VORM, INHOUD, STRUKTUUR

Die New Critic, René Wellek (1958), aan die begin van ’n artikel, “Concepts of Form and Structure in Twentieth Century Criticism”, maak die bewering dat letterlik honderde definisies van vorm en struktuur in die kritiek versamel kan word wat so grondig en radikaal weersprekend is dat die gebruik van die terme net sowel laat vaar kan word.

Die enigste manier om ’n mate van orde in die gebruik van vorm en inhoud te bewerkstellig, het Wellek (1958) gemeen, sou wees om die definisies taalkundig te ontleed en ’n reeks woordeboekdefinisies op te stel, soortgelyk aan die Poolse fenomenoloog, Roman Ingarden, se ontrafeling van die kontras tussen vorm en inhoud.

Wellek (1958) beroep hom op ’n tradisie wat met Aristoteles begin en langs verskeie roetes in die kontemporêre teorie neerslag gevind het en maak die stelling dat daar, onder twintigste-eeuse kritici, wel algemene instemming is dat die tradisionele onderskeid tussen vorm en inhoud wat op Plato se opvattings berus, onhoudbaar is.

Die meerderheid weergawes van die Platoniese en Aristoteliaanse opvattings van vorm plaas die twee sienings lynreg teenoor mekaar, maar die geskiedenis toon dat wanneer dit by die besonderhede en toepassings kom, nie een van die twee tradisies sonder aspekte van die ander kan klaarkom nie. Platoniese opvattings gaan van die standpunt uit dat die ideale vorm onafhanklik van enige materiële manifestasie daarvan bestaan. Die implikasie hiervan is dat vorm gesien word as vas en onveranderlik en as iets wat op materiaal afgedruk kan word. Vorm en inhoud word gevolglik as twee afsonderlike elemente beskou wat in die materiële manifestasie saamkom. Die Aristoteliaanse opvattings, hierteenoor, stel vorm voor as ’n dinamiese (vormgewende) beginsel wat deel van die materiaal is en daarop inwerk om die teks tot stand te bring. Vorm, in dié opvatting, is dus nie ’n vaste eksterne struktuur nie.

Dit mag wees dat die Aristoteliaanse tradisie in twintigste-eeuse teksgerigte literatuurbenaderings sterk op die voorgrond getree het, maar soos Terry Eagleton (2007) byvoorbeeld in sy How to Read a Poem demonstreer, ‘oorleef’ die Platoniese opvatting van vorm nog in bepaalde twintigste-eeuse kritiese benaderings, bv. die Marxistiese kritiek. Die gevolglike paradokse is opvallend. Aan die een kant, byvoorbeeld, ’n uitspraak soos dié van Willem Kloos, die Nederlandse digter, aan die einde van die 19de eeu, lank vóór die opkoms van die New Criticism: “Vorm en inhoud bij poëzie zijn één.” Aan die ander kant, aan die begin van die 21ste eeu, ná die New Criticism, en ná die Poststrukturalisme, ’n uitspraak van Eagleton (2007:59) wat dié soort sakramentele opvatting ’n incarnational fallacy noem: “On this view, form and content in poetry are entirely at one because the poem’s language somehow ‘incarnates’ its meaning. Whereas everyday language simply points to things, poetic language actually embodies them. There is a theology lurking behind this poetics: just as the Word of God is the Father made flesh, so a poem does not simply talk about things, but in some mysterious way ‘becomes’ them.” (Kyk Ikoon en ikonisiteit.)

Eagleton (2007: 65-66) onderskei wel tussen die leser se eksistensiële belewing van vorm en inhoud (van bv. ’n gedig) as een tydens die leesproses en ’n konseptuele onderskeid tussen die twee aspekte, bv. vir teoretiese doeleindes: “Form and content may be inseparable in experience; but the very fact that we use two different terms here suggests that they are not identical. Literary forms have a history of their own; they are not just the obedient expression of content.”

Frederick Garber (1993) onderskei van twee vlakke waarop die term vorm in die kritiek funksioneer, ’n mikro- en makrovlak. Op die mikrovlak verwys vorm in die poësie bv. leksikale, sintaktiese en lineêre (versreël-) komposisie van ’n gedig. Op hierdie vlak het vorm te maak met stilistiese vormgewing en met die betekenisimplikasies van daardie vormgewing.

Een van Antjie Krog se vroeë gedigte begin bv. só:

vanaand weet ek
dat ek jou nooit weer lief sal hê nie:

jou hande het te klein geword
om my vas te hou
jou liggaam te tenger
om my te bevry

Daarna volg nog twee strofes van vier reëls elk. Wat op die mikrovlak van die gedig opval, is die feitlik algehele afwesigheid van eindryme en ’n vaste metriese skema, en die noukeurige leser (stipleser, close reader) wat ’n rede hiervoor soek, sou kon spekuleer dat die afwesigheid van die tradisionele vaste ritmiese en klankpatrone die strekking van die gedig (die afbreek van ’n verhouding tussen spreker en aangesprokene) op die een of ander manier versterk of onderstreep. Die leser sou ook alternatiewe bindingspatrone tussen en binne versreëls oplet.

