AFFEKTEORIE

(Gepubliseer Februarie 2018)

Affekteorie (of meer akkuraat, affekteorieë) bestudeer die rol van affek in die vorming van subjektiwiteit (die “self”) en intersubjektiewe (intermenslike) verhoudings. Alhoewel "affek" soms as 'n sinoniem vir "emosie" gebruik word, onderskei die meeste affekteoretici tussen dié twee begrippe. Spinoza, Henri Bergson en Deleuze en Guattari word beskou as voorgangers van affekteorie. In die lig van hulle idees beskryf Bertelsen en Murphie affek as "[the] movement of impersonal… [or] pre-personal forces… in which we are caught up" (2010:140). Hemmings beskryf affek as 'n toestand van wese of bestaan, wat voorkom nog vóór dit as emosie manifesteer of geïnterpreteer word (2005:551). In psigoanalitiese terme word affek selfs nog voor die drifte van die psige geplaas, aangesien affek bloot die uitdrukking van die energie van die drifte is (Hemmings, 2005:551).

Volgens affekteorie is affek dus 'n pre-kognitiewe, outomatiese liggaamlike reaksie, 'n respons of resonansie wat voorbewustelik plaasvind (Leys, 2011:443). Volgens hierdie definisie is daar 'n gaping tussen die subjek se affekte en sy kognitiewe bewuswording en interpretasie van enige gegewe situasie. Affek vind dus selfs nog vóór redes, aannames, intensies, en betekenisvorming plaas. Affekteorie ondersoek dan die rol wat affek speel in die proses om die individu se optrede te bepaal, omdat dit beweer dat kognisie as't ware te "laat" gebeur om die vernaamste bepalende faktor in enige sosiale situasie te wees.

Deels as gevolg van affekteorie se oorsprong in verskillende velde (die sielkunde en die neurowetenskap van emosies), en deels as gevolg van die selfopgelegde opdrag om die uitdagings van die kontemporêre oomblik aan te spreek, is affekteorie in wese interdissiplinêr, soos blyk uit die wyse waarop dit die gaping tussen natuur- en geesteswetenskappe oorbrug. Na aanleiding hiervan maak Seigworth en Gregg (2010:3-4) die stelling dat daar nie 'n enkele, veralgemeende teorie van affek bestaan nie — en spreek hulle die hoop uit dat dit ook nooit sal nie, aangesien die krag van affekteorie juis in die diversiteit en meervuldigheid van sy samevattende teorie lê.

Denkers wat met affekteorie geassosieer word, is Eve Kosofsky Sedgwick en Adam Frank (1995), sowel as Sedgwick (2003), Brian Massumi (1996, 2000, 2015b) en sy werk oor vrees en mag (2014, 2015a), Judith Butler se teorieë van subjektiwiteit (o.a. 1997) en haar fokus op weerloosheid (2004), asook Deleuze (1997), Elspeth Probyn (2005), David Halperin (2009), en Sally Munt (2007) se werk oor skaamte en skande, Sarah Ahmed se studies van die kulturele politiek van emosies (2004) en van gelukkigheid (2010), en Lauren Berlant (2011) se idees omtrent trauma en die kontemporêre krisis.

Die opkoms van affekteorie is deel van die herlewing van idees omtrent affekte, emosies, en subjektiewe ervarings in die sosiale, natuurlike en geesteswetenskappe sedert die middel van die 1990’s ('n ontwikkeling wat o.m. ook neerslag vind in die opkoms van traumateorie gedurende hierdie dekade). In 1995 verskyn twee essays wat beskou word as die begin van kontemporêre affekteorie; beide verwys na die werk van Silvan Tomkins, 'n Amerikaanse sielkundige, gedurende die 1960’s: "Shame in the cybernetic fold" deur Eve Kossofsky Sedgwick en Adam Frank, en "The autonomy of affect" deur Brian Massumi.

