EPOS

 

Die epos (Gr.: epos: woord, verhaal, vertelling, heldedig) is een van die belangrikste vorme van die verhalende digkuns (EPIEK) en die grootste literêre vorm van die Antieke.

Dit is, in sy klassieke vorm, 'n lang, grootse, verhalende gedig in verhewe styl, oorspronklik geskryf in die heksameter in stichiese versreëls. Dit word gekenmerk deur herhalings en vasgelegde formules of epitette. Toesprake van hooffigure word ingevoeg. Die muse word aangeroep. Lang, kleurvolle beskrywings en uitgebreide vergelykings kom voor. Die handeling neem 'n redelike kort tyd in beslag en speel af in 'n tydperk wat algemeen beskou word as dié van groot dade en prestasies. Episodes van die epos hang altyd saam met die hoofverhaal, en die toonaard van die werk is dikwels dié van die klassieke TRAGEDIE. Die epos handel meestal, op verheerlikende wyse, oor die avonture, gevaarlike reise, gevegte en dikwels oor die ondergang van legendariese geslagte of 'n heldefiguur. Meermale moet die held 'n reis na die onderwêreld onderneem. Dit het soms 'n historiese grondslag en sluit dikwels MITESLEGENDES en VOLKSVERHALE in die stofgegewe in. Bonatuurlike figure en kragte speel ook gewoonlik 'n belangrike rol.

Daar word normaalweg tussen twee hooftipes van die epos onderskei, nl. (a) die primêre epos, ook bekend as die volksepos (helde-epos) of gesproke epos, en (b) die sekondêre epos, ook bekend as die literêre, geskrewe of kultuurepos. Die primêre epos ontstaan uit nasionale stof en word deur die volksmond oorgedra. Dit is deur RAPSODES en TROEBADOERS voorgedra wat hul eie wysigings aan die stof (dikwels BALLADES en LIEDERE wat aaneengeryg is) aangebring het. Uiteindelik is die stof deur 'n digter neergeskryf, bv. die Ilias en die Odusseia van Homeros. Die sekondêre epos, daarenteen, word van die begin af neergeskryf deur 'n herkenbare individu wat bewus is van sy kunsskepping en die epos skryf met die doel dat dit gelees en nie voorgedra word nie (bv. die Aeneïs van Vergilius). Die kunsepos is gewoonlik hegter van bou as die volksepos. Laasgenoemde gaan geleidelik in die kunsepos oor met die verdwyning van die mite en die ontwaking van die geskiedkundige bewussyn. Tydens die 11e tot die 12e eeu n.C het die primêre en sekondêre epos mekaar nog tot op sekere vlak beïnvloed, maar vanaf die 13e eeu is die sekondêre epos die belangrikste vorm. Onder die primitiewe volkere bestaan die Homeriese tradisie van die gesproke epos tog nog, en dit word ook onder die hedendaagse Suid-Slawe aangetref. Verder word daar 'n onderskeid getref tussen die klassieke epos en die "moderne" epos van die 20e eeu. Laasgenoemde wyk in 'n paar opsigte van die klassieke epos af. Binne die hooftipes word daar ook 'n paar soorte eposse onderskei.

Die oudste bestaande primêre epos is die Sumeriese Gilgamesj-epos (3e millenium v.C), wat die avonture van die koning Gilgamesj in twaalf boeke behandel. Uit die oud-Babiloniese tyd­perk dateer ook die Skeppingsepos en die epos van Atrahasis. Verder kan genoem word drie epiese gedigte uit die stand Ugarit.

