KWATRYN

Die kwatryn (Lt.: quattuor: vier), ʼn vierreëlige eenheid, rymend of nie-rymend, mag bloot op grond van sy vierreëligheid ʼn kwatryn genoem word, selfs wanneer so ʼn eenheid as onderdeel van ʼn langer gedig (bv. die SONNET) verskyn. Vir ons doel is hierdie omskrywing van die kwatryn veels te inklusief, want tans gaan dit om ʼn vierreëlige alleenstaande gedig, daarby ʼn heel besondere gedig wat nie verwar moet word met die talle vierreëlige gedigte wat oor die eeue heen deur die literatuur voortgebring is nie – EPIGRAMMEPUNTDIGTE e.d.m. – al moet ons in een van De Haan se kwatryne lees: "Ook Grieksche dichters schreven in kwatrijnen ... Want overal zijn één der menschen pijnen." Nie alleen het die term kwatryn (of dan quatrain) eers met die RENAISSANCE in Frankryk in swang gekom nie (Pibrac: Quatrains, 1574), maar die vorm waaroor dit hier gaan, is ʼn ge­dig in sy eie reg, ʼn ernstige, streng omskryfbare literêre vorm wat emosioneel en tegnies ʼn afsonderlike geheel vorm en op sy beste ʼn bepaalde lewenshouding of -aanvoeling op pakkende, pregnante, epigrammatiese wyse tot uitdrukking bring.

Hieruit volg dat nie enige benadering of stof hom tot kwatrynbehandeling sal leen nie. Die bestek van vier reëls bied nie ruimte vir betoog of uitweidinge nie, en bowendien moet die leser nie die gevoel kry dat hy slegs met ʼn greep of fase uit ʼn lang geskiedenis of verhaal te make het nie. Daarmee sou die afgeslotenheid in gedrang kom. Vir die aanbieding, beknop en skerp, van ʼn universele waarheid, insig, wysheid of aanvoeling, bied die kwatryn egter groot moontlikhede.

Die vier reëls laat verskillende ryminrigtings toe. Met een rymklank sal ons die skema aaaa kry, ʼn patroon wat eentonigheid in die hand werk en die gevoel van afgerondheid verlore kan laat gaan. Twee ryme bied o.a. die volgende moontlikhede: aabb, abab, abba, aaab, abbb – vyf skemas wat almal die nadeel het dat hulle die gedig in twee dele uiteen kan laat val en dus die kiem van verbrokkeling in hulle dra.

Vandaar dat die skema aaba van die Persiese digter Omar Khay­yam (11e eeu) vir baie digters in die Westerse wêreld so aantreklik geword het en eintlik in sekere kringe as die ideale kwatrynvorm erken word.

Die voordele van dié rymskema lê voor die hand. In die rympaar word die situasie met die intrap gestel en raak die rymklank gevestig. Die derde reël is rymloos sodat die tug van reëls een en twee vir ʼn oomblik verslap, verloop, net om in die slotreël weer stewig in die rympatroon teruggebring te word, om so van die gedig ʼn saamgebalde en geslote eenheid te maak. Hierdie opset bied die moontlikheid aan die gedig om, ná die oomblik se "vryheid" van reël drie, die slotreël met ʼn sekere finaliteit te laat funksioneer, soos die toeslaan van ʼn hek. As die digter daarby nog kom met sterk ritmiese aksente of ʼn treffende beeld in die slotreël, word die epigrammatiese moontlikhede van die vorm natuurlik verder verhoog.

Die digter Nijhoff het die voordele van die aaba-patroon goed raakgesien. Hy verklaar dat dit vir hom die finale rymskikking verteenwoordig en gaan dan voort: "De eerste twee regels, bij Khayyam, rijmen op elkaar, om terstond het thema in zo kort mogelijk bestek aan te geven. De derde regel houdt in zijn rijmloosheid de uitzwaai der gedachte nog even onbeslist, verhardt daarmee de kern van het eerste paar, maar verlengt tevens als aanloop de kracht van die vierde regel, die, het rijm verder opnemend, het kwatrijn tot een om zichzelf stersnel wentelend, lichtspattend en kristal-hard geheel maakt" (Nijhoff, 1961: 190).

Omar Khayyam se Rubáiyát (rubai: kwatryn) was egter eeue lank vir die Weste ʼn geslote boek. Vroeg in die 19e eeu is enkele van hierdie kwatryne in Duits vertaal, maar dit was eintlik die Engelse digter Fitzgerald wat met sy vertaling van 1859 en toevoegings later, die Persiese kwatryne in die Weste in breër kring bekend gestel het. Eienaardig genoeg het hierdie kwatrynvorm weinig navolging in Engeland gevind. In die Engelse wêreld word die kwatryn nog steeds gedefinieer as "a four-lined stanza" met as rymskema by voorkeur die patroon abab soos in Gray se "Elegy". In Duitsland en Frankryk is dit nie veel anders nie. Ook daar word die Omar Khayyam-kwatryn slegs in die verbygaan genoem.

