamlik bouvallige huise, grusame sterftes, dwalende geeste en onverklaarbare gebeurtenisse. Hierby kan C. Louis Leipoldt se Wat agter lê en ander verhale (1930), sowel as I.D. du Plessis se Afrikaanse goëlstories (1942) gereken word.

Daar is ’n groot aantal moderner Afrikaanse literêre tekste wat gotiese motiewe bevat of wat doelbewus die gotiese tradisie ontgin, maar hierdie narratiewe kan nie as “suiwer” gotiese literatuur bestempel word nie.

In Riana Scheepers se Katvoet (2009) byvoorbeeld, word ’n hele aantal gotiese elemente in verskeie van die verhale gebruik, sonder dat die teks as uitsluitlik goties beskou kan word. Die hoofkarakter in “Nagskade” kry nie alleen ’n visioen oor wat haar roeping is nie (20), maar ook ’n besoeking van ’n gees in haar en haar man se tent op die sendingveld: “Die man praat. En terwyl hy praat, kom sy agter dat dit nie ’n mens is hier by haar in die tent nie. Dit is ’n gees, die siel van ’n man wat reeds dood is [...]” (23). Die gees vra haar om saam met hom te gaan na waar hy geld begrawe het. Sy moet die geld opgrawe en dit vir sy gesin neem, dan sal sy ook ’n deel daarvan kry. Wanneer sy weier, word sy byna deur die gees doodgewurg wat op ’n onheilspellende, dramatiese wyse – weer eens tipies van die gotiek – beskryf word: “En die man lig sy kop, sy oë word wit vlamme van woede, sy kan die dood daarin sien brand […]” (24).

As gevolg van die onheilspellende atmosfeer, bose karakters, grusame sterftes en okkulte insidente in François Bloemhof se Die nag het net een oog (1991) beskou Loots (2007:8) dit as vreesliteratuur wat die gotiese tradisie ontgin. Soortgelyke elemente kom in Bloemhof se Die duiwel se tuin (1993) en Bloedbroer (1995) voor.

Gotiese tekste verwoord dikwels “die stryd tussen die geslagte” (Loots 2007:52-3). Hierdie gegewe kom herhaaldelik binne Reza de Wet se dramas voor, veral in Drif (1994), wat volgens Buys (2002:50-61) ’n gotiese drama is. In hierdie verhoogstuk, en ook in Mis (1993) en Mirakel (1993), word die aggressiewe manlike karakter wat slegs sy eie sin soek, gestel teenoor die passiewe vroulike personasie wat deur sosiale norme ingeperk word en daarvan wil ontsnap (Loots 2007:53; Buys 2002:50-61). Telkens binne De Wet se dramas verskyn daar ’n misterieuse, bedrieglike manlike karakter (Konstabel in Mis en Maestro in Drif) wat as die verteenwoordiger van die dood die vroulike personasie van haar benepe toestand “bevry”. Die meeste van De Wet se dramas speel dan ook op ’n verlate en verwaarlooste (Vrystaatse) plaas af – kenmerkend van Afrikaanse gotiese tekste.

Nog ’n drama wat sterk gotiese elemente bevat, is P.G. du Plessis se Die nag van legio (1969). Vyf pasiënte word in ’n psigiatriese hospitaal – ’n gewilde ruimte binne die gotiek – toegesluit. Een van die pasiënte, Dogoman, bewerkstellig die protagonis, Dirk, se moord deur middel van duiwelskuns. Mettertyd word dit ook duidelik dat Dirk se ma aan ’n heksesabbat deelgeneem het. Deur middel van die swartkuns word Dogoman se mag so allesoorheersend dat die ander karakters én die gehoor oortuig word van sy krag, veral wanneer die psigiatriese saal se gordyne voor die oë van die kyker “groei”.

