INVLOED (LITERÊRE)

Invloed (Lat.: influere: om in te vloei), die verhoudings tussen literêre werke en/of skrywers, is een van die sentrale probleemvelde in die literatuurstudie, veral vir die skrywer. Invloed is ʼn moeilik hanteerbare begrip a.g.v. die meerduidigheid daarvan. Dit kan enigiets van vae beïnvloeding tot duidelike wisselwerking insluit. Dié feit kom duidelik na vore as die beskouings van verskillende teoretici vergelyk word, ʼn Mens vind ruweg drie perspektiewe.

By ʼn groot groep teoretici val die nadruk op die kreatiewe proses en die beïnvloeding van die skrywer. Invloed is vir dié teoretici eerder ʼn proses van wisselwerking tussen die persone van die skrywers (bv. via sosiale kontak) as tussen verskillende literêre werke (Bloom, 1973). Die beskouing van hierdie groep is psigologisties op die psige van die skrywer of die psigiese proses gerig. (Vgl. BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING.)

ʼn Tweede groep sien invloed as ʼn konkreet-aantoonbare element in ʼn literêre werk: dit is empiries waarneembaar en vorm deel van die estetiese geheel. Verteenwoordigend van dié beskouing, is die visie van Hermerén. Volgens hom is invloed ʼn driedelige verhouding: "X het Y beïnvloed m.b.t. a", waar die veranderlike a gelyk is aan materiaal, tegniek, styl en STRUKTUUR, ekspressie en/of simboliese inhoud. Dit is ʼn empiries-estetiese benadering.

Die bes verteenwoordigde beskouing is histories gerig. Dié teoreti­ci onderstreep almal die problematiese aspekte van ʼn invloedsbegrip wat slegs op die relasie tussen enkele skrywers en/of werke konsentreer. Die belangrikste beswaar teen só ʼn werkwyse is teen die sinchroniese aard daarvan wat die historiese perspektief verwaarloos of heeltemal verontagsaam. Hulle stel voor dat die begrip invloed heelwat ruimer opgevat moet word, en dat daar diachronies na invloedsverhoudinge gekyk moet word. So sien Vodička (1981) invloed as ʼn fenomeen wat meespeel in ieder van die hooftake van die literatuurgeskiedskrywer, wat die volgende moet nagaan: (a) die ontwikkeling van die literêre struktuur; (b) die ontstaan van ʼn werk; en (c) die lewenskragtigheid van literêre werke. Ook Balakian (1962) verkies om meer histories te werk met die begrip invloed. Sy stel voor dat daar eerder na die liter­ary fortune van ʼn werk gekyk moet word, as om ʼn veelvuldigheid van invloede te probeer aantoon. Hierby sluit Block (1958) aan, wat aanbeveel dat invloed binne die raamwerk van literêre TRADISIE nagegaan moet word, en dat daar veel meer met die be­grip tradisie gewerk moet word, omdat dit breër is en vry van die faktualisme wat dikwels aan die ouer invloedstudies gekleef net. Hassan (1955) suggereer insgelyks dat die idee van tradisie (ʼn ontwikkelende sisteem van norme) en van ontwikkeling (die modifikasie van die een tradisie in ʼn ander) gesonder alternatiewe is vir die literatuurondersoek. Hy sien ooreenkoms en kontras, tradisie en eksperiment, kontinuïteit en diskontinuïteit as die dinamika van invloed in die wyer kader van die geskiedenis.

ʼn Ondersoek na die praktyk van bestaande Afrikaanse literatuurstudies en -geskiedenisse toon aan dat dieselfde drie perspektiewe (psigologisties. empiries-esteties, histories) waarneembaar is. Maar dit is opvallend dat die historiese benadering verwaarloos word ten gunste van die ander twee perspektiewe, en dat dit aan ʼn samehangende literatuurbeskouing ontbreek. Hierdeur wek die op- en aanmerkings oor invloed die indruk van in die lug te hang. Daar word meestal aanvaar dat die literatuurkorpus ʼn definitiewe gegewe is, maar van ʼn gemotiveerde literatuurbeskouing is daar weinig sprake. (Vgl. HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING en LITERATUURGESKIEDSKRYWING.)

