CHICAGO-SKOOL

Die benaming Chicago School of Chicago-Aristoteliane verwys na 'n groep kritici en literêre vakkundiges wat sedert die veertigerjare verbonde was aan die Universiteit van Chicago. 'n Saamgestelde bundel van 1952, Critics and Criticism: Ancient and Modern, bevat die uitgangspunte van die groep wat oorspronklik uit die outeurs van dié werk bestaan het, d.w.s. R.S. Crane (red.), W.R. Keats, Richard McKeon, Norman MacLean, Elder Olson en Bernard Weinberg. Die twee belangrikste onderskeidende kenmerke van hierdie skool uit die geledere van die teksgerigte benaderings, kan saamgevat word onder, die hoofde pluralisme en neo-Aristotelianisme.

In die inleiding tot Critics and Criticism verklaar Crane dat hulle "a pluralistic and instrumentalist view of criticism" het en daarom ook 'n "plurality of distinct critical methods" erken wat elk geldig of gedeeltelik geldig is binne 'n bepaalde gebruiksraamwerk of sfeer. Hierdie siening het daartoe gelei dat hulle noukeurige historiese en sinchroniese analises gemaak het van die literêre kritiek self, van wat dit is en wat dit bestudeer, en dit met groot filosofiese helderheid beskryf het. Die Chicago-kritici het hulle eie metode dan ook beskou as 'n metode tussen ander bruikbares. Deur die historiese ondersoek wat hulle gedoen het, het hulle een metode herontdek wat na hul mening die bruikbaarste model uit die verlede gebied het, nl. die een wat Aristoteles in sy Poëtika (Poetics) uiteengesit het.

In 'n poging om 'n nuwe teoretiese grondslag vir die literêre kritiek te ontwerp, volg die Chicago-kritici Aristoteles se ideaal na van 'n poëtika wat altyd afgelei moet word uit bestaande werke en dus pragmaties en empiries pluralisties is. Kritiek word beskou as sekondêre analise wat steeds oop bly a.g.v. die altyd groeiende verskeidenheid in die literatuur. Aangesien die Chicago-skool gebruik maak van 'n veel groter en meer gevarieerde literêre korpus as wat aan Aristoteles bekend was, gaan hulle verder as die Aristoteliaanse grondslag en kan dus as neo-Aristoteliaans getipeer word. Nog 'n aspek van die Aristoteliaanse poëtika waarop die Chicago-kritici voortgebou het, is die poging om tussen verskillende breë GENRES of "spesies" (soos DRAMALIRIEK en EPIEK) en ook sub-genres of "sub-spesies" te onderskei en spesifieke reëls daarvoor af te lei.

Hierdie kritici was ook, soos Aristoteles, holisties in hul benadering tot literêre werke in dié sin dat hulle gemoeid was met die werk as 'n volledige, dinamies ontwikkelde struktuur, 'n konkrete artistieke geheel wat in relasie tot sy dele en tot ander soorte gehele bespreek kan word. Die belangrikste van die strukturele dele wat onderskei en gedefinieer word, is die PLOT, die sg. "imitation of an action", wat reeds deur Aristoteles as die eerste noodsaaklike vereiste vir die epiek en drama beskou is. Vir die Chicago-kritici was die plot die primêre organisatoriese beginsel waardeur 'n kriterium van eenheid en struktuur vasgestel kon word vir die literêre kritiek.

Hoewel die Chicago-skool ook teoreties ingestel was en klem gelê het op die noukeurige interne analise van kunswerke, soos die heersende neiging onder Amerikaanse kritici was, het hulle sterk standpunt ingeneem teen die NEW CRITICISM. Critics and Criticism was 'n oorwegend polemiese geskrif waarin 'n uitdaging gestel is aan die meganiese, oorvereenvoudigde aannames (m.b.t. SIMBOLISME, PARADOKS, poëtiese taal en die IKONIESE AARD VAN DIE LITERATUUR) waaraan veral eksponente van die New Criticism hulle skuldig gemaak het. Die Chicago-kritici gebruik egter dikwels self 'n dogmatiese skema (gebaseer op plot, genre, ens.) as polemiese instrument teen die New Criticism en voorstanders van 'n MITIESE interpretasie van die literatuur.

Die vernaamste punte van kritiek wat ingebring is teen die Chicago-skool (o.a. deur W.K. Wimsatt jr. in The Verbal Icon, 1954) is dat die genrekategorisering te rigied is en verhinder dat die kritikus ander belangrike elemente in die werk raaksien wat nie spesifiek deur die genre vereis word nie. Die genreteorie word uiteindelik tot 'n buitetekstuele gegewe verhef wat die kritiese oordeel bepaal. Die te rigiede indeling volgens genres lei tot 'n steriele kategorisering van werke sodat die beweging min praktiese kritiek tot gevolg gehad het.

Die waarde van die Chicago-skool is hoofsaaklik geleë in die deeglike vakkundige teoretisering wat dit opgelewer het en die belangrike historiese perspektiewe wat dit gebied het vanweë die genrebenadering. 'n Betekenisvolle bydrae tot die bestudering van FIKSIE is veral gemaak met die werk van Wayne C. Booth, The Rhetoric of Fiction (1961). Andersins was Crane die belangrikste verteenwoordiger van die groep, met The Languages of Criticism and the Structure of Poetry (1953) as voorbeeld van die deeglike teoretiese besinning wat die Chicago-skool opgelewer het. Die invloed wat hierdie groep op die ontwikkeling van die moderne Amerikaanse kritiek gehad het, behoort nie onderskat te word nie.

Vir voorbeelde van die Chicago-skool se werk, kyk Booth (1961) en Crane (1953). Daar is ook 'n bydrae van Elder Olson in Scott (1968). Verder kan daar meer oor hierdie skool gelees word in Du Plooy (1986), Fowler (1973), Mottram & Bradbury (s.a.), Preminger (1965/1979), Sutton (1963), Wellek (1963) en Wimsatt (1954).

 

Bibliografie

Booth, W. 1961. The Rhetoric of Fiction. Chicago: University of Chicago Press.

Crane, R.S. 1953. The Languages of Criticism and the Structure of Poetry. Toronto: University of Toronto Press.

Groeben, N. 1972. Literaturpsychologie: Literaturwissenschaft zwischen Hermeneutik und Empirie. Stuttgart: Kohlhammer.

Scott, W.S. 1968. Five Approaches of Literary Criticism. New York: Macmillan.

Sutton, W. 1963. Modern American Criticism. London: Prentice-Hall.

Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. New Haven: Yale Univer­sity Press.

Wimsatt, W.K. jr. 1954. The Verbal Icon: Studies in the Mean­ing of Poetry. London: Methuen.

 

Mabel A. Rossouw