METAFOOR

Oor die "korrektheid" of "waarheid" van nie-letterlike uitdrukkings bestaan daar reeds vanaf Aristoteles verskil van mening. Gemeet aan "gewone" of standaardtaalgebruik berus die herkenbaarheid van ʼn metaforiese konstruksie vir die meeste linguiste op die gewaarwording by die taalgebruiker dat ʼn sintaktiese of semantiese reël van een of ander aard oortree is en dat die me­taforiese konstruksie daarom beoordeel word as nie "korrek" nie, "ongrammatikaal" of ten minste semanties anomaal. Gesien teen die eis van logiese taalgebruik is die metafoor vir baie filosowe hoogstens ʼn geval van katachrese, ʼn noodsaaklike euwel of ʼn blote dekorasie, en daarom nie geskik vir die uitdrukking van proposisionele "waarhede" nie. Selfs in die sestigerjare vind die filosoof Max Black (1962) dit bv. nog nodig om die gebruik van metaforiese taalgebruik in filosofiese geskrifte te verdedig. In meer resente linguistiese en filosofiese opvattings word metaforiese taal­gebruik egter dikwels beskou as karakteristiek van alle taalge­bruik – die "gewone" eerder as die afwyking – en tegelyk ʼn instrument vir die dekonstruksie van "waarhede" as middel tot die vrye spel van ʼn oneindige disseminasie van betekenisse.

ʼn Studie van die metafoor sou binne resente POST-STRUKTURALISTIESE denke streng genome alle gesproke en geskrewe tekste moes betrek en dit sou inderdaad die brandpunt kon vorm van teorieë oor betekenistoekenning en die (on)moontlikheid van interpretasie. Alhoewel metaforiese of nie-letterlike taalgebruik dus nie beperk is tot literêre tekste nie maar kommunikatief funksioneer in enige taalteks, regverdig die voorkoms en funksie daarvan in literêre tekste wel ʼn selfstandige studie. Daar is nl. ʼn belangrike ver­skil tussen enersyds ingeburgerde of geleksikaliseerde uitdrukkings in standaardtaalgebruik en andersyds onkonvensionele of innovatiewe metaforiese konstruksies in bv. poësietekste. Dit is ʼn verskil wat veral gemanifesteer word in (1) die hoë graad van tekstuele invulling of inhoudspesifikasie van metafories gekwalifiseerde woorde en konstruksies en (2) die manier waarop sintagmatiese en PARADIGMATIESE relasies mekaar wedersyds determineer in ʼn poësieteks. Die dekodering van die metaforiese inligting in ʼn poësieteks stel hoë eise aan die leser en noodsaak die analise van lokale en globale interaksieprosesse (vgl. KODE). Dit beteken enersyds dat die relevante intratekstuele relasies in ʼn poësieteks noukeurig geanaliseer moet word; dit beteken an­dersyds dat die relevansie van INTERTEKSTUALITEIT en die (metaforiese) tekstualisering van die subjek in ʼn oneindige spel van betekenisse noodwendig implisiet of eksplisiet in metaforiese ana­lise belig sal word.

Ten einde die lokale en globale interaksieprosesse in metaforiese taalgebruik te identifiseer, kan op ʼn eerste vlak van beskrywing m.b.v. voorbeeldsinne uit Black (1962) tussen twee basiese kon­struksies onderskei word:
(1)    The chairman plowed through the discussion
Fokus
(2)    Man is a wolf
Tenor       Vehicle

In die eerste geval word onderskei tussen die fokus van ʼn meta­foriese uitdrukking en die sintaktiese raamwerk waarmee dit kontrasteer (Black, 1962); in die tweede geval word die eintlike letterlike onderwerp of tenor van die metaforiese uitdrukking gekarakteriseer deur ʼn fokusonderwerp of vehicle (Richards, 1936). Die taalgebruiker ervaar bostaande uitdrukkings as figuurlik of metafories weens die semantiese onversoenbaarheid van ʼn let­terlike ploegaksie met ʼn abstrakte bespreking in die eerste en die logiese valsheid van die klassifisering van man as deel van die klas dier in die tweede geval. In albei die bostaande gevalle word nomina in die sin gekwalifiseer deur figuurlik funksionerende leksikale items: in die eerste geval impliseer die verbale fokus plowed dat die voorsitter bepaalde eienskappe besit wat daartoe lei dat die bespreking op ʼn sekere manier gehanteer word; in die tweede geval stel die fokusonderwerp wolf die eintlike on­derwerp man in ʼn bepaalde lig. Hoe die taalgebruiker die me­taforiese kwalifisering van leksikale items vir homself konkretiseer, sal afhang van sy kennis van en assosiasies rondom die letterlike gebruik van die fokus of vehicle in ʼn metaforiese uit­drukking – Black (1962) praat van die sisteem van geassosieerde gemeenplasighede wat as ʼn filter dien om die taalgebruiker te lei tot begrip en interpretasie van die metaforiese uitdrukkings. ʼn "Letterlike vertaling" van (1) en (2) hierbo, sou bv. kon lei tot parafrases soos:
Die voorsitter onderdruk summier alle teenvoorstelle tydens die bespreking.

