IRONIE

Die term ironie (Gr.: eirôneia: geveinsde onkunde, afgelei van eirôn: huigelaar, veinser) het eers teen die einde van die 18e eeu in gebruik gekom en sedert die vyftigerjare van hierdie eeu is dit ʼn sentrale konsep in ons kritiese woordeskat.

Die konsep van die "eironia" as ʼn bepaalde wyse van dink, voel, uitdrukking, as ʼn gedragswyse, ʼn lewenshouding, was reeds in die antieke literatuur van die Grieke aanwesig. Die begrip het die essensie van sy oorspronklike betekenis behou: ʼn veinsery wat bedoel is om ontmasker te word. Die eiron – die skerpsinnige, sluwe underdog in die Attiese komedie, simbolies voorgestel deur die jakkals – het gereeld oor die grootpraterige, arrogante, dom alazon (bedrieër) getriomfeer deur die ontveinsing van sy kennis en kragte.

Sokrates het in sy intellektuele aktiwiteite sy verwantskap met hierdie komediefiguur gedemonstreer. In sy dispute het hy, deur die tegniek van oorbeskeidenheid te gebruik, geveinsde onwetendheid en skynbaar naïef-onskuldige vraagstelling, sy selfversekerde teenstanders verwar, hulle aanmatigende wysheid ontmasker en hulle tot die waarheid gelei. Hierdie strategie staan bekend as Sokratiese of dialektiese ironie.

Die Romeine het ʼn ander beskouing as die Grieke van die ironie gehad: onder die konsep "ironia" het hulle ʼn wyse van argumentering –  ʼn retoriese figuur – verstaan (Johl, 1988: 14).

Geen definisie sal al die aspekte van die aard en funksies van die ironie dek nie – dit beteken tans verskillende dinge vir verskillende mense. Om die ironie net te omskryf (soos in die 16e eeu) as ʼn stylfiguur waarvolgens een ding gesê word en iets anders (gewoonlik met ʼn teenoorgestelde betekenis) bedoel word, of as ʼn spotspraak waarmee jy spottend prys wat jy in werklikheid afkeur, en andersom, dek net ʼn klein faset van die betekenisse wat deur die eeue om die begrip gegroei het.

"Irony", se I.A. Richards (1961: 250), "consists in the bringing in of the opposite, the complementary impulses". Ironie behels egter méér as net die bewustheid van kontraste, die jukstaposisie van teenstrydighede.

Tot die wesenstrekke van die ironie behoort: (i) Die diskrepansie, die teenstelling tussen skyn en werklikheid: ʼn ironikus skyn een ding te sê maar sê in werklikheid iets heel anders. (Ten einde te slaag, moet die ironiese uiting ʼn aanduiding bevat dat dit wat gesê word binne die bepaalde konteks ʼn verhulde betekenis het en dus nie letterlik opgeneem moet word nie.) (ii) ʼn Element van onskuld, onkunde –  ʼn confident unawareness (voorgewend by die ironikus, werklik by die slagoffer van die ironie) dat die skyn bloot skyn is. (iii) ʼn Element van distansie-stelling, onttrokkenheid, afsydigheid, objektiwiteit, onbevooroordeeldheid.

Elisabeth Eybers se gedig "Nuwejaarsvers" (Kruis of munt) bied ʼn goeie voorbeeld van die spreker se onttrokke, objektiewe, ironiese perspektief: "Om te beleef en ook te loof wil ek/ die voelhorings van ironie laat dwaal/ oor dit wat was, wat is, wat moet gebeur./ Ek wil nagaan hoe grondig welslae faal,/ ek wil die lang mislukking en die pyn/ deurtas om dan ten spyte van die skyn/ ʼn oormaat van tegoed te konstateer."

Dié gedig demonstreer die ironikus se ingesteldheid om met oop, onbevange gemoed te staan teenoor die welkome én die ongewenste dinge en om versoening van uiterstes te bewerkstellig.

Die verskeie soorte ironie kan in twee hoofkategorieë ingedeel word: retoriese/verbale ironie en situasionele ironie (met sy filosofiese onderbou).

Verbale ironie impliseer ʼn ironikus wat bewustelik en opsetlik ʼn bepaalde strategie aanwend –  ʼn tegniek wat gekenmerk word deur die dubbelsinnigheid van uiting: wat die ironikus sê en hoe die slagoffer van die ironie dit vertolk, is wesensverskillend. Ver­bale ironie kan gebruik word as retoriese middel of as SATIRIESE wapen of as heuristiese middel (dus as middel om die leser in staat te stel om self nuwe waarhede te ontdek) en steun vir sy sukses op die gebruik van tegnieke soos die hiperbool (overstate­ment), litotes (understatement), antifrase, PARADOKS, woordspeling, wit (vgl. GEESTIGHEID).

