GENRE

Genre (Lat.: genus) dui op die tipologie of klas waartoe 'n literêre werk behoort. In die breedste sin van die woord word dit ook gebruik om verskillende kunsvorme aan te dui, bv. die literatuur as 'n genre teenoor die filmkuns as 'n aparte of selfstandige kunssoort.

Breedweg word daar in die literatuur drie argigenres onderskei, nl. die EPIEK, die LIRIEK en die DRAMATIEK. Die generiese KODES, d.w.s. dit wat van 'n gedig 'n gedig maak en nie 'n ROMAN nie, kan beskou word as 'n afspraak tussen skrywer en leser. Dit bepaal dus die manier of wyse waarop geskryf word én die dekodering plaasvind.

Die Franse teoretikus Tzvetan Todorov (1982: 6) definieer genre soos volg: "A genre is a class of texts which has a historically attested existence. It is an ambiguous entity, on the level of analysis: on the one hand it is empirical, since it can be situated in time and space, its exemplifications can be listed, testimony as to its relevance for producers (writers) and receivers (readers) of texts can be collected; on the other hand it is theoretical, because it should be possible, ideally (that is, if the descriptive apparatus of poetics were rich enough), to deduce the genres from the combinatory possibilities of the characteristic features of literary discourse."

Teoretici verskil egter voortdurend oor wat hulle onder die begrip genre verstaan; verder verander genreverwagtinge en -voorskrifte van eeu tot eeu, en dikwels van periode tot periode.

Reeds die klassieke digters het oor die aard en samehang van literêre genres geteoretiseer en dikwels is geen afwyking van die norm verduur nie. Skrywers moes hulle streng hou by die norme van die tyd, en dikwels is 'n teks "aangepas" of fundamenteel verander. Die Griekse dramaturg Aischulos se werk kan o.m. as 'n voorbeeld hiervan dien: die optrede van gode as karakters in die Griekse tragedie voldoen aan genrevoorskrifte van die tyd en aan die verwagtinge van die gehoor. Die dramas gee nie noodwendig 'n voorstelling van die werklikheid nie, en kan beslis nie gesien word as 'n refleksie van die Griekse denke nie. In werklikheid was sowel Aischulos as die Grieke sinies oor die gode, maar omdat dit deel uitgemaak het van 'n literêre tradisie, het skrywers hulle hierby gehou (Saayman, 1982: Inleiding).

Daarom sou dit verkeerd wees om genre net te wil sien as 'n ahistoriese ordening van die literêre teks, omdat genrevoorskrifte of -konvensies buigbaar is. 'n Mens sou hoogstens ahistorisiteit kon sien in die sin dat enige literêre teks breedweg herlei kan word na een van die drie hooftipes.

Waar die skrywer die bepaalde (spesifieke) genrevoorskrifte getrou navolg, word daar verwys na 'n ESTETIKA VAN IDENTITEIT. Indien dit egter ontken of soms doelbewus negeer word, word dit beskou as 'n voorbeeld van 'n ESTETIKA VAN TEENSTELLING (OPPOSISIE) (vgl. Van Luxem­burg, 1987: 153). Die 18e-eeuse roman, soos Sterne se Tristram Shandy, is 'n voorbeeld van lg.

Tristram Shandy is 'n antiroman of METAROMAN, omdat die kunsmatigheid van die FIKSIONELE proses geparodieer word. Die verset teen sodanige sisteem erken egter implisiet die reëls waarteen in opstand gekom word. Soos Jan van Luxemburg (1987: 154) dit stel: "Anti-genres zijn ook genres. Juist door hun verzet tegen de regels getuigen zij van het belang van genres, zonder welke hun eigen bestaan onmogelijk zou zijn."

Alle teorieë en aannames i.v.m. genre is gebaseer op Aristoteles se opvatting óf kan gesien word as 'n reaksie daarteen, volgens die populêre mening. Maar 'n teoretikus soos Gerard Genette wys daarop dat 'n mens nie noodwendig in hierdie spoor hoef te volg nie.

Aristoteles onderskei slegs twee genres in sy Arspoetica, nl. die verhalende en dramatiese, en nie soos talle kritici meen drie nie. Tekste waarin een stem aantoonbaar is, met spreekbeurte (d.w.s. die dialoog) aan die verskillende KARAKTERS, kan as die epiese genre beskryf word. Tekste waarin verskillende akteurs 'n spreekbeurt gegun word sonder die "beheer" van 'n oorkoepelende mag (d.w.s. die VERTELLER) heet die dramatiese genre.