Mans is vals, wreedaardig en venynig in hulle wolfagtigheid.

Taalgebruikers en lesers uit verskillende lae van die samelewing of uit verskillende samelewings sou egter verskillende interpretasies kon heg aan die bostaande uitdrukkings. Nietemin word redelik eenvormige verklarings normaalweg aan geleksikaliseerde uitdrukkings soos bogenoemdes verbind. Niemand sou bv. daaraan dink om die legendariese dapperheid van Richard JJ van Engeland metafories te stel as "Richard is a wolf i.p.v. die gebruiklike "Richard is a lion" of "Richard Lionheart" nie. Die verstaanbaarheid van geleksikaliseerde metaforiese uitdrukkings hang af van die onmiddellike indruk wat hulle op die taalgebruiker maak weens die ingeburgerde en algemeen bekende betekenisassosiasies wat opgeroep word.

Die interpretasie van ʼn metaforiese uitdrukking behels volgens die bostaande opmerkings ʼn dekodering van die interaksie tus­sen die letterlik en figuurlik funksionerende dele van ʼn meta­foriese konstruksie. In navolging van Reinhart (1976) kan dit gestel word dat in gevalle soos (1) hierbo, wat ʼn semanties anomale sin is omdat daar ʼn oorskryding van seleksiebeperkinge voorkom, die adjektief of verbum gewoonlik die fokus sal wees terwyl die nomina waaraan die fokusse (on)grammatikaal verbind is, deel sal vorm van die raamwerk van ʼn lokale metaforiese kon­struksie. Juis omdat die fokus van ʼn metaforiese konstruksie gewoonlik verbaal of adjektiwies is, het dit die funksie om no­mina in die raamwerk metafories te kwalifiseer en dus inhoudelik te spesifiseer. In (1) hierbo word die nomen "chairman" as die subjek of onderwerp van die sin weens die verbinding met die verbale fokus "plowed" geassosieer met eienskappe soos kragtigheid of ongeduld; terselfdertyd word ook geïmpliseer dat die objek of voorwerp "discussion" op ʼn bepaalde manier uitgevoer is. Die fokus van ʼn metaforiese uitdrukking dien dus om ʼn nomen of nomina in die raamwerk inhoudelik te spesifiseer.

Ten einde hierdie kwalifiserende funksie van fokusse m.b.t. no­mina in die raamwerk te omskryf, kan die NP (nominale frase) in die raamwerk vervolgens onderskei word as ʼn argument (subjek of objek) wat gemodifieer of gekwalifiseer word deur ʼn fokus. Die fokus van ʼn metaforiese uitdrukking kan egter nie beperk word tot een woord nie, want die kwalifisering van ʼn argument geskied dikwels d.m.v. ʼn fokale frase of selfs ʼn fokale sin.

Vergelyk in hierdie verband die volgende gedeelte uit Dylan Thomas se "A process in the weather of the heart".
(3) A process in the weather of the heart
Fokale frase
Turns damp to dry; the golden shot
Storms in the freezing tomb.

Fokale sin
Die argument "process", word in die eerste plek gekwalifiseer deur die fokale frase "in the weather of the heart", wat self ʼn oorskryding van seleksiekenmerke bevat weens die botsende semantiese kenmerke (nie-menslik) en (menslik) van die nomi­na "weather" en "heart":
(3) (i) A process in the weather of the heart
Argument (Arg.)       B    C

Hierdie fokale frase is terselfdertyd ʼn voorbeeld van ʼn tweeledige genitiefkonstruksie (Brooke-Rose, 1958), waar ʼn gedeeltelike identifikasie teweeggebring word tussen die metaforiese term B en die letterlike term C waarmee dit verbind is d.m.v. die preposisie "of. Die metaforiese term "weather" word in die genitiefverbinding geassosieer met iets wat emosies of ander toestande van die hart registreer. Eers nadat die interaksie tussen "weather" en "heart" in die fokale frase in (3)(i) hierbo nagegaan is, kan afgelei word dat die argument "process" verwys na ʼn proses waar menslike emosies beskryfbaar word in terme van (veranderlike) weersomstandighede. Dit is duidelik dat ʼn analise van die genitiefverbinding binne die fokale frase hierbo voorafgaan aan ʼn taksering van die manier waarop die argument (Arg.) van ʼn metaforiese konstruksie deur sy kwalifiserende fokale frase inhoudelik gespesifiseer word – ʼn analise van lokale interaksieprosesse binne mikroskopiese sintaktiese gedeeltes is dus noodsaaklik vir begrip van die gedeeltelike metaforiese spesifisering van die argument van ʼn lokale metaforiese konstruksie.