In die Nederlandse wêreld, daarenteen, het die kwatryn en dan meer bepaald die Persiese kwatryn, groot agting afgedwing en as prikkel gedien, waarskynlik omdat twee van die grootste Neder­landse digters, nl. Leopold en Boutens, pragvertalings van talle Omar Khayyam-kwatryne gelewer het. Hierdie digters het die kwatryn in Nederland gevestig en die aanvaarding meegebring van die aaba-patroon as die ideale ryminrigting.

Ander Nederlandse digters wat hulle ook aan die kwatryn gewaag het, was Willem de Mérode (met sy bundeltjie godsdienstige Kwattrijnen, deurgaans op die Omar Khayyam-model) en Jacob Israel de Haan, wat in teenstelling met De Mérode oorwegend inhaak- of omarmende rym gebruik (vgl. RYM). Van­daar dat Nijhoff (1961: 190) ronduit kan verklaar: "Terstond springt in het oog, als kenmerk der vormgevoelloosheid van De Haan, dat geen dezer vierregelige gedichtjes eigenlik een kwatrijn is" – ʼn harde woord aan die adres van iemand wat hom in sy kwa­tryne so dikwels oor die vorm uitgelaat het en so veel van sy eie pogings verwag het.

Verder moet genoem word E. du Perron (wat voorkeur gegee het aan die abba-model), W. Hessels en veral H.W.J.M. Keuls, wat nie alleen vyftig Persiese kwatryne via Fitzgerald vertaal het nie, maar self ook heelwat oorspronklike kwatryne op die Persiese model geskryf het.

Ook in Afrikaans is verskeie vertalings (liewer: verwerkings) van Omar Khayyam via Fitzgerald en/of die Duitse vertaling van Bodenstedt aangedurf, o.a. deur Langenhoven in 1923 en Abra­ham Jonker in 1950. Langenhoven gebruik feitlik deurgaans die aaba-model, terwyl Jonker gewoonlik op die aabb-vorm terugval. Hier moet ook melding gemaak word van Uys Krige se ver­taling van ʼn aantal Arabiese kwatryne van Abu'l-ala, almal op die aaba-patroon. Verskillende kwatrynskemas bestaan in Afri­kaans dus naas mekaar. Dit word ook sigbaar in die oorspronk­like werk. Elisabeth Eybers maak gebruik van verskillende skemas, terwyl by Ina Rousseau, en ook by Ernst van Heerden, die aksent op die aaba-patroon val. I.D. du Plessis, wat ʼn groot aantal kwatryne gepubliseer het, hou veral vas aan die abab-patroon, en ten spyte van mooi sieninge bereik hy selde die afgerondheid wat ʼn kenmerk is van ʼn goeie kwatryn. Digters soos Krige ("Net soos matrose") en S.J. Pretorius ("Afgestorwene", "Pyn") wend in hulle beste kwatryne die aaba-skema aan, terwyl D.J. Opperman feitlik nooit van die patroon afwyk nie.

Opperman het ʼn hele aantal kwatrynreekse geskryf, reekse waarin die afsonderlike gedigte psigologies en tematies met mekaar verband hou, maar nooit so dat die afsonderlike gedig sy individualiteit en afgerondheid prysgee nie, soos bv. blyk uit die gedig "Skutter" uit die reeks "Diereriem", ʼn gedig wat sy finale betekenis opskort tot en met die laaste woord: "Ons sien ʼn eland nader kom/ maar wei as trop rustig met hom;/ dan tref ʼn pyl en weet ons weer/ die dood wei tussen ons vermom."
(Vgl. RYMVERS (REëL) en STROFE.)

 

Bibliografie

Bekker, P. 1974. Die kwatryn. Kaapstad: Human & Rousseau.

Nijhoff, M. 1961. Verzameld werk II. Daamen: Van Oorschot.

Opperman, D.J. 1959. Oor die kwatryn. In: Opperman, D.J. Wiggelstok. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Van Heerden, E. 1975. Aantekeninge by sommige Eybers-kwatryne. In: Nienaber-Luitingh, M. (red.). Ter wille van die edel spel. Kaapstad: Human & Rousseau.

Warners, J.DP. 1947. Het Nederlandse kwatrijn. Amsterdam: Meulenhoff.

 
A.P. Grové