BRIEF

(Hersien November  2017)

Die brief (Lat.: breve scriptum: kort geskrif) is 'n geskrewe private of amptelike boodskap wat van die een persoon na 'n ander gestuur word. Deur briewe word kommunikasie en geletterdheid bewaar. Gedurende die tye wat min mense geletterd was, is die briewe soms deur 'n boodskapper aan die ontvanger voorgelees; dit is ook gedoen om die formaliteit van die briewe-inhoud te beklemtoon. Wanneer die brief in geskrewe vorm aan die ontvanger oorgedra is sonder die tussenkoms van 'n boodskapper of ander tussenganger, het dit die plek van 'n intieme, informele gesprek ingeneem.

Briewe is sedert die Oudheid in Indië, Egipte, Rome, Griekeland en China geskryf en gestuur (briewe word reeds in die Ilias deur Homeros, by Herodotos en by die Atheense historikus Thukydides genoem). In die 17de en 18de eeu is briefskryf as 'n medium vir selfopvoeding gebruik – dit het 'n kuns en 'n vaardigheid geword (The Oxford Dictionary of Byzantium).

Briefskryf is gebruik as kritiese leeswerk, as selfuitdrukking, polemieke is per brief gevoer, en om idees uit te ruil met mense wat dieselfde opinies as jy gehuldig het. Party mense het briefskryf beskou as 'n metode om hulle vaardigheid ten toon te stel. Ander het briefskryf nie net as 'n prestasie gesien nie, maar ook as 'n kommunikasiemedium – dit word vandag nog as sodanig beskou.

Met verloop van tyd het briefskryf 'n kunsvorm geword – soms word daarna as die espitolêre genre verwys, bv. die Bisantynse epistolografie. Die brief kan beskou word as een van die oudste kultuurdokumente – so oud soos skriftekens self. Daar bestaan bv. Babilonies-Assiriese briefversamelings in spykerskrif en Egiptiese briefversamelings wat op papirus geskryf is. Gedurende die Antieke tyd is verskillende soorte materiaal gebruik om briewe op te skryf, bv. metaal, wasbedekte hout, potskerwe, dierevelle, papirus, en selfs 'n appel.

Die Klassieke Oudheid besit sedert die 4de eeu 'n ryke skat aan briefliteratuur. 'n Baie beroemde versameling briewe is dié wat gewissel is tussen Cicero en Plinius die Jongere. Ander bekende brief-versamelings uit hierdie tyd is die briewe van Libanius en keiser Julianus. Die brief is ook as literêre genre beoefen. Verder is dit gebruik as vorm vir verhandelings oor literêre en wetenskaplike aangeleenthede, bv. deur Seneca, Plato en Dionisos van Halikarnassos. Die fiksionele brief het in die Hellenistiese tyd ontstaan. Dié soort brief was veral gewild in die Renaissance, bv. Vondel se Brieven der heilige maagden, martelaressen (1642).

Die klassieke retoriek het die persoonlike vriendskaplike brief as norm gestel: dit moes in 'n informele en vriendskaplike styl geskryf wees. Veral van belang hier is Demetrios se handleiding oor die skryf van 'n brief. Hy stel dit as 'n vereiste dat 'n brief opreg, eenvoudig, en kort en duidelik moet wees. 'n Onderskeid is ook getref tussen die persoonlike brief of personalis en die formele brief of negotialis.

'n Paar Egiptiese briewe uit die Oudheid het in hulle oorspronklike vorm bewaar gebly. Hulle verskaf belangrike inligting omtrent die taal en die sosiale en ekonomiese opset van die tyd.