Die hantering van invloed staan nog sterk in die POSITIVISTIESE tradisie (op grond van bronnekennis word kousale verbande tus­sen werke aangewys), hoewel dié beskouing kennelik enigsins verfyn is en implisiet bly. ʼn Mens stuit telkens op uitsprake wat nie gemotiveer is nie, of nie verder gevoer word nie. Soms is die teenwoordigheid van invloed in ʼn werk aanleiding tot ʼn positiewe, soms tot ʼn negatiewe oordeel. Soms word gewoon gekonstateer dat daar invloed van ʼn werk of van ʼn skrywer uitgegaan het, sonder meer. Die praktyk van die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing en literatuurstudie toon dus ʼn opvallende nonchalante omgang met die gebruik van die term.

Dit is belangrik om voor oë te hou dat invloed in verskillende vorme op verskillende vlakke voorkom in die literêre lewe. In sosiale kontak tussen skrywers (en ander kunstenaars en denkers) kan dit fungeer via die psige van die skrywer en op dié manier sy kreatiwiteit prikkel of daaraan vorm gee. Waar invloed op ʼn skrywer uitgeoefen is, sal dit soms in literêre werke as konkreet aantoonbare onderdeel gestalte vind, of miskien ook nie. Dan kry die literatuurondersoeker ook te make met die problematiese gevalle waar duidelike verwantskappe tussen werke bestaan, maar waar die ooreenkoms toevallig is, en dus ʼn vorm van palingenese verteenwoordig wat nié terug te voer is na beïnvloeding nie. Vanuit ʼn breër invalshoek bekyk, fungeer invloed ook wanneer ʼn skry­wer bewus breek met ʼn literêre tradisie, of teruggryp op ʼn vroeëre tradisie en daarby aansluiting vind.

Invloed kan dus nie tot ʼn spesifieke literêre domein beperk word nie. Op sowel psigologiese as empiries-estetiese en ook historiese vlak speel dit onweerlegbaar ʼn rol. Met betrekking tot ʼn spe­sifieke outeur kan invloed in al drie domeine aantoonbaar wees, óf alleen as psigologiese verskynsel, sodat dit geen empiriese spoor in sy werk nalaat nie. Wanneer dit egter om ʼn empiries-estetiese element gaan, speel invloed dikwels ook in die derde domein, die historiese, mee. Laasgenoemde twee gebiede is nie altyd te skei m.b.t. invloed nie. As daar empiries-estetiese in­vloed aantoonbaar is, dan kan die werk (en dié van wie die in­vloed uitgegaan het) meestal binne ʼn literêre tradisie ondergebring word. Uit die voorgaande blyk dat invloed ʼn driehoofdige feno­meen is.

Invloed as literêr-kritiese begrip kom voort uit die positivistiese tradisie. Dit suggereer ʼn literêre verhouding van lineariteit en kousaliteit. Hiermee loop die literatuurondersoeker hom vas in ʼn simplistiese literatuuropvatting – asof literêre ontwikkeling vanself voltrek word langs ʼn reguit lyn van punt A tot punt B. Dit ignoreer in ʼn groot mate die fenomene van kontinuïteit ver­sus diskontinuïteit, van reaksie op bestaande konvensies en tradisies. Dit suggereer ʼn problematiese ontologiese benadering waarvolgens die realiteit as één heterogene geheel vaspenbaar en kenbaar is. Verder is daar die meer praktiese probleme, soos die ambiguïteit van die term invloed. Soms dui die teenwoordigheid van invloed vir die ondersoeker ʼn positiewe waarde van/in die werk aan ("rykheid" van invloed verwerk). Dán weer wys dit op ʼn gebrekkige oorspronklikheid, ʼn epigonistiese trek in die ondersoekte oeuvre/literêre werk.

In die LITERATUURTEORIE van die sewentiger- en tagtigerjare is die begrip invloed al hoe meer tersyde geskuif, en is toenemend sprake van INTERTEKSTUALITEIT om die literêre verbande tussen werke aan te dui (die term is gemunt deur Julia Kristeva, Sémiotiké, 1969). Vanuit dié basies POST-STRUKTURALISTIESE perspektief word literatuur gesien as ʼn netwerk van onderlinge relasies en word die lineêre literatuuropvatting wat meestal met invloedstudies gepaard gegaan het, genegeer.