Volgens Lemmer (2010:189) is die voorkoms van verskeie bonatuurlike elemente (die kommunikasie met dooies, heldersiendheid, voorbodes, drome, ens.) in Ingrid Winterbach se Niggie (2002) een van die eienskappe wat hierdie roman binne die gotiese en neo-Victoriaanse kader plaas. In die eerste plek is daar Oompie, ’n siener wat met behulp van ’n gebottelde mensekop die toekoms voorspel (92). Tweedens maak Reitz, deur middel van Oompie, kontak met sy oorlede vrou wanneer hy ’n kruiemiddel rook (100, 105, 114). Verder word die swart perdehandlanger, Esegiël, beskryf as “’n tussenganger tussen die ryke van die skadu en die lig” (120). Hy word ook “die engel van die dood” (177) genoem en daar is verwysings na sy “toorgoed”. Drome kom 14 keer binne die roman ter sprake en daar is verskeie misterieuse trieksterfigure. Beide laasgenoemde aspekte is ook kenmerkend van die Goties-Victoriaanse roman (Lemmer 2010:194–5).

Anna M. Louw se Vos (1999) bevat ’n hele paar gotiese elemente. Die titelkarakter in hierdie roman gaan ’n ooreenkoms met die duiwelse “Grootbaas” (55-6) aan sodat dit op sy plaas sal reën. Dit word bewerkstellig deur middel van die Boesman Hans Bokpoot, wat hom as reënmaker voordoen. Louw betrek met ander woorde sowel Afrika-folklore as die (Duitse) Faust-verhaal, en sodoende word Europese en inheemse okkulte tradisies tot ’n unieke Afrikaanse gotiek vermeng.

Dit is veral die werk van Eugène Marais wat sterk gotiese trekke bevat en as eiesoortige Afrikaanse gotiek beskou kan word. Marais het hom bemoei met die (Europese) spiritisme, okkultisme en parapsigologie, want dit was deel van die Victoriaanse denkraamwerk waarmee hy bekend was. Tydens sy Londense verblyf het hy eerstehands kennis gemaak met die spiritistiese modegiere van dieremagnetisme, mesmerisme en nekromansie (Rousseau 1974:131-2). Hy was egter ook bekend met Afrika se eie volksgelowe – daarvan getuig sy Dwaalstories (1921). Verder is hy aan die literatuur van die fin de siècle blootgestel, asook aan Victoriaanse gotiek.

Al hierdie invloede word in sy werk teruggevind, vernaamlik in “Diep rivier” (1933) in Die Beste van Eugène Marais (1986), waar Westerse en Afrika- okkulte tradisies tot ’n unieke Afrikaanse gotiek vermeng word. Dié verhaal speel af op ’n afgeleë plaas waar gekwelde karakters gekonfronteer word deur onverklaarbare gebeurtenisse (kenmerkend van die gotiek), naamlik “inboorlingtowery” en “toorkuns van Afrika” (157) in die vorm van swart mambas wat die lewe van ’n ietwat histeriese, maar “aanvallige vroutjie” (158) bedreig. So reg in die aard van die literatuur van die fin de siècle en die gotiek word daar gedurig verwys na die karakters se “neerslagtigheid”, “bedroefdheid” en lewensmoegheid; Boy van Niekerk het byvoorbeeld ’n “treurige glimlaggie” (157).

Die personasies se angs en doodsobsessie word versterk en weerspieël deur die afgesonderde omgewing wat, tipies van die gotiek, in fyn besonderhede beskryf word: “Daar was ’n dampkring van angs, van vreesagtige verwagting wat gedurig opgeduik en aan ons sigbaar geword het.”; “U kan nooit besef die gedurige angs wat oor hierdie huis soos ’n donker wolk hang nie […] oral mag die dood skuil!” (159).
Die “vroumense” se histerie (160) gaan gepaard met melodrama, nog ’n kenmerk van die gotiek: “Daar was skielik ’n geweldige en aanhoudende histeriese geskreeu” (164). Binne hierdie beklemmende omgewing voer ’n femme fatale, die beeldskone Juanita Pereira, haar bose planne uit om Boy van Niekerk se vrou uit die weg te ruim. Boonop is sy ’n trieksterfiguur wat met haar geveinsde onskuld voorgee om haar meesteres se belange op die hart te dra. Die femme fatale, asook die trieksterfiguur, is kenmerkend van die gotiek én die literatuur van die fin de siècle. Van hierdie karakters mag stereotiep voorkom, maar dit is juis ’n belangrike gegewe binne die gotiek, omdat hierdie literatuur deur middel van geykte karakters kommentaar lewer op eietydse aktuele kwessies (Loots 2007:52).