Homeros se Ilias (wat handel oor die oorlog tussen die Grieke en die Trojane, met die held Achilles op die voorgrond) en sy Odusseia (oor die swerftogte en avonture van die held Odusseus ná sy terugkeer van Troje) is albei in heksameters geskryf en dateer uit ongeveer 800 v.C. Hierdie twee eposse is van die grootste en invloedrykste van alle tye en hulle vorm die klassieke basis van enige teoretiese beskouing oor die epos. Die figure in die Ilias is hoofsaaklik aristokrate en die gewone man kom skaars ter sprake. Reeds in hierdie tyd vind ons komiese variante en PARODIEë op die epos. So word 'n komiese epos Margites (Die gek) aan Homeros toegeskryf en ons vind ook die komiese DIERE-EPOS Batrachomyomachia (Die oorlog tussen die paddas en die muise) as parodie op die Ilias. Ná Homeros skryf Apollonios van Rhodos die eerste kunsepos, die Argonautica. Ander Griekse eposse ná Homeros is bv. die Dionysiaca van Nonnos en die laaste klassieke Griekse epos is Hero en Leander van Musaios (6e eeu v.C).

In Indië ontstaan die groot eposse Mâhabhârata (5e eeu v.C.-4e eeu n.C.) en Bâlmîki se Râmâyâna (4e eeu v.C-2e eeu n.C). Eersgenoemde werk handel oor die geveg tussen twee geslagte helde van goddelike afkoms en lg. oor die held Rama se stryd om sy geroofde bruid terug te kry.

Die epos in klassieke Latyn staan van die begin af onder Griekse invloed. Ons vind nie voorbeelde van die primêre epos in Latyn nie. Livius Andronicus vertaal die Odusseia in Latyn (240 v.C). Die eerste historiese epos is die Bellum Poenicum van Gnaeus Naevius (le eeu v.C). Hy gebruik, benewens historiese feite, ook mites en legendes in dié werk. Quintus Ennius, die belangrikste digter voor Vergilius, verlatiniseer die Griekse epiese heksameter in sy Annates (2e eeu v.C). Die Annates bevat sowel legendes as eietydse geskiedenis. (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE.)

'n Subgenre van die epos is die epyllion ("klein epos") wat vir die eerste keer deur die Aleksandryn Kallimachos beoefen is in reaksie teen die omvang en grootsheid van die epos. Die epyl­lion het as verhaalbasis meestal mitologiese onderwerpe. Voorbeelde daarvan vind ons by Catullus, Ovidius (Metamorfoses) en die verhaal van Orpheus en Eurydice in die vierde boek van Vergilius se Georgica.

Vergilius, die grootste Romeinse epikus, se Aeneïs (29-19 v.C.) kan beskou word as die Romeinse nasionale epos en dit is vergelykbaar met die werke van Homeros. Dit handel oor die held Aeneas se stigting van Rome ná sy vele omswerwinge ná die val van Troje en is gebaseer op mites en historiese elemente. Soos vele ander heldefigure daal Aeneas na die onderwêreld af. Die Aeneïs, wat op grond van die gedrag van Aeneas byna as religieuse werk getipeer kan word, word 'n voorbeeld, veral in die Middeleeue, vir byna alle daaropvolgende eposse. Nie een van die eposse van die Silwer Eeu (le eeu n.C.) soos die Pharsalia van Lucanus, die Argonautica van Valerius Flaccus, die Thebaïs van Statius en die Punica van Silius Italicus is wat grootsheid en afgerondheid betref vergelykbaar met die Aeneïs nie. 'n Latynse weergawe van die Ilias, die Ilias Latina, verskyn ook in die le eeu n.C.

Tydens die Middeleeue lyk dit asof daar 'n tydelike stilte ingetree het t.o.v. die skepping van groot eposse. Mondelinge eposse is egter steeds opgeteken en 'n aantal literêre eposse word geskryf voor die opbloei van die latere Middeleeue (12e eeu en verder). Teen die einde van die le millenium skryf die Persiër Ferdausi die Sjah-Nameh (Koningsboek), 'n nasionale epos. Rusthaveli skryf in die 12e eeu die Georgiese nasionale epos Vephchis Tkaosani (Die man in die swartluiperdvet); by die Serwiërs ontstaan die volksepos van die koningseun Marko en sy stryd teen die heidene en in Finland ontspring 'n aantal verhale rondom die volksheld Kalevala. Helde-eposse soos die Edda in Ysland en Beowulf in Engeland moet ook genoem word. Die volksepos Beowulf het waarskynlik reeds tydens die 8e eeu ontstaan, maar die manuskrip dateer uit die 10e eeu. Dit gaan oor die held Beowulf, wat die Deense koninkryk van twee monsters bevry, sy eie mense regeer en uiteindelik ná 'n geveg met 'n draak sterf.

