MIDDELEEUSE LITERATUUR (DIE BESTUDERING VAN DIE)

In die LITERATUUR druk die mens homself uit m.b.v. simbole. Deur middel van simbole druk hy vir homself en vir ander 'n bewustheid van die wêreld om hom uit. Die literatuur is 'n simboliese weergawe van 'n besondere opvatting van die wêreld. Solank hierdie weergawe deur lede van 'n gemeenskap begryp word, sal dit deel uitmaak van daardie gemeenskap se kulturele KODES.

Sodanige kodes kan, afhangende van die groot aantal veranderlikes soos "gemeenskap", "wêreld", "waarneming", "bewustheid" en "simbole" wat betrokke is, eenvoudig of ingewikkeld wees. Wáárom die mens 'n behoefte het om te kommunikeer (om homself bv. deur die gebruik van simbole te verseker van 'n gedeelde insig of waarneming), wánneer die behoefte ontstaan het en hóé die kommunikasieproses regtig werk, word tans nog nie werklik begryp nie.

Dit lê egter voor die hand dat hierdie behoefte 'n wesenlike eienskap van die mens as sosiale wese is. Literatuur in sy mondelinge en/of geskrewe vorm is daarom bowenal 'n sosiale verskynsel. Hoewel die literatuur dikwels kontroversieel en/of eksperimenteel van aard is, is die bedoeling altyd om kommunikatiewe verbindings tussen lede van 'n maatskappy te bevestig, te verfyn, te verander en uit te brei. Deur middel van hierdie kultureel gekodeerde skakels kan 'n bepaalde bewustheid van die lewe wat gedeeltelik of ten volle gedeel word, tot stand gebring en in stand gehou word.

Vroeë voorbeelde van simboliese weergawes van 'n besondere waarneming van die wêreld kom voor in die MONDELINGE tradisie van die sg. primitiewe gemeenskappe. Hierdie mitiese vertellings . bevestig vir die lede van die gemeenskap dat hulle tot 'n wêreld behoort wat standvastig en betroubaar is en doelbewus daarop ingestel is om hulle oorlewing en welstand as 'n gemeenskap te verseker.

In ontwikkelende samelewings ontstaan die behoefte om menings, reëls en regulasies te kodifiseer sodat uiteenlopende groepsbelange steeds by 'n gemeenskaplike doel betrek kan word. Hoe meer gekompliseer 'n gemeenskap word (a.g.v. die ontwikkeling van tegnologiese vaardighede waardeur natuurlike hulpbronne ontgin en verwerk word), hoe meer afhanklik sal so 'n gemeenskap word van die behoorlike funksionering van daardie vaardighede. Oortuigings, reëls en regulasies word neergeskryf en kry wetlike status. Gemeenskaplike belangstellings verdeel weer in groepsbelange en groepsbelange sluit individuele belange in. Dit word al hoe moeiliker om 'n bepaalde siening van die wêreld wat vir baie aanvaarbaar sal wees, te vorm. Die mondelinge tradisie wat aan 'n gemeenskap se behoeftes voldoen het om sy eie identiteit te leer ken, word geleidelik vervang deur 'n steeds groter wordende hoeveelheid literatuur waarin 'n enkelwerk nie meer die volle werklikheid as 'n geheel weerspieël nie, maar hom eerder tot 'n spesifieke aspek daarvan rig.

Hoewel die Middeleeuse Europese samelewing in die verre verlede lê, was dit reeds hoogs gekompliseer met wyd uiteenlopende belangstellings. Die literatuur roer, ooreenstemmend, 'n wye reeks sake aan.

Om die Middeleeuse literatuur te bestudeer, is dit nodig om die variante in te kort en te begin met eenvoudige konseptuele raamwerke wat kan dien as 'n wegspringplek en wat met verloop van tyd uitgebrei kan word.

In sekere opsigte verskil die bestudering van die Middeleeuse literatuur van dié van literatuur van ander tydperke. Nogtans bly die probleme basies dieselfde. Ons wil die tekste begryp en daardie begrip by ons bestaande kennis inkorporeer en die uitkoms dan verwerk.