Terwyl Tomkins se werk gefokus het op die wyses waarop individue sosiale en persoonlike verhoudings navigeer deur middel van komplekse en interverwante strukture van gevoel en respons (Doss, 2009:9), verbreed teoretici soos Sedgwick, Frank en Massumi die toepassing van Tomkins se idees om tradisionele dualismes soos dié tussen liggaam en verstand te ondermyn. Sodoende word die liggaam (en sy gepaardgaande fisiese gewaarwordinge en emosies) "terug"-geplaas in kultuurteorie. Dit lei tot wat Leys (2011:434-435) beskryf as die "turn to affect" (sien ook Moore, 2011:par. 271 vir die "affective turn") in die geestes- en sosiale wetenskappe, met 'n hernude fokus op beliggaamde emosie en die neurowetenskap van gevoelens.

'n Belangrike eienskap van affek is dat dit transitief is. Volgens Spinoza se bekende frase is affek gesetel in die liggaam se vermoë om te affekteer en terselfdertyd geaffekteer te word (vlg. Bertelsen & Murphie, 2010:140). Hemmings (2005:552) voer dit verder in die lig van Tomkins se werk om te argumenteer dat affek die individu met ander verbind, aangesien affek as't ware die individuele persoon in 'n netwerk van gevoel en respons met ander plaas. Hierdie siening gee aanleiding daartoe dat 'n groot deel van affekteoretiese toepassings die wyses ondersoek waarop affek — as indeks van die liggaam se outonome reaksie op enige sosiale situasie — sosiale interpretasie deurdring of ondermyn, en die logika van sosiale verwagtings ontwrig en onderbreek (Hemmings, 2005:552). In hierdie verband word dikwels verwys na die werk van Gilles Deleuze, veral sy Essays critical and clinical (1997).

Met die beklemtoning van die liggaam vorm affekteorie aan die begin van die nuwe millennium deel van 'n breër kulturele en teoretiese reaksie op poststrukturalisme en 'n tradisie wat gefokus het op diskoers en sosiale tekste. In teenstelling met die klem op die epistemologiese aspekte wat kultuurteorie vir 'n groot deel van die 20ste eeu gekenmerk het, beklemtoon affekteorie die liggaamlike en biologiese, die subjektiewe ervaring en die ontologie van 'n materiële, beliggaamde lewe.

Moore (2011:par. 272) beskou die hernude belangstelling in affek as 'n grondslag vir "new ontologies, new ways of conceiving of the human subject and their relation to the world". Affekteorie staan skepties teenoor konstruktivistiese subjektiwiteitsmodelle, en reken dat konstruktivisme nie daaraan slaag om 'n volledige verklaring te bied vir die mens se plek in die wêreld nie, aangesien dit nie rekening hou nie met "the residue or excess that is not socially produced, and that constitutes the very fabric of our being" (Hemmings, 2005:549). Volgens hierdie opvatting is teksanalises nie voldoende om verslag te doen van die werkinge van die sosiale omgewing nie, en kan dit boonop nie die werking van magstrukture bevredigend verklaar nie.

In teenstelling met post-strukturele konstruktivisme stel affekteorie dan affektiewe verbintenisse voor as 'n alternatiewe model van subjekvorming. In hierdie opsig, en gegewe die fokus op die liggaam en materialiteit, is affekteorie se teoretiese voorgangers sekere feministiese strominge sedert die 1970’s, en later queer teorie, wat tesame met die liggaam veral emosies en emotiewe raamwerke ondersoek het (Hardt, 2007:par. 122). Blackman (2012:par. 126) beweer selfs dat kultuur- en sosiale teorie gedurende die 1980’s en 1990’s gekenmerk is deur die "sosiologie van die liggaam". Sedert die draai van die 21ste eeu is daar in die geesteswetenskappe ook 'n toenemende klem op ontologie, materialiteit, en 'n fokus op die fisiese werklikheid van kultuur in teenstelling met tekstuele abstraksies (Highmore, 2010:119) — 'n siening wat ook neerslag vind in die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie.