Die argument "process" in (3) hierbo word in die tweede plek metafories gekwalifiseer deur ʼn fokale sin wat self ʼn argument bevat wat intern gespesifiseer word deur ʼn fokale woord en frase:
(3) (ii)                                ... The golden shot
Fokus   Arg.

Storms in the freezing tomb                                                                                                               Fokale frase
Die interaksie tussen fokus en raamwerk maak die leser bedag op ʼn versweë (in ʼn gedig dikwels êrens anders vermelde) nomen wat met die gegewe argument in verband gebring kan word. Die adjektiwiese fokus "golden" sou bv. ʼn letterlike adjektief vir "sun" kon wees, sodat die argument "shot" dan geassosieer sal kan word met bv. sonlig en warmte:
(3) (iii)    ... the golden^ shot
Fokus\
i
sun

Hiermee word ʼn tweede funksie van die fokus in ʼn metaforiese uitdrukking belig: dit dien om ʼn versweë nomen te rekonstrueer wat in ʼn letterlike betekenis met die fokus of fokale frase gekombineer kan word en wat verder vergelykend met die gegewe ar­gument in die raamwerk in verband gebring kan word.

Die argument "shot" in (3)(ii) hierbo word egter nie net metafories gespesifiseer deur die fokus "golden" nie, maar ook gekwalifiseer deur die fokale frase
(iv) storms in the freezing tomb

Fokus wat self op sy beurt verdeel kan word in ʼn verbale fokus met ʼn kompleterende preposisionele frase. Op grond van die simboliese konnotasies wat woorde soos "storms" en "tomb" binne die hele Thomasgedig verkry (vgl. Gräbe, 1985), kan afgelei word dat die verbale fokus "storms" waarskynlik geassosieer kan word met die handeling van kreatiewe gemeenskap tussen die elemente en dat die argument "tomb" op sy beurt gesien kan word as ʼn vroulike voortplantingsimbool (vgl. Cirlot (1971) in A Diction­ary of Symbols). Hierdie simboliese konnotasies van die fokale frase "storms in the freezing tomb" impliseer dan dat die argu­ment "shot" na seksualiteit kan verwys. In der waarheid kan die hele fokale sin "the golden shot/storms in the freezing tomb" in (3)(ii) hierbo dan waarskynlik gelees word as ʼn handeling van seksuele gemeenskap wat op ʼn energieke wyse die kragte van koue en dood sal teenwerk.

Dit is duidelik dat die argument "process" as die subjek van ʼn uitgebreide sintaktiese eenheid in ʼn globale metaforiese konstruk­sie, wat die hele eerste strofe van die gedig beslaan, noukeurig inhoudelik gespesifiseer word deur fokale woorde, frases en sinne. Normaalweg kan die leser vasstel of hy te make het met ʼn meta­foriese uitdrukking deurdat daar ʼn botsing tussen semantiese ken­merke van die woorde of frases binne ʼn lokale of sintaktiese eenheid is. In die gevalle hierbo was daar sprake van semantiese onversoenbaarheid tussen: die argument en ʼn woord, die argu­ment en ʼn fokale frase, die argument en ʼn fokale sin, a-nomina binne ʼn fokale frase, nomina binne ʼn fokale sin. Soms is ʼn fokale frase egter slegs globaal of tekstueel herkenbaar deurdat daar op ʼn sintaktiese vlak geen sprake van semantiese anomalie is nie. In (3) hierbo is daar bv. ʼn verbinding wat nog nie metafories nagegaan is nie:
(3) (v) A process ...
Turns damp to dry;

Daar is geen oorskryding van seleksiebeperkinge binne die fokale frase "turns damp to dry" nie en daar is ook geen onversoen­baarheid tussen die argument "process" en die fokale frase nie, sodat (3)(v) aanvanklik letterlik gelees kan word. Slegs wanneer die vertikale verband tussen die verbale frase "turns damp to dry" en die ekwivalente frases "turns night to day" en "turns ghost to ghost" later in die gedig ondersoek word, word die simboliese vogtigheid en droogheid van die oënskynlik letterlike frases "turns damp to dry" retrospektief belig. Die verwysings na enersyds "dampness/dryness" en andersyds "dryness/light" het dwarsdeur die gedig betrekking op die magte van onderskeidelik dood en lewe. Soms is ʼn fokale frase of sin dus slegs binne die globale tekstuele geheel herkenbaar as ʼn metaforiese frase of uitdruk­king. In dergelike gevalle word gewoonlik gepraat van ʼn sin-metafoor.

