NOVELLE

Reeds vroeg in sy bestaan het die novelle (Lat.: novus: nuut; It.: novelle: nuwe verordening, wat min of meer "iets nuuts", "nuwigheid" beteken) 'n duidelik omlynde vorm ontwikkel. Die besondere kenmerke daarvan het in wese onveranderd gebly, hoewel die samestelling en struktuur, in ooreenstemming met die kultuur of tydvak, verskil het. Gevolglik kan 'n mens beweer dat die novelle 'n argetipiese kenmerk besit, nl. die begeerte om iets nuuts te beskryf of te vertel. Hierdie argetipiese struktuur is sedertdien deur die aanwas van kulturele en sosiale nuanses en verskille verfraai.

'n Voorveronderstelling vir die begeerte om iets te beskryf of te vertel is die buitengewone, dit wat die belangstelling sal gaande maak en die nuuskierigheid sal prikkel. Op sy beurt veronderstel elke buitengewone of wetenswaardige gebeurtenis 'n wisselwerking tussen dié gebeure en 'n agent, bv. iemand wat op een of ander manier daarby betrokke is. Sodoende het die argetipiese vorm van die novelle sy oorsprong in die werklike belewenis. In die geval van die novelle is die twee elemente waaruit dié belewenis saamgestel is die agent en die gebeurtenis self — albei elemente sal ook in sigself die belangstelling of nuuskierigheid opwek. Hierdie twee elemente kan in verskillende kombinasies voorkom, afhangende van die soort gemeenskap en die tyd waarin dit voorkom. Die lg. twee faktore is die bewussyn waaruit kunsvorme ontstaan.

Die literêre novelle het ontstaan toe die tweede argetipiese element, nl. die agent, toenemend die aandag op homself begin verenig het, a.g.v. die groter bewustheid van die eie individualiteit.

Die vroegste voorganger van die kort, heg gestruktureerde narratief was die sg. Milesiaanse verhale deur Aristides — 'n tipe anekdotiese satire wat algemeen voorgekom het in Miletus en Klein-Asië om en by 200 v.C. Die aard van die oorspronklike verhale was avontuurlustig, eroties en obseen. Hulle was ook baie gewild in Rome (bv. Gyges), en gedurende die Middeleeue waar hulle bekend was as die Novas rimades van die troebadoere en as die Fables of Contes van Noord-Frankryk. Ander voorlopers van die literêre novella was die 12e-eeuse Spaanse moralistiese verhale van Perms Alfonso (Disciplina clericalis) en dié van Don Juan Manuel (El Conde Lucanor).

Giovanni Boccaccio, die Italiaanse Renaissancis, was die belangrikste vroeë teoretikus op die gebied van die novelle. 'n Mens kan in sy werk 'n sekere aardsheid, patos en vormbewustheid onderskei. Die inhoud van sy novelles in die beroemde versameling van 100 verhale, die Decamerone (1348—1353), verraai 'n liefde vir die lewe om sigself, en die begeerte om die groot dryfveer, die amour, tot vervulling te bring. Aanvanklik was die belangrikste eienskap van Boccaccio se werk sy bepaalde aanbiedingswyse: dit moes bekoorlik wees om te konformeer met die sosiale norme van sy tyd. Verder het die gebruik van 'n herhalende motief by Boccaccio (in die vorm van 'n valk) sy oorsprong gehad. Die Renaissancistiese vormbewustheid was eeue lank hierna bepalend vir die essensiële element van die novelle.

Dié formele hoedanigheid was toe onverbreeklik verbind met die argetipiese drang om 'n interessante gebeurtenis uit die lewe oor te vertel. Sodoende word nuuswaardige insidente en aspekte van vorm basiese bestanddele van die novelle.