Marais se novelle “Die boom in die middel van die tuin” (1933) bevat ook ’n hele aantal gotiese trekke, en dit is veral die gedetailleerde beskrywing van die ongunstige, afgeleë omgewing en natuurlik die toetrede van die donker (Mephistopheles-) figuur wat tipies van die gotiek is. So reg in die aard van die gotiek word daar ook gedurig verwys na Scalinger se neerslagtigheid, na die “kommer en sorge” (174) van sy bestaan, en sy “misnoeë en moedeloosheid” (175). Boonop verlang hy innig na die dood “wat ten minste rus en vergetelheid skenk” (182).

Bogenoemde tekste ontgin almal die gotiese tradisie, en omdat die verhale/dramas telkens binne ’n kenmerkend Suid-Afrikaanse milieu ('n afgeleë plaasomgewing, op die sendingveld, tydens die Anglo-Boereoorlog) plaasvind en inheemse volksgelowe, asook eg (Suid-) Afrikaanse karakters (plaasboere, boervroue, kruiedokters, sendelinge) betrek word, is hier sprake van ’n unieke Afrikaanse gotiek met unieke kenmerke.

 (Vergelyk ook DEKADENSIE  en ESTETISISME.)

 

Literatuur

Abrams, M.H. 2009. A glossary of literary terms. Boston: Wadsworth Cengage Learning.
Bomarito, J. 2005. Gothic literature: A Gale critical companion. Michigan: Cengage Gale.
Bruhm, S. 2002. The contemporary Gothic: why we need it. In Hogle, J.E. (red.) 2002. The Cambridge companion to Gothic fiction. Cambridge: Cambridge University Press.
Buys, H.M. 2002. Die gruwel en die Gotiese in drie hedendaagse tekste: Die nag het een oog – François Bloemhof, Drif – Reza de Wet, Een hart van steen – Renate Dorrestein. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Cuddon, J.A. 1991. A dictionary of literary terms and literary theory. Oxford: Blackwell.
De Villiers, J.B. 2011. Agter die somber gordyn: ’n onthullende studie oor die vergete geskiedenis van die Afrikaanse spiritisme. Kaapstad: Griffel Media.
Hale, T. 2002. French and German Gothic: the beginnings. In Hogle (red.) 2002. The Cambridge companion to Gothic fiction. Cambridge: Cambridge University Press.
Lemmer, E. 2010. Ingrid Winterbach, ’n derde kultuur en die neo-Victoriaanse romantradisie (1984–2006). Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.
Loock, I. 1994. Enkele gedagtes oor die Gotiese spanningsverhaal en vernuwing in die Afrikaanse roman. In Hattingh, M. en H. Willemse (reds.) 1994. Vernuwing in die Afrikaanse Letterkunde. Bellville: UWK.
Loots, M.J. 2007. Gotiese elemente in François Bloemhof se debuutroman Die nag het net een oog. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Mishra, V. 1994. The Gothic sublime. Albany, NY: University of New York Press.
Punter, D. 2012. A new companion to the Gothic. West Sussex: Wiley-Blackwell.
Sage, V. (red.). 1990. The Gothic novel: a casebook. Londen: Macmillan Education.
Schmitt, C. 1997. Alien nation: nineteenth-century Gothic fictions and English nationality. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.
Taljaard-Gilson, G. 2016. Die inslag van die Gotiese in die Afrikaanse literatuur: ’n ondersoek na ’n eiesoortige Afrikaanse Gotiek aan die hand van die Faust-motief. LitNet Akademies, 13(1): 185–208. 
Townshend, D. 2014. Introduction. In Byron, G. en D. Townshend (reds.). 2014. The Gothic world. Londen: Routledge.
Van Gorp, H. 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Van Graan, M. 2008. Die rol van ruimte in Afrikaanse spookstories. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.



Gerda Taljaard-Gilson

(gepubliseer Mei 2017)