Die eenvoudige feit dat Middeleeuse tekste a.g.v. linguistiese verskille nie maklik toeganklik is vir die moderne leser nie, wys egter hoe ver die tekste van ons verwyder staan. Hulle het die aanskyn van blote historiese artefakte. Waarom sou 'n mens hierdie tekste lees as die geskiedenis deur verandering alreeds 'n oordeel gevel het? Waarom sou 'n mens tyd verspil op tekste wat skynbaar geen betrekking het op hedendaagse probleme nie? Op die keper beskou, hou hierdie vorm van redenering stand. As 'n mens egter so 'n inhoudsgeoriënteerde perspektief verruil vir die beskouing dat die literatuur hom a.g.v. die gebruik van kulturele kodes ook bemoei met simboliese interaksie, word die waarde van 'n historiese perspektief duidelik: geen kode kan op sigself krities geëvalueer word sonder om dit met verskillende ander kodes te vergelyk nie. Die studie van die Middeleeuse literatuur voorsien ons van een so 'n basis vir vergelyking. Die historiese perspektief neem dus in sy evaluering van tekste kennis van die diachroniese dimensie van INTERTEKSTUALITEIT. Behalwe die taalkundige struikelblokke en die historiese verwyderdheid lees ons byna nooit vroeë Middeleeuse tekste in hulle oorspronklike vorm of vorme nie. Manuskripte uit die 13e, 14e en soms 15e eeu word gewoonlik gebruik, wat dan slegs 'n weergawe of weergawes eerder as die oorspronklike teks verteenwoordig. Om uit te vind hoe noukeurig sodanige tekste die oorspronklike teks weergee, is die oogmerk van die tekstuele kritiek — die afgelope 150 jaar is heelwat wetenskaplike navorsing op die gebied gedoen. Ons is vandag in die bevoorregte posisie om te beskik oor 'n groot versameling krities geredigeerde tekste wat die plek van die oorspronklikes kan inneem.

Die hedendaagse opvatting van wat 'n teks is, verskil van die van die Middeleeue. Vandag is 'n teks 'n verbruikersartikel wat as sodanig duidelik deur die titel, outeur en die publikasiedatum afgebaken moet word. Die individuele skepper van 'n teks mag aanspraak maak op regte t.o.v. sy of haar produk, of mag persoonlik daarvoor verantwoordelik gehou word. Dit is so omdat byna enigiemand vandag 'n skrywer of 'n uitgewer kan word, terwyl skrywe in die Middeleeue deur voorskriftelikheid ingeperk is. Dit beteken dat skryf t.o.v. inhoud en/of uitdrukking nie soseer op persoonlike keuse berus het nie, maar eerder die gevolg was van die magsuitoefening van die kerk of een van die vele ander vorme van wêreldlike beskermheerskappye. Die kloosters, die feodale hofhoudings en die aristokratiese kringe in die stede wat deur handel en nywerheid tot 'n opbloei gekom het, sodat die begeerte ontstaan het om hulle kultuur simbolies te ENKODEER, was almal sentra van literêre aktiwiteit.

Die idee van 'n eie individualiteit het in die Middeleeue slegs begin posvat, en dan ook net in die mate waarin die feodale beginsels opgehef is en kapitalistiese trekke in die vorm van georganiseerde handel in gebruiksartikels en die konsep van private inisiatief en eiendomsbesit 'n houvas begin kry het.

'n Middeleeuse teks is die middel waardeur 'n Middeleeuse gemeenskap hom by wyse van kulturele *kodes, wat egter slegs deur bevoorregte minderheidsgroepe gedeel is, uitgedruk het.

Die uitvinding van die drukpers in die tweede helfte van die 15e eeu kan beskou word as 'n keerpunt, wat op 'n duideliker merkbare verskuiwing na groter betrokkenheid van die breë publiek dui. Hoewel die Middeleeue nie eensklaps in 1450 tot 'n einde gekom het nie, kan hierdie datum as 'n gerieflike grens beskou word. Wat die literatuur betref, open die boekdrukkuns nuwe horisonne en sit dit 'n ontwikkeling aan die gang wat analoog is aan die wat teenswoordig 'n nuwe en onvoorsiene wending geneem het ná die uitvinding van die rekenaar.