Dit is duidelik dat die argument "process" binne die globale een­heid van die eerste strofe van Dylan Thomas se "A process in the weather of the heart" noukeurig metafories ingevul word deur die volgende fokale frases en sinne:
(3) (vi)
Process
in the weather of the heart turns damp to dry
-the golden shot/storms in the freez­ing tomb

Dit lyk asof die "process" definieerbaar word in terme van weersomstandighede – daar is ʼn wisselwerking tussen die kreatiewe skepping van lewe ("dry/the golden shot") en die magte van die dood ("dampness/freezing tomb").

Dit is duidelik dat die leser genoodsaak is om eers die lokale interaksie tussen fokus en raamwerk na te gaan vir elke fokale frase of sin voordat ingesien kan word op watter manier die subjek van die uitgebreide sin (dus die hoofargument van die globale metaforiese konstruksie van die eerste strofe van die Thomasgedig in (3) hierbo) deur fokale frases en sinne metafories gespesifiseer word. Die term "fokusekspressie" kan in navolging van Reinhart (1976) vervolgens gebruik word as ʼn oorkoepelende term vir fokale woorde, frases en sinne. ʼn Metaforiese konstruksie bestaan dan uit ten minste een argument en een fokusekspressie en so ʼn fokusekspressie kan ʼn fokale woord, frase of sin wees.

Wanneer ʼn fokusekspressie uit ʼn woord of frase bestaan, kan die kwalifiserende funksie daarvan t.o.v. ʼn argument in die raamwerk maklik vasgestel word, ʼn Fokale sin kan egter, soos ʼn me­taforiese uitdrukking, bestaan uit ʼn argument en een of meer fokusekspressies, sodat dit op ʼn sintaktiese vlak nie moontlik is om bv. tussen die uitdrukkings voor en na die kommapunt in (3) te onderskei nie:
(3) (vi) A process    in the weather of the
heart
Argument (NP)    Fokusekspressie
turns damp to dry Fokusekspressie (VP)
the ... shot    golden
Argument (NP)    Fokusekspressie
storms in the freezing tomb
Fokusekspressie (VP)

Die sintaktiese eenhede in (3) (vi) hierbo het dieselfde grammatikale en metaforiese status: albei is selfstandige sintaktiese eenhede wat ten minste die basiese sinskonstituente NP (nominale frases) en VP (verbale frases) bevat; albei is metaforiese uitdrukkings wat die basiese konstituente argument en fokusekspressie(s) bevat. Die feit dat "the golden shot/storms in the freezing tomb" ʼn fokale sin is wat die argument "process" metafories spesifiseer, kan dus eers vasgestel word binne die globale strofegeheel waar die ondergeskikte status binne die uitgebreide sintaktiese kon­struksie duidelik word. Ten einde alle fokusekspressies te kan herken, moet die leser dus bedag wees op ʼn funksie soos hiërargisering (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)) in die globale sintaktiese strukturering van ʼn poëtiese teks. In uitgebreide sintaktiese konstruksies soos die in (3) hierbo word die sintaktiese elemente hiërargies georden, sodat die eerste argument "process" gekwalifiseer word deur alle metaforiese inligting wat binne die uitbreiding voorkom (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)).

Uit die voorgaande bespreking blyk dat daar ʼn wisselwerking bestaan tussen die samestellende dele van ʼn lokale metaforiese konstruksie: die fokusekspressies dra bepaalde toepaslike eienskappe oor op die argument. Hierdie interaksie tussen argument en kwalifiserende fokusekspressie(s) veronderstel ʼn relasie tus­sen verskillende grammatikale kategorieë: ʼn nomen (argument) word gekwalifiseer deur adjektiewe en verba, of deur adjektiwiese en verbale frases. Die sintagmatiese interaksie tussen argument en fokusekspressie(s) beïnvloed die wyse waarop paradigmatiese tenor-vehicle-verbindings in ʼn poësieteks gedekodeer word. In hierdie verband is die twee hooffunksies van fokusekspressies relevant: kwalifisering van ʼn nomen en daarmee inhoudelike metaforiese spesifisering van ʼn argument; konstruering van ʼn tweede argument. Albei bg. funksies van fokusekspressies lei tot ʼn noukeurige spesifisering van argumente wat dan in ʼn tenor-vehicle-verbinding op mekaar betrek kan word soos in Black (1962) se bekende voorbeeld van ʼn nominale metafoor "Man is a wolf in (2) hierbo. Daar is egter verskille tussen enersyds ʼn geleksikaliseerde nominale metafoor en andersyds ʼn nominale metaforiese konstruksie in poëtiese taalgebruik: (1) die tenor-vehicle-verbinding word selde horisontaal in ʼn sintaktiese eenheid gegee; (2) selfs wanneer dit in ʼn horisontale verbinding voor­kom, word die tenor en vehicle steeds tekstueel gespesifiseer; (3)    dikwels moet ʼn tweede argument (tenor of vehicle) gerekonstrueer word vir ʼn gegewe argument (tenor of vehicle); (4) meestal moet die globale tenor-vehicle-verbinding volledig uit die poësie
teks gerekonstrueer word.

