BUITESTANDER

(Hersien Mei 2007)

Die woord buitestander in die sin van iemand wat van die konvensionele maatskappy geïsoleer is, is tussen 1790 en 1800 vir die eerste keer opgeteken. 'n Buitestander is iemand wat nie tot 'n sekere groep behoort of daarin aanvaar word nie.

'n Ander konsep wat verband hou met die konsep van die buitestander is dié van die “ander"”; hy is “anders” as die ander mense in 'n bepaalde groep. Die groep beskou hulleself as die heersende norm; enigiemand wat hiervan afwyk is dus “anders” (en daarom 'n buitestander), bv. 'n immigrant (Sabbatsreis, Annelie Botes, 2007), Moltrein (Dan Roodt, 2004) en 30 Nagte in Amsterdam (2011) deur Etienne van Heerden.  Omdat hy die buitestander is (“anders” is) word hy nie verwelkomend behandel nie.

Buitestanders is dikwels eksentrieke mense, vreemdelinge of kritici van die heersende en aanvaarde norme; hy is ook 'n eensame figuur omdat daar nie kommunikasie tussen hom en die groep is nie (bv. Severus Snape in die Harry Potter-reeks deur J.K. Rowling). Karakters wat tot 'n ander ras behoort (Die swerfjare van Poppie Nongena, Elsa Joubert, 1996) is ook “anders” en dus buitestanders omdat die 'wit' groep die anderrassige karakter nie aanvaar nie. Wanneer hy wel in die groep opgeneem word, is dit gewoonlik tydelik; hy is ook nie gewillig daartoe nie.

'n Buitestander is dikwels 'n sensitiewe karakter wat nie in die lewe tuishoort nie en hom dus van alles en almal distansieer – daarom is hy 'n geslote, enigmatiese figuur. Karel Schoeman se buitestandersfigure is byvoorbeeld blote waarnemers soos Nikolaas in Die hemeltuin (1979). Die buitestandersfiguur kom ook voor in die romans van André P. Brink (bv. Kennis van die aand, 1973) en 'n Droë wit seisoen (1979); en J.M.  Coetzee (Life & Times of Michael K, 1983, en Disgrace, 1999). As gevolg hiervan kom 'n buitestander dikwels as ongevoelig voor. Omdat hy 'n randfiguur is, ondervind hy gewoonlik 'n gevoel van vreemdheid en onwerklikheid. Daarom gee hy maklik pad uit 'n bepaalde situasie en is menigmaal 'n reisende figuur en 'n onpraktiese romantiese dromer, soos vergestalt in Goethe se beroemde Die Leiden des jungen Werthers (Die smart van die jong Werther, 1774).

Buitestanders is nie altyd uit eie keuse randfigure nie, maar omdat hulle perspektiewe met die aanvaarde groep s'n bots, is hulle noodwendig verstotelinge. Zakes Mda konsentreer in sy romans op figure met 'n versplinterde karakter; hulle is ook dikwels buitestanders omdat hulle “anders” is (bv. Toloki in Ways of Dying, 1995).

'n Karakter se “andersheid” kan op 'n hele paar maniere manifesteer, bv. die buitestander behoort tot 'n ander ras as die lede van die aanvaarde groep (Die swerfjare van Poppie Nongena; Kennis van die aand); hy is van 'n ander nasionaliteit; sy religieuse, sosiale of morele oortuigings verskil van die groep s'n', of sy seksuele perspektief is anders as dié van die groep (Larissa Lai, Salt Fish Girl, 2002; Kim Stanley Robinson, 2312, 2012). 'n Buitestander hoort dus nêrens nie.

'n Buitestander is nie noodwendig één figuur of 'n ignoreerbare minderheid nie: as die meerderheid met die aanvaarde norme bots, is die meerderheid “anders” en is dus die buitestandersfigure.
Kinders is dikwels buitestanders, soos die kind in Mahala (Chris Barnard, 1971) wat alleen speel en met niemand praat nie; ook die kind in Mens-alleen (Jan Rabie, 1963) en The Journey (Barry Hough, 2002).

Daar word gewoonlik aanvaar dat die buitestander 'n tipiese verskynsel van die moderne literatuur is, maar eintlik figureer hy al lank as fiksionele karakter – hy is net nie 'n buitestander genoem nie. Don Quijote in Cervantes se roman Don Quijote (1605, 1615) word as 'n antiheld beskou, maar is ook 'n buitestander. Die buitestaandersfiguur het in 1956 besondere prominensie verkry met die verskyning van Colin Wilson se studie The Outsider. Hiermee is die benaming buitestander as literêre term gevestig.

Die EKSISTENSIëLE buitestander is 'n figuur wat voortvloei uit die filosofie van Kierkegaard en Nietzsche. Hierdie buitestander het geen lewenswaardes nie. Hy leef in 'n soort niet en bestaan net van oomblik tot oomblik daarom is die verlede of toekoms nie vir hom belangrik nie. Keuses wat gemaak word, word gemaak op grond van die gegewe in die situasie van die betrokke oomblik waarin hy hom bevind. Meursault (L'etranger, Albert Camus, 1942) kan as 'n eksistensiële buitestander beskou word.

'n Paar bekende buitestandersfigure in die literatuur is Jane in Jane Eyre (Charlotte Brontë, 1847); Huckleberry Finn (The Adventures of Tom Sawyer, Mark Twain, 1884); Winston Smit in Nineteen Eight-Four (George Orwell, 1949); Howard W. Campbell jr. in Mother Night (Kurt Vonnegut, 1961); Frank Cauldhame in The Wasp Factory (1984) deur Iain Banks en die beroemde Meursault in Albert Camus se L'étranger.

Die buitestandersfiguur is gewoonlik ook 'n antiheld omdat hy nêrens aanvaar word nie en dus nie die tiperende held is wat magtige en belangrike dinge vermag nie. In baie opsigte is 'n buitestander en die antiheld dieselfde karakter. (Kyk ook ANTIHELD.)


Bibliografie

Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria: Academica.
Smuts, J.P. 1975. Karakterisering in die Afrikaanse roman. Kaapstad: HAUM.
Wilson, C. 1956. The Outsider. London: Gollancz.
Yep, L. 2005. “The Outsider in Fiction and Fantasy”. The English Journal, 94(3): 52-54.
 

Anna-Marie le Roux