 

Verskeie tipes eposse word in die Middeleeue en laat-Middeleeue aangetref. Uit die 9e eeu dateer die Heliand in Oud-Saksies en die Evangelieharmonie van Otfried van Weissenburg, albei "Christelike lees-eposse". Van die belangrikste "helde-eposse" word in Duitsland gevind: die Waltharius (lied) (einde van die 9e eeu, in Latyn), die baie bekende Nibelungenlied (ongeveer 1200) en die Gudrunlied (ongeveer 1240).

 

Die Franse epos kry sy eintlike beslag met die chansons de geste (Dadeliedere), eposse (ook épopées genoem) wat van die 11e eeu tot die 14e eeu geskryf word. Die eerste en bekendste chanson de geste is die Chanson de Roland (Rolandslied) wat voor 1080 ontstaan en 'n Christelike epos is. Die Rolandslied handel oor die slag van Roncesvaux van 778. Die oudste Spaanse epos, die Poema de mîo Cid (ongeveer 1140), is deur die chansons de geste beinvloed. Ook die Duitse epos van die middel 12e eeu word deur die chansons de geste beïnvloed, bv. die Alexanderlied van die paap Lamprecht, die Rolandslied van die paap Konrad en die Keiserkroniek. Van die belangrikste "voorhoofse" eposse (ook "avontuureposse" genoem) is König Rother en Herzog Ernst. Belangrike eposse van die laat-Middeleeue (buite Duitsland) is die Provensaalse epos Chanson de la croisade Albigeoise (13e eeu), die Franse epos Huon de Bordeaux (ongeveer 1220) en die Dede Korkut-verhale, twaalf epiese verhale uit Turkye.

 

Die epos beleef 'n groot bloeitydperk met die "hoofse" of "ridderepos" in Duitsland tydens die 12e en 13e eeu. Chrétien de Troyes se oud-Franse romans soos Erec et Enide, Lancelot en Yvain (ook Arthurromans genoem) word deur digters soos Hartmann von Aue (Erec en Iwein) verwerk in eposse. Wolfram von Eschenbach verwerk Chrétien se Perceval in een van die grootste eposse van alle tye, Parzival (1200/10). Ander belangrike Middelhoogduitse eposse is die Eneide van Heinrich von Veldeke en Tristan und Isolt van Gottfried von Strassburg. Die hoofse epos word gedra deur ridderlike ideale soos eer, trou en veral dié van die vroueverering en is idealiserend. Die tema van die graalsoektog kom telkens na vore. (Vgl. RIDDERROMAN.)

 

Die "legende-epos" word ook tydens die 12e eeu in Duitsland aangetref, bv. Salman und Morolf en Sankt Oswald. Voorbeelde van hoofse legende-eposse is Kartmann von Aue se Der arme Heinrich en Gregorius.

 

Die diere-epos, met sy wortels in FABELS en verhale waarin diere as hooffigure optree, word tydens die latere Middeleeue beoefen, bv. die Middelnederlandse Van den Vos Reinaerde (ongeveer 1250) en die Nederduitse Reynke de Vos (1498).

 

Die invloed van Vergilius is duidelik te sien in die Divina commedia (Goddelike komedie) van Dante Alighieri. Hierdie werk staan op die drumpel van die nuwe bloei van die Italiaanse epos in die RENAISSANCE. Die Divina commedia kan beskou word as 'n "persoonlike epos", 'n geestelike reis na God en die self. Alhoewel die werk streng gesproke nie 'n epos is nie – daar is bv. nie sprake van 'n heldefiguur nie – word dit tog op grond van sy epiese afmetings en stof ('n epiese reis) 'n epos genoem. Twee Middelnederlandse eposse kan ook hier genoem word: Beatrijs (14e eeu) en Karel ende Elegast (13e eeu). Alhoewel Chaucer se Canterbury Tales en Langland se Piers Plowman (albei werke uit die laat 14e eeu) nie konvensionele eposse is nie, is hulle omvang epies.