Ironie is nie net van toepassing op ʼn linguistiese mededeling of uitlating nie maar ook op ʼn situasie, voorval en plot-struktuur. Situasionele ironie word gesien vanuit die gesigspunt van die waarnemer en nie van die ironikus nie: ʼn bepaalde sameloop van omstandighede of die loop van gebeurtenisse (vgl. Peter Blum se "Aftelrympie" in Steenbok tot poolsee) word as ironies ervaar. By ironie van gebeurtenis/voorval bestaan die diskrepansie tus­sen die verwagting en die werklike voorval. Wat gebeur, moet die teenoorgestelde wees van wat verwag word. ʼn Onverwagse element (bv. dat jy ʼn leeu in Johannesburg se strate sal teëkom) is nie ironies nie. Dis ironies dat jy juis dít ervaar of oorkom wat jy wou vermy, veral as jy maatreëls daarteen getref het en die maatreëls bring dan presies dit teweeg wat jy wou vermy.

ʼn Verdere belangrike sub-vorm van situasionele ironie is dra­matiese of tragiese ironie. Dit kom veral voor in die DRAMA (veral die TRAGEDIE) en kan ʼn belangrike struktuurelement in die PLOT van die drama wees. Omdat Sophokles se Koning Oidipus met sy volgehoue ontmaskering van die ironiese diskrepansie tussen die mooie skyn van dinge en die gruwelike ware aard daarvan ʼn boeiende netwerk van tragiese ironie vertoon, word die demonstrasiemateriaal vir hierdie tegniek geneem uit dié Attiese tragedie.

ʼn Hoofvoorwaarde eerstens vir dié vorm van die ironie is dat die toeskouers méér weet as die handelende karakter(s). Die dramatiese effektiwiteit berus op die voortdurende spel met die kontras tussen die toeskouer/leser se kennis van sake en die han­delende karakter(s) se onkunde en blindheid dat die situasie soos hý/húlle dit sien die teendeel is van die werklike situasie. ʼn Voor­beeld: die fundamentele situasie van Koning Oidipus toon ʼn magtige, geëerde koning, skerpsinnige oplosser van die sfinksraaisel en daardeur redder van sy volk, wat hom met groot selfversekerdheid wy aan die taak om die oorsaak van die ellende wat die land teister, op te spoor. Die gehoor is daarvan bewus dat hierdie koninklike, vaderlike figuur die oorsaak van die lyding en dus die objek van sy soeke is en dat hy – onwetend – homself gaan vervolg.

Tweedens, as die karakter(s) in sy/hulle blindheid op ʼn wyse reageer wat strydig is met dit wat as wys en verstandig en paslik beskou word, dan het ons dramatiese ironie. Byvoorbeeld: ten spyte van talle waarskuwings en goed bedoelde advies of rede­like argumente volhard Oidipus in sy soeke na waarheid –  ʼn soeke wat op ʼn katastrofiese ontdekking uitloop.

Kenmerkend van die dramatiese ironie, derdens, is die wyse waarop karakters en situasies in ironiese spanningsverhoudinge teenoor mekaar geplaas word. Byvoorbeeld: die blinde Teiresias sien die morele waarheid, terwyl die siende Oidipus blind is vir sy situasie. As Oidipus uiteindelik die voile waarheid sien, verblind hy homself.

Vierdens: volgens dié tegniek is daar ʼn opvallende kontras tus­sen dit wat die karakter begryp omtrent sy optrede en dit wat deur die handelingsverloop gedemonstreer word. Byvoorbeeld: Oidipus se optrede is geïnspireer deur sy drang na waarheid; die tragiese effek van sy menslike handeling is dat hy ʼn reeks ge­beurtenisse aan die gang sit wat uitloop op die ontdekking van dié waarheid: dat hy die seun van Laios en dus dubbele besoedelde is.

Dramatiese ironie, ten slotte, het die grootste effek wanneer nie net die gehoor of leser nie maar ook iemand in die drama of vertelling bewus is van die ironiese slagoffer se onkunde. Byvoor­beeld: die Siener, Teiresias, ken die volle waarheid; en die Korinthiese Boodskapper en die Thebaanse Herder beskik elkeen oor ʼn eie brok kennis omtrent Oidipus se ware identiteit.