Affekteorie se poging om die subjek te bevry van die beperkinge van 'n tekstuele konstruksie deur 'n materialistiese ontologie as grondslag te stel, kan egter nie beskou word as 'n teruggryp na 'n modernistiese (of pre-modernistiese) dualisme tussen verstand en liggaam of rede en emosie nie. In sover as wat affekteorie die materialisme van die liggaam beskou as die fokuspunt van 'n netwerk van interverwante kragte, bly dit nogtans gegrond in 'n post-strukturalistiese verstaan van die subjek. Eerder as 'n biologies-essensialistiese of -deterministiese beskouing, aanvaar affekteorie dat

the solidity of the subject has dissolved into a concern with those processes, practices, sensations and affects that move through bodies in ways that are difficult to see, understand and investigate (Blackman, 2012:par. 117).

In plaas  van 'n oorvereenvoudigde dualisme tussen die abstrakte (denke en taal) en die materiële (wat beskou word as die setel van emosie en affek), stel affekteorie emosie en kognisie, rede en passie, as 'n kontinuum voor (Hardt, 2007:par. 146-159). Dit is ook nie tot die liggaam beperk nie, maar dui eerder op 'n voortdurende, oop, en hernubare proses van verbintenisse tussen materie en affek, wat uiteindelik die geheel van die subjektief-ervaarde wêreld uitmaak (Highmore, 2010:120).

Eerder as om dit bloot as 'n materiële basis te stel wat kan verklaar hoe sosiale prosesse plaasvind, gaan affekteorie verder en bevraagteken die idee dat die liggaam enkelvoudig, natuurlik, of selfs uniek menslik is (Blackman, 2012:par. 126). Hierdie beskouing van die liggaam (wat aansluit by sekere idees van posthumanisme) ondermyn tradisionele grense tussen die psigologiese, sosiale, biologies, ideologiese, ekonomiese en tegniese; en stel voor dat die enigste eienskap wat liggame in gemeen het hulle kapasiteit is om te affekteer en geaffekteer te word.

Soos Seigworth en Gregg (2010:1) dit stel in hulle inleiding tot The affect theory reader:

Affect arises in the midst of in-between-ness: in the capacities to act and be acted upon. Affect is an impingement or extrusion of a momentary or sometimes more sustained state of relation as well as the passage (and the duration of passage) of forces or intensities. That is, affect is found in those intensities that pass body to body (human, nonhuman, part-body, and otherwise), in those resonances that circulate about, between, and sometimes stick to bodies and worlds, and in the very passages or variations between these intensities and resonances themselves.

Affekteorie ondermyn nie net 'n tradisionele idee van die liggaam en die onderskeid tussen die liggaam en denke nie, maar ook die onderskeid tussen self en ander. As 'n pre-subjektiewe mag wat die self-bevatlikheid ("self-containment") van die liggaam ontwrig, ondermyn dit terselfdertyd die grens tussen denkende subjek en kenbare objek. In die sin dat affek die onderbrekings in die grense tussen self en ander uitwys, kan dit gestel word dat affek die subjek affekteer deur sy nabyheid met ander liggame. Hierdie relasionele oopheid — dat die subjek deur sy liggaamlikheid gesetel is in 'n netwerk van affek — desentraliseer die subjek, tot so 'n mate dat Clough (2010:210) beweer dat dit die onderskeid tussen lewend en nie-lewend, die biologiese en die fisiese, natuur en kultuur ontwrig.

Hierdie ontwrigting het verreikende morele en etiese implikasies, en heelwat kenners hou dan ook affekteorie as politieke instrument voor. Die feit dat affekteorie daarop aandring om met die omliggende materiële wêreld om te gaan, maak 'n kritiese verstaan van die sosiale konteks moontlik. Onderliggend hieraan is die aanname dat die affektiewe subjek tot stand kom deur interpersoonlike verhoudings, eerder as deur ongevoelige sosiale strukture. In hierdie opsig is affekteorie se idee dat die subjek relasioneel ingebed is in die sosiale wêreld meer as bloot 'n beskrywende strategie: dit is 'n etiese opdrag om verbintenisse te erken en te bevorder.

