FEMINISME

Die feminisme verwys in die eerste plek na die opbloei van 'n praktyk en teorie wat gesentreer is om en gemik is op die erkenning van die onderdrukte posisie van die vrou en die herstel van haar regte op alle ekonomiese, politiese en kulturele terreine. Laasgenoemde sluit die wetenskap, kunste en literatuur in asook die wetenskaplike dissiplines wat die vrou tot beskrywingsobjek maak. Die feminisme as term het terugwerkende krag sodat vroeëre situasies en aktiwiteite, bv. literêre en vrouepolitiese aktiwiteite in die breë sin, as feministies bestempel kan word hoewel die term in die indertydse konteks onbekend was. Die feminisme verwys meer spesifiek na die aktivisme, bewegings of ideale wat die stryd opneem vir die gelyke regte van die vrou terwyl daar as vroue opgetree word. Volgens 'n eietydse tendens kan mans egter wel as feministe kwalifiseer. As aktiwiteit en debat vir, deur en oor die vrou lê die feminisme hom toe op 'n praktiese verandering van die posisie van die vrou: gelyke stemreg; akademiese gelykheid, insluitende die toelating van vroue tot alle kursusse, institusies en poste; kerklike gelykheid soos die ophef van die verbod op vroulike kerklike ampsdraers in sekere Suid-Afrikaanse Protestantse kerke; gelyke werks- en bevorderings-geleenthede, diensvoorwaardes en betaling, wat in Suid-Afrika toenemend aandag geniet; die reg op en seggenskap oor aborsie wat op die oomblik in Wes-Europese lande 'n kerngeskil tussen feministe en die owerheid is; die verandering van openbare houdings wat deur feministe as vooroordeel beskou word oor sake soos aborsie, vroulike homoseksualiteit en die sg. tipies of wesenlik vroulike; die stryd teen die uitbuiting van die vrou in al die bogenoemde gevalle asook bv. deur pornografie.

Die opkoms van die feminisme in die vroeë sewentigerjare word o.m. aan die toename in beroepsgeleenthede, -status en onafhanklikheid vir vroue toegeskryf terwyl dit ook opval dat die eietydse feminisme gelyktydig met die burgerregtebeweging in die VSA, die opkoms van die linksradikales en die versetbewegings van 1968 in veral Frankryk en Duitsland sy verskyning maak.

Terwyl die feminisme tans veral na 'n Anglo-Amerikaanse en Europees-Wes-Europees-kontinentale herontwaking verwys, is dit 'n versamelnaam wat na sowel die literêr-kritiese en literêr-teoretiese as ideologiese en praktiese aspekte hiervan kan verwys, wat die verlede insluit en wat volgens die huidige stand revolusionêre en radikale elemente, 'n organisatories en prakties ingestelde beweging asook vertakkings van nie-feministiese terreine soos die literatuurteorie, filosofie of die mediese wetenskap kan in­sluit. Radikale groeperings sluit die Amerikaanse radikale lesbiese groeperings uit die sewentigerjare in en die Nederlandse "dolle Minas".

As revolusionêr geld Marxistiese en sosialistiese vrouegroeperings waarby Anja Meulenbelt in Nederland, die Britse Marxist-feminist literature collective, Angela Davis in die VSA en die Franse politique et psychanalyse prominent is. Die revolusionêre feminisme berus op die aansluiting tussen feministiese doelstellings en 'n nie-feministiese, ander maatskaplik-politiese oriëntasie soos die Marxisme, Sosialisme of swart mag/bewussyn, of op 'n aandrang op algehele verandering van die maatskaplike orde t.o.v. 'n opheffing van die onderdrukking van die vrou, waarby of ʼn bestaande radikale politiese filosofie of 'n vrouegesentreerde filosofie soos die herstel van 'n (argeologies bevestigde) matriargaat of selfs biseksualiteit tot nuwe sentrum verhef moet word.

Die Marxistiese feministiese standpunt behels IDEOLOGIEKRITIEK op die literatuur. Dit ontleed seksistiese ideologie en lewer ideologiekritiek op die kapitalistiese gemeenskap wat verander moet word, terwyl die Sosialistiese feministiese standpunt buite die sosialisties-Marxistiese state veral die onderdrukte en minder-bevoorregte rol van die vrou in sosiale strukture, bv. werksomstandighede, kritiseer. Die moderne Westerse feminisme keur die populêre openbare bevordering van die nuwe vroulikheid, emansipasie, blote beroepsmatige gelykheid of sosiale en politiese sukses, verteenwoordig deur prominente figure soos Thatcher, af as blote bevestiging van 'n manlik oorheerste maatskappy, terwyl die radikale feministe van enige oriëntasie die nie-politiese of pro-man-feministe as onfeministies beskou. Die breë vroue-beweging, onderskeidelik in Brittanje, die VSA en Wes-Europa, konsentreer op hulpdienste t.o.v. verkragte vroue, enkel- en ongehude moeders, aanranding en geweld teen vroue, bv. binne die huwelik, kindersorg, ens. Vrouegroeperings beskou hulleself as alternatief wanneer hulle hulle vir strukturele maatskaplike verandering beywer, byvoorbeeld t.o.v. seksuele roltoewysings binne verhoudings of m.b.t. kinderversorging of broodwinning, wanneer sulke strukturele veranderinge prakties, bv. in kommunes of proefondervindelik, uitgeleef word én wanneer die groepering homself as randgebied van die gewone orde op grond van sulke praktyke beskou en die randposisie doelbewus uitbou en gebruik ter bevordering van hulle eie beskouings. Alternatiewe vrouebewegings of groepe lewer bewustelik kommentaar op die feministies onbevryde of verligte vrou, wat nog deel is van die establishment, se gebrek aan insig in die eie geïdeologiseerdheid as vrou binne die orde. Die feministiese wetenskap, bv. die feministiese wysbegeerte, mediese wetenskap of literêre teorie en kritiek beskou sigself as syvertakking van 'n groter dissipline, bv. die sosiologie, of as onafhanklike wetenskap met die vrou of vrouegelykheid as hooforiëntasie, of as meer of minder buite-of anti-wetenskaplike alternatiewe wetenskap waarvan die feministiese teologie (D. Söllers) 'n voorbeeld is.

