TRAUMATEORIE

(Gepubliseer November 2019)

Traumateorie(ë) verwys na 'n groep teoretiese strominge wat vanuit die mediese, psigoanalitiese, neurologiese, en literêre wetenskappe bymekaarkom om die sosiale en kulturele impak van traumatiese gebeurtenisse te ondersoek, asook die wyse waarop oorlewendes sin maak van sulke gebeurtenisse. Traumateorie ondersoek verder die implikasies wat die beskouing van traumatiese ervarings en hul verwerking inhou vir tradisionele sienings van die geskiedenis en temporaliteit, geheue en subjektiwiteit, representasie en die produksie van kennis.

Kenners wat met traumateorie geassosieer word, is Cathy Caruth (1991, 1993, 1995, 1996), Judith Lewis Herman (1992), Shoshana Felman en Dori Laub (1992), Geoffrey Hartman (1996), Dominick LaCapra (1994, 1998, 2001, 2004), Ruth Leys (2000) en Michael Rothberg (2000, 2008). In die Suid-Afrikaanse konteks is Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2007) se Narrating our healing: perspectives on working through trauma 'n sleutelteks, terwyl Ester (et al. 2012) in Woordeloos tot verhaal trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans ondersoek.

Judith Herman (1992:33) definieer 'n traumatiese ervaring as 'n gebeurtenis wat ‘n mens se lewe of liggaamlike integriteit bedreig of 'n nabye, persoonlike kennismaking met dood of geweld behels, en wat die subjek se aanpassing tot sy/haar daaglikse lewe aantas en oorweldig. Cathy Caruth se definisie, wat fokus op die nagevolge van trauma, word dikwels in die kontemporêre traumateorie aangehaal: "Trauma describes an overwhelming experience of sudden, or catastrophic events, in which the response to the event occurs in the often delayed, and uncontrolled repetitive occurence of hallucinations and other intrusive phenomena" (Caruth, 1991:181).

Na aanleiding van haar lesing van Freud se Beyond the Pleasure Principle, verskuif Caruth (1993) die klem vanaf trauma as 'n vernietigende gebeurtenis na 'n "enigma of survival". Hiervolgens is trauma nie soseer die reaksie op 'n verskriklike gebeurtenis nie, maar eerder die buitengewone en verbysterende belewenis van oorlewing. Drome en terugflitse lewer getuienis van 'n soort oorlewing "that exceeds the very claims and consciousness of the one who endures it" (Caruth, 1993:24). Omdat die mens nie die moontlikheid van sy dood of sterflikheid direk kan ervaar nie, word die oorlewing daarvan 'n getuienis van die onmoontlikheid van lewe: "The trauma consists not only in having confronted death, but in having survived, precisely, without knowing it" (1993:25, oorspronklike kursivering).

Hierdie siening van Caruth gee aanleiding tot 'n verdere kernaanname van traumateorie, naamlik dat "[the traumatic event] is not assimilated or experienced fully at the time, but only belatedly, in its repeated possession of the one who experiences it" (Caruth, 1995:4). Suleiman (2008:276) bespreek meer onlangse sieninge van trauma wat deur die neuro-wetenskappe beïnvloed is, naamlik die brein se onvermoë om die traumatiese gebeurtenis ten volle te assimileer en te verwerk. Dit sluit aan by Caruth se idees dat die traumatiese gebeurtenis 'n krisis van representasie meebring, "a crisis to whose truth there is no simple access" (Caruth, 1995:6).

Caruth se fokus op die vertraagde reaksie op en gefragmenteerde herlewing van die traumatiese gebeure vind neerslag in traumateorie se beheptheid met geskiedenis en geheue, temporaliteit, representasie, en die moontlikheid van 'n narratief om die geskiedenis en herinnering te herwin en te representeer, al is dit noodwendig op 'n onvolkome wyse: "The narrative of trauma not only carries with it the impossibility of representation; it also becomes a testimony the writer cannot completely possess since neither writer nor reader can utterly understand the horror of the event, or the full meaning of its narrative form… the need to tell is inhibited by the impossibility of telling" (Pividori, 2010:100).