 

Twee belangrike Italiaanse eposse wat albei sowel romanties as komies is, is Boiardo se Orlando innamorato (Die verliefde Ro­land – 1479-1494) wat as voorspel dien tot Ariosto se Orlando furioso (Die woedende Roland – 1516). Ridderlike ideale word in hierdie werke in 'n sekere mate gesatiriseer. Die hoogtepunt van die Renaissance-epos in Italië is Tasso se La Gerusalemme liberata (Die bevryde Jerusalem – 1575). Hierdie Christelike epos, wat elemente van die klassieke helde-epos en die ROMANSE bevat, is didakties en ALLEGORIES.

 

Luis de Camões skep in 1572 Portugal se nasionale epos Os Lusiadas, waarin Vasco da Gama se ontdekking van die seeroete na Indië sowel as die geskiedenis van Portugal behandel word. Pierre de Ronsard probeer ook 'n Franse nasionale epos skryf (La Franciade – 1572), maar dit misluk. 'n Belangrike Spaanse kunsepos van dié tyd is La Araucana (1589) van Zúniga.

 

Spenser se Faerie Queene (1589, 1596), 'n mengsel van epos en romanse, is 'n lang verhalende gedig. Dit staan onder die invloed van Ariosto en is 'n uitgebreide allegorie Die werk bestaan uit twaalf boeke waarvan net ses ʼn 'n fragment oorgebly het en staan aan die einde van 'n era waarin die epos ridderlikheid en hoofse ideale op didaktiese wyse aan die leser voorgehou het.

 

In die tydperk van die *Humanisme en die BAROK word die epos tot 'n sekere mate as 'n uitgediende vormtipe beskou en word die vorm veral vir SATIRES gebruik. Teen die middel van die 17e eeu word-daar wel 'n aantal eposse in Frankryk geskryf, maar die meeste van hulle is nie van 'n hoë gehalte nie. In Engeland skryf Cowley ook in hierdie tyd sy onvoltooide epos Davideis wat uit twaalf boeke bestaan.

 

Die grootste en belangrikste voorbeeld van die literêre epos in Engels is Milton se Paradise Lost (1667). Dit kan beskou word as die laaste groot epos wat in 'n mindere of meerdere mate voldoen aan die aard en struktuur van die klassieke epos. Die meeste kenmerke van die epos word dan ook daarin gevind: die verhaal begin in die middel van die gebeure (in medias res) soos die klassieke epos, daar is beskrywings van veldslae, die muse word aangeroep, daar is uitgebreide vergelykings, gevaarlike reise en die taalgebruik is verhewe. Een probleem van dié epos is om die held van die verhaal vas te stel. Milton se Paradise Regained (1671), 'n epiese gedig in vier boeke, staan nie op dieselfde hoë vlak as Paradise Lost nie.

 

Daar is reeds melding gemaak van parodieë en satires op die epos. Die heroïese in die literatuur word veral in die "heroïes-komiese epos" gesatiriseer. Figure uit komiese werke en triviale aangeleenthede word beskryf en behandel in 'n hoogdrawende epiese styl. Heroïese koeplette word in die heroïes-komiese epos gebruik en opgeblase gebeure word op komiese wyse verkleineer. Voorbeelde van dié epostipe is La secchia rapita (Die gesteelde emmer – 1622) van Alessandro Tassoni en Nicolas Boileau se Le lutrin (Die koorbank – 1674). 'n Hoogtepunt in hierdie genre is Alexander Pope se The Rape of the Lock (1712-1714). In plaas van die roof van die skone Helena gaan dit hier om die diefstal van 'n haarlok van 'n aristokratiese meisie deur 'n jong edelman. Fielding se Joseph Andrews kan ook hier genoem word: dit is 'n komiese epos in prosavorm. Pope se werk beïnvloed die komiese helde-epos in Duitsland in die 18e eeu. Ons kry bv. Der Renommiste (1744) van Zachariae en Die Jobsiade (1784) van Kortum.

