FABLIAU

'n Fabliau (Lat.: fabella; Fr.: fableau; Pikardies: fabliau, mv.: fabliaux) is 'n klugtige oud-Franse vertelling. Dié genre was baie gewild in die MIDDELEEUE. Dit word ook soms die contes à rire en vers genoem (vgl. CONTE). Die fabliau het vir die eerste keer in die 12e eeu voorgekom – die oudste bekende fabliau, getitel Reucheut, dateer uit 1169, hoewel sommige kritici Esopet (8e eeu) van Marie de France ook as ʼn fabliau beskou. Die laaste fabliau kom aan die einde van die 14e eeu voor. Die fabliau beleef sy bloeitydperk in die 13e eeu. Ongeveer 150 fabliaux het bewaar gebly.

'n Fabliau het gewoonlik uit 300 tot 400 agtsillabige verse bestaan wat paarsgewys rym. Die fabliau het dikwels oor erotiese onderwerpe gehandel. Die HUMOR daarin was gewoonlik ru en gemik teen die burgerstand, die kerklikes en die vrou – lg. waarskynlik in reaksie teen die heersende tradisie van die hoofse liefde. Anders as die EXEMPLUM het die fabliau geen morele strekking nie en is daarom verwant aan die Middeleeuse BOERDE, wat ook 'n kort klugtige vertelling was.

'n Aantal fabliau-skrywers is aan ons bekend, o.a. Henri d'Andel, Phillipe de Beaumanoir en Jean Bodel. Sommige fabliau-skrywers was van die adelstand, soos Robert die IIe, Guines en Phillipe de Remi. Juis omdat sommige van die skrywers adellikes was en die humor in die fabliaux dikwels teen die burgerstand gemik was, kan die fabliau nie as burgerlike kuns beskou word nie. Omdat die milieu en ruimte waarin die gebeure in die fabliau afgespeel het altyd realisties was, kan dit as realistiese kuns beskou word. Bekende fabliaux is Le villiain mire en Les trois aveuglas de Compiègne.

Die fabliau het 'n groot invloed uitgeoefen op die latere literatuur. Die farce (Fr.: opvulling) uit die 15e eeu word beskou as 'n voortsetting van die fabliau. Die fabliau het ook as inspirasie gedien vir verskeie ander Franse skrywers, bv. vir Molière vir sy Le médecin malgré lui; vir La Fontaine vir sy Fables; vir G. Raynaud vir sy Les fabliaux en vir Rabelais. Die fabliau is in wese 'n Franse vorm, maar dit kom ook voor in Engels by Chaucer ("The miller's tale" uit The Canterbury Tales), in Italië by Boccaccio (Il decamerone), in Rusland in die werk van die 18e-eeuse digter I. A. Krylov en in Duitsland in die poësie van C.F. Gellert. (Vgl. ook KLUG (MIDDELEEUSE).)

 

Bibliografie

Barbazan, E. 1976. Fabliaux et contes des poètes français des 11e, 12e, 13e et 15e siècles. Genève: Slatkine.

Bodel, J. 1965. Fabliaux. Paris: Nizet.

Guiette, R. 1982. Fabliaux et contes du Moyen Age. Paris: Stock.

Menard, P. 1983. Les fabliaux: contes à rire du Moyen Age. Paris: Presses Universitaire de France.

Mercadal, C. 1978. Fabliaux et contes du Moyen Age. Paris: Hachette.

Omont, H. 1932. Fabliaux dits et contes en vers du 13e siècle. Genève: Slatkine.

 

Anna-Marie Bisschoff