Vanaf ongeveer die jaar 800 lot 1450 beliggaam die geskrewe teks die belange van diegene wat aan die roer van landsake staan. Hulle gee vorm aan, verander en vergroot die hoeveelheid simbole waardeur individue van die tyd hulle kon uitdruk en duidelik maak en waarmee hulle hulle kon identifiseer. Na 1450 word die praktyk nog meer algemeen. Vandag verval boeke al hoe meer in onbruik. Dis nie onmoontlik nie dat literêre werke dalk op die ingewing van die oomblik deur enigiemand elektronies tot stand gebring sal kan word. Dit is selfs moontlik dat ons in ons tyd sal aanskou hoe 'n teks weer 'n gemeenskapsaak word, soos wat hierbo uiteengesit is, maar dan in 'n ander sin. Om hierdie verskille raak te sien en hulle as sodanig te omskryf, is belangrik as ons verseker wil wees van 'n gemeenskaplike insig op 'n simboliese vlak. Die bestudering van die Middeleeuse literatuur verskaf 'n duideliker voorbeeld by wyse van spreke in 'n saamgedronge vorm van hoe die opvatting van die teks vervleg is met maatskaplike sake — die rol van die maatskappy is nie so voor-die-hand-liggend in studies oor die hedendaagse literatuur nie.

Dit is baie moontlik dat die bestudering van die Middeleeuse kulturele kodes ons kan help om tot 'n begrip van die kulturele kodes van ons eie tyd te kom. Afgesien van die verskille t.o.v. inhoud en uitdrukking, bly die verskynsel as sodanig dieselfde, dat mense hulle d.m.v. kulturele kodes uitdruk. Die buitewêreld kan op watter wyse ook al bestaan; slegs deur ons waarnemings mee te deel kan ons probeer uitvind hóé dit bestaan. Die Middeleeuse literatuur is 'n vroeë voorbeeld van die mens se begeerte en behoefte om die idee dat ons waarnemings algemeen gedeel word, empiries te toets.

Die feit dat 'n Middeleeuse teks uitdrukking gegee het aan beskouings van 'n klein groepie individue en dan hierdie sienswyse opgedring het aan die meerderheid wat nie-lesers was, moet nie noodwendig as 'n betreurenswaardige situasie gesien word nie. Dit lê in die wesenlike aard van 'n teks om outoriteit te veronderstel. Wat op perkament vasgepen is, is veronderstel om waar en geldig te wees. Deur die proses van simboliese wisselwerking word nuwe inhoude en uitdrukkings egter in die lewe geroep wat die kwessie van waarheid en geldigheid heel dikwels op die agtergrond laat skuif. In Umberto Eco se roman The Name of the Rose, wat in 'n Middeleeuse klooster afspeel en geskryf is vanuit die perspektief van 'n *semiotikus, staan die probleem van beperkte teenoor onbeperkte semiose sentraal.

Die term "TEKS" dui hier op literêre tekste, fiksionele (vgl. FIKTIWITEIT) werke in teenstelling met feitelike verslae of referensiële tekste. Hierdie teenstelling is egter nie bo verdenking nie en 'n saak wat die Middeleeuse skrywers ten nouste geraak het. Die teenstelling veronderstel 'n oënskynlike "werklikheids"-aslyn, met aan die een kant die positiewe waardes van werklikheid, feite en relevansie en aan die ander kant die negatiewe waardes van onwerklikheid, fiksionaliteit en irrelevansie.

Baie skrywers stel dit onomwonde dat wat hulle skryf die waarheid is. Hoewel so 'n stelling, op grond van die feit dat dit 'n literêre konvensie is, afgewys kan word, bly dit steeds 'n probleemgebied. Omgekeerd sal selfs 'n KRONIEK wat die stamboom van 'n sekere hooggeplaaste familie tot by Adam en Eva wil terugvoer, fiksionele elemente bevat. 'n Literêre werk moes vir iemand in die Middeleeue 'n betroubare boodskap bevat, maar ook plesier verskaf. Slegs as dit sonder twyfel bevestig kon word, of as die leser oortuig kon word dat die teks na outentieke materiaal verwys, kon dit op outoriteit aanspraak maak. Die onderskeid tussen fiksie en nie-fiksie is daarom nie regtig in hierdie geval van nut nie.