Die ideologie van manlike meerderwaardigheid en sy praktiese uitvloeisels word o.a. met die volgende, deur die feminisme eietyds ingeburgerde begrippe beskryf: chauvinisme verwys na die ideologie van manlike meerderwaardigheid as houding en optrede van mans teenoor vroue in die alledaagse omgang; androsentrisme beskryf die sentralisasie van die maatskappy en denke om die andros (=man); fallosentrisme is 'n psigoanalitiese begrip wat verwys na die vooropstelling van die manlike seksualiteit vir die bepaling van ook die vroulike seksualiteit, soos by Freud, en wat daarom die magsposisie van die man in terme van geslagtelikheid aandui, terwyl dit volgens die Lacan-skool meer spesifiek die verhouding tussen die manlike begeerte en mag en die ondergeskikte posisie van die vrou in die strukture aandui. Patriargalistiese houdings en die patriargaat beskryf die ideologie van manlike meerderwaardigheid as die gelykstelling van die man met God, met die vaderlike of die heerser of skepper, en die vrou as onderdanig daaraan. Kenmerkend van 'n patriargalistiese samelewing is onbevraagtekende vanselfsprekendhede soos gratis vrouehuiswerk in diens van die familie, asook die paternalisme wat behels dat die vrou positief maar in terme van ondergeskiktheid, bv. as deugsaam of moederlik, gedefinieer word.

Die feminisme knoop 'n militante stryd aan teen pornografie, wat as uitbuiting van die vrou verwerp word en tot omvangryke ontledings van seksualiteit, magsverhouding en chauvinisme in die Westerse kulturele en ekonomiese tradisie lei (Dworkin, Griffin).

Op literêre gebied laat 'n feministiese strewe sigself eerstens geld as literêre kritiek en later toenemend as teorievorming oor feministiese literatuurkritiek en die essensie en sosiale rol van die feminisme. Vir die literêre feminisme was Virginia Woolf se fiksie asook die half-outobiografiese essay A Room of One's Own, Simone de Beauvoir se Le Deuxième Sexe en Kate Millet se literatuurkritiese en feministies-politiese Sexual Politics toonaangewend. In eg. werk raak Woolf aan al die vernaamste kwessies wat die eietydse feminisme besig hou: die vrou verskyn in die literatuur en wetenskap altyd soos beskryf, besing of geteoretiseer deur die man; die ouerhuis, opvoeding, huwelik en algemene sosiokulturele en ekonomiese omstandighede misken veral die kreatiwiteit, intelligensie, onafhanklikheidstrewe en individualiteit van die vrou, sodat vroueskrywers slegs onder die pedantiese toesig van manlike kritici en volgens erkende maatstawwe van 'n uitsluitlik manlike literêre kanon kon skryf; in die lig hiervan herevalueer Woolf klassieke vroueskrywers soos Jane Austen en Emily Brontë weens hul onafhanklikheid; sy wys op 'n kernargument van die eietydse feministiese literêre kritiek met die opmerking dat manlike kritici nog altyd die werk van vroueskrywers eerstens in terme van geslag gelees het en dat die vrou by man­like skrywers nie in terme van haarself en die hele spektrum moontlike dimensies van 'n lewe beskryf word nie, maar slegs in terme van haar verhouding met mans. Woolf formuleer 'n fe­ministiese kernstelling van vandag: "Women have served all these centuries as looking-glasses possessing the magic and delicious power of reflecting the figure of man at twice his natural size" en loop hiermee die huidige psigoanalitiese beskrywings van die dualistiese aard van manlike oorheersing oor die vrou as manlike afhanklikheid vooruit. Laasgenoemde verklaar volgens Woolf waarom mans vrouekritiek en -intelligensie onderdruk: die ondergeskiktheid en inskiklikheid van die vrou dien omgekeerd tot opbou van sy selfbeeld as openbare en geestelike heersersfiguur.