Shoshana Felman en Dori Laub (1992:5) ontwikkel die idee van 'n traumatiese narratief, 'n vorm van getuienis wat verslag kan doen van die oorspronklike traumatiese ervaring wat slegs uit grepies herinnering bestaan, totaal oorheers deur ervarings wat nie ten volle verstaan of onthou kan word nie, en dade wat nie as kennis gekonstrueer of ten volle in die bewussyn opgeneem kan word nie. Om hiervan te kan getuig, moet só 'n narratief ruimte laat vir taal wat temporele ontwrigting, fragmentasie, geweld, en die verlies van seggingskap en eenheid toelaat (Cetinic, 2010:287).

Testimony: crises of witnessing in literature, psychoanalysis, and history (Felman & Laub, 1992) fokus op die getuienislewering van 'n traumatiese ervaring as 'n sosiale daad. Laub (1992:57) ondersoek die rol van die "sekondêre getuie" (die aanhoorder of leser van die traumatiese narratief), wat volgens hom deelneem aan die verhaal en die traumatiese gebeurtenis waarvan dit verslag doen, en sodoende gedeelde eienaarskap daarvan aanneem. (Sien Craps en Buelens, 2008:4-5, vir 'n postkoloniale kritiek op die geïmpliseerde magsverhouding in hierdie siening van getuienislewering.)

Soos aangedui, kan selfs die traumatiese narratief nooit "akkuraat" verslag doen van die gebeurtenis nie. Vir Caruth (1991:182) dui hierdie idee van trauma op die moontlikheid van 'n geskiedenis wat nie eenvoudig referensieel is nie, "precisely permitting history to arise where immediate understanding may not". Craps en Buelens (2008:1) argumenteer dat Caruth se teorieë (1996) dit moontlik maak om dekonstruktiewe idees te gebruik om insig te verkry in drastiese gebeurtenisse en ervarings wat begrip en representasie belet. Vir Caruth (1996:9) is dit 'n etiese projek om 'n nuwe wyse van lees en van luister daar te stel wat die isolasie wat deur traumatiese ervarings veroorsaak word, op te hef.

Hierdie siening van trauma word ook aangewend om betekenisraamwerke te ondersoek: hoe dit tot stand kom, en hoe dit die sosiale wêreld beïnvloed. Traumateorie veronderstel dat die traumatiese ervaring en die trauma wat daaruit volg 'n verpletterende impak het op betekenisraamwerke en die wyse waarop die subjek sin maak van die wêreld. Willis (2002:28) argumenteer dat traumateorieë medies-psigiatriese en psigoanalitiese modelle van trauma konsolideer om te fokus op die skade wat 'n traumatiese ervaring berokken aan 'n subjek se persoonlike betekenisraamwerke, of "innerlike skemata" (wat berus op bewuste en onbewuste verhoudings en interaksies waarvolgens die subjek se selfbegrip georganiseer is).

Die traumateorie van Caruth, Felman en Laub is gebaseer op idees vanuit dekonstruksie, post-strukturalisme, en psigoanalise. Radstone (2007:10-11) toon aan dat dit ook in 'n groot mate op kliniese werk steun wat met trauma-oorlewendes gedoen is. Hierdie kliniese werk was veral gefokus op die kategorisering van geestesafwykings. Die formulering van post-traumatiese stresversteuring (PTSV) was 'n kritieke deurbraak, en die term se gevolglike opname in die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie se The diagnostic and statistical manual (DSM) word deur heelwat kritici beskou as een van die mylpale in die opkoms van traumateorie. Binne die geesteswetenskappe beroep Radstone (2007:11) hom veral op die werk van Paul de Man – van wie Cathy Caruth 'n student was, en deur wie Shoshana Felman ook beïnvloed is – en spreek die hoop uit dat traumateorie die geesteswetenskappe kan help om "verby" die doodloopstrate en krisisse van post-strukturalistiese teorieë te beweeg sonder om die insigte van hierdie teorieë heeltemal prys te gee.

Die opkoms van traumateorie in die 1990's hang ook saam met 'n algemene etiese wending in kultuur- en kunskritiek in reaksie op die heersende epistemologiese en tekstuele post-strukturalistiese teorieë. Craps en Buelens (2008:1) dui aan dat traumateorie wel sy oorsprong het in post-strukturalisme, en veral dekonstruksie, en argumenteer dat traumateorie beskou kan word as 'n herlewing van tekstualiteit in 'n etiese gedaante.