Sonder om die filosofiese of die teologiese verhandelinge, die juridiese tekste of die sg. Fachschriftum (wat verband hou met sake soos die sewe tegniese kunste, bv. wapentuig, navigasie, jag e.a.) in berekening te bring, kan die Middeleeuse literatuur volgens hedendaagse beginsels in die genres EPIEKDRAMA en LIRIEK verdeel word. So 'n verdeling, hoe gerieflik ook al, is egter misleidend as die aksent op die formele aspekte alleen val. Die uitdrukkings van 'n bepaalde inhoud was in die Middeleeue 'n funksie van 'n soort gesteldheid in die lewe. Liriek moes gesing word, verhale is vir 'n gehoor voorgedra en die kerklike spele het 'n deel uitgemaak van die kulturele lewe van die tyd. Hierdie vorm van "onmiddellikheid" het intussen grootliks verlore gegaan, behalwe miskien in die uitvoerende kunste. Die geleidelik toenemende betrokkenheid van 'n al groter deel van die gemeenskap in die vorm van "deelname" aan 'n literêre gebeurtenis het uiteindelik uitgeloop op die voorkoms van die "eensame" leser van vandag. Genres in die Middeleeuse sin het eerder op 'n sosiale as 'n formele klassifikasie gedui.

Alle werke in Middeleeuse Latyn, soos bv. die eerste Middeleeuse ROMAN Ruodlieb (ná 1050), is geskryf deur litterati, soos bv. clerici, of klerikales. Die Middelhoogduitse skrywer Wolfram von Eschenbach het gesê: "Ine kan decheinen buochstap" (Parzival, 115, 27), waarmee hy na alle waarskynlikheid wou sê dat hy geen formele opvoeding ontvang het nie en daarom nie Latyn kon lees of skryf nie; hy verduidelik verder: "schildes ambet ist min art" (115, 11), wat beteken dat hy 'n ridder van beroep was. Ridderskap en die pligte wat dit meebring, het gewoonlik nie ruimte gelaat vir geleerdheid nie. Frederick II (1194-1250) het bekend gestaan as stupor mundi, nie net omdat hy belese was nie, maar ook omdat dit buitengewoon was vir 'n heerser om geleerd te wees.

Die universele gebruik van Latyn het kommunikasie onder die geleerdes van Europa grootliks vergemaklik, maar ook die wêreld verdeel in die geleerdes (die litterati of clerici) en die ongeletterdes (die illitterati of laici). As gevolg van die samewerking tussen die kerk en die staat in die middel van die 8e eeu het die breuk tussen die heersers en hulle onderdane toenemend groter geword. Die kerk probeer om d.m.v. preke inbreuk te maak op die mondelinge tradisie. Die enigste MONDELINGE LITERATUUR wat eie was aan die mense van die tyd was die volksliedere wat voorgedra is, en die VOLKSVERHAAL in prosavorm waarvan daar vandag nog voorbeelde behoue is.

Parallel met die politieke idee van translatio Romani imperii en die daaropvolgende voortsetting van die Romeinse Ryk onder Frankiese beskerming, is alle vorme van geleerdheid ook gegrond op die gedagte van translatio studii vel artium: die oordrag van kermis vanaf die Ooste na die Weste. Uiteindelik sou die oordragsproses met Latyn as medium aanleiding gee tot geskrifte in die moedertaal en 'n steeds groter wordende korpus "nasionale" literatuur.

Om die Middeleeuse literatuur slegs vanuit die oogpunt van die moedertaal te benader, is beperkend omdat slegs één bestaanswyse, nl. die wyse van uitdrukking, betrek word. Om enige werk tot sy reg te laat kom, is dit noodsaaklik om dit te plaas binne die volle spektrum van kulturele kodes van sy tyd. Voordat die relevansie van 'n Middeleeuse teks vandag bepaal kan word, moet die teks se plek en status in sy eie tyd eers vasgestel word. So is werke in die moedertaal wat die toets van die tyd deurstaan het nog steeds in 'n groot mate nie volledig ontgin of "herskep" nie. Die bestudering van Middeleeuse literatuur vereis dus dat 'n mens in die Middeleeuse sin van die woord geletterd (litteratus) sal wees. Die opposisie Latyn teenoor moedertaal gee 'n aanduiding van die omvang van die kontekstuele spektrum.