Verskillende horisontaal gegewe of vertikaal rekonstrueerbare tenor-vehicle-verbindings kan in (poëtiese) taalgebruik onderskei word. Op ʼn eerste vlak van beskrywing kan twee- en drieledige genitiefkonstruksies (Brooke-Rose, 1958) onderskei word:
(4)    (i)    The poor are the negroes of Europe
A    B    C
(ii)   The hostel of my heart
B    C
(iii) A smoke-screen of witnesses
B    C
(4) (iv) The eyes of the heart
B    C
A/C = eintlike term B = metaforiese term
In die eerste twee gevalle is daar volgens Brooke-Rose (1958: 148) sprake van ʼn drieledige formule wat uitgedruk word as "B of C = A". In hierdie drieledige formule, waar A en C letterlike nomina en B ʼn metafories gebruikte term voorstel, kan A òf ge­gee wees soos in (4) (i) òf anders slegs geïmpliseer wees soos in (4) (ii). Die onderliggende tenor-vehicle-verbinding in dergelike drieledige genitiefkonstruksies kan soos volg terminologies "vertaal" word.

(4) (i) The poor are the negroes of Europe                                                                                       Tenor    Fokus
Vehicle
(ii) (My body) is the hostel of my heart
Tenor    Fokus
Vehicle

In hierdie gevalle sal die interne fokus-raamwerk-relasies van die vehicle-frase eers geanaliseer moet word voordat die interaksie tussen tenor en vehicle geïnterpreteer kan word. So bepaal die sintaktiese omgewing of raamwerk van die fokus "negroes" dat dit waarskynlik sal verwys na Europese onderdruktes, minderbevoorregtes of minder geskoolde blankes, eerder as dat dit sou slaan op swart mense uit die vasteland van Afrika. Die tenor "poor" kry dan d.m.v. die vehicle "the negroes of Europe" die bg. metaforiese inhoud toegesê. Op dieselfde manier sou die fo­kus "hostel" hierbo onder invloed van die kompleterende "of my heart" in die raamwerk moes verwys na ʼn emosionele of dalk spirituele tuiste, sodat die geïmpliseerde liggaamlike tenor "body" dan hierdie metaforiese inhoud van emosionaliteit en/of spiritualiteit verkry.

Die laaste twee gevalle in (4) hierbo word deur Brooke-Rose (I958: 148) getipeer as "the two-term formula 'the B of C’ in which B=C. C is in itself the proper term, either with an appositive genitive expressing the Identity of B and C (the fire of love), or with a Pure Attribution, in which the basic identity is less ap­parent (the cloak of death)".

In hierdie tipe genitiefverbinding kan ook ʼn onderliggende tenor-vehicle-verbinding afgelei word, wat vir (4) (iii) en (iv) hierbo soos volg aangetoon kan word:
(4) (iii) The witnesses are like a smoke-screen
Tenor    Vehicle
(iv) The heart is (partially) the eyes
Tenor    Vehicle

Die interpretasie van die tenor in terme van die vehicle is in ʼn tweeledige genitiefkonstruksie soos (4) (iii) hierbo onmiddellik bevatlik: die getuies se onbetroubaarheid word summier belig deur die oordrag van die negatiewe assosiasies van ʼn rookskerm (vehicle) op die tenor. Die voorbeeld in (4) (iv) is ʼn geval van suiwer attribusie, "which is a split of one idea into two, a thing or person or personification, and an object attributed to it: 'the eyes of the heart', 'the hand of God', 'the cloak of death'" (Brooke-Rose, 1958: 148). Hier is die attribuut nie volkome identies met die term waarmee dit verbind is nie maar wel verteenwoordigend t.o.v. een aspek, bv. die hart in sy vermoë om te kan sien.