De Beauvoir se as klassiek tipeerbare teks beskryf hoe die vrou in 'n burgerlike samelewing geïdeologiseer word om haarself die reg op individualiteit en selfverantwoordelikheid te ontsê en die patriargalistiese dominering van alle aspekte van 'n sosiokulturele en sosiopolitiese bestaan te aanvaar, saamgevat in haar bekende stelling: "One is not born a woman; one becomes one". Die feministiese aandrang op maatskaplike verandering in sosialistiese terme as voorwaarde tot die bevryding van die vrou word hiermee aangevoor, hoewel De Beauvoir skepties staan teenoor die feminisme as afsonderlike beweging. Met Millet se vlymskerp ideologiekritiese lesing van bekende outeurs wie se seksisme t.o.v. hul uitbeelding van die vrou vir die eerste keer in 'n eksplisiete konteks van seksuele verhoudings as magsuitoefening deur die man ontleed word, word die eietydse feministiese literatuurkritiek ingelui en gedefinieer as ideologiekritiese ontleding van seksisme as dominante maatskaplike ideologie, wat in skynbaar OUTONOME of individualistiese tekstualisering aantoonbaar is, wat homself as mag bewys in die maatskappy en manlike skryfwyses, en wat daarom die basis vorm vir 'n anti-seksistiese feministiese literêr-kritiese leeswyse wat teksgesentreerde outonomie- en interpretasiekonvensies verwerp.

Hierdie leeswyse konsentreer op die ontmaskering van 'n seksistiese ideologie wat aangetoon kan word in stereotiperings en reduksie van die tekstuele vrou in terme van manlike voorstellings en 'n manlik oorheerste kultuur. Die leeswyse sentreer om geslag, t.w. om die vrou, spesifiek die feministiese vrou as leser. Klassieke tekste, in nuwe kontekste geplaas, moet anders gelees word as wat die man dit lees en die geslagtelikheid van die oorheersende manlike literêre kultuur moet gekorrigeer word. Vir die Marxistiese feministiese kritiek behels dit die ontmaskering van die wyse waarop die vrou maatskaplik én tekstueel net as gebruikswaarde vir die instandhouding van die manlike meerderwaardigheid funksioneer. Manlike resepsies van vroulike skryfwerk, bv. resensies, word eweneens gekritiseer. Tipiese manlike stereotiperings van die vrou is: passiwiteit, wispelturigheid, inskiklikheid en beginselloosheid. irrasionaliteit, godsdienstige toewyding en innerlikheid, o.a. deur Maud Ellman ontleed en geparodieer as sosiokulturele konstruksies sonder substansie (Literary Women). Hierdie lees as weerstand ontlok kritiek jeens 'n sg. feministic fallacy, dat tekste as manlike of vroulike outobiografiese of sosiohistoriese dokumente gelees word en dat slegs 'n man as leser veronderstel word. 'n Ander feministiese leeswyse stel eweneens geslag as kern van lees, maar beoefen 'n tekstuele ontleding en kritiek wat 'n pluraliteit van kritiese metodes bepleit en wat uitgaan van die psigologies en kultureel beskryfbare beperkte situasie van die vrou binne die taal en sy ideologies-kulturele inhoud, soos dit blyk uit hoe/wat die vrou self skryf en hoe/wat daar oor haar literêr geskryf word. Die ginokritiek (gynocritics: Elaine Showalter) ondersoek manlike skryfwerk vir breër, nie bloot anti-seksistiese ideologiese voorveronderstellings van tekstualisering, terwyl dit by vroulike skryfwerk op psigodinamiese problematiek konsentreer. Naas die aanvanklik oorheersende kritiek op literêre vrouevoorstellings lewer die ginokritiek teksgesentreerde ontledings van die onderdrukkende effek van ideologiese geslagsvoorstellings in tekstualiserings-prosesse, en bewys so dat die bylees van die vrou en van ideologie inderdaad ander, nuwe teksgesentreerde interpretasies toelaat (Jacobus, Kolodny). Die ginokritiek vervang 'n eensydige anti-androsentristiese leeswyse. Dit omvat ook belangrike historiese, antropologiese, psigologiese en sosiologiese navorsing oor die vrou as skryfster, as geskrewene in moderne, klassieke, RENAISSANCISTIESE en MIDDELEEUSE LITERATUUR (Nancy Vickers, Ann Rosalind Jones, Mary Daly).