Anderson (2010:165) betoog dat hierdie etiese drang inderwaarheid die onderliggende oorsaak is van die opkoms van affek in die kontemporêre kultuurkritiek: dat affekteorie m.a.w. aangedryf word deur die noodsaak en dringendheid om 'n wyse te vind waarmee die veranderende globale konteks aangespreek kan word. Hierdie veranderings behels onder meer die opkoms van nuwe vorms van waarde en arbeid in die inligtingsmark, die totstandkoming van biopolitieke netwerke van dissipline, staatsbewaking en -beheer, sowel as die ontwikkeling van molekulêre en digitale wetenskappe. Clough (2007:par. 324) wys ook op affekteorie se potensiaal om nie-Westerse subjektiwiteite en -geskiedenisse te herstruktureer, 'n projek wat toenemend van belang is in die lig van postkoloniale pogings en gesprekke rondom dekolonialisering. Met dit alles in ag geneem, reken Anderson (2010:165) dat "the turn to affect is not only timely but imperative if the present conjuncture is to be adequately grasped, witnessed, and intervened on".

Die waarde van affekteorie vir die geesteswetenskappe lê vir Doss (2009:9) in die klem wat affekteorie plaas op sosiale dinamikas, die waardes en politiek van representasie, en in die vrae wat dit opper oor hoe lesers en kykers met betekenis omgaan. In die kunsgeskiedenis (maar ook in kuns- en literatuurstudie in die algemeen), argumenteer Doss (2009:9) vir die waarde van affekteorie as 'n kritiese instrument, spesifiek

[a]n expanded economy of affect, one that considers public feelings such as grief, gratitude, fear, shame, anger, and hope, and recognizes how discourses of personal and public experience shape and structure cultural meaning.

Timmer (2010:44) toon aan dat kontemporêre fiksie (wat sy as "post-postmodern" beskou) gekenmerk word deur pogings om affek te herstruktureer sonder om terug te val op tradisionele beskouings van die self as bloot 'n "container of feelings". Dit lei tot selfnarratiewe wat affektief en intersubjektief gekonstrueer word om ʼn gevoel van gemeenskap tot stand te bring, ‘n "frail textual 'we'". (Amian, 2008:182).

Hierdie gevoel van affektiewe gemeenskap word beskou as noodsaaklik om aan die etiese vereistes van die globale wêreld te voldoen, en dit vind neerslag in die wyse waarop literêre werke beskou word. In die studie van letterkunde bring affekteorie 'n perspektiefverskuiwing mee wat die belang van skrywer-leser- en teks-leser-verhoudings beklemtoon. 'n Affektiewe beskouing van subjektiwiteit en kuns lei tot die idee dat literêre werke die vermoë het om die leser emosioneel te betrek, met ander woorde die leser kan (en moet) affekteer. Dit gee aanleiding tot Amian (2008:188) se formulering van 'n intersubjektiewe lesersposisie, waar betekenis tot stand kom deur die affektiewe verbintenisse tussen skrywer, teks, en leser.

Dit hou verband met Deleuze en Guattari (1994:174) se stelling in What is philosophy?: "A great novelist... is above all an artist who invents unknown or unrecognized affects and brings them to light as the becoming of his characters." Deleuze (1997) se idee van die "subjektiewe disposisie" ('n affektiewe vorm van subjektiwiteit wat verder strek as bloot 'n persoonlike identiteit of konsep van die self, maar wat na buite gerig is) word gevolglik as model gebruik om die uitdrukking en totstandkoming van affek in literêre werk te ondersoek (vgl. Probyn, 2010; Hemmings, 2005). Probyn (2010:78) beklemtoon dat, vir Deleuze, die subjek nooit enkelvoudig is nie, maar 'n "affective assemblage of bodies" behels. Die subjektiewe disposisie getuig van 'n "ontbinde" ("dissolved") ego en die affektiewe intensiteit wat die skrywer gevolglik aan beelde en gebeure gee (1997:119), deur

a profound desire, a tendency to project – into things, into reality, into the future, and even into the sky – an image of himself and others so intense that it has a life of its own: an image that is always stitched together, patched up, continually growing along the way, to the point where it becomes fabulous. (1997:117-118)

 

Literatuur

Anderson, B. 2010. Modulating the excess of affect: morale in a state of "total war". (In Seigworth, G.J. & Gregg, M., reds. The affect theory reader. Durham: Duke University Press. p. 161-185).