Die Franse novelle (e.g. Cent nouvelles nouvelles, 1440) is grootliks deur Boccaccio beïnvloed, en daarom bly die erotiese inhoud onveranderd (the novellas by Des Périer and La Fontaine). Onder invloed van Miguel Cervantes (Novelets ejemplares, 1612) bring die Spaanse novelle 'n element van die didaktiese by (Heptameron by Marguerite de Navarre, 1549). In Duitsland was moralistiese, didaktiese en erotiese tendense in die novelle teenwoordig (bv. die Duitse vertalings deur die humaniste van novelles uit Latyn, die versnovelles van Martin Wieland, en later Goethe se Unterhaltungen deutscher Ausgewanderten, 1795). In Engeland (Chaucer se Canterbury Tales, 1391—1399) is die term novelle uit Italië oorgeneem en in die Elizabethaanse tydperk op 'n kort verhaal en storie met 'n kompakte intrige toegepas. Vandag nog definieer die Oxford Dictionary die novelle of nouvelle as 'n "short novel" of as 'n "story of moderate length". Daar is geen spesiale aandag gegee aan die individuele aard van die agent of persone nie. In die Elizabethaanse Engeland was die inhoud van die verhale vrolik en opgeruimd en W. Painter het baie Europese voorbeelde in Engels vertaal. Hulle het so gewild geword dat dit die Puriteine tot afkeer en onderdrukking aangespoor het.

Die "moderne" novelle het ontstaan toe die gevestigde formele samelewingsverbande vloeibaar en gevolglik problematies begin word het. Die rol van 'n persoonlike lotsbestemming het toegeneem in dieselfde verhouding as wat bg. verbande verander het.

Sedert die Renaissance het sosiologiese veranderinge voortdurend plaasgevind. Die rol van die middelklas het toenemend oorheersend geword. Binne 'n aristokratiese gemeenskap veronderstel Boccaccio se amour vanselfsprekend 'n element van die skandalige — die opspraakwekkende gebeurtenis wat die inspirasiebron van die novelle is. Binne so 'n gemeenskap met sy eiesoortige gedragspatrone en norme kan, op die voorwaarde dat dit 'n geslote gemeenskap bly, die skandaal aanvaar word en die gevolge daarvan uit die weg geruim word. Die teenwoordigheid van 'n andersoortige, toenemende belangrike sosiale klas het egter 'n botsing van belange en gedragspatrone tot gevolg gehad.

Binne hierdie raamwerk het die skandalige gebeurtenis 'n ander toonaard aangeneem en die spanning of konflik tussen die individu en die gemeenskap het toenemend van groter belang in die novelle geword. Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval was, hoe belangriker het die tema van konflik tussen die individu en sy milieu geword. Daarom kan 'n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en belangwekkendste gegewe in die moderne novelle is.

Gedurende sy ontwikkelingsgang is daar dikwels probeer om 'n prototipe van die novelle vas te pen. In Duitsland het J.W. Goethe bv. na die ongehoorde gebeurtenis verwys, Paul Heyse na die onberekenbare eiesinnigheid van die individu, gesien in sy verhouding tot sy omstandighede, Theodor Storm na 'n eksistensiële konflik. Ander het weer na 'n voorval verwys wat in wese irrasioneel en sinneloos was (Paul Ernst) of na die unieke of buitengewone (Ludwig Tieck). As gevolg van 'n beter begrip van psigologiese verskynsels lê die moderne siening 'n verband tussen die buitengewone gebeurtenis en die buitengewone of vreemde individu.

Dit kan natuurlik aangevoer word dat die konflik ook die basis vorm van ander prosavorms, soos die *roman. Hoewel dit waar is, verskil die wyse waarop die konflik gehanteer word. Van die roman sou 'n mens kon sê dat dit nie die gebeurtenis self is wat soseer beklemtoon word nie, maar die ervaring of die gevolge daarvan, en dit kan die vervlegting van etlike handelinge veronderstel, terwyl die novelle uit 'n enkele sentrale daad bestaan — vandaar die korter vorm. Verder beklemtoon die roman die menslike aard, terwyl dit in die novelle gaan om wat met die mens gebeur: die fundamentele beginsel van die menslike natuur word geplaas teenoor 'n gebeurtenis wat iemand oorkom.

Die streng tektoniese struktuur van die novella het meer gemeen met DRAMA as met die roman. Theodor Storm (1817—1888) het die novella die suster van drama gedoop. Die ooreenkomste is duidelik as 'n mens kyk na die suksesvol gedramatiseerde novellas van Shakespeare en na Heinrich von Kleist (1777—1811) se fusie van dramatiese en novellaïstiese elemente in sy werk. Albei vorms vereis bv. 'n beknopte *uiteensetting van 'n hoogs ontwikkelde PERIPETEIA.

