POSTHUMANISME

Volgens die tradisionele opvatting wat sedert die Verligting in filosofie en kulturele beskrywings geheers het, dui die kategorie "mens" op 'n Cartesiaanse omskrywing van die mens as absoluut en totaal onderskeibaar van alle on-menslike of nie-menslike kategorieë. Hierdie opvatting veronderstel dat die mens 'n natuurlike en sentrale posisie inneem in die middelpunt van die werklikheid, dat die mens 'n unieke en onbevraagtekenbare essensie deel met alle ander mense, en dat die mens die oorsprong van betekenis en die heersende subjek van die geskiedenis is — met ander woorde dat mense besonders en outonoom is, dat hulle bo die wêreld gestel is, en dat alles anders as't ware aan hulle voete gelê word (Badmington, 2011:374).

In teenstelling hiermee, beweer posthumanisme:

"Man" is not the privileged and protected center, because human beings are no longer — and perhaps never were — utterly distinct from animals, machines, and other forms of the "inhuman"; are the products of historical and cultural differences that invalidate any appeal to a universal, transhistorical human essence; are constituted as subjects by a linguistic system that pre-exists and transcends them; and are unable to direct the course of world history towards a uniquely human goal. (Badmington, 2011:374).

Die groep teorieë wat as "posthumanisme" beskryf word, word dus gekarakteriseer deur die ontwrigting van tradisionele humanistiese of antroposentriese kategorieë van "mens" en "ander", waar die "ander" kan dui op natuur, dier, masjien, of enige ander entiteit wat beskou word as "on-menslik" of "nie-menslik". In 'n vorm van 'n uitkring-effek hou hierdie ontwrigting tussen mens/nie-mens implikasies in vir die kategorieë van lewe en materie, organies en nie-organies, natuurlik en kultureel, biologies en tegnologies.

Volgens posthumanisme is die mens dus onlosmaaklik vervleg ("entangled") met natuur, kultuur en tegnologie (Whitlock, 2012:vii). Die mens word beskou as "an assemblage, co-evolving with other forms of life, enmeshed with the environment and technology" (Nayar, 2014:par. 168); of soos Diana Fuss (1996:3) dit stel: die toestand van menswees word gemaak, "hermaak", en "ontmaak" in die nabyheid van 'n wyerwordende veld van alteriteit, en die grense van die mens is 'n werk voortdurend in wording.

Hiervolgens kan posthumanisme beskou word as 'n radikale herskrywing van humanisme, aangesien dit wegbeweeg van die idee dat die mens outonoom en self-omvattend is. O'Rourke (2008:xviii) beklemtoon egter dat posthumanisme nie die humanisme verwerp nie, maar eerder 'n herbedinking van die terme van humanisme is. Posthumanisme bevraagteken nie of die mens 'n plek het in kritiese teorie en denke nie, maar betwis die verstaan van die mens as die grondslag van teorie, en van die mens as 'n onbevraagtekenbare en selfomvattende kategorie.

As humanisme se "ander" – die versweë maar geïmpliseerde term van 'n binêre onderskeid met humanisme – is die grondslag van posthumanisme as respons op en kritiek van humanisme so oud as die mens se kultuurgeskiedenis: soos die voorsetsel "post-" aandui, is posthumanisme reeds vervat in humanisme. Herbrechter (2012:par. 127-139) reken dat posthumanisme as 'n kritiese en filosofiese konsep bloot die mees onlangse simptoom is van 'n "kulturele malaise" wat in humanisme self ingebed is; terwyl Badmington (2003:21-22) daarteen waarsku om te probeer om humanisme te beperk of te begrawe. Badmington (2003:21) verwys na Lyotard en Derrida se idees en verklaar dat humanisme as begrip nie agtergelaat kan word deur posthumanisme nie, aangesien dit 'n "trauma" is wat die hede steeds beïnvloed. Hy stel voor dat posthumanisme as kritiese praktyk van bínne humanisme te werk moet gaan, "consisting not of the wake but the working-through of humanism" (2003:22).

In die 1990’s ontstaan posthumanise as 'n kritiese raamwerk binne kultuurkritiek wat daarop fokus om kulturele representasies, diskoerse, en magsverhoudings wat die mens bo (en in beheer van) ander lewensvorme plaas, te ondersoek en te destabiliseer (vgl. Nayar, 2014:par. 167). Sedert die millenniumwisseling is dit 'n vasgestelde en outonome veld. Kenners wat met posthumanisme geassosieer word is Donna Haraway (1985, 1991, 2003, 2007), Halberstram en Livingston (1995), Diana Fuss (1996), N. Katherine Hayles (1999), Elain L. Graham (2002), Cary Wolfe (2003a, 2003b, 2010, 2012), Neil Badmington (2000, 2003, 2004, 2011), Giorgio Agamben (2004, 2007, 2009), Jane Bennett (2010) en Rosi Braidotti (2013).