Cathy Caruth (1991:181) stel traumateorie voor as 'n alternatief vir die epistemologiese probleem wat deur post-strukturalisme en dekonstruksie vooropgestel is, naamlik dat referensie altyd indirek is, met die gevolg dat die subjek nie toegang het tot óf sy eie óf ander se geskiedenisse nie. Sy wys tereg daarop dat só 'n siening veronderstel dat politieke en etiese oordeel nie moontlik is nie. Die noodsaak vir 'n etiese omgang met geskiedenis het egter na vore gekom met die verskyning van narratiewe deur oorlewendes van die Holocaust, en die gevolglike bestudering van hierdie gebeure in die kultuurkritiek – 'n sameloop van omstandighede wat regstreeks aanleiding gegee het tot die formulering van traumateorie, soos Sielke (2010:386) uitwys. Radstone (2007:10-11) meen selfs dat die bestudering van die Holocaust een van die grondslae van die traumateorie uitmaak.

Traumateorie ontstaan dus uit 'n kritiese kruispunt tussen post-strukturalisme en 'n etiese noodsaak, en op hierdie wyse poog traumateorie om 'n oplossing te bied vir die problematiek rondom representasie wat deur post-strukturalisme op die voorgrond gestel is. Radstone (2007:11-12) beweer dat traumateorie "deur" en "verby" die idee beweeg dat representasies slegs 'n indirekte en hoogs-bemiddelde of -verwerkte verhouding met die werklikheid het, soos voorgestel deur die post-strukturalistiese en dekonstruktiewe kritiek van referensialiteit. In teenstelling hiermee stel traumateorie voor dat die traumatiese ervaring "the status of a (suspended) origin in the production of a representation" het, "bracketed or suspected because marked by the absence of traces" (Radstone, 2001:194). In plaas van 'n bemiddelde, uitgestelde, verbeelde of skyn-verhouding tussen representasie en werklikheid, stel traumateorie hierdie verhouding voor as een wat deur die afwesigheid van hierdie semiotiese "spore" tot stand kom.

Traumateorie is by uitstek 'n bestudering van die krisis van representasie en 'n verkenning van die beperkinge van taal (Arruti, 2007:4), of die grense van die simboliese (Sielke, 2010:390). Alhoewel taal nie in staat is om volledig van die traumatiese ervaring verslag te doen nie, kan die ervaring terselfdertyd slegs deur taal opgeroep en bewustelik "ervaar" word deur middel van 'n narratief. Soos Caruth (1991:87) argumenteer, lê die krag van 'n traumatiese ervaring daarin dat dit slegs ervaar kan word in 'n versplinterde vorm: die traumatiese ervaring kom net aan die lig deur die vertraagde herlewing daarvan in terugflitse, hallusinasies en intrusiewe gedagtes.

As dit kom by die produksie van (traumatiese) kennis dui trauma dus nie noodwendig op die vergeet, onthou, en herkenning van gebeure nie, maar op die proses van herhaling en hersiening, aangesien die representasie van die traumatiese ervaring altyd 'n vorm van verplasing is (Sielke, 2010:389). Hierdie proses verleen insig in die wyse waarop kennis tot stand kom: "Trauma is the phenomenon par excellence which allows us to repeatedly reproduce the process of uncovering what is concealed, a process fundamental to all knowledge production, while at the same time frustrating our desire to know" (Sielke, 2010:390).

Trauma ontwrig dus die idee van eenvoudige referensie (die aanname dat daar 'n direkte ooreenstemming is tussen 'n gebeurtenis en die taal waarin dit voorgestel word). Traumateorie ondersoek die wyses van representasie waardeur 'n gebeurtenis onthou word. Daarin lê, volgens Cetinic (2010:287), die waarde van traumateorie vir die studie van die geskiedenis en historiese narratiewe, aangesien traumateorie uitwys dat tradisionele modelle van historiese verslaglewering onvoldoende is, en dit terselfdertyd moontlik maak om die "referensiële dimensies" van narratiewe en narratiewe temporaliteit te vernuwe.

