FABEL

'n Fabel (Lat.: fabula: gesprek, vertelling, storie) is 'n kort allegoriese verhaal in prosa- of versvorm met 'n duidelike lerende intensie. As sodanig kan die fabel GEESTIGHUMORISTIES of SATIRIES wees. Fabels beeld die deugde of gebreke van die mens uit, gewoonlik d.m.v. nie-menslike figure met menslike eienskappe (diere, plante, dele van die menslike liggaam, bonatuurlike wesens) maar ook met mensekarakters, soos die anonieme Die twee broers en Die lasteraar, waarin president Paul Kruger die hooffiguur is. Die duiwel en die Afrikaner (Dawie, Die Burger) (versamel deur P.W. Grobbelaar, 1978) en Zeus en die perd (G.E. Lessing) het selfs bonatuurlike karakters. Fabelkarakters is tipes wat gebruik word om menslike eienskappe te verteenwoordig. In die dierefabel, wat al van die vroegste tye af in die primitiewe kulture van Indië, Egipte en Griekeland voorkom, word toepaslik gekose dierekarakters met tipies menslike eienskappe vereenselwig – die jakkals en die kat met lis (bv. Jakkals en Wolf en die lammers, Dr. O'Kulis), die leeu met krag en mag (bv. Die leeu en die muis, Aesopus), die by met vlyt, ens., wat karakterisering grootliks oorbodig maak. In ooreenstemming hiermee druk fabels 'n sekere lewensetiek uit in leringe, soos die IRONIE dat 'n mens in 'n strik kan beland wat jy vir iemand anders gestel het; dat 'n mens aan andere doen wat jy aan jouself gedoen wil hê; dat mag reg is (in Die dokter met die rooi mus, Aesopus/Luther); dat dit dwaas is om klein sekerhede te verruil vir hipotetiese groter gewin. Hierdie moraal van die fabel kan op verskillende maniere geïntegreer word: of as 'n MOTTO vooraan (bv. in Jaquetta Hawkes se fabel Die groot vis: om 'n grootse taak aan te pak en te faal, bring dikwels onsterflikheid eerder as gereelde sukses in die daaglikse lewe) of EPIGRAMMATIES aan die einde gegee of in die verhaal verweef. Hierdie gedraggerigte lering en sy klein-realisme onderskei die fabel van die religieus-verklarende aard van die GELYKENIS, die idee-geladenheid van egte ALLEGORIE, die misterierykheid van die MITE en die arealisme van die SPROKIE.

Hoewel die fabel (sowel oer- as modern) in die algemeen 'n volkse oorsprong het, het die literêre fabel, wat dikwels die stempel van sy skepper of selfs 'n bepaalde optekenaar dra, ook 'n lang ontwikkelingsgeskiedenis by fabelmeesters soos Jean de la Fontaine, Marie de France en woordkunstenaars wat eksperimenteer met die fabelvorm. Weens sy potensiaal om satiries gebruik te word, is die fabel al dikwels as politieke wapen gebruik, soos L.H. Meurant doen met die apefabels in sy Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar (1861), die eerste boek wat in Afri­kaans verskyn het. Die hoogtepunte in die geskiedenis van die fabel word egter bereik deur skrywers wat reg aan die basiese trekke van die fabel laat geskied, nl. sy eenvoudige lering en sy kernagtige, lewendige vertelwyse.

Van die oudste aantoonbare fabels bestaan in die Bybel (vgl. OU-TESTAMENTIESE LITERATUUR), soos dié van Jotam (Rigt. 9:7-15) en dié van Joas (2 Kon. 14:9), waarskynlik opgeteken respektiewelik in die 7e en 6e eeu v.C. Jotam roep sy fabel van die Gerisimsberg af aan die leiers van Sigem omdat hulle sy halfbroer na die moord op sy 70 broers onregmatig koning van Israel gemaak het. As karakters gebruik hy bome – die olyfboom, die vyeboom en die wingerdstok, wat een na die ander gevra word om koning te word, totdat die doringbos (vanselfsprekend die slegte karakter) die koningskap aanvaar en die seders van Libanon (die tradisionele adel) met vuur dreig as hulle nie in sy skaduwee wil sit nie. Die lering is duidelik: as 'n slegte mens oor jou aangestel word, moet jy onderdrukking verwag. Joas se fabelboodskap aan Amasia van Juda stel ook die mindere en meerdere as bome (doringbos teenoor seders) voor, met die implisiete boodskap dat 'n mens jou nie bo jou stand moet verhef nie (vgl. 2 Kron. 25:18, 19).