Hiermee sluit die teorie oor intertekstualiteit enigsins aan by die historiese gerigte beskouings oor invloed: dit is ʼn ruimer benadering van die literêre korpus, én terselfdertyd ʼn minder omstrede uitgangspunt. Die evaluatiewe hiërargie (vgl.: "A het B beïnvloed en dus is B minder oorspronklik", of "B het invloede van A en C en D in homself verwerk, en daarom is dit ʼn voortreflike ryk werk..."), wat so dikwels gekoppel gaan met die gebruik van die begrip invloed, verval.

Michael Riffaterre (1981: 5) definieer intertekstualiteit soos volg: "...it is a question of a phenomenon which directs the text and eventually influences the interpretation – and which is the op­posite of a linear reading" (eie vertaling). Dit stuur die leesproses weg van die lineêre leesmetode. Daar vind ʼn dubbele leesaksie plaas: op die eerste vlak word gelees "wat daar staan", en ter­selfdertyd word die leidrade (clues) opgevolg wat heenwys na een of meer intertekste. Hierdie clues van interrelasies tussen literêre werke is in die sg. agrammatikaliteite binne die gegewe KONTEKS. Dinge wat geen sin (of weinig sin) skyn te maak in die onderhawige teks, dié wys (meestal) heen na ʼn vreemde konteks. Dié vreemde konteks rig op sy beurt die INTERPRETASIE van die TEKS.

Teenoor die byeentel van invloede in die tradisionele literatuurgeskiedenis en/of -studie, verskuif die perspektief na die prosesse van transformasie en assimilasie wat tot die sentrale teks aanleiding gegee het. Die klem op die geheimsinnige psigiese proses waarin die skeppende kunstenaar betrokke is, verdwyn nou op die agtergrond. Só ontkom die literator aan die psigologistiese benadering wat soveel van die ouer literatuurstudies gekenmerk het. (Vgl. BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING en FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

Riffaterre stel teenoor die tradisionele navorsing van invloede wat hy sien as ʼn naspeur van vertikale relasies, die teks en sy interteks as ʼn laterale verhouding ("the text functions as a literary artifact only insofar as it complements another text"). Hy wys die in sigself geslotenheid van literêre ARTEFAKTE, soos deur die NEW CRITICS en die STRUKTURALISTE gepropageer, af.

Veel van die probleme wat die begrip invloed opwerp, word hier­mee tersyde gestel.

As voorbeeld van wat vroeër as invloed sou gegeld het, kan ʼn mens wys op die intertekstuele verband of "literêre gesprek" tus­sen Villon se Le lais en Le grand testament en Breyten Breytenbach se ('yk') (1983).
(Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK en LITERATUURSOSIOLOGIE.)

 

Bibliografie

Balakian, A. 1962. Influence and literary fortune: the equivocal junction of two methods. Y.C.G.L., 9.

Block, H.M. 1958. The concept of influence in comparative liter­ature. Y.C.G.L., 7.

Bloom, H. 1973. The Anxiety of Influence: A Theory of Poetry. New York: Oxford University Press.

Culler, J. 1981. Presupposition and intertextuality. In: Culler, J. The Pursuit of Signs: Semiotics, Literature and Deconstruction. New York: Cornell University Press.

Hassan, I.H. 1955. The problem of influence in literary history. Journal of Aesthetics and Art Criticism, 14.

Hermerén, G. 1975. Influence in Art and Literature. Princeton: Princeton University Press.

Jenny, L. 1976. La strategié de la forme. Poétique, 27.

Riffaterre, M. 1979. La production du texte. Paris: Seuil.

Riffaterre, M. 1980. Syllepsis. Critical Inquiry, Summer.

Riffaterre, M. 1981. L'intertexte inconnu. Littérature, février.

Vodička, F. 1981. Die Struktur der literarischen Entwiklung: Beitrage zur Literaturwissenschaft. München: Forschungsgruppe für strukturale Methoden in der Sprach und Literaturwissenschaft an der Universität Konstanz.

 
Helize van Vuuren