In die Vroeg-Christelike tyd is die brief dikwels gebruik om te onderrig en te vermaan, bv. die briewe waarin gemeentelike aangeleenthede bespreek is, soos Paulus se briewe in die Nuwe Testament (wat tegnies gesproke liewer “epistels” genoem behoort te word) en die briewe van kerkvaders soos Hieronimus en Augustinus. Sommige briewe het nie werklik 'n briefkarakter gehad nie, maar was eerder teologiese verhandelings, soos die Barnabas-brief en die sg. Tweede Clemensbrief, wat beskou word as een van die oudste voorbeelde van 'n Christelike preek. Ander belangrike briewe is die biskoplike sendbriewe, bv. van Dionisios van Korinthe (ca. 170 n.C.) en die goed versorgde briewe van die Kappadosiese kerkvaders.

Gedurende die Middeleeue is briewe veral van en na die kloosters en koninklike howe gestuur. 'n Beroemde briefwisseling is dié tussen die Franse filosoof Pierre Abélard en die non Héloïse d'Argenteuil, geskryf in Latyn. Daar bestaan ook briewe van mistici (soos Hadewijch) wat soms in Latyn en soms in die moedertaal geskryf is.

Amptelike briefwisseling was in die Middeleeue 'n belangrike saak en talle handleidings daaroor het verskyn. Redevoering is vervang deur die skryf van briewe, en baie verhandelings wat handel oor die redevoering is eintlik verhandelings oor die skryf van briewe.

Gedurende die Renaissance en die Barok het 'n hele briefkultuur ontstaan. Die redevoering het in die Renaissance steeds in die vorm van die brief geskied. Die brief beleef in hierdie tyd veral 'n opbloei in Frankryk. Ook uit die 18de eeu kom 'n aantal bekende briefversamelings uit Frankryk, bv. van Diderot, Voltaire en Rousseau. (Kyk hier vir 'n keuse uit Voltaire se briewe.)

In Engels is die briewe van Swift, Addison en Pope voorbeelde van bekende brief-versamelings. Uit die 19de eeu is die briefwisseling tussen George Sand en Flaubert bekend, asook die briewe van Scott, Byron en Keats. In Duits is daar die baie bekende briefwisseling tussen Goethe en Schiller.

'n Beroemde briefwisseling van die 20ste eeu is dié tussen Menno ter Braak en Eddy du Perron (1930-1940) waarin die politieke en kulturele ontwikkelinge van die tyd beskryf word asook die stigting van die tydskrif Forum. Kyk http://www.mennoterbraak.nl/brieven/lijst.php?id=du_p001. In Afrikaans is o.a. die briewe tussen N.P. van Wyk Louw en sy broer, W.E.G. Louw, gepubliseer (Kannemeyer 2004). Die beroemde liefdesbriewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker het in 2015 verskyn (Galloway 2015).

Die briefwisseling tussen skrywers of tussen 'n skrywer en vriende en familie kan van literatuurhistoriese belang wees omdat dit soms inligting oor sy lewe en sy werk verskaf. Gerrit Bakker, 'n Johannesburgse verkoper van antikwariese boeke, was in besit van die briewe van die Nederlandse digter en kritikus Jan Greshoff; ook 'n gesensorde brief wat Uys Krige aan sy ouers geskryf het toe hy 'n krygsgevangene in Italië was. Bakker het al hierdie briewe aan die biblioteek van die Universiteit van Johannesburg geskenk. Ena Jansen het ook haar versameling briewe van Elisabeth Eybers aan die Universiteit van Johannesburg geskenk.

Namate die tegnologie as verfynder raak, word briewe-op-papier al hoe minder geskryf en met “slakpos” gepos. Selfone raak al hoe gesofistikeerder en elektroniese pos (ePos) is dikwels die verkieslike manier van kommunikasie en inligtingversameling (navorsing). Tans stuur 'n mens 'n “sms” of “whatsapp” en 'n ePos as jy met iemand wil kommunikeer. Hierdie kommunikasievorme word egter nie as briewe beskou nie, maar as boodskappe.

