FIKTIWITEIT

Die term fiktiwiteit dui tradisioneel op die aard van 'n literêre teks as gefabriseerde verbeeldingskonstruksie wat nie 'n direkte waarheidskorrelasie met die kenbare werklikheid probeer onderhou nie. Die fiktiwiteit wat op die totstandgekome situasie as 'n geheel betrekking het, stel die kunswerk in staat om met die gemonsterde krag van 'n volledige "wêreld" ('n mikrokosmos) sy sê te sê in en vir 'n ander wêreld ('n makrokosmos).

Die term is afgelei van die Latyns, jingo, wat o.m. beteken "om te vorm, te orden, te versin". In die literatuur sou die predikaat fingeer dus betrekking hê op die totstandbringing van 'n geordende geheel uit ongevormde "loog" as produk van 'n bewuste verbeeldingsaktiwiteit. Hoewel die Latynse substantief fictum "versinsel, leuen" beteken, funksioneer fiksie nie in teenstelling tot "waarheid" nie. Dit word eerder gesien as teengestelde van wetenskaplike en dokumentêre "feite" of van die reële "ervaringswerklikheid" ("time-and-space existence"), self ook 'n problematiese teenstelling soos in die laat- en post-strukturalistiese denke uitgewys word.

Op grond van die oorspronklike betekenisse van die woord het met verloop van tyd veral twee betekenisonderskeidings aan die term "fiksie" verkleef geraak: (1) die literêre werk as "vorm, ordening, struktuur", d.w.s. die teks as ARTEFAK met spesifieke formele kenmerke; (2) die literêre teks as "voorstelling, versinsel, verdigting", d.w.s. die teks as produk van ('n skeppende of herskeppende) geestesaktiwiteit met 'n verbeeldingsinslag.

Die kompleksiteit van die begrip fiksie het uiteindelik ook neerslag gevind in terminologiese verfynings: in 'n stadium is 'n onderskeid getref tussen fiksioneel (fiksionaliteit) en fiktief (fiktiwiteit). Die eerste termpaar is dan gebruik om eienskappe van fiksie wat op die artefak betrekking het, te benoem, insluitende dinge soos formele literêre konvensies in bv. die speurverhaal, die BRIEF- en dagboekroman, die SONNET en vrye vers, die TRAGEDIE en KABARET. Daarteenoor is die tweede termpaar gebruik om die figuratiewe/konsepsuele elemente van die totstandgekome situasie (die moontlike wêreld) te benoem. Hierdie figuratiewe manifestasies, soos T.T. Cloete (1984) hulle noem, sluit dinge in soos gebeure, figuur of persoon, TYDRUIMTE en PERSPEKTIEF.

Sedert die opbloei van die Literatuurwetenskap en die bekendstelling van die beskouings van veral Roman Ingarden en Jan Mukařovský oor die literêre artefak en die ESTETIESE objek, besef literatuurwetenskaplikes in 'n toenemende mate dat die twee betekenisonderskeidings, die formele en die inhoudelike, in werklikheid komplementerende elemente van dieselfde geheel is; elemente wat mekaar impliseer en bepaal.

Tradisioneel is fiktiwiteit geassosieer met die EPIESE vorme soos die ROMAN, NOVELLE, KORTVERHAAL; ook met FABELSSPROKIES en VOLKSVERHALE (FOLKLORE); en soms ook met epiese poësie en DRAMA. Tans is die neiging om selfs LIRIESE poësie as fiksie te beskou op sterkte van fiksionele eienskappe soos bv. versreël-verdeling, periodisiteit e.d. Ook werke met 'n sterk werklikheidsbasis soos Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena word as fiksie beskou op sterkte van die literêre konvensies (fiksionele kenmerke dus) wat in die teks werksaam is waardeur die werklikheidsmateriaal tot 'n begrensde wêreld georden of georganiseer word (deur 'n leser).

Die sterk dokumentêre karakter van heelwat kontemporêre literêre tekste is waarskynlik een van die redes waarom baie teoretici begin voel dat konsepte soos "woordwêreld", "moontlike wêreld" en "analoë werklikheid" nie die verhouding tussen en die interseksie van fiktiewe/fiksionele teks en werklikheid genoegsaam problematiseer nie. Van Gorp (1986) registreer in sy Lexicon van literaire termen die nuwer tendens om liewer te praat van "fiksionalisering" en "defiksionalisering", twee terme wat reg laat geskied aan die belangstelling in die dinamiese prosesse van teksproduksie. Volgens Van Gorp het fiksionalisering betrekking op die proses waardeur die buitetekstuele werklikheid in 'n tekstuele werklikheid verander word. Defiksionalisering, daarenteen, dui op die strategieë waardeur probeer word om die tekstuele werklikheid (die wêreld van 'n verhaal) in ooreenstemming met die buitetekstuele werklikheid te bring.

Fiksionaliserende strategieë wat enersyds ten doel het om die elemente van die situasie wat opgebou word te orden en saam te bind, het o.a. betrekking op 'n wye verskeidenheid formele, figuratiewe en komposisionele herhalings of parallelismes, assosiasies en opposisies en op regulatiewe faktore soos fokus of perspektief. Talle van hierdie strategieë is geyk of konvensioneel, soos RITME (IN DIE POËSIE)RYM en versreëlverdeling (periodisiteit) in die poësie; VERTELINSTANSIE en vertelhoek, karakterisering en die vorming van gebeurtenisreekse in verskillende genres; ook die verskillende literêre vorme. Hierdie literêre konvensies dien, afgesien van hulle ordenende en saambindende funksie andersyds ook as leesvinders en as indikasies van die fiktiwiteit van die totstandgekome situasie. Aart van Zoest (1980) onderskei nog 'n hele reeks ander fiksionele of fiksionaliserende indikasies wat die leser in staat kan stel om hom/haar te oriënteer t.o.v. die fiktiewe situasie, o.m. die aanduiding "Roman" of "Gedigte" op die titelbladsy. Fiksionaliserende indikasies het dus betrekking op konvensies van die boekdrukkuns en -bemarking, op die tipografiese aanbod en op die formele e.a. tekstuele konvensies wat hierbo genoem is. Defiksionaliserende strategieë sluit in aanduidings soos "verslag" of "reportage", "dokumentêr", "outobiografie" ens. – wat direkte bande met die buitetekstuele werklikheid sou pretendeer.

(Vgl. FIKSIE.)

 

Bibliografie

Cloete, T.T. l984. Wat is literatuur?. Potchefstroom: PU vir CHO. (Reeks A 44: Geesteswetenskappe.)

Maatje, F.C. 1970/1971. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Van Zoest, A. 1980. Waar gebeurd en toch gelogen. Nijmegen: Van Gorcum.

Wellek, R. & Warren, A. 1942/1973. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.

 

Ronèl Johl