Traumateorie veronderstel dus dat trauma nooit akkuraat voorgestel kan word nie, aangesien trauma per definisie buite die raamwerk van normale gewaarwording plaasvind. Die gebeurtenis kan deur middel van 'n narratief herkonstrueer word, maar aangesien die traumatiese ervaring gewaarwording en representasie verhinder, is die herinnering van die trauma altyd 'n "benaderde" weergawe van die verlede, en enige narratief daarvan altyd reeds gekompliseerd. Volgens Balaev (2008:151) dui dit op 'n "intrinsieke epistemologiese skeuring" tussen die traumatiese ervaring en die voorstelling daarvan: "[t]he origin of traumatic response is forever unknown and unintegrated; yet, the ambiguous, literal event is ever-present and intrusive".

In hierdie opsig is die traumatiese gebeurtenis ontwrigtend vir die self: dit onderbreek die bewussyn in die vorm van terugflitse en ander intrinsiewe gedagtes, en ondermyn so ook die individu se alledaagse kapasiteit. Volgens Balaev (2008:150) veroorsaak die traumatiese gebeurtenis 'n "temporele gaping" en 'n gevolglike ontbinding ("dissolution") van die self. Traumateorie bring ook 'n herinterpretasie van subjektiwiteit mee, soos wat reeds voorgestel word in Judith Herman se fokus op die subjek in haar definisie van 'n traumatiese ervaring as een wat die individu se lewe of liggaamlike integriteit bedreig, wat hom of haar in nabye kontak met geweld of dood bring (wat opsigself innerlike skemata ontwrig), en wat uiteindelik die oorlewende se vermoë om by alledaagse gebeure aan te pas, ondermyn.

Soos wat Ruth Leys in haar seminale werk Trauma: a genealogy (2000) aandui, het die klem binne die traumateorie mettertyd verskuif van die psige (die psigoanalitiese en mediese konseptualisering van trauma as 'n "wond") tot die fisiologiese struktuur van die brein (na aanleiding van vordering in die neurologie) tot weer terug na die liggaam (met die fokus op 'n traumatiese ervaring as een wat die liggaam spesifiek bedreig). Omtrent hierdie skuif sê Sielke (2010:386) dat dit die wyse ondersteun waarop trauma aanvanklik beskou is as 'n gebeurtenis wat representasie weier, maar dat dit al hoe meer gebruik word om die verwikkeldheid van betekenisvorming (en spesifiek die verlies daarvan) aan te dui.

Cetinic (2010:287), daarteenoor, verwys na Hal Foster se The return of the real (1996) waarin hy aantoon dat die versplinterde getraumatiseerde subjek kritiek lewer op die subjekposisie, terwyl die getuie van trauma identiteit en gesag verseker. Volgens Foster slaag traumateorie op hierdie wyse daarin om twee teenstrydige idees in die kontemporêre kultuurkritiek, naamlik dekonstruksie en identiteitspolitiek, met mekaar te vereenselwig.

In hierdie opsig wys Sielke (2010:388) op twee implikasies wat traumateorie inhou vir subjektiwiteit. In die eerste plek laat 'n traumateoretiese lesing van onreg teenoor minderheidsgroepe ruimte vir 'n "gedeeltelike herwinning" van die subjektiwiteit van etniese en ander groepe wat nie tradisioneel as subjekte erken is binne 'n psigoanalitiese werk nie. In die tweede plek besorg traumateorie die subjek wat deur poststrukturalisme beperk is tot 'n diskoerseffek terug aan die liggaam, wat nuwe moontlikhede van kulturele interpretasie moontlik maak.

Alhoewel Cathy Caruth se formulering van trauma en geheue (beïnvloed deur Freud) 'n transhistoriese konseptualisering van trauma ondersteun (Balaev, 2008:151; Craps & Buelens, 2008:1), word die a-historiese en universaliserende tendens van heelwat tradisionele (Westerse) traumateorie wyd gekritiseer. Volgens Caruth se oorspronklike idee is trauma herhalend, tydloos, en onuitspreekbaar maar terselfdertyd ook letterlik, "aansteeklik", en 'n gestolde ("mummified") gebeurtenis. Die beginsel van hierdie formulering is dat die ervaring van trauma onophoudelik en presies herhaal word, deur die onbewuste aksies van die oorlewende (slagoffer), en teen haar wil (Caruth, 1996:2). Die "aansteeklike" aard van trauma is tweeledig: eerstens verwys dit daarna dat dit deur vertel te word, na die aanhoorder van die verhaal oorgedra kan word; en tweedens dat trauma deur 'n gedeelde nalatenskap of gedeelde etniese oorsprong, of ras, godsdiens, nasionaliteit, gender, seksualiteit, of ekonomiese status oorgedra kan word. Op hierdie wyse kan trauma transhistories deur generasies heen oorgedra word, veral in die vorm van gesproke of geskrewe "acts of remembering" (Balaev, 2008:151). (Kyk Balaev, 2008, vir 'n kritiek op hierdie beskouing van trauma.)