Sedert die tagtigerjare tree die gebrek aan 'n literatuurteoretiese paradigma wat die feministiese literatuurkritiek kan begelei op die voorgrond en problematiseer lg. se aanspraak op die feminisme as onafhanklike, teoreties uitdagende en sosiaal vernuwende benadering. Enersyds lei dit tot POST-STRUKTURALISTIES beïnvloede ontledings van botsings op die vlak van tekstualisering met hulle ideologiese implikasies en onder die invloed van die PSIGOANALISE (Lacan), MARXISME (Althusser, Macherey) en DEKONSTRUKSIE (Derrida). Die vraag na die uitbeelding van die vrou word vervang deur die vooropstelling van tekstuele representasie as illusie; en die rol van kodering, waarby reduksionistiese uitbeeldings van die vrou as kodering van manlike, idealisties-romantiese selfbeelde of onderdrukte angs om selfverlies beskryf word en vroueskryfwerk gelees word as tekstualisering binne die struktuur van begeerte n.a.v. Lacan. Die samehang van geslag en literêre konvensies – genre- en hoofse of laat-Renaissancistiese liefdes-liriek bv. – word ondersoek. Die vooropstelling van geslag kry in die nuutste feministiese literatuurkritiek 'n nuwe inhoud deurdat die klem val op geslag in die algemeen as moontlikheid tot kritiese ondersoek van onderdrukking van die "ander", waarvan die vrou 'n voorbeeld is, deur "dieselfde", d.w.s. deur veruniversaliseerde illusionêre stelsels, spesifiek op die gebied van kommunikasie en interpretasie. Prakties val die soeklig toenemend op die derdewêreldse vrou as die "ander" en uitgeslotene van die Westerse feminisme (Gayatri Spivak).

Die eietydse feminisme het nuwe navorsingsterreine vir die literêre studie ontgin met die vraag na die vrou as skrywer en 'n spesifieke vroueskryfwyse. Ten opsigte van eg. verrig Gilbert en Gubar (The Madwoman in the Attic) baanbrekerswerk met die kritiek op die fallosentriese gelykstelling van kreatiwiteit (die "pen" en die manlike (die "pen/is") en die beskrywing van die vroue-literêre tradisie n.a.v. die 19e-eeuse Engelse literatuur as reaksie op manlike literêre selfbevestiging en oorheersing. 'n Vroueskryfwyse word gedetermineer deur die breuk tussen die vrou en haarself, veroorsaak deur die oorheersende manlike kodes t.o.v. die literatuur, kreatiwiteit en die vrou. Daardeur ontstaan die heks- of waansin-stereotipe van die vrou – lg. is die onafhanklike, "onvroulike" en ontipiese vrou, gestereotipeer deur die man omdat sy hom in sy manlike selfbeeld bedreig. Vroueskryfwerk het 'n eie psigodinamiese struktuur vanweë die vrou se sosio-seksuele plasing. Die feministiese LITERATUURSOSIOLOGIE beklemtoon die onderdrukkende en versperrende aspekte in die vroueskrywer se verhouding tot literêre produksie en resepsie: eg. word deur oorheersende vroue- en skryftiperings beïnvloed, lg. deur die manlike dominering van bemarking, resepsie en kanonisering. Die vroueskrywer vorm, volgens feministe, 'n outonome ondersoekterrein met 'n eie teoretiese paradigma (Showalter). Daarenteen het die vraag na 'n eiesoortige vroueskryfwyse die noodsaak van 'n definisie van die essensie van die vrou en van skryf deur vroue in terme van geslag afgedwing – ʼn problematiek wat dié feministiese vraagstelling en teoretiese bydrae tot die literêre, psigoanalitiese, SEMIOTIESE, filosofiese en ander wetenskaplike besprekings geword het. Teenoor Woolf se androgeniteitstese is, enersyds, gepostuleer dat kreatiewe skryf geslagloos is, andersyds dat androgeniteit, as beskrywing van 'n essensieel ongebonde en ondefinieerbare wese vir man óf vrou, anti-feministies is (C. Heilbrun). 'n Ekstreme vaspenning van die vroueskryfwyse op feministies skryf, gedefinieer as die outentieke uitdrukking van die persoonlike ervaring van die vrou in 'n sosiale konteks (Showalter), verder verabsoluteer deur die fe­ministiese materialisme/Marxisme se verbinding van geslag en klas, word sedert die tagtigerjare toenemend vervang deur die bevraagtekening van die "vrou" as geslote identiteit, sodat nie alleen 'n burgerlik-konvensionele opvatting van die vrou as "vroulik" nie, maar ook die moontlikheid om die vrou afsonderlik van die man te definieer verwerp word, onder die invloed van veral die psigoanalitiese werk van Lacan. Nie slegs "vroulikheid"/"manlikheid" nie, maar ook "vrou"/"man" en die vrou/man-interaksie word as sosiale konstrukte en as die gevolge van 'n grondliggende inskakeling van alle individue in 'n bestaande sosiokulturele en linguistiese orde beskou en met die term verplasing n.a.v. Freud aangedui. Gesplete subjektiwiteit – die tese deur Lacan n.a.v. Freud uitgebou – weerspreek die soektog na 'n matriks vir 'n vroueskryfwyse en die wese van 'n vroue-identiteit. Nogtans lewer hierdie feministiese studie stilistiese en verhaalstrukturele tipologiserings van vroueskryfwerk, o.a. deur middel van verhaalplanondedings (Pratt, Kolodny) en genre-studie (o.a. die BRIEFBRIEFROMAN en Gotiese riller, bv. van Wolestone-craft).

