STROFE

Daar kan aanvaar word dat die VERS in die gedig 'n distinktiewe en komposisioneel-strukturele eenheid is. Verse kan in groter eenhede saamgegroepeer word, en een van hierdie eenhede is die strofe. Die strofe kan nie distinktief genoem word in die mate wat die vers as 'n poëties-distinktiewe eenheid beskou kan word nie, maar dit kan beter beskryf word as 'n opsionele organiseringsbeginsel wat ook, indien dit aanwesig is, soos die vers kenmerkend is van die poëtiese diskoers. Verse kan ook op ander maniere, soos bv. die versparagraaf (vgl. Leech, 1969: 125) saamgegroepeer word in eenhede wat nie noodwendig tipografies sigbaar gemaak is in die gedrukte teks nie. Die poëtiese konvensie van die strofe berus egter op 'n sigbaarmaking van strofe-eenhede in die tipografie deur die breër wit (vgl. Geggus, 1961: 93―96) tussen verse.

Strofes word gewoonlik opgebou uit 'n vaste aantal verse met 'n vasgestelde eindrympatroon waardeur die strofe as eenheid gekonstitueer word. Van die verskillende tipes is die algemeenste voorbeeld van 'n vasgestelde strofestruktuur in die gedig die SONNETVORM, wat gewoonlik uit veertien verse bestaan (hoewel die sonnette van G.M. Hopkins nie hierdie vereiste nakom nie) wat dikwels tipografies en in die reël deur die RYMPATROON in die strofes van twee kwatryne en twee tersines of een oktaaf en een sestet verdeel word.

Hierdie mate van georganiseerdheid wat die strofe-eenheid verteenwoordig, hou die gevaar van oororganisasie of ontaarding in leë konvensie in, soos die geskiedenis van die sonnetvorm in die Engelse literatuur duidelik bewys. Hiermee word die vraagstuk van poëtiese konvensies in die algemeen en veral van die strofe aangeraak. 'n Welbekende funksie van die strofe-einde in die sonnet, bv., is dat die eerste agt reëls ideëel 'n eenheid vorm (in die geval van die Petrarkaanse sonnet) en dat daar 'n wending in die gedig intree aan die einde van hierdie verse, waarna die laaste ses verse dan 'n toepassing of resolusie van een of ander aard verteenwoordig. In die geval van die Engelse sonnet vorm die eerste twaalf verse 'n eenheid wat onderverdeel is in vier kwatryne, waarop die laaste rymende koeplet as 'n soort konklusie of opsomming volg. (Vgl. SONNET.)

'n Voorbeeld van hierdie konstituering van die strofebou is G.M. Hopkins se "Spring":

Nothing is so beautiful as Spring —
When weeds, in wheels, shoot long and lovely and lush;
Thrush's eggs look little low heavens, and thrush
Through the echoing timber does so rinse and wring
The ear, it strikes like lightnings to hear him sing;
The glassy peartree leaves and blooms, the brush
The descending blue; that blue is all a rush
With richness; the racing lambs too have their fling.
What is all this juice and all this joy?
A strain of the earth's sweet being in the beginning
In Eden garden. — Have, get, before it cloy,
Before it cloud, Christ, lord, and sour with sinning,
Innocent mind and Mayday in girl and boy,
Most, O maid's child, thy choice and worthy the winning.

Die eerste strofe vorm 'n eenheid op ideële vlak as 'n beskrywing van die skoonheid van die natuur. Op komposisioneel-strukturele vlak kan die eenheid van hierdie strofe ook beskryf word i.t.v. die rympatroon abba, abba, hoewel daar op klankmatige vlak alleen nog 'n magdom ander herhalingspatrone is wat die eenheid van hierdie strofe bewerkstellig. Die tweede strofe begin met 'n vraag, wat op sintaktiese en ideële vlak 'n wending in die gedig bring, en die oorgang tussen die tweede en die derde strofe bring 'n intensivering van die antwoord op hierdie vraag mee deur die gebruik van die imperatiewe vorm, maar die strofe-einde verbreek die eenheid van die laaste sin van die gedig. Die tweede en die derde strofe word elkeen as eenhede gekonstitueer deur die rympatrone cdc en dcd.