 

Voltaire poog in Frankryk om 'n epos oor die godsdiensoorloë te skryf (La Henriade – 1728), wat wel allegories en satiries van aard is maar nie as 'n geslaagde epos beskou kan word nie. Sy La pucelle is 'n beter werk.

 

Gedurende die Aufklärung in Duitsland skryf Klopstock sy groot piëtistiese epos Messias (1748-1773). Dit bestaan uit twintig sange in heksameter, is geïnspireer deur Paradise Lost en behandel Christus se lydensgeskiedenis, opstanding en hemelvaart. Wieland se Oberon (1780) is 'n epos wat in die gees van die ROCOCO-estetiek staan. Dit is strofies geskryf en handel oor die Oberon-Titania-motief uit A Midsummer Night's Dream in verbinding met 'n oud-Franse roman. Hierdie twee eposse, sowel as Goethe se fragment Die Geheimnisse (1784-1785) kan beskou word as "wêreldbeskoulike" eposse.

 

Goethe skryf ook, onder invloed van Voss se burgerlike epos Luise, 'n "burgerlik-idilliese epos", Hermann und Dorothea (1797). Hy gebruik die vorm van die epos, maar ignoreer die implementering van heldefigure en/of mites en stel in die plek daarvan burgerlike figure in 'n dorpsituasie. Hebbel se Mutter und Kind (1857) is 'n "burgerlik-sosiale epos".

 

Gedurende die ROMANTIEK word verskeie ou eposse vertaal en verwerk in Duitsland. Die groep Das Junge Deutschland gebruik eposvorme om hulle idees te verkondig, bv. Heine se Ein Sommernachtstraum (1843). Die historiese epos kom ook in Duits­land tot sy reg, bv. Meyer se Huttens letzte Tage (1871), Scheffel se Der Trompeter von Säckingen (1854), Herder se Cid en We­ber se Dreizehnlinden (1878).

 

In Engeland vind daar min ontwikkeling t.o.v. die epos plaas gedurende die Romantiek. Byron se Don Juan (1819-1824) het die omvang en gestalte van 'n epos, al is dit eintlik 'n satire. Don Juan sowel as Childe Harold, Byron se ander groot verhalende gedig, kan as romanties-ironiese eposse beskryf word. Wordsworth se The Prelude (1805) is 'n "outobiografiese epos", 'n tipe epos wat veral ook in die 20e eeu geskryf word. Hierdie gedig se inhoud is nie epies nie, maar die styl wel. Matthew Arnold se epiese fragment Sohrab and Rustum (1853) is 'n epyllion wat geskryf is in die tradisionele verhewe epiese styl. Tennyson se Idylls of the King (1842-1885), Keats se Hyperion (1818-1819) en Browning se epos van twaalf boeke, The Ring and the Book (1868), kan ook genoem word.

Verskeie Franse digters skryf eposse tydens die Romantiek, werke wat nie nasionalisties ingestel is nie maar gaan om die gewone mens se stryd en vooruitgang, 'n stryd wat soms heroïes uitgebeeld word. Dié epos het ook 'n sterk godsdienstige inslag. 'n Paar belangrike eposse is Lamartine se Jocelyn (1836) en La chute d'un ange (1838) en Quaïn (1869) van Leconte de Lisle. Victor Hugo is die belangrikste Franse epikus van die Romantiek. Sy La légende des siècles (1859) bevat van sy beste klein epiese gedigte (petites épopées) en handel oor die verhaal van die mens. Sy ander twee epiese gedigte met grootse temas, La fin de Satan en Dieu – lg. handel oor die digter se soeke na God – is onvoltooid.