Hoewel sommige outeurs sê dat hulle nie litteratus is nie, hou die inhoud van hulle geskrifte op 'n direkte of indirekte wyse verband met sosiale kwessies van hulle tyd. As die woord "sosiaal" in 'n wyer sin verstaan word, sal dit ekonomiese, politiese en IDEOLOGIESE aangeleenthede insluit (hoewel dit nooit regtig so fyn van mekaar geskei kan word nie). 'n Kroniek kan bv. as "polities" beskryf word, maar in diens van die belange van 'n dinastie sou dit ook as 'n inherent ideologiese produk beskou kan word. RIDDERROMAN, hoewel op 'n meer subtiele wyse, verheerlik en regverdig met voorbedagte rade die ideale, norme en ambisies van die heersersklas vir wie hulle geskryf is. Die literatuur is as verbruiksartikel hoog aangeslaan en die inhoud daarvan sorgvuldig gekies, want die geskrewe woord het deur die mag van die kerk 'n magtige werktuig geword om die heersende kulturele kodes te bevestig. Deur middel van die geskrewe woord kon die oorgrote meerderheid mense effektief as kodebepalers uitgeskakel word. Slegs deur die geskrewe woord kon bestaande kodes verander word. Die uiterstes waartoe die kerk gegaan het in sy vervolging van alle outeurs wat uit die aard van hulle werke as ketters beskou is, is 'n aanduiding van hoe belangrik die geskrewe woord, waarop die Westerse beskawing gegrondves is, inderdaad was.

Dit is al aangevoer (Pickering, 1967) dat, op grond van die keuse van 'n onderwerp, outeurs òf tot die tradisie van die vader van die kerk, Augustinus (354—430), òf tot die tradisie van die filosoof en politikus, Boethius (480-542), behoort. Hieruit kan afgelei word dat almal in die eerste plek heelwat verskuldig was aan die Antieke. Tweedens moes die outeurs binne hulle sosiale konteks kies tussen Augustinus se uitgangspunt van "credo ut intelligam, intelligo ut vredam" (ek glo om te kan verstaan, ek verstaan om te kan glo) of Boethius se uitgangspunt waarby die geluk (fortuna) 'n rol speel en wat verband hou met 'n konfrontasie tussen die Voorsienigheid en die vrye wil.

By Augustinus lyk dit of die held se redding, deur die genade van God, van bo kom, terwyl die held se lot by Boethius net soveel bepaal word deur sy eie vrye wil as deur die goddelike Voorsienigheid, met fortuna wat as bemiddelaar tussenbeide tree en uiteindelik vorm gee aan alle gebeurtenisse. Hierdie twee uiteenlopende perspektiewe weerspieël die dilemma van die condition humaine — 'n tema wat sentraal staan in baie literêre werke van die tyd. Walther von der Vogelweide, die Duitse digter, stel dit kort en duidelik: "Hoe is dit moontlik om drie dinge te verkry sonder om een te verloor: twee daarvan is eer ("êre") en roerende bates ("varnde guot") en die derde is God se genade ("gotes hulde") wat die eerste twee tot versoening bring? Ek wens ek kon hulle al drie gelyk behou! ..." (Reichston, L.8, 4: Ich saz uf eime steine).

Die werklikheid maak dit egter onmoontlik: die wens bly onvervul, maar kry tog groot aftrek in die werk van Middeleeuse skrywers. Vanaf die tyd waarin Christelike kodes begin geld, hou die inhoud van die werke verband met die reeds genoemde sake: ekonomie (roerende bates), politiek (eer) of ideologie (goddelike genade). Dit mag aangeprys word as ridderlike of Christelike deugde of as ondeugdelik of boos afgemaak word. Binne die konteks, waarin daar gesoek is na goedkeuring van die sekulêre en die geestelike wêreld, kan die versameling romans wat handel oor die matière de Bretagne moontlik beskou word as 'n poging om 'n ideologiese riglyn deur die doolhof van teenstellende waardes te verskaf. In die verhale oor die hof van koning Arthur word bv. in die soektog na die Heilige Graal, of deur die optrede van protagoniste soos Parsifal en Lanselot, 'n poging aangewend om 'n nuwe kode te stel waardeur daar groter begrip moet ontwikkel vir die gekerstende krygsman.