Stilisties het daar drie soorte aanbiedingswyses in die novelle ontwikkel. Sommige novelles word gekenmerk deur 'n besadigde, selfs EPIESE vloei. Hierteenoor kan die skrywer verkies om die sentrale konflik op 'n epies-dramatiese wyse aan te bied; die sintaksis kan bv. benut word om die konflik te beklemtoon. Ten slotte kan die epiese doelstelling dié van versoening wees, waarin die konflik opgelos word. Die hoofhandeling word dan in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur.

Die novelle kan moontlik beskou word as een van die prosavorme wat struktureel die uiteenlopendste vorme kan aanneem, en 'n volledige beskrywing is binne beperkte omvang onmoontlik. Daar kan slegs algemene riglyne verskaf word. As Boccaccio se Decamerone as wegspringplek geneem word, dan kan 'n mens 'n struktuur wat bestaan uit 'n versameling novelletjies, wat deur 'n raam tot 'n geheel saamgebind word, as postulaat aanvaar. Tweedens kan die RAAMVERTELLING uitgebrei word om net so 'n belangrike komponent te vorm as die novelles of novelle wat dit insluit. Derdens kan die raamvertelling en die ingeslote novelles in mekaar verweef wees en mekaar aanvul. In al hierdie gevalle kan die verteller in die raamgeskiedenis persoonlik betrokke wees by die gebeure van die ingeslote novelles (interne ek-VERTELLER) of hy kan bloot die rol van toeskouer hê (eksterne ek-verteller). Vyfdens kan die struktuur van die raam die vorm van 'n "dagboek aanneem wat BIOGRAFIES of OUTOBIOGRAFIES kan wees. Sesdens hoef daar glad nie 'n raam te wees nie; baie novelles kom goed daarsonder klaar. In die sewende instansie kom 'n ontlening uit die roman in sommige novelles voor: die handeling word afgebaken en verdeel d.m.v. BRIEWE — dus 'n briefnovelle. Oor die algemeen sou 'n mens kon sê dat die novelle se opvallendste strukturele kenmerk die kerngebeurtenis is. Dit gebeur egter soms dat bykomende gebeurtenisse net so belangrik as die hoofgebeurtenis word. Dit is die geval by novelles waarin sosiale en psigologiese realisme 'n rol speel.

Ten slotte kan beweer word dat die ontwikkeling van die novelle direk verband hou met sy sosiale funksie. Aanvanklik was die funksie van die novelle om te vermaak, juis omdat die tema verband gehou het met die gevaarlike individualistiese element. Hierna het die onbewuste van die individu belangrik geword, en hiermee saam verskuif die fokus vanaf die eksterne gebeurtenis na die innerlike psigologiese proses. Vanselfsprekend was die volgende stap die verhouding tussen 'n bestaande innerlike proses in 'n individu en die milieu waarin hy bestaan. Onder die vroegste novellas wat op hierdie manier konflik hanteer kom in die werke van H. von Kleist en E.T.A. Hoffmann (1776-1822) voor. Gedurende die 19e eeu in Duitsland het dit gekulmineer in die werke van skrywers soos E. Mörike, F. Grillparzer, G. Keller, T. Strom en C.F. Meyer. Die funksie was nou om 'n interessante gebeurtenis of 'n konflik in psigologiese of sosiale terme te behandel. In Frankryk, Rusland en Denemarke het skrywers soos P. Mérimée, Alfonse Daudet, Guy de Maupassant, A. Pushkin, Anton Chechov en J. P. Jacobsen konflik in suiwer psigologiese terme begin hanteer. Vanselfsprekend was die volgende logiese ontwikkeling hieruit om die novelle as 'n medium vir sosiale kritiek te gebruik. Dit het ook inderdaad so gebeur. Tegelykertyd het die tot nou toe versigtig gestruktureerde vorm van die novella begin disintegreer en verbrokkel. Die kenmerkende presiesheid van die novella word slegs behou in die verhaalintrige (plot). Voorbeelde van hierdie ontwikkeling kan gesien word in die werke van C. Sternheim, A. Schnitzler en Franz Kafka terwyl sommige van die novellas van hedendaagse Duitse skrywers soos W. Borchert en S. Lenz die oorgang na die KORTVERHAAL en ANEKDOTE toon. Op sy beurt was die volgende stap om die kritiek vanaf die lokale na die historiese en politiese uit te brei. Dit kan nou gesê word dat die sentrale konflik van die moderne novelle ingebed is in 'n politieke en historiese raamwerk.