Die kultuurkonteks oor die algemeen, en persoonlike geskiedenisse in die besonder, is eerstens integrale dele van die "aanvaarde wêreld" wat deur trauma versplinter word. Tweedens word die traumatiese aard al dan nie van 'n gebeurtenis grootliks gedefinieer deur die kultuurkonteks waarin dit plaasvind (Willis, 2002:29). Die versameling essays Beyond trauma: cultural and societal dynamics (Kleber, Figley & Gersons, 1995) plaas die klem op die kulturele konstruksie van traumatiese ervarings en hul nagevolge. Craps en Buelens (2008:4) argumenteer dat koloniale trauma 'n kollektiewe ervaring is, terwyl Rothberg (2008:230) meen dat tradisionele traumateorie te veel klem plaas op die traumatiese gebeurtenis as enkelvoudig en voltooid, afgesluit in die verlede, terwyl koloniale en post-koloniale trauma steeds voortduur in die hede.

In hulle inleiding tot die spesiale uitgawe van Studies in the Novel wat fokus op postkoloniale traumateorie, merk Craps en Buelens (2008) op dat die seminale tekste van traumateorie amper uitsluitlik op wit Westerse ervarings fokus en slegs kritiese metodologieë gebruik wat in 'n Euro-Amerikaanse konteks ontwikkel is. In meer onlangse studies van traumateorie word daar egter gepoog om onder andere die traumatiese ervarings van kolonialisme te betrek, veral met verwysing na postkoloniale tekste en narratiewe. Rothberg (2008:225, as nawoord in die spesiale uitgawe van Studies in the Novel) dui aan hoe verplasings en ontwrigtings van tyd en ruimte in voorstellings van geskiedkundige traumatiese gebeure die disparate traumas van verskillende groepe kan saambring as "singular yet relational histories in what I call multidirectional memory".

Voorstellings van traumatiese gebeure en die sogenaamde traumatiese narratief gee in die letterkunde aanleiding tot die traumaroman as genre. 'n "Traumaroman", volgens Balaev (2008:150), verwys na 'n voorbeeld van fiksie wat ingrypende verlies of intense vrees op individuele of kollektiewe vlak uitbeeld, veral in terme van die verbintenisse tussen die self en ander wat ontwrig word. 'n Verdere eienskap is die transformasie van die self na aanleiding van 'n ingrypende en eksterne gebeurtenis wat gepaardgaan met 'n vreesaanjaende of pynlike ervaring (hetsy 'n kollektiewe gebeurtenis, soos oorlog of 'n natuurramp, of 'n intiem-persoonlike ervaring soos seksuele geweld of die verlies van 'n geliefde). Die traumatiese ervaring gee aanleiding tot 'n proses waardeur die individu hom/haarself vereenselwig met die "dynamics of memory that inform the new perceptions of the self and world" (Balaev, 2008:150).

Balaev (2008:149) toon aan dat die interaksie tussen taal, ervaring, geheue en plek in heelwat traumaromans op die voorgrond gestel word. Ander eienskappe van traumaromans is die gebruik van "narratiewe innovering" om uiterste emosionele toestande uit te beeld, veral innerlike verwarring en chaos (2008:159). Narratiewe strategieë sluit in: landskaptonele as metafore of analogieë vir innerlike gewaarwordinge; temporele skeure; "stiltes" of narratiewe weglating wat gapings in tyd, gevoel, of ruimte laat; nie-lineêre verhaallyne en onderbroke tydsekwense (Balaev, 2008:159).