Dramatiese ironie is nie beperk tot die teater nie: dramaties-ironies is bv. die kontras tussen die onkunde van die broers van Josef wanneer hulle voor Josef in Egipte verskyn, en dít wat die Bybel-leser weet: dat die groot man van Egipte in werklikheid hulle eie broer is wat hulle as slaaf verkoop het (Genesis 43-45).

Verwant aan die dramatiese ironie is die ironie van selfonthulling. Die slagoffer van dié ironie onthul self-onkunde en nie on­kunde omtrent ʼn situasie waarin hy verkeer nie. Wanneer oom Gert (vgl. Leipoldt se "Oom Gert vertel") in sy spontane praat met neef Klaas probeer om sy optrede tydens die Anglo-Boereoorlog te regverdig, onthul hy onbewus pynlike fasette van ʼn gekompliseerde skuldbewussyn. Met die skok van die onthulling leer hy iets van homself: hy is ʼn man met dubbele lojaliteite en dubbele verraad.

Al die reeds genoemde vorme van ironie is spesifieke of besondere vorme van ironie: dit het telkens te doen met enkele, geïsoleerde slagoffers. In "Groot ode" (Tristia) lees ons: "niemand tref dit móói met die heelal nie;/ eintlik moet ons leer ironies lewe:/ en: binne ironie nog liefde hou."

Hier is sprake van ʼn algemene/filosofiese/metafisiese/kosmiese ironie. Die ironiese waarnemer is saam met die res van die mensdom slagoffers van ʼn metafisiese ironie wat inherent is aan die menslike bestaan (vgl. Elisabeth Eybers: "Wespark"). Iewers skryf George Palante (vertaal en aangehaal deur Muecke, 1970: 67): "The metaphysical principle of irony ... resides in the con­tradictions within our nature and also in the contradictions within the universe or God. The ironic attitude implies that there is in things a basic contradiction, that is to say, from the point of view of our reason, a fundamental and irremediable absurdity."

Kierkegaard (1966: 271) skryf: "Irony in the eminent sense directs itself not against this or that particular existence but against the whole given actuality of a certain time and situation ... It is not this or that phenomenon but the totality of existence which it con­siders sub specie ironiae''

Algemene ironie lê in die teenstrydighede waarmee die denkende mens gekonfronteer word as hy besin oor filosofiese probleme soos die doel van die lewe, die bestaan en aard van God, die onontkombaarheid van die dood, die lewe na die dood, die konflikte tussen rede, emosies en instink, die absolute en die relatiewe, die objektiewe en subjektiewe, vrye wil en predestinasie. Die siening van die magteloosheid van die mens voor ʼn onverskillige heelal voorsien die basis vir kosmiese of algemene ironie.

Koning Oidipus (Wassenaar-vertaling, 1974: 94) se slotwoorde staan in die gees van hierdie vorm van ironie: "O, ek sal voortaan niemand prys en verklaar dat hy geluk het,/ Tot eers sy laaste dag in ewige doodslaap ingegaan het." N.P. van Wyk Louw se woorde: "ons moet leer ironies lewe:/ en: binne ironie nog liefde hou", Friedrich Schlegel se uitspraak: "Ironie ist Pflicht", en Thomas Mann se stelling: "An intelligent man has the choices (if he has it) to be either ironical or radical", wil te kenne gee dat die ambivalente ingesteldheid van die ironis, waardeur die teenstrydighede en paradokse van die lewe in hierdie wêreld erken en aanvaar word, die grondslag vir ʼn ewewigtige lewenshouding, ʼn ironiese lewenshouding, behoort te vorm.

Gedurende die ROMANTIEK in Duitsland (einde 18e eeu, begin 19e eeu) het vooraanstaande denkers soos Friedrich Schlegel (1772-1829), sy ouer broer August Wilhelm Schlegel (1767-1845) en Karel Solger (1780-1819) ʼn nuwe waarde en nuwe betekenisse aan die begrip ironie gegee. Ironie verkry ʼn sentrale plek in hulle literêre en filosofiese teorie van romantiese ironie: literatuur word gesien as ʼn fenomeen met ironiese teenstrydighede en onversoenlike elemente en die kuns se primêre funksie as die versoening van teenoorstaandes ("without irony there is no art" – Solger); die ironie word ook verbind met die kunstenaar se objektiwiteit en sy beheer oor sy materiaal: "Irony to Schlegel is objectivity, complete superiority, detachment, manipulation of the subject matter" (Wellek, 1981: 15). Tot die romantiese ironie hoort die siening dat die selfbewuste kunstenaar bewus is van die ironieë inherent aan kunstenaar-wees. Sy ironiese posisie blyk uit die volgende: om goed te skryf moet die kunstenaar sowel kreatief as krities, subjektief en objektief, entoesiasties en realisties, emosioneel en rasioneel, onbewus geïnspireer en bewuste vakman wees. Die kunstenaar orden nie net nie, maar meng ook in en reflekteer oor sy werk (Johl, 1988: 89).