As die Middelhoogduitse werk Erec (ca. 1180) van Hartman von Aue as model geneem word, is dit opvallend dat die gebeure in die narratief in twee fases verdeel kan word. Aan die begin van die eerste fase is die held sosiaal niksbeduidend, hoewel hy fisiek en geestelik goed toegerus is om suksesvol te wees. Aan die einde van die fase ontvang hy eer en liefde: hy vestig hom as 'n eerbiedwaardige lid van die aristokrasie en kry ook rang en status op politieke gebied; op fisieke gebied word hy behaag deur die genot van die liefde. Tot sover is die verhaal baie op die patroon van 'n SPROKIE gebou (Propp, 1968). Dit is op hierdie tydstip dat die implikasies van 'n gelukkige einde ter sprake kom.

In ooreenstemming met die menslike natuur, word deur die outeur gesuggereer (Erec v. 3016—3017), gee die held hom oor aan die plesier van 'n welverdiende liefde. Dit bring natuurlik 'n probleem mee. Of soos die filosoof Abélard (ook bekend as Abailard) (1079-1142) dit stel in Ethica seu scito teipsum (etiese reëls): "If the marriage bed or the eating of even delicate fruit was permitted when we lived in Paradise without sin, who can prove that we transgress in these enjoyments, so long as we do not pass the limits of the permission ... Hence, I think that it is plain that no natural physical delight can be set down as sin, nor can it be called guilt for men to delight in what, when it is done, must involve the feeling of delight" (Abailard, 1935).

Wat natuurlik kom, kan nogtans nie geniet word sonder om die gevolge te dra van die moontlike afwyking wat dit van die maatskappy se doelwitte impliseer nie. Volgens die heersende kode van die tyd lyk dit asof die Middeleeuse mens veronderstel was om sy natuurlike begeertes te onderdruk en te midde van die bevordering van die saak van die heersende beskawing (wat van die hofhoudings uitgegaan het) sy energie te kanaliseer in kulturele werk.

Nogtans is die toelaatbaarheid van genot op seksuele gebied nooit betwis nie. By monde van Abélard: "For religions does not think it degrading to be beaten by man; but it is degrading to be beaten by one's lover self ... Subservience to vice, not to man, is degradation. It is the overlordship of defects and not physical serfdom which debases the soul ... We frequently err; and from no evil will at all. Indeed, the evil will itself, when restrained, though it may not be quenched, procures the palm-wreath for those who resist it. It provides, not merely the materials for combat, but also the crown of glory" (Abailard, 1935: 18—19).

In die tweede fase moet die held tot 'n vergelyk kom met sy eie emosionele drifte, 'n tour de force wat byna tot sy dood lei. Die "dood" is in werklikheid die oomblik waarin hy homself as individu onderwerp aan 'n hoër wet: simbolies is dit die tydstip waarop hy terugkeer na en homself opnuut vereenselwig met die sosiale bestel, en 'n nuwe voldoening smaak in die "liefde". In die effektiewe onderdrukking van 'n oerdrif lê die hoogste deugdelikheid: hierin word die ware aard van die kulturele held geopenbaar. Op die wyse lewer die ridderromans ook uitspraak oor die kwessie van menslike aggressie en hoe om dit te integreer met 'n aanvaarbare (hoflike) gedragskode.

"The bit of truth behind all this — one so eagerly denied — is that men are not gentle, friendly creatures wishing for love, who simply defend themselves if they are attacked, but that a powerful measure of desire for aggression has to be reckoned as part of their instinctual endowment. The result is that their neighbour is to them not only a possible helper or sexual object, but also a temptation to them to gratify their aggressiveness on him, to exploit his capacity for work without recompense, to use him sexually without his consent, to seize his possessions, to humiliate him, to cause him pain, to torture and to kill him ... The existence of this tendency to aggression which we can detect in ourselves and rightly presume to be present in others is the factor that disturbs our relations with our neighbours and makes it necessary for culture to institute its high demands. Civilized society is perpetually menaced with disintegration through this primary hostility of men towards one another. Their interests in their common work would not hold them together; the passions of instinct are stronger than reasoned interests. Culture has to call up every possible reinforcement in order to erect barriers against the aggressive instincts of men and hold their manifestations in check by reaction-formations in men's mind. Hence its system of methods by which mankind is to be driven to identifications and aim-inhibited love relationships; hence the restriction of sexual life; and hence, too, its ideal command to love one's neighbour as oneself, which is really justified by the fact that nothing is so completely at variance with original human nature as this" (Freud, 1930).