Na aanleiding van hierdie eienskappe bevraagteken Balaev (2008:162) die aanname dat trauma onuitspreeklik is, en argumenteer dat narratiewe "stiltes" 'n retoriese strategie is, eerder as 'n bewys van die epistemologiese leemte wat deur 'n traumatiese ervaring meegebring word. Op 'n soortgelyke wyse wys Rothberg (2008:225) op die strategiese gebruik van anatopisme ("ruimtelike misplasings") en anachronisme ("versplinterde" of "traumatiese temporaliteit") om "traumatiese nalatenskap" uit te druk.

Craps en Buelens (2008:5) sluit hierby aan en kritiseer die aanname wat dikwels in traumateorie heers dat die traumatiese ervaring slegs deur die gebruik van "eksperimentele, (post)modernistiese tekstuele strategieë" voorgestel kan word. Hulle toon aan dat – alhoewel sommige postkoloniale romanskrywers wél van self-refleksiwiteit en anti-lineêre strategieë gebruik maak as kritiek op naïewe narratiewe wat koloniale trauma as maklik en absoluut oorkombaar voorstel – ander postkoloniale trauma-narratiewe juis realisme en ander inheemse literêre praktyke aanwend om die Westerse idee van die "onuitspreekbaarheid" van trauma (wat in hierdie konteks politieke verset onmoontlik maak) teë te werk.

Taumateorie is in Afrikaans gedebatteer deur Van Coller (2005) en John (2006, 2010). John spreek op ‘n paar punte fundamentele kritiek teen die traumateorie uit. Omdat dit so sterk aansluit by die psigologie, meen hy dat traumateorie die outonomie en koherensie van die literatuurstudie as dissipline kan aantas en die eiesoortigheid van die estetiese deur die bloot nuttige kan laat oorstem. Hy meen die verband tussen trauma, narratiewe en ideologie is nie duidelik nie, wat kan inhou dat traumateorie ‘n meganisme van regulering en ideologiese beheer kan word. Boonop spreek die verband tussen trauma en letterkunde nie vanself nie, want verwoording van trauma lei nie noodwendig tot heling of tot estetiese meerwaarde nie. Traumateorie kan daarom ‘n verborge aanval op ingewikkelde en dissosiatiewe tekste inhou ten gunste van die ideale van eenheid en harmonie. Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam onthul vir John (2010:198) ‘n breër opvatting van die estetiese as net “die mooie, skone of welgevormde”. Hy skryf verder: "Die estetiese, wanneer dit suksesvol gerealiseer word, gaan ook nie noodwendig oor 'helderheid' nie, maar baie keer oor die openbaring van die ondeursigtigheid van die sigbare, of van die onplooibaarheid van die oënskynlik makabere, hoe mens dit ook al wil stel."

In sy repliek op John se opvattings beklemtoon Chris van der Merwe (2010) dat hy glad nie die estetiese wil beperk tot wat mooi of harmonieus is nie, maar dat die teks en die werklikheid mekaar in die leeshandeling van die leser ontmoet en dat dit lei tot 'n rekonfigurasie van die lewe via die vertelling (Ricoeur 1991:430). So kan trauma, wat hy ook omskryf as verlies aan sin en samehang, ook in 'n teks geherkonfigureer word tot 'n komplekse soort sinvolheid. Dit gebeur na sy mening in die slot van 30 nagte in Amsterdam. Om hierdie herkonfigurasie te ontken en die teks met vooropgesette idees bv. oor outonomie en oor bevryding te lees, kom eerder neer op verarming, meen hy.

Traumateorie is ‘n belangrike reaksie op die post-strukturalisme en op die etiese kwessies in ‘n traumatiserende wêreld, maar dit stel ook belangrike kwessies aan die orde wat verder ondersoek moet word. Dit is veral die vraag waar die grense van die outonomie van die teks lê en hoe die werklikheid in die leesproses herkonfigureer word. Ook is dit nie in alle gevalle duidelik of verwoording van die trauma wel heling bewerkstellig nie.


Joanette van der Merwe


Bibliografie

Arruti, N. 2007. Trauma, therapy and representation: theory and critical reflection. Paragraph, 30(1):1-8.

Balaev, M. 2008. Trends in literary trauma theory. Mosaic: An Interdisciplinary Critical Journal. 41(2):149-166.

