EXEMPLUM

'n Exemplum (Lat.: exemplum; Gr.: paradeigma: voorbeeld) is 'n kort vertelling wat 'n morele boodskap oordra. Die exemplum was veral in die MIDDELEEUE gewild. Dit het sy oorsprong in die antieke retoriek waar dit gebruik is om 'n stelling te illustreer. Die exemplum is altyd uit 'n ander verhaal geneem wat reeds bestaan. Dit is die paradigma genoem. Aanvanklik is die exemplum net gebruik in preke en traktate wat vir monnike bedoel was. Die Bybel is as bron gebruik; die Vitae patrum was 'n gewilde bron. Dit het gehandel oor die lewens van 'n aantal vroeg-Christelike kluisenaars. Twee belangrike werke wat exempla bevat, is John Bromyard se teologiese handboeke vir predikers, nl. Summa praedicantium en Liber exemplorarum ad usum praedicantium uit die 14e eeu.

Teen die helfte van die 12e eeu begin exempla ook voorkom in preke wat vir leke bestem was. 'n Groot verskeidenheid werke dien as bronmateriaal, bv. Disciplina clericalis van Petrus Comestor, Jacobus de Voragine se Legenda aurea en Vincentius Bellovacensis se Speculum maius. Preekversamelings soos hierdie is later gebundel in alfabetiese volgorde. Soms is die preke in die versamelings in poësievorm geskryf, bv. Robert Manyng van Brunne se Handlyng synne, wat oor die sewe hoofsondes gehandel het.

Sedert die 14e eeu handel die exempla ook oor die profane liefde, waarvoor veral uit die klassieke liefdesavonture geput is. Die verhale is soms as ALLEGORIEë beskou. Die morele boodskap word aan die einde van die exemplum oorgedra in die vorm van die fabula docet, soos in die geval van Gesta Romanorum, 'n besonder gewilde prosawerk in Latyn. Die exemplum het algaande 'n ontwikkeling ondergaan, sodat dit teen die einde van die Middeleeue komies van aard was. Hierteen het die Hervormers in opstand gekom.

Die exemplum het 'n groot invloed op die literatuur uitgeoefen: "In dicht- en prozavorm werden ze ingelast in geestelijke en wereldlijke literatuur, of wel vormden ze de feitlijke inhoud en vatte de dichter ze samen in een raamvertelling" (Mak, 1964: 618, in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur), bv. in Boccaccio se werk (soos die Decamerone). In Nederland is die procédé deur iemand soos Dirc Potter gebruik in sy Der minnen loep. In Engeland kom dit bv. voor in Chaucer se "The pardoner's tale" en in "The nun's priest's tale" uit die Canterbury Tales.

Vir die moderne leser kom hierdie exempla dikwels gekunsteld voor, maar dit was – soos reeds gesê - baie gewild in die Middeleeue, omdat dit vir die mense konkrete voorbeelde gestel het. Die exempla was trouens so gewild dat preke in 'n stadium geneig het om 'n blote aaneenryging van anekdotes te word. Hierteen het Dante in die 13e eeu in Italië en Wycliffe in Engeland in die 14e eeu sterk beswaar gemaak. Wycliffe het selfs 'n hervormingsprogram aangepak waarin hy glad nie van exempla in sy preke gebruik gemaak het nie.

Die exemplum kom vandag nog voor in preke wanneer 'n predikant 'n anekdote vertel om sy morele boodskap op kernagtige en beeldende wyse oor te dra. Redenaars gebruik dit ook dikwels wan­neer hulle 'n anekdote vertel om een of ander argument te illustreer.

 
Anna-Marie Bisschoff