Die opkoms van posthumanisme as 'n kritiese veld kan deels toegeskryf word aan die versnelde tegnologiese ontwikkelings van die tweede helfte van die 20ste eeu. Die grense tussen mens en masjien, en tussen mens en ander organismes, word vervaag deur tegnologie soos kloning, stamsel-ingenieurswese, kriogeniese wetenskap, kunsmatige intelligensie, en xeno-oorplantings (Nayar, 2014:par. 143), sowel as ander wetenskaplike ontdekkings wat tradisionele opvattings van die natuur verbreed en kategorieë van die natuurlike en die kulturele ontwrig.

Daar word dikwels 'n onderskeid getref tussen populêre posthumanisme (soms ook "transhumanisme" genoem) en kritiese of teoretiese posthumanisme. Eersgenoemde word deur Simon (2003:2) gedefinieer as behep met "nuwe sosiale entiteite" en "vloeibare en veranderbare identiteite", gegrond in nuwe tegnologie wat biologiese grense en beperkings oorskry. In 'n sekere sin is hierdie konsep van populêre posthumanisme reeds 'n gegewe in die 21ste eeu, aangesien die gemiddelde mens in die een of ander vorm reeds gemodifieer is, hetsy chemies, sjirurgies, of tegnologies (of 'n kombinasie hiervan, byvoorbeeld deur prostese of mediese inplantings); en boonop in 'n konstante netwerk met masjiene en digitale inligting leef (vlg. Nayar, 2014:par.157). Seaman (2007:248) beklemtoon dat onderliggend aan hierdie beskouing van posthumanisme die aanname lê dat die menslike liggaam van nature beperk en onvoldoende is, en dat tegnologiese en wetenskaplike ingrype 'n "nuwe" en "beter" mens tot gevolg kan hê –  en dat populêre posthumanisme dus in effek net 'n oordrewe vorm van humanisme is.

In teenstelling hiermee fokus kritiese posthumanisme op die grense en beperkings van die mens, tesame met die tegnologiese en kulturele magte wat die kategorieë van mens en nie-mens tot stand bring en bevraagteken (Whitlock, 2012:xi-xii; vgl. Simon, 2003:2).

In popular posthumanism, transformations of embodiment and temporality are almost always bioengineered by technology … Critical posthumanism, on the other hand, uses the 'post' as an opportunity to open up critical spaces for productive re-engagement with humanist ethics, epistemology, and ontology in worlds that occupy in real time and space. (Whitlock, 2012:x)

Soos Whitlock hier aandui, is 'n belangrike deel van die dryfkrag van posthumanisme om 'n etiese respons te ontwikkel vir die probleme en uitdagings van die veranderende, geglobaliseerde 21ste-eeuse wêreld. Dit hang saam met 'n klemverskuiwing weg van die opponerende kragte van natuur en kultuur ten gunste van 'n fokus op die self-organiserende ("auto-poietic") krag van lewende materie, volgens Braidotti (2013:par. 105). Aan die een kant is dit dringend noodsaaklik  om die  ekologie te bewaar. Ekokritiek en dierestudies vorm deel daarvan (kyk Wolfe, 2009:567-568). Aan die ander kant is daar 'n behoefte aan 'n etiese raamwerk wat onlangse ontwikkelings in biotegnologie kan interpreteer.

Volgens Wolfe (2009:565) is interdissiplinariteit deel van die ontstaan van die posthumanisme, en kan dit toegeskryf word aan die feit dat in die huidige teoretiese landskap die spesialisasie van 'n veld nie langer regverdigbaar is nie. Terselfdertyd vereis die etiese opdrag om met 'n veranderende globale wêreld om te gaan 'n interdissiplinêre benadering, wat gesien kan word in posthumanisme se kruisings met ander teoretiese ontwikkelinge. Voorbeelde hiervan is die Ashgate-versameling Queering the non/human wat die snyding tussen queer teorie en relasionaliteit en posthumanisme ondersoek (Giffney & Hird, 2008); sowel as die vraag wat Whitlock (2012:xi) in terme van outobiografiese skrywe en posthumanisme stel: "How do 'posthuman lives' affirm the capacity to bear witness to trauma and suffering in the wake of genocide, colonialization, and war?"