Berlant, L. 2011. Cruel optimism. Durham: Duke University Press.

Bertelsen, L. & Murphie, A. 2010. An ethics of everyday infinities and powers: Félix Guattari on affect and the refrain. (In Seigworth, G.J. & Gregg, M., reds. The affect theory reader. Durham: Duke University Press. p. 138-157).

Blackman, L. 2012. Affect, embodiment, mediation. London: Sage..

Butler, J. 1997. The psychic life of power: theories in subjection. Stanford: Stanford University Press.

Butler, J. 2004. Precarious life: the powers of mourning and violence. London: Verso.

Deleuze, G. & Guattari, F. 1994. What is philosophy? Vertaal deur Tomlinson, H. & Burchell, G. New York: Columbia University Press.

Deleuze, G. 1997. Essays critical and clinical. Vertaal deur D.W. Smith & M.A. Greco. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Doss, E. 2009. Affect. American Art, 23(1):9-11.

Halperin, D. 2009. red. Gay shame. Chicago: University of Chicago Press.

Hardt, M. 2007. Foreword: what affects are good for. (In Clough, P.T. & Halley, J., reds. The affective turn: theorizing the social. Durham: Duke University Press. [Kindle-uitg.]. Beskikbaar by http://www.amazon.com.

Hemmings, C. 2005. Invoking affect: cultural theory and the ontological turn. Cultural studies, 19(5):548-567.

Highmore, B. 2010. Bitter after taste: affect, food, and social aesthetics. (In Seigworth, G.J. & Gregg, M., reds. The affect theory reader. Durham: Duke University Press. p. 118 -137).

Leys, R. 2011. The turn to affect: a critique. Critical Inquiry, 37(3):434-472.

Massumi, B. 1995. The autonomy of affect. Cultural Critique, 31:83-109, Autumn.

Massumi, B. 2002. Parables for the virtual: movement, affect, sensation. Durham: Duke University Press.

Massumi, B. ed. 2014. The politics of everyday fear. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Massumi, B. 2015a. Ontopower: war, power, and the state of perception. Durham: Duke University Press.

Massumi, B. 2015b. Politics of affect. Hoboken, NJ: John Wiley & Sons.

Moore, H.L. 2011. Still life: hopes, desires and satisfactions. [Kindle-uitg.]. Beskikbaar by http://www.amazon.com

Munt, S. 2007. Queer attachments: the cultural politics of shame. London: Ashgate.

Probyn, E. 2005. Blush: faces of shame. Kensington: University of New South Wales Press.

Probyn, E. 2010. Writing shame. (In Seigworth, G.J. & Gregg, M., reds. The affect theory reader. Durham: Duke University Press. p. 72-90).

Sedgwick, E. Kosofsky & Frank, A. 1995. Shame in the cybernetic fold: reading Silvan Tomkins. (In Sedgwick, E. Kosofsky & Frank, A., reds. Shame and its sisters: a Silvan Tomkins Reader. Durham: Duke University Press. p. 1-28).

Sedgwick, E. Kosofsky, 2003. Touching feeling: affect, pedagogy, performativity. Durham: Duke University Press.

Seigworth, G.J. & Gregg, M. 2010. An inventory of shimmers. (In Seigworth, G.J. & Gregg, M., reds. The affect theory reader. Durham: Duke University Press. p. 1-25).

Timmer, N. 2010. Do you feel it too? The post-postmodern syndrome in American fiction at the turn of the millennium. New York: Rodopi.

 

Joanette van der Merwe