Die tipografiese eenheid wat deur die strofevorm daargestel word, kan funksies hê wat in baie opsigte ooreenstem met die funksies van die vers. Geggus (1961) noem die funksies van die moontlike vermenigvuldiging van die aanbod en beïnvloeding van die mededelingsaanbod (95—96) as funksies van die strofe. Volgens Lehman (1982: 85) is veral dubbele mededeling 'n belangrike moontlike funksie van die strofe en het die voorkoms van die enjambement tussen twee strofes 'n nog nadrukliker effek as die enjambement tussen versreëls.

Om die funksies van die strofe te illustreer, is voorbeelde uit T.S. Eliot gekies:

(a)    Die strofe-einde stem ooreen met die sintaktiese grens:

(i) In the room the women come and go
Talking of Michaelangelo. (Uit: "The lovesong of J. Alfred Prufrock").

(ii) I am moved by fancies that are curled Around these images, and cling:

The notion of some infinitely gentle Infinitely suffering thing.
Wipe your hand across your mouth, and laugh; The worlds revolve like ancient women
Gathering fuel in vacant lots. (Uit: Preludes IV.)

(b)    Die strofe-einde oortree die sintaktiese grens:

The word within a word, unable to speak a word, Swaddled with darkness. In the juvescence of the year Came Christ the tigerIn depraved May, dogwood and chestnut, flowering judas, To be eaten, to be divided, to be drunk
Among whispers ... (Uit: "Gerontion".)

Die strofe-eenheid in (a)(i) baken 'n sintaktiese eenheid tipografies af wat as eenheid in die gedig herhaal word. Afbakening deur die breër wit bo en onder hierdie sintaktiese eenheid werk dus saam met herhaling om vooropstelling te bewerkstellig, sodat die strofe as geheel metaforiese status (vgl. KONKRETISERING) verkry in die gedig.

In die geval van (a)(ii) vervul die strofeverdeling 'n soortgelyke intensiveringsfunksie. In die verse wat hierdie aanhaling voorafgaan, word 'n reeks beelde van die stad voorgehou ("these images"). Die reaksie van die liriese subjek is dié van ontroering: "I am moved ...". Hierdie strofe word egter gevolg deur die imperatiewe sin: "Wipe your hand across your mouth and laugh", wat heeltemal inkongruent is met die voorafgaande strofe op ideële vlak. Hierdie inkongruensie word geïntensiveer deur die strofegrens, wat hierdie sin tipografies afskei van die voorafgaande reaksie van die liriese subjek. Die afskeiding en ideële inkongruensie werk verder ook saam met die metaforiese struktuur in die gedig: hierdie verse is 'n uitsondering in die gedig omdat dit geen lokale METAFORIESE konstruksie bevat nie. In al hierdie opsigte staan die vers dus vooropgestel en kan dit as 'n sinmetafoor gelees word. Die tipografiese afbakening van die strofe is dus ten minste medebepalend vir die metaforiese status wat aan hierdie vers toegeken word.

In voorbeeld (b) hierbo intensiveer die strofe-afbakening die enjambement in "Christ the tiger/ In depraved May" wat o.m. 'n meerduidige sintaktiese funksie aan die NP "the tiger" verleen. Hierdie frase kan as ondergeskikte kwalifisering dien van die subjek NP ("Christ") en tree op in 'n patroon van sintaktiese koppeling van PP's soos

In the juvenscence of the year    }    (Came Christ the tiger)      
In depraved May,

Terselfdertyd kan "the tiger/ In depraved May" as selfstandige eenheid beskou word, waardeur 'n funksionele meerduidigheid ontstaan.

Die bronne waarna onder VERSREëL verwys is, is ook van toepassing onder STROFE. Inleidende bronne sluit in Kayser (1946 en 1948). Geggus (1961), Leech (1969), Lehman (1982) en Gräbe (1984) behandel die funksies van strofe-afbakening met voorbeelde.

(Vgl. ook VISUELE MOMENTE IN DIE LITERATUURCOLLAGE IN DIE LITERATUUR en KONKRETE POËSIE.)

 

Bibliografie

Geggus, R. 1961. Die wit in die poësie: 'n ondersoek na die funksionaliteit van die wit in die visuele aanbod van hedendaagse poësie. Amsterdam: Heijnis.

Gräbe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik: teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: PU vir CHO.

Kayser, W. 1946. Kleine deutsche Versschule. Bern: Francke.

Kayser, W. 1948. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke.

Leech, G.N. 1969. A Linguistic Guide to English Poetry. London: Longman.

Lehman, D. 1982. Poetry, verse and prose: the end of the line. Shenandoah, 33(2).

 
Ina Biermann