Wanneer die titel van die gedig (“Sonnet”) en daarmee die sonnet as ’n vaste vorm (of gedigsoort) met ’n bepaalde geskiedenis en struktuurvariante in berekening gebring word, verkry die gedig ’n addisionele betekenisdimensie. Die ingeligte leser sal besef dat in die Krog-gedig die Engelse sonnetvorm, wat tradisioneel bestaan uit drie kwatryne plus ’n rymende koeplet wat die waarnemings van die kwatryne tot ’n samevatting of gevolgtrekking bring, omgekeer word. Krog se “Sonnet” open met ’n besluit en mond in die laaste strofe uit in ’n gewaarwording wat ’n nuwe begin in die vooruitsig stel. Die organisasie van die gedig as ’n geheel in die vorm van ’n omgekeerde sonnet funksioneer op die makrovlak.

Na aanleiding van die Strukturalisme word vorm op die makrovlak dikwels met struktuur vereenselwig. Struktuur verwys só na die organisasie van die teks as ’n geheel. Vorm, as die onderliggende makro-ordenende struktuur van tekste beskou – op 'n soortgelyke wyse as vorm as ’n genre of ’n kategorie – word in die teksgerigte kritiek vir analitiese doeleindes van inhoud of betekenis onderskei ten einde die wyses te belig waarop die twee aspekte in ’n teks op mekaar inspeel om ’n geheel tot stand te bring. Die opvatting van struktuur as ’n georganiseerde geheel betrek ook verwante idees soos eenheid in verskeidenheid, die versoening van teenoorgesteldes en swewende ewewig. Die sluitsteen waarop die opvatting rus, is dié van die literêre werk as ’n afgeronde vorm en die invalshoek van waaruit na die voltooide struktuur gekyk word, is dié van die ontledende leser of kritikus wat die werk in sy onderdele uitmekaarhaal en weer aanmekaarsit.

Garber (1993) wys op nog ’n benadering tot vorm wat tot in die twintigste eeu invloedryk was, beïnvloed deur Goethe (en ander Duitse geleerdes) se idees oor ’n innerlike vorm, A.W. Schlegel se onderskeid tussen meganiese en organiese vorme en ook deur Coleridge se lesings van Shakespeare-werke. Organiese vorm, wat beskryf word as “generated from within, coexistent with the material, complete only when the object itself is complete, working its way just as natural forms do”, in teenstelling met die bousteen-idee van struktuur, impliseer dat generiese kategorieë (bv. die sonnetvorm) nie soos koekiedrukkers op die materiaal van die gedig afgedruk kan word nie en dat genres nie geslote en onveranderlike kategorieë is nie.

Onvoltooidheid (Eng. indeterminacy), ’n konsep wat met Friedrich Nietzsche, die filosoof, se denke verbind word, word verder gevoer met die poststrukturalistiese idee van oop vorms of strukture (vgl. Boucher, 2014) en hibridiese vorms. Mikhail Bakhtin se dialogiese taalopvatting, Julia Kristeva se intertekstualiteitsbegrip en idee van oneindige semiose, saam met die opkoms van die lesergeoriënteerde kritiek, het ’n belangrike aandeel gehad in die ondermyning van die opvatting dat literêre werke afgesonderde en suiwer gehele is. Terselfdertyd was die Postmodernisme as’t ware ’n praktiese demonstrasie van die teorie deur die ondermyning van die gedagte van vaste vorms en genres met die ontmaskering van die kunsmatigheid van genre-onderskeidings, ’n dekonstruksie van die tradisionele onderskeid tussen literêre en nie-literêre genres en ’n karnvaleske hibridiese vermenging van genres. In Afrikaans is die bekroonde Nagmusiek van Stephanus Muller ’n boeiende voorbeeld van die vermenging van genres en die ondermyning van gevestigde vorms.


Literatuur

Boucher, Geoff. 2014. Adorno Reframed: Interpreting Key Thinkers for the Arts. Londen: I.B. Tauris.

Du Plooy, Heilna. 2009. Die deurskynende kelk: oor vorm en inhoud in die poësie. Tydskrif Vir Geesteswetenskappe, 49 (4): 596-621.

Eagleton, Terry. 2007. How to read a poem. Malden, MA: Blackwell.

Garber, Frederick. 1993. Form. In: Preminger, Alex & T.V.F. Brogan. 1993. pp. 420–422.

Greene, Roland. ed. 2012. The Princeton encyclopedia of poetry and poetics. 4th edition. Princeton: Princeton University Press.

Kennedy, George A. 1989. The Cambridge history of literary criticism. Cambridge [Engeland]: Cambridge University Press.

Preminger, Alex & T.V.F. Brogan. eds. 1993. The Princeton encyclopedia of poetry and poetics. Princeton: Princeton University Press.

Wellek, René. 1958. Concepts of form and structure in twentieth century criticism. Neophilologus: An International Journal of Modern and Mediaeval Language and Literature, 42 (1): 2–11.

Wolfson, S.J. 2012. Form. In: Greene, Roland. 2012. pp. 497–499.

 

Ronél Johl

(Hersien Junie 2018)