Alhoewel posthumanisme verwant is aan teorieë soos feminisme, postkolonialisme en queer teorie, wat fokus op subjektiwiteit en subjektiwiteitsmodelle (veral wat die kritiese ondersoek van die "ander" as kategorie betref), wys Whitlock (2012:xii) daarop dat posthumanisme se uitgangspunt is dat hedendaagse etiese vraagstukke nie beantwoord kan word deur bloot 'n "hernude" antropomorfiese self te verbeel nie, selfs nie eers die "nuwe" hibridiese subjekte van feministiese, postkoloniale, queer teorieë en nuwe humanismes nie (Whitlock, 2012:xii). In plaas daarvan, "[Posthumanism] imagines agentic assemblages, where human agency is entangled with the nonhuman in ways that call for new models of agency, recognition, and subjectification."

Hierdie stelling sluit aan by Bradoitti (2013:par. 244) se argument ten gunste van nuwe sosiale, etiese en diskursiewe skemas van subjekvorming, wat die geweldige en ingrypende veranderings wat ons tans ondergaan, sal verstaanbaar sal maak: "That means that we need to learn to think differently about ourselves."

As deel van hierdie projek om "anders" oor die mens te dink, en as deel van die "post-antroposentrisme" wat Braidotti (2013) formuleer, staan posthumanisme veral krities teenoor die sentraliteit wat tradisioneel aan rede en rasionaliteit binne humanisme verleen is. Nayar (2014:par. 268-283) meen dat hierdie kritiek 'n meer insluitende en dus etiese verstaan van die lewe kan bied, 'n begrip wat vra om 'n meer inklusiewe definisie van lewe wat 'n groter moreel-eties respons en verantwoordelikheid teenoor nie-menslike lewe sal meebring. Wolfe (2009:567) voer dit verder en sluit die "menslike ander" in by die kategorie van die nie-mens, dit wil sê kategorieë van gender, ras, seksualiteit en fisiese vermoë wat histories in Westerse kulture as "minder mens" of selfs "dierlik" beskou is (sien ook Haraway in Cole et al. 2011:88).

Die ondermyning van die idee van 'n outonome en gesaghebbende humanistiese subjektiwiteit is deels gebaseer op 'n dekonstruksie van die tradisionele terme, wat die idee laat posvat dat die kategorie "mens" afhanklik is van die uitsluiting van die nie-menslike ander, wat dus altyd reeds bevat is in die omskrywing van wat 'n mens is. Cole (in Cole et al. 2011:87) verwys na Wolfe (2003) se omskrywing van die subjek, en dui aan dat Wolfe die idees van o.a. Jacques Derrida en Giorgio Agamben navolg om aan te toon dat die konsep van "mens" afhanklik is van die konstruksie van 'n "dierlike" ander. Soos Nayar (2014:par. 138) dit stel: "the human is what it is because it includes the non-human".

Posthumanisme maak dus gebruik van poststrukturalisitiese strategieë om aan te toon dat die kategorie "mens" nie 'n outonome, essensiële, samehangende en stabiele absolute is nie. Soos Seaman (2007:246-247) dit stel: "there has never been one unified, cohesive 'human'… 'human' was only a title that was granted by and to those with the material and cultural luxury to bestow upon themselves the faculties of 'reason', autonomous agency, and the privileges of 'being human'."

In hierdie opsig maak posthumanistiese teorieë veral gebruik van die poststrukturalistiese teorieë wat deur Derria, Foucault, Althusser, Latour, Deleuze en Guattari ontwikkel is, en word hulle werk deur posthumanistiese teoretici geïnterpreteer om die samehangendheid van die individu te ondermyn, om subjekte voor te stel as kruisings tussen verskillende verhoudings, kontekste, en akteurnetwerke (Smart, 2011:332). Deur die nie-enkelvoudige subjek in die plek te stel van humanisme se outonome subjek, word 'n sekere wedersydse invloed tussen mens en omgewing erken. Die menslike subjek word gedesentraliseer en die magsverhouding tussen kennende subjek en kenbare objek word afgetakel.

Dit maak dit moontlik vir posthumanisme om weg te beweeg van 'n subjek-gesentreerde etiek ten gunste van 'n biosentriese perspektief, soos wat Wolfe (in Cole et al. 2011:100) voorstel, en word lewe op sigself (eerder as net mense, of diere, of die omgewing) globaal aangespreek. Op hierdie wyse word die skeidings tussen natuur en samelewing, nie-mens en mens gelykgemaak, en word respek, respons, en verantwoordelikheid vereis (Haraway, 2008:par. 305). Nash (in Cole et al. 2011:93) beskryf dit as 'n wyse om die ontologie van die werklikheid te herbedink, sodat die mens 'n "paradigma van oorheersing" kan agterlaat ten gunste van 'n relasionele verstaan van die interaksies en interverwantskappe van alles in die wêreld.