Aanvanklik beveg die eietydse feminisme die reduksie van die vrou in terme van 'n biologiese identiteit en beklemtoon haar andersheid as bewys van gelykheid met die man (Janssens-Juveit; Fire­stone, lg. veral weens 'n Sosialisties-Marxistiese aanslag); andersheid as verskil is die basis vir ʼn nuwe, outentieke vroue-identiteit en maatskaplike verandering. Dit beteken 'n verwerping van burgerlike "vroulikheid" en van kompromie met die fallosentriese maatskappy. Die vrou as die "ander" van ingeburgerde opvattings en stelsels lui 'n post-strukturalistiese feministiese teoretisering in.

Hiermee word die vrouerol as die "ander" van die manlike begeerte en persepsie (in Lacaniaanse sin) verwerp ten gunste van formulerings van vroueselfreferensialiteit wat haar nie as essensiële gegewe en vaste identiteit beskryf nie, maar as psigo-sosiale plasing. Dit behels 'n kritiek op die Freudiaanse beskrywing van die vrou as gekastreer in vergelyking met die man en daarom as 'n sg. "man sonder ..." Terwyl feministiese wetenskaplikes daarop wys dat Freud se vrouedefinisie die maatskaplike situasie van die vrou in sy tyd weerspieël, sodat die vrou as gekastreer eerder wys op 'n maatskappy wat fallosentries is omdat hy patrosentries (patriargaal) óm die Oidipuskompleks opgebou is (Mitchell, Rose), verbind 'n anti-Freudiaanse en deels anti-Lacaniaanse Franse feminisme hierdie Oidipalistiese kastrasie-en verplasingsdefinisies van die vrou met manlike kastrasieangs, wat lei tot die behoefte om die vrou te reduseer sodat sy die man se speculum of ovaalvormige spieëling word – 'n metafoor wat die vrou as besprekingsobjek van Freudiaanse, filosofiese, sosiologiese of ander wetenskaplike opvattings beskryf. Die tradisionele teorieë oor die vrou maak aanspraak op 'n definisie van haar wese. Omdat sulke argumente die vrou in terme van die eie, weerspieëlde blik/visie reduseer, is hulle "waarheid" 'n verplasing van die vrou en, weens die geloof in die "waarheid", van die manlike opvatting self sodat die ovaalvormige spieëling terselfdertyd die leegheid van die manlike persepsie en die andersheid van die vrou, wat "agter" die spieëling voortbestaan, uitdruk (Irigaray: Speculum de l'autre femme).

Vir die feministiese teorievorming formuleer hierdie kritiek die probleem van die plek waarvan en die groep/persoon namens wie feministies gepraat kan word, hetsy diskursief of literêr-kreatief (Felman, Spivak). Deur 'n ontmaskering van die skopolisme van die fallosentriese wetenskapsbeoefening dui die feministiese diskoerskritiek aan dat die vrou die versweë voorwaarde van lg. is, bv. vir Freud, Hegel en Nietzsche, omdat sy die "ander" vir die man verteenwoordig en die strewe na beheersing deur die denke voed sonder om self in haar "andersheid" deur die denke verteenwoordig te kan word. 'n Feministiese dekonstruksiekritiek ontwikkel wat tipiese modelle van die vrou as "ander", as paradoks van nie-verteenwoordiging, as diskursiewe uitsluiting en as kenmerk van 'n fallogosentriese (Derrida) manlike denke/argumentasie beskryf. Die fallogosentrisme ("fallosentrisme" + "logosentrisme") verbind die patriargalistiese sentrering van psigiese en sosiale identiteitsvorming óm verplasing deur begeerte (d.w.s. óm die fallus – die meesterbetekenaar van die begeerte; vgl. Lacan) mét die eweneens patriargalistiese sentrering van waar­heid om die Logos (d.w.s. die denke gesentreer om die cogito; vgl. Descartes). Deur die identiteitstrewes, die sosiale strukture en die denke as "fallies" te kritiseer, stel die feminisme sigself die probleem om òf die vrou as nuwe sentrum te formuleer, bv. as oerbeeld van 'n ander maatskappy as 'n matriargaat, as biseksualiteit of as seksueel-anatomiese onafhanklikheid (in terme van die klitorale deur Freud as penisnabootsing ondergeëvalueer) (Irigaray, Cixous) òf om alle identiteit, dié van vrou en man, as verplasing saam met Lacan te erken en van daaruit die moont­likheid van 'n terugbinding op die self te verken.