 

In Amerika vind ons tydens die 19e eeu pogings tot eposse: Joel Barlow se Columbiad (1807) en Walt Whitman se Leaves of Grass (1855-1860). Poesjkin skryf in Rusland 'n historiese epos oor die lewe van Pieter die Grote (1833) en in Swede skryf Tegner die Fritjofssaga (1825). 'n Spaanse Romantiese epos, El diablo mundo (1841) van De Espronceda, kan ook vermeld word.

 

Die epos is weens verskeie redes gesien as 'n uitgediende vormtipe en word eintlik gaandeweg deur die ROMAN vervang. Tog tref ons in die 20e eeu verskeie voorbeelde van die sg. moderne epos aan. Die moderne epos verskil nie reglynig van die ouere en klassieke epos nie en vertoon steeds sekere kenmerke van hier­die voorgangers. Deur die eeue sien ons eintlik, veral Para­dise Lost, verskeie graduele afwykings van die tradisioneel aanvaarde konsep van die epos – wat stofbehandeling, vorm, ens. aanbetref – sodat die moderne epos eintlik 'n ontwikkeling is op die voorafgaande eposse, eerder as 'n radikale afwyking daarvan. Streng kenmerke van die moderne epos en 'n klinkklare definisie daarvan is nie sonder meer vas te stel nie; tentatief kan 'n paar eienskappe wat by 'n paar moderne eposse voorkom, uitgesonder word: (1) Die objektiwiteit van die digter word meermale prysgegee. In die klassieke epos is die digter objektief, nie didakties nie en hy gee nie sy menings in die kunswerk weer nie. In die Middeleeuse epos is die kunstenaarskap van die digter intuïtief en spontaan, maar in die moderne epos is die kunstenaar­skap bewustelik en opvallend. Ons het te doen met 'n toenemende kunstenaarbewussyn in die moderne epos (vgl. bv. Mei van Gorter). (2) Teenoor die heroïese aard van die klassieke epos het baie van die moderne eposse 'n antiheroïese ingesteldheid. In plaas van 'n heldefiguur is die ANTIHELD of die gewone mens (vgl. Awater van Nijhoff) die hooffiguur. Mitologiese of goddelike figure is ook meermale afwesig in die moderne epos. (3) Moderne probleme word baie in die moderne epos behandel en dit neem soms 'n sosiaal-kritiese standpunt in. (4) Teenoor die onverwikkelde chronologiese lyn en enkelvoudige, reglynige verhaal van die ouer epos het die moderne epos meermale 'n gekompliseerde chro­nologiese lyn en 'n meervlakkige, digte verhaalvlak. (5) Die strofiese versvorm word soms in die moderne epos gebruik teenoor die stichiese versvorm van die klassieke epos.

 

(6) Die rustige, statige verteltrant en verhewe taalgebruik van die ouer epos maak plek vir 'n vinnige verteltempo en gemeensame taalgebruik by die moderne teks. (7) Moderne tegnieke soos die stream of consciousness-tegniekword in sommige moderne eposse aangetref. (8) 'n Sterk kunsteoretiese inslag is te bespeur by van die moderne eposse, wat hulle van die ouer vorme onderskei. Hierdie kenmerke is nie onderskeidende kenmerke wat slegs die moderne epos tipeer nie – van die kenmerke kom ook bv. reeds by die epos in die Romantiek voor – maar is kenmerke wat by 'n paar moderne eposse opgemerk word.

 

Rondom die eeuwending verskyn 'n paar Duitse eposse: Spitteler laat ou mites herleef in sy filosofiese eposse Prometheus und Epimetheus (1881) en Olympischer Frühling (1900-1905). Burgerlik-tydkritiese eposse word ook geskryf, bv. Liliencron se Poggfred (1896), Dehmel se Zwei Menschen (1903), 'n sosiaal-erotiese epos, en Wildgans se Kirbisch (1927), wat kultuur-krities ingestel is. Hauptman se Till Eulenspiegel (1927) behandel moderne probleme; hy skryf ook 'n idilliese epos Anna (1921). Däubler se groot epos Das Nordlicht (1910) is geskryf in 'n EKSPRESSIONISTIESE styl; Döblin se Manas verskyn in 1927. Die historiese epos word ook in die 20e eeu in Duitsland beoefen, bv. Frenssen se Bismarck (1914) en Blunck se Sagen vom Reich (1941).