Die konvensionele verdeling van genre in drie hooftipes of argigenres (epies, liries, dramaties) kan na die 18e eeu teruggevoer word. In die moderne literatuurwetenskap word daar ook bepaalde subgenres onderskei (roman, KORTVERHAAL, NOVELLE, ESSAY, bv.) of daar word selfs verwys na die speurverhaal as 'n afsonderlike genre.

In die 18e eeu met die strak verdeling tussen die drie hoofgenres is dit ook te verwagte dat sekere temas tot bepaalde genres sal behoort, bv. die uitdrukking van persoonlike gevoelens het alleenlik behoort tot die liriek, konflik tot die drama, die beskrywing van heldedade wat die geskiedenis van die land ingrypend ver­ander het, tot die epiek (Van Luxemburg, 1987: 159). So 'n streng verdeling is in die 20e eeu egter onaanvaarbaar: die belydenis-roman (novel of confession) beskryf die persoonlike gevoelens van 'n enkeling (epies en liries) en daar word ook uiting aan kon­flik gegee (dramatiese vergestalting).

Hoewel die moderne literatuurwetenskap tereg aantoon dat 'n absolutistiese verdeling tussen die genres nie kan standhou nie, kan primêre kriteria wel onderskei word. Die drie verskillende genres word bv. afsonderlik in biblioteke gekatalogiseer en op aparte rakke geplaas. Die bladspieël is hier reeds van belang: die gedig se bladspieël is in versreëls gedruk teenoor dié van die roman wat lineêr van links na regs eweredig vol gedruk is. Hierdie onderskeiding kan beskou word as 'n uiterlike of materiële kriterium wat die ondersoeker nie ver sal bring nie, omdat daar talle mengvorme binne die wêreldliteratuur bestaan.

Die materiële benadering is nie alleenlik oppervlakkig nie, maar dit kan ook tot verwarring aanleiding gee. Om hierdie redes is dit belangrik om eerder stilistiese of STRUKTURELE kriteria aan te wend. In Lexicon van literaire termen gebruik Van Gorp et al. (1986: 160) die volgende kriteria. Die Redeverteilungskriterium (redekriterium) of die vraag "Wie spreek?" is die eerste. Gewoonlik is dit in die liriek 'n "ek", in die drama 'n "hy" (met ver­skillende ek-sprekers) en in die epiek 'n "hy". Hieruit word dit duidelik dat die liriek die mees persoonlike en direkte vorm is.

Ook TYD en RUIMTE is van belang. Die tydsaanduiding bv. in die onderskeie genres verskil telkens: in die liriek is die tyd gestol tot 'n tydlose toestand; die epiese tyd is meer vloeiend, want daar is sprake van 'n hede en 'n verlede, van uitrekking en verdigting; ten slotte kan die tyd in die drama gereduseer word tot 'n nou.

Julius Petersen het die verskillende kriteria saamgebring in ʼn driehoek, gebaseer op die Naturformen wat Goethe onderskei het:

Hieruit blyk dit dat die onderlinge verhouding tussen die genres soos volg beskryf kan word: die liriek is 'n monologiese uitbeelding van 'n toestand; die epiek is 'n monologiese berig van 'n handeling; die dramatiek is 'n dialogiese uitbeelding van 'n handeling.

Sowel die Duitse as die Afrikaanse en Nederlandse literatuurwetenskap beklemtoon vaste ontologiese kenmerke van die drie onderskeie genres (vergelyk bv. Maatje, 1977). In die Franse en die meeste resente literatuurondersoeke is daar 'n tendens om die duidelike afbakeninge tussen die genres te bevraagteken en selfs te negeer. Mieke Bal (1981: 21) beweer: "Wanneer we werkelijk het voetspoor van Aristoteles volg, komen we geenszins uit bij de magische driedeling lyriek-epiek-drama. We komen dan eerder uit bij een verdergaande specificatie van criteria, die ieder op hun beurt kunnen leiden tot verschillende, elkaar gedeeltelijk overlappende indelingen, die soms wel, maar meestal beter niet in elkaar gepast kunnen worden."