Die dubbele verplasing van die vrou waarvolgens sy nie slegs van die pre-Oidipale liefdesobjek van oorspronklike, onderbewuste eenheid (die moeder) vervreem is nie (net soos die man), maar waardeur ook die vervangende liefdesobjek, nl. die man, haar van haarself as vrou vervreem omdat dit haar as gekastreer/ontoereikend/afhanklik/'n blote rol definieer, word deur Julia Kristeva gebruik om die randposisie/uitsluiting/marginaliteit van die vrou in die maatskappy tot kern van die vrou as "ander" en die "andersheid" as dinamiese verskil (différance: Derrida) te probeer beskryf. Feministiese en ander pogings om 'n sentrale oeridentiteit vir die vrou m.b.v. die psigoanalitiese "onderbewuste" vas te stel, word deur Kristeva vervang deur 'n gelykskakeling van albei geslagte in terme van 'n blywende inwerking van pre-Oidipale, pre-verbale en onderbewuste kragte op die alledaagse en veral taalmatige aktiwiteit wat in kreatiewe, eksperimentele en vernuwende literatuur sy uiting vind. Die post-strukturalistiese psigosemiotiese herformulering van die vrou deur Kristeva berus op die moontlikheid wat sosiale verplaastheid die vrou bied tot nouer kontak met die semiotiese oorsprong. Sy beleef haar uitsluiting. Voorbeelde hiervan is (psigologies) histerie as "tipies vroulike" kwaal en (literêr) die Middeleeuse vroue-mistici, terwyl 'n fenomeen soos die laat-Middeleeuse heksery – vir sover "heks" 'n teken van manlike onbegrip, minagting en oorheersingslus is – aspekte hiervan bevat. Kristeva formuleer die vrou as permanente verskil wat vanweë haar marginaliteit terselfdertyd ondergeskik en ondermynend, binne en buite die simboliese orde beweeg. Sy gebruik die moeder, herbeskryf as kern van reproduksie en jouissance (seksuele ekstase), as model van hier­die vroue-identiteit.

Met Kristeva is die konvensionele feministiese en maatskaplike binêre opposisie man/vrou oorwin, omdat die selfformulering van die vrou van die maatskappy afhang. Die Marxisties-materialistiese Franse feminisme kritiseer t.o.v. Kristeva die klem op die anargistiese en daarom apolitiese implikasie en bevestig daarteenoor die noodsaaklikheid van magsuitoefening vir sosiale verandering, waarby hulle nie 'n afskaffing van mag en utopiese individuele vryheid vooropstel nie maar die vrou as nuwe magsbasis. Om alle moontlike kompromie met die bestaande orde uit te skakel, verklaar hierdie feministe hulleself anti-feministies (die sg. Franse Marxisties-feministiese kollektief).

Hoewel die vraag na 'n essensiële vroueskryfwyse hiermee gerelativeer is, lei die feministiese interdissiplinêre gesprek met die filosofie, dekonstruksie en psigoanalise tot eweneens gekritiseerde en skynbaar mislukte definisies hiervan as écriture feminine.

Cixous, die bekendste eksponent hiervan, verbind hierdie vroueskryfwerk-beskouing met 'n anti-feministiese en anti-teoretiese vrouefilosofie waarby Derridiaanse en Heideggeriaanse formules met 'n metaforiese moederbeskouing die kern vorm van die siening van die vrou as oerbron van lewe, krag en van die vrye, onkapitalistiese gawe, en daarom as oerbron van permanente, anti-logosentriese differensialiteit wat homself eindeloos verloor en herhaal. Belangrik is Cixous se poging om met alle identiteits-begrippe weg te doen omdat dit fallosentries bly, sodat die anti-filosofie 'n konsekwente poging tot die formulering van 'n ander, utopiese, a-logosentriese orde met die vrou as kern is. Die po­ging bly egter daarom fonosentries afhanklik van dit wat die Dekonstruksie ontmasker het as metafisiese geloof in 'n volledige ideële teenwoordigheid, en dit slaag nie volkome daarin om Dekonstruksie feministies toepaslik te maak nie.

Die feministiese linguistiek ontleed seksisme in taalgebruik en gaan daarby aanvanklik van die anti-chauvinistiese, ideologiekritiese feministiese houding uit dat konvensies vir grammatikale en sosiale korrektheid in taalgebruik deur die man bepaal is. Die diskriminerende voorkeur vir die manlike voornaamwoord, die manlike verwysing na die Opperwese, die benoeming van die vrou in terme van haar verhouding met die man ("mevrou" teenoor "(me-)juffrou"; "digteres", "lektrise", "mevrou dominee", ens.) getuig hiervan. Die anti-seksistiese linguistiek bestudeer dus taalreëls en praktiese taalgebruik, maar gaan teenswoordig van die veronderstelling uit dat die taal (langue) self nie seksisties kan wees nie sodat die klem op die kommunikatiewe, kontekstuele taalgebruik as magsuitoefening val. In aansluiting by moderne linguiste word die taalmatige inbedding van sosiokulturele androsentriese, seksistiese en fallosentriese tendense nagevors, en die feministies-linguistiese navorsing (Lakoff) wys aan dat die vrou se taalgebruik beïnvloed word deur manlike vooroordeel: sy moet "soos 'n dame" praat, maar word dan veroordeel vir gebrek aan helder en logiese denke; sy neig tot nie-demagogiese, aarselende formulering sodat daar 'n leksikaal, semanties en stilisties isoleerbare vrouetaal aangedui kan word. Hierdie vrouetaal is egter nòg grammatikaal nòg geslagtelik eiesoortig of beperk tot die vrou en beskryf eerder spesifieke kommunikasie-strategieë. Die ginokritiese linguistiek ondersoek ook die moont­like bestaan van 'n antropologiese, mitiese vrouetaal, gekoppel aan sekere primitiewe groepe en matriargate. Aangesien sulke feministiese navorsing neig tot die herbevestiging van 'n vroue-essensie, speel dit tans 'n klein rol in vergelyking met 'n vooropstelling van die vrou se aktiewe deelname aan vorme van diskursiwiteit wat tradisioneel deur die man beheer is. Hierteenoor staan egter ook die taalteoretiese implikasies van die semiotiese inbreuke op taalreëls by Kristeva, wat die moontlikheid van so 'n inbreuk spesifiek in terme van die vrou, maar nie in terme van 'n essensie nie, open en dit beskryf as 'n dinamiese praktyk wat in konteks ontleed moet word (soos in die geval van sekere skrywers soos Joyce of Woolf).