Elektroniese 'briewe' maak nie so 'n goeie historiese navorsingbron soos tradisionele briewe uit nie. 'n ePos. Elektroniese briewe het nie 'n persoonlike karakter nie dit verskyn in die vorm van strak (alhoewel netjiese) drukwerk en het dus nie dieselfde emosionele kwaliteit as handgeskrewe briewe nie. Elektroniese boodskappe is veel korter as handgeskrewe briewe; dit is moeilik om iemand se lewe of historiese gegewens hieruit te rekonstrueer. 'n Mens is geneig om briewe te bewaar, en 'n reeks briewe word gewoonlik in 'n bondel versamel terwyl ePosboodskappe maklik uitgewis word. Mense is bang vir kuberterroriste en wis boodskappe uit – veral as dit belangrike en persoonlike/ inkrimi-nerende inligting bevat.

Tradisionele briewe het 'n paar voordele bo elektroniese boodskappe. Geen spesiale instrumente (bv. 'n selfoon of mikrorekenaar) word vereis om 'n brief te skryf nie; 'n mens het net 'n pen en papier nodig. Advertensies wat op papier gedruk is, kan maklik oor 'n spesifieke area versprei word. 'n Brief is so te sê permanent, want dit is 'n fisieke bewys van die kommunikasie wat plaasgevind het. Dit het ook die voordeel dat geen drukwerk nodig is nie (drukkersink is duur, penink is relatief goedkoop). 'n Gedrukte brief is onpersoonlik, byna identiteitsloos, maar sommige mense verleen 'n persoonlike karakter aan hulle gedrukte brief deur dit per hand te onderteken. Klein voorwerpies kan saam met 'n brief gepos word – 'n liefdesbrief kan byvoorbeeld deur 'n geparste blom vergesel word.

'n Onderskeid word tussen die brief en die epistel getref. Briewe getuig van persoonlike verhoudings tussen vriende en familie terwyl die epistel 'n formele dokument is. Die epistel is dus 'n doelbewus literêre vorm, bv. Pope se epistels in versvorm (Moral Essays, 1731-1735). Die term epistel word veral geassosieer met die sendbrief, veral die apostel Paulus se sendbriewe in die Nuwe Testament.

 

Bibliografie

Altman, Janet Gurkin. 1982. Epistolarity: Approaches to a Form. Columbus: Ohio State University Press.
Blake, G. & Bly, R.W. 1993. The Elements of Technical Writing. London: Macmillan.
Bratcher, D. 2013. The Genre of New Testament Letters and Epistles. Christian Resource Institute. http://www.crivoice.org/ntletters.html.
Classen, A. 1988. Female Epistolary Literature from Antiquity to the Present: an Introduction. Studia Neophilologica: A Journal of Germanic and Romance Languages and Literature, 60 (1).
Ebbeler, J. 2009. Tradition, Innovation, and Epistolary Mores. In Rousseau, P. A. Companion to Late Antiquity. Chichester: Wiley-Blackwell.
Meyer, E., Engstrom, T.H. & Golz, S.I. 1987-1988. Letters on the autobiography of writing. Discourse: Journal for Theoretical Studies in Media and Culture, 10(1).
Kannemeyer, J.C. red. 2004. Ek ken jou goed genoeg --: Die briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, 1936-1939. Pretoria: Protea Boekhuis.
Galloway, Francis, red. 2015. Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Kaapstad: Umuzi.
Oxford English Dictionary of Byzantium. 1991. Epistolography. New York & Oxford: Oxford University Press.
Poster Carol & Mitchell Linda C. reds. 2007. Letter-Writing Manuals and Instruction from Antiquity to the Present. Columbia: South Carolina Press.
Schmidt, I. 1988. “Was ist ein Brief? Zur Begriffbestimmung des uellen kündlichen Gattung”. Internationales Jahrbuch für Editionswissenschaft, 2.
Woester, W. 1988. “Vorschlage für ein Normierung von Briefeditionen”. Internationales Jahrbuch für Editionswissenschaft, 2.
Kyk ook Letters.org.


Anna-Marie le Roux