Die rede waarom daar nie na suiwer genres verwys kan word nie, is duidelik wanneer dit afsonderlik bekyk word. In die roman bv. is daar duidelike eienskappe van die drama wanneer verskillende karakters aan die woord gestel word. Die meeste gedigte bevat elemente van sowel die epiek (vertellende dimensie) as die dramatiek (direkte rede). 'n Kritikus soos A.P. Grové sien bv. die gedig as 'n "klein drama", in navolging van Cleanth Brooks en R.P. Warren in Understanding Poetry.

Ook kan die teks op verskillende maniere benader word – 'n aspek wat veral die RESEPSIE-ESTETIKA beklemtoon. Oedipus Rex van Sophokles kan eerstens gesien word as die volmaakte voorbeeld of prototipe van 'n TRAGEDIE. Klassici is dit eens dat hier­die teks voldoen aan die vereistes van die Griekse tragedie en Aristoteles gebruik dit as voorbeeld in sy Ars poetica. Dit kan ook "gelees" word as 'n psigologiese drama – met 'n genoegsame agtergrondskennis van Sigmund Freud se teorieë. Dit kan gesien word as 'n speurverhaal. Die teks kan telkens onder 'n nuwe subgenre geklassifiseer word, en hiermee bevraagteken 'n mens dan die absolutistiese verdelings tussen die genres. Juis om hierdie rede verkies talle teoretici om liefs gebruik te maak van die neutrale term tekstipe.

Die Franse teoretikus Gérard Genette verskaf etlike goed gemotiveerde redes waarom hy die konvensionele verdeling in drie hooftipes verwerp. Hierdie onderskeidings gee aanleiding tot etlike verwarrings in literatuurondersoeke, aangesien dit aspekte soos transtekstualiteit ontken. Met transtekstualiteit bedoel Genette alles waarmee die teks ongemerk relasies aangaan (Kristeva se *intertekstualiteit sou hieronder val) en letterlike aanhalings. Ook die metateks behoort hieronder, aldus Genette: "Daarmee bedoel ik de transtekstuele relatie van een kommentaar met de tekst waarop het een kommentaar is" (Bal, 1981: 118). Ook PASTICHES en PARODIEë is voorbeelde van transtekstuele relasies (ook genoem paratekstualiteit). (Vgl. TEKS EN KONTEKS.)

In die artikel "Introduction à l’architexte" (vertaal deur Mieke Bal as "Theorieen van literairen genres: inleiding in die architekst") beskryf Genette sy model. Genette wys op die sg. "retrospektiewe illusie", of wel verkeerde aannames i.v.m. genre-verdelings wat so ver teruggaan in die literêre geskiedenis dat dit al ingebed is in ons "literêre bewussyn" en "onderbewussyn" (Bal, 1981: 62). Genette beklemtoon dat dit noodsaaklik is om jouself van hierdie foutiewe tradisie los te dink; en veral die sieninge van Wellek en Warren, Northrop Frye, Philippe Lejeune, Robert Scholes, Tzvetan Todorov, e.a. word gekritiseer. Genette wys ook hoe die lectio facilior (die gepopulariseerde weergawe) van teoretikus tot teoretikus versprei het. Aannames word blindelings op Plato en Aristoteles geprojekteer (Bal, 1981: 63, 64), terwyl die skrywer dit dikwels self uitgedink het of by 'n sekondêre bron afgeskryf het. Want sowel Plato as Aristoteles was al bewus van die feit dat daar geen "suiwer" genre bestaan nie. Om Genette aan te haal: "De geschiedenis van de genretheorie zit vol met die fascinerende schema's, die de dikwijls rommelige werklijkheid van het gebied van de literatuur vormen en vervormen" (Bal, 1981: 91).

Genette wys ook die kwasiewetenskaplike aannames uit, maar hy voeg telkens by dat dit nie heeltemal waardeloos is nie, mits die navorser/literator genoemde teorieë net as voorlopig beskou.