Gelyktydig met die Europees-Westerse feministiese oplewing vanaf Sewentig ontwikkel daar in Suid-Afrika 'n feministiese bewussyn wat aanvanklik veral in die Engelstalige kultuurgebied in kreatief-literêre werk, geesteswetenskaplike navorsing en publikasies en enkele versamelbundels van vroueskryfwerk neerslag vind en eers onlangs op Afrikaanse terreine 'n ekwivalent begin kry, o.m. deur linguistiese navorsing (Edith Raidt). 'n Afrikaanse feministies ingestelde literatuurstudie is tot uitsonderings beperk, maar 'n toenemende belangstelling blyk o.m. ten opsigte van die beeld van die vrou en die chauvinistiese/fallosentriese inslag by manlike skrywers in Afrikaans. Sedert Tagtig verskyn enkele werke deur Afrikaanse vroueskrywers met feministiese aksente: Marlise Joubert se Klipkus, oor 'n lesbiese verhouding en die patriargale reaksie daarop; Wilma Stockenström se Kremetartekspedisie, waarin vrou- en slaaf-wees met behulp van 'n Afrika-motief gekombineer word; Jeanne Goosen se Louoond, wat as narratologiese, stilistiese en tematiese vernuwing die enigste voorbeeld van semiotiese skryfwyse in terme van Kristeva is. Goosen skryf op die oomblik die sterkste feministiese tekste in Afrikaans.

In vergelyking met 'n blyke van feministiese aksie in die Suid-Afrikaanse Engelstalige wêreld is daar geen Afrikaanse feministiese beweging t.o.v. die literatuur nie en bestaan daar geen Afrikaanse feministiese literêre tradisie nie, waarteenoor figure soos Emily Hobhouse en Olive Schreiner vir Engels die begin van 'n tradisie kan verteenwoordig. Nogtans geld hier, soos vir Afrikaans, dat die feminisme as anti-seksistiese, anti-chauvinistiese praktiese en teoretiese aktivisme ter bevordering van die vrou, en bewustelik deur vroue as vroue onderneem, eers tans én slegs sporadies deur 'n aksie vir gelyke regte, i.v.m. aborsie en dergelike, op die voorgrond tree. Dit is egter eerder pro-vrou as pro-feministies. 'n Afrikaanse vrouekultuur in die vorm van 'n verenigingslewe (Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, Vroue-Landbou-Unie, Transvaalse Vrouefederasie, e.a.) is, soos 'n tradisie van literêre uitbeelding van die vrou (Eybers, Van Wyk Louw) deur beide geslagte aantoonbaar, maar kan as patriargaal en fallosentries beskou word, ook in die geval van vroueskrywers (vgl. ook Audrey Blignault). Nuwer werk bly wesenlik on-feministies, hoewel daar 'n opmerklike sterker en bewuste aandag vir die vrou as vrou opgeëis word (Antjie Krog: Otters in bronslaai; Lettie Viljoen: Klaaglied vir Koos; Elsa Joubert: Die swerfjare van Poppie Nongena). In middelmoot-Afrikaanse vroueskryfwerkoorheers 'n kultus van die tipies vroulike waarteen die eietydse feminisme ageer.

In teenstelling met die algemene feministiese bewussyn bestaan daar 'n Suid-Afrikaanse lokaal-politiese feminisme wat verskil van die populêre Europees-Westerse, deurdat die vrou as vrou teen onderdrukking van mans en vroue binne 'n spesifieke politiese situasie protesteer. Hierdie eiesoortige feminisme blyk uit die tradisie van vrouedeelname aan swart nasionaal-politiese organisasies soos die ANC, uit die Afrikaanse Klerewerkersunie en uit die opbloei van vakbonde, hulpdiens- en selfopleidingsgroepe vir en deur veral swart vroue. Van historiese belang is die Federa­tion of South African Women, gestig in 1954, vir swart vroue en op die oomblik in herstigting vir alle rasse, met Albertina Sisulu as prominente figuur.