Die fabel het sy oorsprong in die Ooste, en die bekendste fabels, soos dié van Aesopus, toon verwantskap met die Indiese dierefabels soos die Pantsjatantra (Sanskrit = [leer in] vyf hoofstukke) uit die le eeu n.C, en Hitopadetsja (Sanskrit = Die heilsame onderrig / leer, 9e tot 14e eeu n.C.) en die Arabiese van Lokman. Ander beroemde Oosterse versamelings daarvan is die verteller Bidpai (of Pilpai) se Vyf boeke in Sanskrit uit die 3e eeu v.C. en Physiologus (dieregeskiedenis) uit die 5e eeu v.C. Van Bidpai bestaan ook ʼn Arabiese weergawe, Kilila en Dimna (name van twee jakkalse) uit die 8e eeu n.C. Al het die Griek Hesiodos reeds in 700 v.C. fabels geskryf, word die bekendstelling van die fabel in die Weste toegeskryf aan Aesopus (6e eeu v.C), 'n Frigies gebore (Klein-Asië) Griekse slaaf, wat fabels van Oosterse en Griekse oorsprong oorvertel. Die populariteit van sy fabels is te danke aan die kenmerkende humor, geestigheid, wysheid en lewendige satire daarvan.

Sy fabels word in verse voortgedra deur Phaedrus (Latyn, 1e eeu n.C.) en die Siriër Babrios (Grieks), wie se verse in die Romeinse keisertyd deur Avianus ook in Latynse verse verwerk word en baie bekendheid in die MIDDELEEUE geniet, hoofsaaklik weens die lerende element daarvan. Prosaverwerkings van Phaedrus se vertaling van Aesopus verskyn in die 10e eeu onder die titel Romulus of Aesopus latinus; dit bly populêr tot in die 17e eeu en is tewens 'n belangrike bron vir die Vlaamse Esopet in die 13e eeu.

Ook die DIERE-EPOS, Van den vos Reinaerde, wat aan die skrywer(s) van die Esopet bekend moes gewees het, bevat fabelmotiewe. Die gewildheid van die fabel in die Middeleeue blyk daaruit dat dit wyd in skole gelees is en dat feitlik elke Europese land in die tyd 'n belangrike fabelskrywer opgelewer het. Marie de France, wat bekend staan as die beste Middeleeuse fabelskrywer, se 102 labels sien teen ongeveer 1200 die lig. In Engeland is Geoffrey Chaucer (1340-1400) se "Nun's priest's tale" die beroemdste voorbeeld en in Duitsland, waar die fabel later sou floreer, is die satirelose fabelversameling Der Edelstein (1349) van die Switserse monnik Ulrich Boner baie gewild; ook vertaal Heinrich Stainhöwel Aesopus (1476), wat herdruk word tot 1730. Die fabel bloei ook in Spanje. Rondom die Reformasie is die skryf van nuwe fabels in Wes-Europa gewild en word die fabel realisties uitgebou in diens van die geestelike vernuwing, o.a. deur Martin Luther (1483-1546), wat ook 'n aantal Aesopus-fabels in Duits verwerk. Sebastian Brant (1457-1521), skrywer van Narrenschif (1494), bevolk sy ark met mensetipes ter wille van die lering. Twee Lutherane, Burkart Waldis (met sy Esopus, 1548) en Eras­mus Alberus (met sy Fabeln, 1534, en Buch der Tugend und Weisheit, 1550) gee op realistiese wyse gestalte aan die reformatoriese lewenshouding.