Teen die agtergrond van voortdurende stryd en worsteling t.w.v. orde en om oppergesag te bekom, blyk dit dat die samestelling van die Middeleeuse kultuur nie vlekkeloos was nie. Binne sy konteks moet die Middeleeuse literatuur beoordeel word volgens die "eerlikheid" en "integriteit" van sy pogings om tot 'n vergelyk met dié feit te kom: in hierdie verband kan die bestudering van meer kulture as net die Middeleeuse vrugte afwerp. Gesien teen die agtergrond van die magdom spesifieke belangstellings en ambisies (wat soms suiwer was) van die literêre beskermhere, neem die literêre kritikus aan dat alle skrywers, as die intellektuele avant-garde, goed toegerus is en dit eg bedoel in hulle pogings om die kompleksiteit van sosiale magte te deurgrond, en dat hulle 'n hoogs betekenisvolle boodskap het om aan die moderne leser oor te dra. Die boodskap se betekenis word egter dikwels vertroebel deur die tussenkoms van ander sake: a.g.v. besondere kodesisteme, soos die ALLEGORIESE, kan die betekenis nie onmiddellik duidelik wees nie, of a.g.v. verwysings na lokale gebeurtenisse en geskille wat nie op ander plekke opgeteken is nie. Hierdie struikelblokke word 'n groot las by die DEKODERINGSPROSES en gee aanleiding tot navorsingswerk op die gebied. As die boodskap egter eers redelik duidelik is, kan en moet die evalueringsproses begin. Dit is hier waar die bestudering van die Middeleeuse literatuur bepaal word deur die aard van die besondere belangstelling en die benaderingswyse.

As 'n mens vanselfsprekend aanvaar dat die verhalende gedig Tristan (red. Bédier), Dante se Divina commedia, Boccaccio se Il decamerone en Chaucer se Canterbury Tales sg. bo-historiese status het, speel die vraag na watter werke gekies moet word in 'n studie van Middeleeuse literatuur, 'n rol in die student se konseptuele benadering. Daar kan aangevoer word dat 'n "nasionale" perspektief bv. nogal beperkend kan wees en aanleiding kan gee tot 'n oorskatting van werke wat globaal beskou minder waarde het en slegs van belang is vir die gespesifiseerde student. Die bestudering van bv. die SAGES van Ysland val dalk buite die grense van wat as "nasionale" literatuur beskou word. Nogtans bevat die sages belangrike voorbeelde van vroeg-Europese realistiese prosa; en Snorri Sturluson se King Harold's Saga is 'n belangrike kulturele dokument, nie net a.g.v. die skrywer se klaarblyklike eerlikheid in sy ware weergawe van gebeurtenisse nie, maar eerder omdat die werk die leser insae gee in die waaghalsigheid, vindingrykheid, brutaliteit en die omvang van die Middeleeuse ontdekkingsreise en militêre ekspedisies. Nog 'n belangrike kulturele dokument is die reisbeskrywing (vgl. REISVERHAAL) van Marco Polo (middel 13e eeu tot 1323) wat met groot ongeloof bejeën is. Hierdie dokument is van kulturele belang, omdat hieruit blyk dat die moontlike bestaan van veraf en ryklik begaafde kulture anderkant die Heilige Land in die gedagtes van Middeleeuse skrywers teenwoordig was. Dit is 'n faktor om by die evalueringsproses in berekening te bring.

In ander gevalle, waar met tekste handel gedryf is, is dit nodig om nasionale grense in die teenoorgestelde rigting oor te steek: vanaf Duitsland na Frankryk in die geval van die Minnesang en die ridderromans, veral waar die Middelhoogduitse verwerkings, as dit met oertekste vergelyk word, op kulturele gebied betekenisvolle verskille toon.

