EPIGRAM

 

Die epigram is 'n kunssoort wat met die loop van die eeue iets heeltemal anders geword het as wat dit aanvanklik was. Soos ons van die naam kan aflei (Gr.: epigramma: inskripsie, byskrif), was die epigram aanvanklik 'n (kort) inskripsie (in prosa of vers) wat op een of ander objek, 'n kruik, bv., maar veral op gedenktekens of grafstene aangebring is. Omdat die vers vir die doel treffender is, het die epigram gou spesifiek 'n digvorm geword.

Die oudste Griekse epigramme dateer uit die argaïese periode en wel uit die 8e en 7e eeu v.C. Wie die makers van die vroeë epigramme was, weet ons nie. Aanvanklik was die maat, in aansluiting by die EPOS, 'n daktiliese heksameter, maar later is ook ander mate gebruik, veral die ELEGIESE koeplet (d.w.s. 'n verspaar bestaande uit 'n heksameter en 'n pentameter). Wat die inhoud betref, het die epigram, soos hy op 'n padteken of monument verskyn, dikwels aan die verbyganger 'n wyse woord of seëngroet meegegee.

Epigramme uit die Klassieke periode word, in sommige gevalle met 'n mate van onsekerheid, aan beroemde skrywers toegedig: Homeros, Aristoteles, Euripides. Van Plato het 'n hele aantal pragtige elegiese epigramme bewaar gebly. Baie inskripsies uit dié tyd het anoniem gebly, maar 'n figuur wat nou as die eintlike epigramdigter na vore getree het, was Simonides (556-486 v.C), van wie o.a. 'n epigram op die 300 manne wat by Thermopulae geval het, beroemd geword het: "Die wat gesterf het by Ther­mopulae, roemryk is hulle lot, en hulle ondergang is skoon ..." Soos te verwagte is, was die epigram van dié periode fyner afgewerk, gevoeliger, persoonliker as dié van die argaïese fase. Dit het nou literatuur geword.

Die Hellenistiese fase, d.w.s. die periode ná Alexander (356-323 v.C), het groot veranderinge in die aard en voorkoms van die epigram gebring. Grafskrifte het nog voortgeleef, maar daarnaas het kort gedigte, verwant aan inskripsies, hulle verskyning gemaak. Dit was gedigte wat egter nie as inskripsies bedoel is nie. Hulle het oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe gehandel: liefde, vroue, wyn, 'n troeteldier, 'n held, en onder hulle was daar haat-gedigte, liefdesgedigte, elegiese gedigte, spotverse.

Verskillende figure het in dié periode na vore gekom, o.a. Leonidas van Tarentum (wat met sy egtheid en beheerstheid groot indruk maak) en Callimachus (4e eeu v.C), wie se beroemde epigram op die dood van sy vriend Herakleitos soos volg in Engels deur William Corry vertaal is: "They told me, Heraclitus, they told me you were dead;/ They brought me bitter news to hear and bitter tears to shed./I wept, as I remember'd how often you and I/ Had tired the sun with talking and sent him down the sky." Dit is opvallend dat die afgestorwe vriend hier, anders as vroeër, direk aangespreek word – iets wat as 'n innovasie beskou is.

Van 'n later datum is Meleager wat, afgesien van sy talle epi­gramme, beroemd geword het vanweë sy "Bloemlesing" (± 60 v.C.) van kort gedigte, 'n versameling wat van tyd tot tyd aangevul is, sodat dit vandag 'n uitstekende beeld gee van die Griekse epigram soos dit oor eeue ontwikkel het.

Die vroeë Romeinse epigramme (vanaf die 2e eeu v.C.) is gaandeweg deur die Griekse voorbeelde beïnvloed en verfyn sodat dit by 'n figuur soos Catullus (84-54 v.C.) besondere hoogtes bereik. Die liefdesepigram, wat vroeg al in swang was, het hy ook beoefen en daarnaas die skerp SATIRIESE haat-epigram – 'n liefde-haat-tweeling dus wat hy self so onder woorde gebring het: "Odi et amo:quare id faciam, fortasse equiris. Nescio, sed fieri sentio et excrucior." (Ek haat en ek het lief: jy vra miskien waarom ek dit doen. Ek weet nie, maar ek voel dit gebeur en ek word gemar-tel.) Dis 'n moderne lewensgevoel wat bv. meer as een gedig in Van Wyk Louw se Tristia aangeraak het.

Met Catullus het die epigram in populariteit toegeneem en 'n groot aantal beoefenaars kan genoem word: Caesar, Augustus, Tiberius, Ovidius, en 'n hoogtepunt word bereik in die werk van Martialis (40-104 n.C). Gebore in Spanje, kom hy as jong man na Rome waar hy 'n groot aantal, soms snedige, soms vleiende, soms epikuristiese epigramme skryf, groot lof inoes, selfs die beskerming van keisers geniet en 'n kritiese gees openbaar in sy werk wat 'n enorme invloed in die Weste sou uitoefen. (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE.)