Sedert die 17e eeu speel Jean de la Fontaine (1621-1695) 'n belangrike rol in die ontwikkeling van die fabel. Met sy humor, geestigheid en opgewekte satire verhef hy die fabel tot grappig-ironiese volkskleinkuns. Hy word erken, ook wat die omvang van sy oeuvre betref, as die wêreld se grootste fabelskrywer. Hy neem die meeste van Aesopus en Phaedrus oor, maar verwerk hulle in sy eie versvorm. Sy Fables choises verskyn in twaalf boeke (1668, 1678 en 1694). In Engeland is dit John Cay (1685-1732) met sy Fifty-one Fables in Verse (1727) en in Duitsland veral Friedrich Hagedorn (Versuch in poetischen Fabeln und Erzählungen, 1738) en C.F. Gellert (Fabeln und Erzählungen, 1746, 1748). Hulle kombineer ligte speelsheid met die didaktiese en bou so voort op De la Fontaine se ideaal van die VERLIGTING, nl. prodesse et delectare (nut en vreugde). Ook G.E. Lessing, die groot Duitse dramateoretikus, met sterk eie beskouings oor die fabel, lewer 'n bydrae tot die fabelskat van dié tyd, met sy Fabeln. Drei Bücher. Nebst Abhandlungen mit dieser Dichtungsart verwandten Inhalts (1759) e.a. In Rusland is Ivan Krylov (1768-1844), wat 'n aantal fabels van De la Fontaine vertaal en tussen 1810 en 1820 nege fabelboeke in Russies publiseer, en Leo Tolstoy (1828-1910) die belangrike fabelskrywers.

In die 20e eeu is die belangrikste bydraers die Amerikaners, Joel Chandler Harris met Uncle Remus Stories (1880-1918) uit die Neger-FOLKLORE van die Suide, James Thurber (1894-1961) met sy Fables of our Time (1941), en die twee Engelse boorlinge uit Indië, Rudyard Kipling (1865-1936) (met sy Jungle Books, 1894-1895 en Just So Stories, 1902) en George Orwell (pseudoniem vir Eric Blaire, 1903-1950).

Laasgenoemde se Animal Farm (1945) is 'n ontginning van die dierefabel as satire op die totalitêre staat.

Volgens P.W. Grobbelaar (1978: 87) was die fabel van die volksplanting af gewilde leesstof aan die Kaap; daar is aanduidings dat Phaedrus en C.F. Gellert asook minder bekende 18e-eeuse fabelskrywers in hulle tyd aan die Kaap gelees is, terwyl Aesopus (J.P.J, van Rensburg: Die mooiste verhale van Esopus, 1970) en De la Fontaine (E.P. du Plessis: Fabels van La Fontaine, 1975) ingeburger en gewild is as leesstof vir kinders. Benewens hierdie verwerkings van die twee groot fabelmeesters, laat Winnie Schumann e.a. met Die groot fabelboek 'n goed verteenwoordigende fabelboek die lig sien. Die groot Afrikaanse fabelboek (P.W. Grobbelaar, 1978) gee 'n goeie beeld van oorspronklike en verwerkte fabels wat sedert 1845 in Afrikaanse blaaie en kinderleesboeke verskyn het.

Die volksaard van die fabel blyk daaruit dat die grootste aantal fabels wat Grobbelaar opgeteken het, dié is wat nie aan persoonlike outeurs toegeskryf kan word nie. Dit word verder bevestig deur die aantal oorvertellings van bestaande fabels wat na die eie konteks getransponeer is. Van die oorspronklike Afrikaanse fabels wat Grobbelaar versamel het, is die meeste van Dr. O'Kulis (W. Postma), gevolg deur Klaas Waarzegger (L.H. Meurant), wat sy eerste fabels in 'n politieke polemiek gebruik. Dit is ook 'n aanduiding van die gewildheid van die fabel dat die eerste boek wat in Afrikaans verskyn, nl. Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar van L.H. Meurant, drie fabels bevat.

Uit hoofde van sy dikwels anonieme ontstaan en die onbegrensdheid van die leserskorps aan wie die fabel gerig word, het dit 'n volksaard. Dit is by hoë uitsondering dat die fabel die estetiese gehalte bereik van die gedig "Fabel" uit Dolosse van D.J. Opperman (1963) en die Kleine Fabel van Franz Kafka.

Fabel in hierdie sin moet onderskei word van fabel as sinoniem vir FABULA.
(Vgl. EINFACHE FORMEN.)

 

Bibliografie

Grobbelaar, P.W. 1978. Die groot Afrikaanse fabelboek. Kaapstad: Tafelberg.

Shumann, W. & Van Rensburg, J.P.J, et al. 1965. Die groot fabelboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

D.H. Steenberg