Dit is duidelik dat ʼn tenor-vehicle-verbinding tussen nomina ook onderliggend aanwesig veronderstel kan word in lokale twee- of drieledige genitiefkonstruksies. Belangrik is hier nie net die verbinding tussen gegewe nomina nie, maar ook in sommige gevalle die geïmpliseerde skakel met ʼn ongenoemde term soos in (4) (ii) hierbo, waar die tenor "body" afgelei moet word uit die interaksie tussen die gegewe nomina "hostel" (fokus) en "heart". In ʼn genitiefkonstruksie met ʼn ongenoemde term, sal dit noodwendig die tenor wees wat gerekonstrueer moet word op grond van die gegewe metaforiese inligting in die lokale metaforiese uitdrukking. Meestal is die metaforiese status van die argument in lokale metaforiese uitdrukkings soos die verskillende gevalle in (3) hierbo, egter nie lokaal agterhaalbaar nie. Dit beteken dat die argument, in ʼn lokale metaforiese uitdrukking waar die tenor en vehicle nie albei genoem word nie, òf ʼn tenor òf ʼn vehicle in die globale poësieteks kan wees.

As die genoemde argument in ʼn metaforiese uitdrukking òf ʼn globale tenor òf ʼn globale vehicle in die poësieteks kan wees, volg dit logies hieruit dat dit teoreties moontlik behoort te wees om òf ʼn globale vehicle òf ʼn globale tenor te kan rekonstrueer op grond van die interaksie tussen argument en fokusekspressie(s) in ʼn lokale metaforiese uitdrukking. Die prosedures van vehicle- en tenor-konstruksie kan geïllustreer word met verwysing na die volgende meerduidige lokale metaforiese konstruksie:
(3) (ii)    ... the golden shot
Fokus
Storms in the freezing tomb Fokale frase
Die argument "shot" word metafories gespesifiseer deur die twee fokusekspressies "golden" en "storms in the freezing tomb", wat oënskynlik uiteenlopende kwalifiserings verteenwoordig wat die konstruksie van twee verskillende nomina met ʼn verskillende metaforiese status tot gevolg het. Wanneer die argument "shot" beskou word in die omgewing van "the golden ..." kan ʼn tweede argument "sun" afgelei word uit die gegewe dat die adjektiwiese fokus "golden" herinner aan die kleur van die son. Dit lyk asof ʼn vehicle "sun" (natuurliggame is deurgaans deel van die "vehicle-taal" in die onderhawige gedig) ook vereis word deur al die verwysings na "weather" in die gedig. Die konstruksie van ʼn vehicle "sun" vir die veronderstelde tenor "shot" voldoen aan Reinhart (1976: 388) se omskrywing van ʼn gerekonstrueerde ve­hicle as "the 'something' which the focus can modify literally". Wanneer die argument "shot" beskou word in die lig van die kwalifiserende fokale frase "storms in the freezing tomb", word dit egter duidelik dat "sun" nie ʼn vehicle vir hierdie fokusekspressie kan wees nie, aangesien "the golden sun storms..." nog steeds ʼn semanties anomale groepering van woorde verteenwoor­dig. Op grond van die simboliese konnotasies van "storms" en "tomb" kan egter uiteindelik afgelei word dat die argument "shot" ook seksuele konnotasies het. Gesien die vroulike konnotasie "tomb/womb" in die gedig, kan ʼn moontlike tweede argument vir "shot" iets soos "semen" wees ten einde die manlike aandeel in die metaforiese daad van kreatiwiteit te verteenwoordig. Hierdie tweede argument "semen" sal die status van ʼn tenor hê omdat verwysings na die menslike liggaam deel vorm van die gedig se sentrale "tenor-taal". Dit is duidelik dat die argument "shot" ʼn dubbele metaforiese status in die gedig het: ʼn tenor wanneer dit gekwalifiseer word deur die adjektiwiese fokus "gold­en" en ʼn vehicle wanneer dit gekwalifiseer word deur die fokale frase "storms in the freezing tomb". Die leser sal moet bepaal of die teenstrydige metaforiese inligting kompleterend of ondermynend is – m.a.w. of die verskillende betekenismoontlikhede versoenbaar word binne ʼn strukturele lesing of mekaar gedurig ophef soos in ʼn DEKONSTRUKTIEWE lesing.