So het die epigram in 'n kort, pittige, puntige gedig ontwikkel wat soms wreed-satiries kan wees, ander kere mild is, lofprysing of speels met 'n fyn degenstootjie. Dis 'n vorm wat op ver­skillende maniere gedefinieer word; maar wat essensieel is, is sy kortheid, sy gevatheid, sy trefsekerheid, soos in 'n mate ook duidelik word uit Boileau se definisie wat hy in die tweede sang van sy L'artpoétique gee: "L'épigramme, plus libre en son tour plus borné,/ N'est souvent qu'un bon mot de deux rimes orné." In Frankryk het die epigram gefloreer en talle name kan in dié verband genoem word: Ronsard, Chénier, Marot, Voltaire, Boileau. Van lg. ter illustrasie, hierdie geniepsige voorbeeldjie n.a.v. die (mislukte) drama Agésilas van Corneille, waarvan hy 'n opvoering bygewoon het: "J'ai vu l'Agésilas/Helas!"

Ook in Nederland was daar belangrike eksponente van die dig­vorm, wat hier in verskillende gedaantes verskyn het: die pun­tige skokversies van Roemer Visscher se Brabbelingh, die sneldichten van Huygens, waarvan Gerben Hellinga 500 byeengebring het in Dichtenop de knie (Ooievaar, 46), later die puntige uitsprake van Staring, die leekedichtjes van De Génestet en mis­kien ook sommige AFORISMES van Greshoff. In Duitsland het die epigram eeue lank sy beoefenaars gehad voor hy hoogtepunte by digters soos Lessing, Goethe en Schiller bereik het. In Engeland, daarenteen, het die epigram sy bloeityd veral in die 17e en 18e eeu beleef met Jonson, Donne, Herrick, Pope, hoewel die epigram met hierdie figure in Engels nie uitgepraat was nie; vergelyk bv. Byron en Oscar Wilde.

In Afrikaans kan C.J. Langenhoven en A.G. Visser genoem word asook 'n hele paar gedigte uit D.J. Opperman se bundel Kunsmis, bv. die "Selfportrette" en die "Patriarggalery".

(Vgl. ook PUNTDIG.)

 

Bibliografie

Beckby, H. 1967-68. Anthologia Graeca. 4 bande. 2de verbeterde uitgawe (Griekse teks met Duitse vertalings). München: Ernst Heimeran.

Bing, P. & Bruss, J.S. (reds.). 2007. Brill’s Companion to Hellenistic Epigram. Leiden: Brill.

Bowra, CM. 1936. Greek Lyric Poetry from Alcman to Simonides. Oxford: Clarendon.

Bowra, CM. 1967. Ancient Greek Literature. London: Oxford University Press. 

Fain, G.L. 2010. Ancient Greek Epigrams: Major Poets in Verse Translation.

Fantuzzi, M. & Hunter, R. 2004. Tradition and Innovation in Hellenistic Poetry. Cambridge: University Press.

Fowler, B.H. 1989. The Hellenistic Aesthetic. An Introduction to the Hellenistic Period, c. 323-27 B.C. Wisconsin Studies in Classics. Madison, WI: University of Wisconsin Press.

Fraser, P.M. 1972. Ptolemaic Alexandria, 3 vols. Oxford: Clarendon Press.

Friedländer, P. & Hoffleit, H.B. 1948. Epigrammata. Greek Inscriptions in Verse from the Beginnings to the Persian Wars. Berkeley & Los Angeles: University of California Press.

Garrison, D.H. 1978. Mild Frenzy. A Reading of the Hellenistic Love Epigram. Hermes-Einzelschriften Heft 41. Wiesbaden: Franz Steiner Verlag.

Geist, H. Pfohl, G. 1969. Römische Grabinschriften. München: Heimeran.

Gutzwiller, K.J. 1998. Poetic Garlands. Hellenistic Epigrams in Context. Berkeley, Los Angeles, London: University of California Press.

Henderson, W.J. 1992. “Digter en gehoor in Alexandrië.” Literator 13.1:67-74.

Hull, K.W.D. 1967. Martial and his Times. London: Bell.

Nisbet, G. 2003. Greek Epigram in the Roman Empire. Martial’s Forgotten Rivals. Oxford: Oxford University Press.

Nisbet, G. 2010. Epigram. New Surveys in Classics, Vol. 38. Cambridge: Cambridge University Press.

Nixon, P. 1963. Martial and the Modern Epigram. New York: Square.

Paton, W.R. 1960. The Greek Anthology, Vol. 1 (Books 1-6).Cambridge, Mass., London: Harvard University Press.

Paton, W.R. 1960. The Greek Anthology, Vol. 2 (Books 7-8).Cambridge, Mass. & London: Harvard University

Paton, W.R. 1958. The Greek Anthology, Vol. 3 (Book 9). Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Paton, W.R. 1963. The Greek Anthology, Vol. 4 (Books 10-12). Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Paton, W.R. 1960. The Greek Anthology, Vol. 5 (Books 13-16). Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Pfohl, G. 1969. Das Epigramm. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Woodhead, A.G. 1959. The Study of Greek Inscriptions. Cam­bridge: Cambridge University Press.

 

A.P. Grové