As verder in ag geneem word dat Latyn die voertaal onder die intellektueles was, kan 'n saak uitgemaak word vir die Middeleeuse kultuur as 'n afgeronde entiteit, maar dan in 'n positiewe sin en in teenstelling met die oorsprong van die term medium aevum wat dui op 'n tydperk tussen die RENAISSANCE en die Antieke en die implikasie wat "donkerte" op kulturele gebied het.

'n Mens sou ook kon sê dat die Middeleeuse kultuur hom op soveel uiteenlopende wyses gemanifesteer het dat dit slegs in chronologiese sin as 'n afgeronde geheel beskou kan word. En selfs hieroor bestaan daar nie eenstemmigheid nie. Hoewel dit algemeen aanvaar word dat die Middeleeue teen ongeveer 1500 tot 'n einde kom, dra sekere Middeleeuse verskynsels nog steeds gesag op politieke gebied in die vroeë 20e eeu. Die Duitse Obrigkeitsstaat (gesagstaat) is maar een voorbeeld hiervan. Die vasstelling van die aanvang van die Middeleeue hang af van die gebruik van geselekteerde kriteria; soos bv. politieke gebeurtenisse of 'n onderskeidende kenmerk soos die feodale stelsel. Nugter beskou is dit aanvaarbaar om te beweer dat die Middeleeuse kultuur in Wes-Europa sy beslag kry en uitbrei tydens die heerskappy van Karel die Grote. Behalwe hierdie chronologiese "merkers" is dit nie moontlik om tot 'n algemeen geldende opvatting oor die Middeleeuse kultuur en literatuur te kom sonder uitvoerige besprekings nie.

Hier word van die standpunt uitgegaan dat die Middeleeuse literatuur benader moet word vanuit 'n duidelike omskrewe uitgangspunt of konsep. Daar is heelwat om van te kies, maar dit lyk asof die konsep "aggressie" die moeite werd is om verder te verken. Op die oog af lyk dit asof so 'n benadering onversoenbaar is met die idee van ontwikkeling en vooruitgang. Dit is juis die uitdaging. Om vas te stel hoe ver ons ontwikkel het, is 'n relevante vraag in enige historiese studie.

(Vgl. MIDDELEEUSE LITERATUUR.)

 

Bibliografie 

Abailard, P. 1935. Abailard's Ethics: Translated with an Introduction by J. Ramsay McCallum. Oxford: Blackwell.

Cameron, K.N. 1973. Humanity and Society: A World History. Bloomington: Indiana University Press.

Curtius, E.R. 1973. Europaische Literatur und lateinisches Mittelalter. Band-8. Miinchen: Francke.

Dictionary of the Middle Ages.  1982. New York: Scribner.

Elias, N. 1978. Ober den Prozess der Zivilisation: soziogenetische undpsychogenetische Untersuchungen. Frankfurt am Main: Suhr-kamp.

Eppelsheimer, H.W. 1960. Handbuch der Weltliteratur von den Anfängen bis zur Gegenwart. Frankfurt am Main: Klostermann.

Freud, S. 1930. Civilization and its Discontent (transl. Joan Riviere). London: Hogarth Press.

Le Goff, J. 1970. Kultur der europäischen Mittelalters. München: Knaur.

Le Van Baumer, F. 1978. Main Currents of Western Thought: Readings in Western Europe Intellectual History from the Middle Ages to the Present. Vol. 4. New Haven: Yale University Press.

Lexikon des Mittelalters.  1980. Miinchen: Artemis.

Pickering, F. 1967. Augustinus oder Boethius?: Geschichtsschreibung und epische Dichtung im Mittelalter — und in der Neuzeit I. Berlin: Schmidt.

Propp, V. 1968. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Propylaen Geschichte der Literatur. 1982. Literatur und Gesellschaft in der westlichen Welt: Se mittelalterliche Welt, 600 — 1400. Berlin: Propylaen.

See, K. von (Hrsg.). 1981. Neues Handbuch der Literaturwissenschaft. Band 7. Europáisches Hochmittelalter. Wiesbaden: Athenaion.

Ullmann, W. 1979. The Individual and Society in the Middle Ages. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Wright, E. (ed.). 1979. The Medieval and Renaissance World. New York: Hamlyn.

 
W. Köppe