Afgesien van dergelike prosedures van lokale tenor- en vehicle-konstruksie, is dit dikwels ook nodig dat die leser ʼn globale tenor-vehicle-verbinding tussen verspreide argumente in die poësieteks moet rekonstrueer. Die metaforiese konstruksies in die eerste twee strofes van Dylan Thomas se "A process in the weather of the heart" bevat elk ʼn hoofargument (onderskeidelik "process" en "weather") wat in uitgebreide sintaktiese eenhede deur ʼn aantal fokusekspressies metafories gespesifiseer word:
(3)    (vii)    A process in the weather of the heart
A    FE
Turns damp to dry; the golden shot
FE    FE
Storms in the freezing tomb FE
(viii)    A weather in the quarter of the veins
A    FE
Turns night to day; blood in their suns
FE    FE
Lights up the living worm. FE
A = argument
FE = fokusekspressie

Ten spyte van die gedetailleerde tekstuele invulling, is die metaforiese status van die twee hoofargumente "process" en "weather" nie duidelik nie en kan die leser eers m.b.v. ʼn strategie soos ekwivalensie (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE) EN KLANK) in die globale gedigeenheid die volgende tenor-vehicle-verbinding rekonstrueer:
(3) (ix) A process is (like) a weather
A(T)    A(V)
A(T) = argument met die metaforiese status van ʼn tenor A(V) = argument met die metaforiese status van ʼn vehicle

Vir ʼn dekodering van die metaforiese inligting in so ʼn rekonstruksie, sal dit nodig wees om die fokusekspressies in (3) (vii) en (viii) hierbo noukeurig te analiseer, ten einde vas te stel wat die metaforiese inhoud van die twee argumente uit twee verskillende strofes is wat in ʼn paradigmatiese tenor-vehicle-verbinding op mekaar betrek word. Ten einde hierdie globale interaksie tussen tenor en vehicle na te gaan, sal dit egter ook nodig wees om die paradigmatiese interaksie tussen die ekwivalente fokusekspressies in die twee strofes te ondersoek. Sintaktiese patroonvorming, soos gemanifesteer in gekoppelde en parallelle fokale frases en sinne, rig die leser se dekodering van globale interaksieprosesse in die poësieteks (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)).

Opsommenderwys kan gestel word dat die tenor "process" metafbries gekarakteriseer word as ʼn proses waar die skep van nuwe lewe ʼn middel word om die kragte van die dood teen te werk. Eweneens word die vehicle "weather" getipeer as ʼn natuurlike krag wat gunstige (weers)toestande vir die totstandkoming van nuwe lewe reflekteer. Só ʼn interpretasie van die metaforisering van die argumente "process" en "weather" is uiteraard die uitkoms van ʼn analise van die informatiewe funksie van die fokusekspressies t.o.v. die argumente "process" en "weather". Die ineenvlegting van natuurlike ("weather") en nie-natuurlike ("process") metaforiese inligting is kenmerkend van die inter­aksie tussen die twee argumente en hulle kwalifiserende fokuseks­pressies dwarsdeur die gedig (Grabe, 1985).

Dit blyk uit die voorafgaande bespreking dat die leser bedag moet wees op verskeie moontlike tenor-vehicle-verbindinge in (poësie)tekste:
ʼn eksplisiete kombinasie van tenor en vehicle in ʼn nominale of identifikasiemetafoor waar twee nomina met ʼn vergelykbare grammatikale funksie (ʼn hoof- en fokusonderwerp) d.m.v. ʼn kopula ("om te wees") verbind word soos in "Man is a wolf in (2) hierbo;
ʼn eksplisiete kombinasie van tenor en vehicle in ʼn drieledige genitiefkonstruksie waar die term A gegee is soos in "The poor (tenor) are the negroes of Europe (vehicle)" in (4) (i) hierbo;
ʼn implisiete relasie tussen tenor en vehicle in ʼn drieledige genitiefkonstruksie waar die term A afgelei moet word uit die interaksie tussen die metaforiese term B en die letterlike term C soos in "The hostel of my heart" (vehicle) vir die versweë "body" (tenor) in (4) (ii) hierbo;
ʼn onderliggende tenor-vehicle-verbinding in ʼn tweeledige genitiefkonstruksie soos in "A smoke-screen (vehicle) of witnesses (tenor)" in (4) (iii) hierbo;
ʼn implisiete tenor-vehicle-verbinding waar vir die argument in ʼn lokale metaforiese konstruksie òf ʼn tenor òf ʼn vehicle gerekonstrueer moet word soos "the golden shot" en sy kombinasies met òf sun (vehicle) òf semen (tenor) in die konstruksie in (3) (ii) hierbo;
ʼn globale tenor-vehicle-verbinding waar gespesifiseerde ar­gumente uit verskillende sintaktiese eenhede paradigmaties op mekaar betrek word soos in die rekonstruksie "A process (tenor) is like a weather (vehicle)" in (3) (ix) hierbo.