Wat Britse en Amerikaanse skrywers betref is daar van dié se tekste wat beskou kan word as benaderend tot die novella-vorm aangesien die konsep van die novella nie spesifiek toepasbaar op hulle manier van skryf is nie. Hier kan 'n mens R.L. Stevenson, R. Kipling, D.H. Lawrence, Edgar Allan Poe, Henry James en Ernst Hemingway as voorbeelde opnoem.

Terselfdertyd word 'n toenemende gevoel van pessimisme en later nihilisme merkbaar. Sodanige elemente is nie inherent onversoenbaar met die wese van die novelle nie. Per slot van rekening was dit nog altyd 'n middel om die sonderlinge in die bestaan uit te druk.

 

Bibliografie

Bennet, E.K. 1974. A History of the German Novelle. Cambridge: Cambridge University Press.

Browning, R.M. 1955. The use and significance of the supernatural in the Novelles of Theodor Storm. Dissertation. University of Princeton, Princeton.

Burger, H.O. 1951. Theorie und Wissenschaft von der deutschen Novelle. Der Deutschunterricht, 51(2).

Canby, H.S. 1935. The short story in English. Yale Studies in English.

Ellis, J.M. 1974. Narration in the German novelle: theory and interpretation. In: Anglica Germanica, series 2. Cambridge: Cambridge University Press.

Foster, E.M. 1958. Aspects of the Novel. London: Arnold.

Friedman, N. 1958. What makes a short story short? In: Modern Fiction Studies, 4.

Friesen, G. 1972. The German Panoramic Novel of the Nineteenth Century. Berne: Lang.

Gillespie, G. 1967. Novelle, Nouvelle, Novella, Short Novel? — A review of terms. Neophilologus, 50/51.

Good, G. 1977. Notes on the novella. Novel: A Forum on Fiction, 10(3).

Hernadi, P. 1972. Beyond Genre: New Directions in Literary Classification. Ithaca: Cornell University Press.

Himmel, H. 1963. Geschichte der deutschen Novelle. Bern: Francke.

Honnefelder, G. 1975. Der Brief in Roman: Unterzuchungen der erzähltechnischer Verwendung des Briefes in deutschen Roman. Bonn: Bouvier.

Lid, R.W. (ed.). 1966. The Short Story. Philadelphia: Lippincott.

Lindken, H.U. 1976. Novellentheorie. In: Textbücher Deutsch. Freiburg: Herder.

Martini, F. 1960. Die deutsche Novelle in bügerlichen Realismus. Wirkendes Wort, 10.

May, C.E. (ed.). 1976. Short Story Theories. Athens, Ohio: Ohio University Press.

Merker, P. & Stammler, W. (Hrsg.). 1958-1977. Reallexikon der deutschen Literaturgeschichte I—III. Berlin: De Gruyter.

Paine, J.H.E. 1979. Theory and Criticism of the Novella. Bonn: Bouvier Verlag Herbert Grundmann.

Polheim, K.K. 1964. Novellentheorie und Novellenforschung. Deutsche Vierteljahrsschrift, 38.

Sartre, J.-P. 1965. What is Literature? New York: Harper & Row.

Schunicht, M. 1960. Der 'Falke' am 'Wendepunkt': zu der Novellentheorien Tiecks und Heyses. Germanisch-Romanische Monatschrift, 41(10).

Silz, W. 1959. Geschichte, Theorie und Kunst der deutschen Novelle. Der Deutschunterricht, 11(5).

Stern, J.P.M. 1957. "Effi Briest", "Madame Bovary", "Anna Karenina". The Modern Language Review, 52.

Stevick, P. (ed.). 1967. The Theory of the Novel. New York: Free Press.

Wiese, B. von. 1956. Die deutsche Novelle von Goethe bis Kafka. In: Interpretationen I, II. Diisseldorf: Bagel. Welzig, W. 1970. Der deutsche Roman im 20. Jahrhundert. Stuttgart: Kröner.

 

I.G. Drennan