 

Verskeie gedigte is in die 20e eeu op die skaal van die epos geskryf en verdien vermelding. Pound se Cantos (1925-1969), William Carlos Williams se Paterson (1946-1958) en David Jones se Anathemata (1952), wat, soos Williams se werk, ook OUTOBIOGRAFIESE materiaal bevat, kan as "collage-eposse" beskryf word. A Traveller in Time (1950) van Andrew 'Young is 'n lang gedig met dertien dele; opvallend hierin is die stream of consciousness-tegniek. Ander lang gedigte of gedigreekse wat as moderne eposse getipeer kan word, is Saint-John Perse se Anabase (1924), Kazantzakis se Odyssey (1938), 'n gedig wat bestaan uit 24 boeke en wat handel oor Odusseus se lewe ná sy omswerwinge, en Vasco Popa se Secondary Heaven (1968) (lg. is ook outobiografies) en Pablo Neruda se Canto General (1950) wat van epiese omvang is. Voorbeelde van die moderne epos in die Nederlandse letterkunde is Mei van Gorter, Mattheus van Ed. Hoornik en Awater van Nijhoff.

 

Die term epos (Eng.: epic) word ook aangewend t.o.v. romans wat, soos die epos vroeër, grootse verhale en gebeurtenisse laat ontvou. Moby Dick (1851) van Melville, Tolstoy se Oorlog en vrede (War and Peace) (1865-1872) en Pasternak se Dr. Zhivago (1957) word op dié wyse getipeer. Joyce se Ulysses (1922) word ook beskou as die groot "epos" van die moderne mens; eintlik is die werk 'n anti-epos en sy hooffiguur, Leopold Bloom, 'n antiheld.

 

In Afrikaans word Joemaal van Jorik (1949) van Opperman en Raka (1941) van Van Wyk Louw as moderne eposse beskou, terwyl Martjie (1911) van Celliers en Trekkerswee (1915) van Totius verhalende gedigte is. Grou mure (1953) van S.J. Pretorius is 'n mislukte epiese gedig. Eitemal verwerk die verhale om die figuur van Reinaard die Vos in sy diere-epos binne die Suid-Afrikaanse landskap, Reinaard, die jakkals. Joernaal van Jorik (1949) is 'n epos van die geskiedenis van Suid-Afrika. Die spioen Jorik leer Suid-Afrika en sy mense ken en die gedig brei simbolies uit om 'n gedig te word oor die mens (as "elkerlijck") se lewe. Raka (1941) handel oor 'n inboorlingstam in Afrika wat deur die aapmens Raka ingeneem word. Trekkerswee (1915) is 'n verhaal van die volk en staan ook nader aan die volksepos.

 

Jorik is 'n tipe antiheld in Joernaal van Jorik; daarteenoor is die heldefiguur Koki in Raka weer meer verwant aan die tradisionele epos. Koki is egter tog nie 'n tipiese held soos wat ons hom in die Germaanse epos bv. aantref nie: sy gees triomfeer oor die brute krag van Raka, hy wen nie fisies nie, maar geestelik, wat 'n ander tipe heroïek is as in die tradisionele epos. Joernaal van Jorik is struktureel baie gekompliseer en heg en wat chronologie en verhaallyn betref baie meer verwikkeld as die ou epos. Sy tempo is vinnig en onrustig, teenoor die rustige verteltrant van Raka en Trekkerswee – Raka sluit in dié opsig met sy stichiese versvorm meer by die ou epos aan. Die taalgebruik van Joernaal van Jorik is ook baie meer alledaags en minder verhewe as dié van Raka of Trekkerswee.