Die bevraagtekening van die onderskeid tussen mense en dinge word soms beskryf in terme van nuwe of kritiese materialisme, wat Whitlock (2012:vii) na aanleiding van Coole en Frost (2010:3) beskou as 'n terugkeer na die mees fundamentele vraagstukke oor die aard van materie en die plek van die beliggaamde mens binne 'n materiële werklikheid. In hierdie opsig vorm posthumanisme deel van die toenemende fokus op ontologie wat sedert die wisseling van die 21ste eeu in die geesteswetenskappe gesien word, en wat ondermeer aansluit by die velde van nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie.

 

Literatuur

Agamben, G. 2004. The open: man and animal. Uit Italiaans vertaal. Stanford: Stanford University Press.

Agamben, G. 2007. Profanations. Uit Italiaans vertaal. New York: Zone Books.

Agamben, G. 2009. What is an apparatus? and other essays. Uit Italiaans vertaal. Stanford: Stanford University Press.

Badmington, N. 2000. Posthumanism (Readers in cultural criticism). Basingstoke: Palgrave.

Badmington, N. 2003. Theorizing posthumanism. Cultural Critique, 53:10-27.

Badmington, N. 2004. Alien chic: posthumanism and the other within. London: Routledge.

Badmington, N. 2011. Posthumanism. (In Clarke, B. & Rossini, M. eds. The Routledge companion to literature and science. London: Routledge. p. 374-384).

Bennett, J. 2010. Vibrant matter: a political ecology of things. Durham: Duke University Press.

Braidotti, R. 2013. The posthuman. Cambridge: Polity Press. [Kindle-ed.]. Available: http://www.amazon.com

Cole, L., Landry, D., Boeher, B., Nash, R., Fudge, E., Markley, R. & Wolfe, C. 2011. Speciesism, identity politics, and ecocriticism: a conversation with humanists and posthumanists. The eighteenth century, 52(1):87-106.

Coole, D. & Frost, S. reds. 2010. New materialisms: ontology, agency and politics. Durham: Duke University Press.

Fuss, D. 1996. ed. Human, all too human. New York: Routledge.

Giffney, N. & Hird, M.J. eds. 2008. Queering the non/human. Aldershot: Ashgate.

Graham, E.L. 2002. Representations of the post/human: monsters, aliens and others in popular culture. New Brunswick: Rutgers University Press.

Halberstram, J. & Livingston, I. eds. 1995. Posthuman bodies. Bloomington: Indiana University Press.

Haraway, D. 1991. Simians, cyborgs and women: the reinvention of nature. New York: Routledge.

Haraway, D. 1985. Manifesto for cyborgs: science, technology, and socialist feminism in the 1980s. Socialist Review, 80:65-108.

Haraway, D. 1991. Simians, cyborgs and women: the reinvention of nature. New York: Routledge.

Haraway, D. 2003. The companion species manifesto: dogs, people, and significant otherness. Chicago: Prickly Paradigm Press.

Haraway, D. 2007. When species meet. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Hayles, N. K. 1999. How we became posthuman. Chicago: University of Chicago Press.

Herbrechter, S. 2013 (2009). Posthumanism: a critical analysis. Uit Duits vertaal. London: Bloomsbury. [Kindle-uitg.] Beskikbaar: http://www.amazon.com

Nayar, P. K. 2014. Posthumanism. Cambridge: Polity Press. [Kindle-uitg.]. Available: http://www.amazon.com

Seaman, M.J. 2007. Becoming more (than) human: affective posthumanisms, past and future. Journal of narrative theory, 37(2):246-275.

Simon, B. 2003. Introduction: toward a critique of posthuman futures. Cultural Critique, 53:1-9.

Smart, A. 2011. The humanism of postmodernist anthropology and the post-structuralist challenges of posthumanism. Anthropologica, 53(2):332-334.

Whitlock, G. 2012. Post-ing lives. Biography, 35(1):v-xvi.

Wolfe, C. 2003a. Animal rites: American culture, the discourse of species, and posthumanist theory. Chicago: Chicago University Press.

Wolfe, C. ed. 2003b. Zoontologies: the question of the animal. Minneapolis: University of Minnesota.

Wolfe, C. 2009. Human, all too human: "animal studies" and the humanities. PMLA, 124(2):564-575.

Wolfe, C. 2010. What is posthumanism? Minneapolis: University of Minnesota Press.

Wolfe, C. 2012. Before the law: humans and other animals in a biopolitical frame. Chicago: University of Chicago Press.

 

Joanette van der Merwe

(Gepubliseer Junie 2018)