Die gesofistikeerde of selfbewuste kunstenaar is ook bewus van die teenstrydighede implisiet aanwesig in die dubbelaard van sy kuns: as MIMETIESE skepping bestaan dit sowel binne as buite die gewone wêreld; dit gee voor om oor die lewe en die wêreld te handel maar is tog net FIKSIE; dit is gemik op sowel die besondere as die algemene; as verbale struktuur is dit ʼn kunswerk wat sowel berekend beplan en met noukeurige aandag aan vormelemente soos KLANK, RITME, woordbetekenis uitgevoer is as ʼn verbeeldingskepping wat die produk van onbewuste, spontane versinsel is. Die literatuur wat so op twee vlakke beweeg en waarin daar ʼn konstante wisselwerking is tussen die skyn van die lewe en die realiteit van die kuns, is ironiese literatuur en staan in die gees van romantiese ironie. "Romantic irony is the irony of a writer conscious that literature can no longer be simply naïve and unreflective but must present itself as conscious of its con­tradictory, ambivalent nature. The author's 'presence of mind' must now be a principal element in his world, alongside the equal­ly necessary but 'blind' driving force of enthusiasm or inspira­tion" (Muecke, 1970: 78).

Daarom staan die ware kunstenaar apart van sy werk, maar hy probeer terselfdertyd om sy bewustheid van sy ironiese posisie in die werk te inkorporeer. In sy manipulasie van die stof (o.a. deur die implementering van bekende kunstegnieke soos ʼn spel binne ʼn spel of die outeur wat self in sy roman optree) verbreek die selfbewuste kunstenaar die artistieke illusie (of die fiktiwiteitsillusie) om sy toeskouer/hoorder/leser daaraan te herinner dat wat hy voor hom het, slegs ʼn toneelteks, ʼn gedig, ʼn roman is en nie die realiteit wat dit voorgee om weer te gee nie. Voorbeelde van hierdie ambivalente aard van die kuns (as kuns én lewe) en die vernietiging van die artistieke illusie vind ons in Henriette Grové se hoorspel Ontmoeting by Dwaaldrif, die slotstrofe van N.P. van Wyk Louw se ode "Hongarye: November 1956" (Tristia), die aanvangsverse van Breyten Breytenbach se gedig "Bedreiging van die siekes" (Die ysterkoei met sweet), die eerste strofe van Lina Spies se "Gebed" (Dagreis) en herhaalde voorbeelde in D.J. Opperman se digbundel Komas uit ʼn bamboesstok; dit kom ook voor in prosatekste soos Etienne Leroux se romans 18 –44, Isis Isis Isis en Na 'va, Die waarheid gelieg (T.T. Cloete), Die kêrel van die Pêrel of Anatomie van ʼn leuenaar (Henriette Grové).

Die eietydse radikale antiliteratuur sluit ook aan by die tradisie van die romantiese ironie.

 

Bibliografie

Brooks, C. 1968. The Well-wrought Urn. London: Methuen.

Johl, J. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Kierkegaard, S.A. 1966. The Concept of Irony (transl. L.M. Capel). London: Collins.

Muecke, D.C. 1969. The Compass of Irony. London: Methuen.

Muecke, D.C. 1970. Irony. London: Methuen.

Richards, I.A. 1924/1961. Principles of Literary Criticism. Lon­don: Routledge & Kegan Paul.

Sedgewick, G.G. 1948. Of Irony, especially in Drama. Toronto: University of Toronto Press.

Sophokles. 1974. Koning Oidipus. Johannesburg: Perskor. (Vertolk in Afrikaanse verse deur Theo Wassenaar met inleiding en aantekeninge deur Réna Pretorius.)

Wellek, R. 1981. A History of Modern Criticism 1750-1950, Vol. 2. Cambridge: Cambridge University Press.

 
Réna Pretorius