In die dekodering en soms ook die rekonstruering van tenor-vehicle-verbindinge in (poëtiese) tekste is een of albei funksies van fokusekspressies deurslaggewend: die kwalifisering van ar­gumente in die raamwerk; die aktivering van rekonstruksiemoontlikhede vir versweë of uitgestelde argumente vir gegewe argumente in die raamwerk. Die eerste funksie is altyd en noodwendig aanwesig; die tweede word aangetref by implisiete of globale tenor-vehicle-verbindinge waar die leser self die metaforiese status van argumente en hulle moontlike paradigmatiese of globale verbinding in ʼn tenor-vehicle-relasie moet rekonstrueer. Die rekonstruk­sie van ʼn globale tenor-vehicle-verbinding in ʼn poësieteks is baie belangrik, omdat die kerntema van ʼn gedig dikwels opgesom word in ʼn sentrale tenor en vehicle(s). Die globale tenor in ʼn gedig kan omskryf word as die eintlike saak waarom dit gaan, terwyl die ooreenstemmende vehicle(s) die tenor metafories spesifiseer. Die leser word in die rekonstruksie van globale tenor-vehicle-verbindings meestal gelei deur ekwivalensiestrukture soos parallelisme, koppeling of klankherhalingspatrone (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE) en KLANK).

Dit is duidelik dat sowel lokale as globale relasies in ag geneem moet word wanneer die verskillende interaksieprosesse in poëtiese metafore geanaliseer word. Sintagmatiese (lokale) en paradig­matiese (globale of tekstuele) prosesse is dikwels nie streng van mekaar te onderskei nie, maar beïnvloed mekaar wedersyds tydens die lees en interpreteer van metaforiese inligting in ʼn poësieteks. Die logiese stappe in ʼn analise van metaforiese taalgebruik in ʼn poësieteks kan ten slotte soos volg opgesom word:
die lokale interaksie tussen ʼn argument en sy kwalifiserende fokusekspressies spesifiseer die metaforiese inhoud van ʼn potensiële globale tenor of vehicle in die gedig;
die lokale interaksie tussen ʼn argument en sy kwalifiserende fokusekspressies vereis in sommige gevalle die rekonstruk­sie van ʼn tweede argument;
die rekonstruksie van ʼn korresponderende argument vir die gegewe argument in ʼn lokale metaforiese uitdrukking resulteer in die interaksie tussen twee argumente uit twee verskillende sintaktiese eenhede en betrek daarmee ʼn vertikale of paradigmatiese interaksie tussen tenor en vehicle;
die lokale interpretasieprosedure van ʼn tenor- of vehicle-konstruksie lei tot ʼn globale interaksie tussen sowel die argumente as die fokusekspressies uit verskillende metaforiese uitdruk­kings;
ʼn analise van sintagmatiese en paradigmatiese relasies lei tot insig in die metaforiese inligting in ʼn poësieteks.

Dit is duidelik dat die intratekstuele relasies tussen metaforiese uitdrukkings semanties beduidend is en in ʼn groot mate die leser se dekodering van metaforiese inligting in ʼn poësieteks determineer. ʼn Analise van hierdie tipe (intra)tekstuele relasies bly nog altyd essensieel, ook binne POST-STRUKTURALISTIESE opvattinge oor intertekstualiteit en TEKSTUALISERING. Die resente debat oor die status van die TEKS en die leser vind sy weerklank ook (en miskien veral) in die betekenisassosiasies wat inherent is aan metaforiese konstruksies: is die betekenismoontlikhede van die metaforisering in tekste onbeperk of kan die leser vanuit verskillende IDEOLOGIESE raamwerke (materialisties, PSIGOANALITIES, FEMINISTIES, ens.) die vrye spel van ʼn disseminasie van (meta­foriese) betekenisse manipuleer?

 

Bibliografie

Black, M. 1962. Metaphor. In: Black, M. Models and Metaphors. Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

Brooke-Rose, C. 1958. A Grammar of Metaphor. London: Seck­er & Warburg.

Gräbe, I. 1985. Metaphor and Interpretation: An Analysis of In­teraction Processes in Poetic Metaphor, with Special Reference to Dylan Thomas's ' 'A process in the weather of the heart''. Preto­ria: UNISA.

Reinhart, T. 1976. On understanding poetic metaphor. Poetics, 5.

Richards, I. A. 1936. The Philosophy of Rhetoric. New York: Ox­ford University Press.

Raadpleeg ook:

Mininni, G. 1989. Metaphor as polilogic semiosis. Semiotica, 73(3/4).

Stambovsky, P. 1988. The Depictive Image: Metaphor and Liter­ary Experience. Cambridge: University of Massachusetts Press.

Steen, G. 1989. Metaphor and literary comprehension: Towards a discourse theory of metaphor in literature. Poetics, 18(1—2).

 
Ina Gräbe