Hoewel hierdie vrouedeelname sigself in diens van 'n oorheersend manlike politiese bevrydingstryd sien, kwalifiseer dit as feminisme omdat dit ook op die vrou as werker, moeder, vryheidsvegter en polities onderdrukte konsentreer, omdat dit 'n eie tradisie het en omdat minstens een groepering hierbinne (FEDSAW) 'n eksplisiet feministiese standpunt in hul beleid opgeneem het ("The Women's Charter", opgestel en aangeneem by die stigting). Die opkoms van 'n feministiese bewussyn blyk uit die amptelike verwerping van seksisme en erkenning van vroueregte in die ANC se konsep-handves van menseregte van 1990. Op hierdie stadium is daar nog geen eksplisiete aansluiting van Suid-Afrikaanse swart feminisme by swart feminisme in die VSA of by Afrika-feminisme – 'n geleidelik opkomende beweging – nie. Die toenemende erkenning van swart vroueskrywers, saam met blanke feministiese skrywers, dui wel op 'n opkomende Suid-Afrikaanse literêre feminisme.

Die bekendste inleidings tot feminisme is Ruthven (1984) en Moi (1985), terwyl Mary Eagleton (1986) se leesbundel uittreksels uit alle belangrike feministiese tekste en bewegings bevat. Teoretiese probleme word in Keohane (1982) gedek asook deur Moi (1985). Spivak (1987) bied voorbeelde van Marxisties-dekonstruktivistiese ontledings van teoretiese probleme en literêre skryfwerk insluitend literatuur uit die derde wêreld (Indië) en betrek ook die psigoanalise. Ginokritiek en feministiese psigosemiotiek, asook ander literatuurteoretiese modelle, is verteenwoordig in Abel (1982). Tekste van die Franse feminisme, insluitende Cixous en Irigaray, is gebundel in Marks en de Courtivron (1981). Psigosemiotiese filmkritiek wat ook op narratologie van toepassing is, word gedoen in De Lauretis (1984) terwyl Feral (1981) die psigoanalitiese dubbele verplasing definieer. Feministiese ontledings van literatuur deur swart vroue is opgeneem in Gates (1984 en 1985).

 

Bibliografie

Chodorow, N. 1978. The Reproduction of Mothering: Psychoanal­ysis and the Sociology of Gender. Berkeley: University of Califor­nia Press.

Cixous, H. 1975. La jeune née (en colloboration avec Catherine Clément). Paris: UGE.

Cixous, H. 1976. The laugh of Medusa (transl. Keith & Paula Cohen). Signs, 1.

De Beauvoir, S. 1972. The Second Sex (transl. H.M. Parshley). Harmondsworth: Penguin.

Ellmann, M. 1968. Thinking about Women. New York: Harcourt.

Freud, S. 1933. On femininity. In: Freud, S. New Introductory Lectures on Psychoanalysis. Harmondsworth: Penguin. (Pelican Freud Library nr. 2.)

Freud, S. 1984. Drei Abhandlungen zur Sexualtheorie. Frankfurt am Main: Fischer.

Gilbert, S.M. & Gubar, S. 1979. The Madwoman in the Attic: The Woman Writer and the Nineteenth-century Literary Imagin­ation. New Haven: Yale University Press.

Irigaray, L. 1974. Spéculum de l'autre femme. Paris: Minuit.

Johnson, B. 1984. Metaphor, metonomy and voice in Their Eyes Were Watching God. In: Gates, Henry Louis Jnr. Black Litera­ture and Literary Theory. London & New York: Methuen.

Johnson, B. 1985. Thresholds of Difference: Structures of Address in Zola Neule Hurson. In: Gates, Henry Louis, Jnr. Race, Writing and Difference. Chicago: University of Chicago Press.

Keohane, N. et al. (ed.). 1982. Feminist Theory: A Critique of Ideology. Chicago: University of Chicago Press.

Kolodny, A. 1980. Dancing through the minefield: some observations on the theory, practice and politics of a feminist literary criticism. Feminist studies, 6(1).

Kolodny, A. 1981. Turning the lens on 'The panther activity': a feminist exercise in practical criticism. Critical Inquiry, 8(2).

Kristeva, J. 1977. About Chinese Women (transl. Anita Barrows). London: Boyars.

Kristeva, J. 1980. Motherhood according to Giovanni Bellini. In: Kristeva, J. Desire in Language: A Semiotic Approach to Literature. Oxford: Blackwell.

Kristeva, J. 1981. Women's time (transl. Alice Jardine & Simon Blake). Signs, 7(1).

Mitchell, J. 1974. Psychoanalysis and Feminism. London: Allen Lane.

Millett, K. 1969/1977. Sexual Politics. London: Virago.

Moers, E. 1976. Literary Women: The Great Writers. New York: Doubleday.

Moi, T. 1985. Textual/Sexual Politics. London: Methuen

Olsen, T. 1980. Silences. London: Virago.

Ruthven, K. 1984. Feminist Literary Studies. London & New York: Cambridge University Press.

Showalter, E. 1977. A Literature of their Own. British Women Novelists from Brontë to Lessing. Princeton: Princeton University Press.

Showalter, E. 1981. Feminist criticism in the wilderness. Critical Inquiry, 8(1).

Spivak, G. 1983. Displacement and the discourse of woman. In: Krupnick, M. (ed.). Displacement. Derrida and After. Bloomington: Indiana University Press.

Spivak, G. 1987. In Other Worlds. London: Methuen.

Woolf, V. 1929/1977. A Room of One's Own. London: Granada.

 

Marianne de Jong