In die genoemde artikel van Genette (in Bal, 1981: 93) gee hy 'n tabel van genreverdelings volgens die werkwoord(tyd) wat die teoretikus daaraan verleen:

Outeur/Genre          Liriek                       Epiek                Dramatiek
Humboldt               —                          verlede tyd        teenwoordige tyd
(1799)
Schelling          teenwoordige tyd        verlede tyd           —
(1802-5)   
Jean Paul         teenwoordige tyd        verlede tyd          toekomende tyd
(1813)   
Hegel (+-          teenwoordige tyd        verlede tyd           —
1820)  
Dallas               toekomende tyd         verlede tyd           teenwoordige tyd
(1852)
Vischer              teenwoordige tyd       verlede tyd          toekomende tyd
(1857)   
Erskine              teenwoordige tyd       toekomende tyd      verlede tyd
(1820)        
Jakobson           teenwoordige tyd        verlede tyd              —
(1935)  
Staiger (1946)     verlede tyd                teenwoordige tyd      toekomende tyd

Dit sou uiteraard onmoontlik wees om al die verskillende skole, denkrigtings of argumente pro en contra genre te betrek in hier­die bespreking; daarom word daar net kortliks verwys na die belangrikste verteenwoordigers.

Hoewel die meeste teoretici die belangrikheid van genre erken in die bestudering en EVALUERING van 'n literêre teks, ontken sekere denkers die tersaaklikheid hiervan. Benedetto Croce, die Itaiiaanse filosoof, negeer die relevansie van genre in sy monumentale werk Estetica (Aesthetic: 1981). Croce onderskei twee vorms van kennis, nl. die intuïtiewe (wat bereik word deur die verbeelding) en die logiese of rasionele (wat deur die intellek bereik word). Genre, aldus Croce, veroorsaak dat die leser se spontane reaksie op die teks ondermyn word (Dubrow, 1982: 83, 85).

Op 'n meer wetenskaplike en oortuigende wyse verwerp die meeste POST-STRUKTURALISTE soos Roland Barthes die aannames van 'n rigiede sisteem. Veral die verteenwoordigers van die DEKONSTRUKSIESKOOL (Jacques Derrida, J. Hillis Miller, Harold Bloom, e.a.) spreek ook hulle bedenkinge hieroor uit.

'n Groter aantal erken egter die belangrikheid van genre in 'n literatuurondersoek, en Renato Poggioli beweer selfs dat daar verwys kan word na die unwritten poetics: die aannames oor die literatuur wat nog nie gekodifiseer is in amptelike uitsprake nie (Dubrow, 1982: 85).

Van die bekendste voorstanders van die genre-teorie is die CHICAGO-SKOOL, wat die meeste van hulle beginsels gefundeer het op die uitsprake in Aristoteles se Ars poetica. Die neo-Aristoteliane gebruik Aristoteles se literêre sisteem en hulle verander en brei dit ook uit. Elder Olson se "An outline of poetic theory" is hiervan 'n sprekende voorbeeld. Ook R.S. Crane se bekendste bespreking van Fielding se Tom Jones ("The concept of plot and the plot of Tom Jones") is hierop gebaseer (Dubrow, 1982: 87).

Die belangrikste bydraes is egter gemaak deur die RUSSIESE FORMALISTE en STRUKTURALISTE. Ook binne die resepsie-estetiese model is die konsep van kardinale belang.

Die Russiese Formaliste was veral gekant teen die 19e-eeuse BIOGRAFISTIESE benadering tot die literatuur, en in 'n poging om die teks meer wetenskaplik te bestudeer, definieer hulle die literaturnost. Vir die Russiese Formaliste is genre 'n sentrale konsep, maar daar word gewys op die veranderings wat telkens in die genres voorkom. Genre is dus nie hier 'n konstante nie.

 

Bibliografie

Bal, M. (red.). 1981. Literaire genres en hun gebruik. Muiderberg: Coutinho.

Cilliers, L. 1988. Genresisteme in die Klassieke letterkunde en die nawerking daarvan in die Westerse letterkunde. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 28(1).

Croce, B. 1981. Aesthetic. (Estetica.) New York: Noonday.

Dubrow, H. 1982. Genre. London: Methuen. (The Critical Idiom.)

Fowler, A. 1982. Kinds of Literature. Oxford: Clarendon.

Maatje, F.C. 1970/1977. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Saayman, F. 1982. Teksanalise van die Ringkomposisies van Aiskhulos se Koorsange – 'n ondersoek na 'n bepaalde patroon van gedagte-ontplooiing teen die semiotiese agtergrond van simboliek en etiek. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Todorov, T. 1982. French Literary Theory: A Reader. Cambridge: Cambridge University Press.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1981/1987. Inleiding in de literatuurwetenschap (5e herz. druk). Muiderberg: Coutinho.

 

Joan Hambidge