Caruth, C. 1991. Unclaimed experience: trauma and the possibility of history. Yale French Studies, 79:181-192.

Caruth, C. 1993. Violence and time: traumatic survivals. Assemblage. 20:24-25.

Caruth, C. 1995. Introduction. (In Caruth, C. ed. Trauma: explorations in memory. Baltimore: John Hopkins University Press. p. 3-12.)

Caruth, C. 1996. Unclaimed experience: trauma, narrative, and history. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Cetinic, M. 2010. Sympathetic conditions: toward a new ontology of trauma. Discourse, 32(3):285-301.

Craps, S. & Buelens, G. 2008. Introduction: postcolonial trauma novels. Studies in the Novel, 40(1/2):1-12.

Ester, Hans, Chris van der Merwe, & Etty Mulder, reds. 2012. Woordeloos tot verhaal: trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Stellenbosch: Sun Press.

Felman, S. & Laub, D. 1992. Testimony: crises of witnessing in literature, psychoanalysis, and history. New York: Routledge.

Foster, H. 1996. The return of the real: the avant-garde at the end of the century. Cambridge, Mass.: MIT Press.

Hartman, G. H. The longest shadow: in the aftermath of the Holocaust. Bloomington: Indiana University Press.

Herman, J.L. 1992. Trauma and recovery. New York: Basic Books.

John, Philip. 2006. Die terapeutiese imperatief, stories en letterkunde:  ’n Repliek aan H.P. van Coller. Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):155–167.

———. 2010. Die ‘Terapeutiese perspektief’ en die ‘Agstekleurgekekkel’ van 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden (2009). Stilet, 21(1) (Maart):187–203.

Kleber, R., Figley, C.R. & Gersons, B.P.R. eds. Beyond trauma: cultural and societal dynamics. New York: Plenum Press.

LaCapra, D. 1994. Representing the Holocaust: history, theory, trauma. Ithaca: Cornell University Press.

LaCapra, D. 1998. History and memory after Auschwitz. Ithaca: Cornell University Press.

LaCapra, D. 2001. Writing history, writing trauma. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

LaCapra, D. 2004. History in transit: experience, identity, critical theory. Ithaca: Cornell University Press.

Laub, D. 1992. Bearing witness or the vicissitudes of listening. (In Felman, S. & Laub, D. Testimony: crises of witnessing in literature, psychoanalysis, and history. New York: Routledge.)

Leys, R. 2000. Trauma: a genealogy. Chicago: University of Chicago Press.

Pividori, C. 2010. Eros and Thanatos revisited: the poetics of trauma in Rebecca West’s The return of the soldier. Atlantis: Journal of the Spanish Association of Anglo-American Studies, 32(2):89-104.

Radstone, S. 2001. ed. Special debate: trauma and screen studies. Screen, 42(2):188-216.

Radstone, S. 2007. Trauma theory: contexts, politics, ethics. Paragraph, 30(1):9-29.

Ricoeur, P. 1991. Life: A story in search of a narrator. Mario Valdés (ed.): A Ricoeur Reader. Toronto: University of Toronto Press.

Rothberg, M. 2000. Traumatic realism: the demands of holocaust representation. Minneapolis: University of Minnesota.

Rothberg, M. 2008. Decolonizing trauma studies: a response. Studies in the Novel, 40(1/2):224-234.

Sielke, S.R. 2010. Why “9/11 is [not] unique,” or: troping trauma. American Studies, 55(3):385-408.

Suleiman, S.R. 2008. Judith Herman and contemporary trauma theory. Women’s studies quarterly, 36(1/2):276-281.

Van Heerden, Etienne. 2008. 30 nagte in Amsterdam: ’n roman. Kaapstad: Tafelberg.

Van Coller, H.P. 2005. Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1):117–133.

Van der Merwe, C.N. & Pumla Gobodo-Madikizela. 2007. Narrating our healing: perspectives on working through trauma. Newcastle, UK: Cambridge Scholars Publishing.

Van der Merwe, C.N. 2010. Die verarming van die literatuurstudie. Stilet, 22 (1): 204–9.

Willis, D. 2002. “The gnawing vulture”: revenge, trauma theory, and Titus Andronicus. Shakespeare Quarterly, 53(1):21-52.