 

Bibliografie

Becky, H.  1967-8.  Anthologia Graeca. 4 bande. 2de verbeterde uitgawe. (Griekse teks met Duitse vertalings.) München: Ernst Heimeran.

Bing, P & Bruss, J.S. (reds.).  2007.  Brill's Companion to Hellenistic Epigram. Leiden: Brill.

Bowra, CM. 1945. From Vergil to Milton. London: Macmillan.

 

Braak, I. 1964/1974. Poetik in Stichworten. Kiel: Hirt.

 

Cloete, T.T. 1978. Joernaal van Jorik. Kaapstad: Academica. (Blokboek 11.)

 

Cronjé, G. (red.). 1970. Die epos. Pretoria: Van Schaik.

 

Fain, G.L.  2010.  Ancient Greek Epigrams: Major Poets in Verse Translation.

 

Fantuzzi, M. & Hunter, R.  2004.  Tradition and Innovation in Hellenistic Poetry. Cambridge: University Press.

 

Fowler, B.H.  1989.  The Hellenistic Aesthetic. An Introduction to the Hellenistic Period, c. 323-327. B.C. Winsonsin Studies in Classics. Madison, W.I: University of Wisconsin Press.

 

Fraser, P.M.  1972.  Ptolemaic Alexandria, 3 vols. Oxford: Clarendon Press.

 

Friedländer, P & Hoffleit, H.B.  1948.  Epigrammata. Greek Inscrptions in Verse from the Beginnings to the Persian Wars. Berkeley & Los Angeles: University of California Press.

Hirt, E. 1923. Die Formgesetze der epischen, dramatischen und lirischen Dichtung. Leipzig: Teubner.

 

Maiworm, H. 1968. Neue deutsche Epik. Berlin: Schmidt.

 

Merchant, P. 1971. The Epic. London: Methuen.

 

Murray, G. 1960. The Rise of the Greek Epic. New York: Oxford University Press.

 

Nisbet, G.  2003.  Greek Epigram in the Roman Empire. Martial's Forgotten Rivals. oxford: University Press.

 

Nisbet, G.  2010.  Epigram. New Surveys in Classics, Vol. 38. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Paton, W.R.  1960.  The Greek Anthology, Vol. 1. (Books 1-6.). Cambridge: Mass., London: Harvard University Press.

 

Paton, W.R.  1960.  The Greek Anthology, Vol. 2. (Books 7-8). Cambridge, Mass & London: Harvard University press.

 

Paton, W.R.  1958.  The Greek Anthology, Vol. 3 (Book 9). Cambridge, Mass & London: Harvard University Press.

 

Paton, W.R.  1963.  The Greek Anthology, Vol. 4 (Books 10-12). Cambridge, Mass & London: Harvard University Press.

 

Paton, W.R.  1960.  The Greek Anthology, Vol. 5 (Books 13-16). Cambridge & Mass & London: Harvard University Press.

 

Scholler, H. (ed.). 1976. The Epic in Medieval Society. Tübing­en: Niemeyer.

 

Swedenburg, H.T. 1944. The Theory of the Epic in English. Ber­keley: University of California Press.

 

Tillyard, E.M.W. 1966. The English Epic and its Background. London: Haskell House.

 

Wehe, W. 1942. Das moderne Vers-Epos. Zeitschrift für deutsche Wissenschaft, 4.

 

P.H. Roodt en H.J. Pieterse

 

 

Garrison, D.H.  1978.  Mild Frenzy. A Reading of the Hellenistic Love Epigram. Hermes-Einzelschriften Heft 41. Wiesbaden: Franz Steiner Verlag.

 

 

 

Gutzwiller, K.J.  1998.  Poetic Garlands. Hellenistic Epigrams in Context. Berkely, Los Angeles, London: University of California Press. 

Haenicke, D. 1963. Untersuchungen zum Vers-Epos des 20. Jahrhunderts. München. (Proefskrif.)

 

 

 

 

 

Henderson, W.J.  1992.  "Digter en gehoor in Alexandrië." Literator 13.1:67-74.