REGIONALE LITERATUUR

Die literatuur is selde vry van regionale of streekselemente. Iedere situasie of geskiedenis in 'n literêre teks veronderstel immers 'n geografiese en sosio-kulturele ruimte. Maatje (1974: 129) noem selfs RUIMTE saam met TYD die abstrakste kategorieë vir literêre uitsprake oor die "bestaan" binne die literêre werk. Regionale literatuur kan egter omskryf word as literatuur wat spesifiek ruimtelik-geografies geplaas word en waarin onderskeidende regionale kenmerke 'n uitdruklike funksie vervul.

Regionale kenmerke word dikwels gemanifesteer in die taal, o.m. deur die keuse van die dialektiese of selfs ouer woorde, uitdrukkings, ens. Voorbeelde is o.m. die werk van die Britse skrywers Thomas Hardy en Robert Burns, Boerneef (Afrikaans) en Herman Charles Bosman (Suid-Afrikaanse Engels met 'n ontginning van Afrikaans as streekselement). Dit kom ook na vore met die inspan van die FOLKLORE, tipiese eienskappe van die streek en sy bewoners of deur besondere aandag vir die wisselwerking tussen die mens en sy besondere omgewing. Hierdie omgewing is meestal landelik en dikwels afgeleë. J.C. Kemp (1979: 25) wys ook op die moontlikheid van 'n "regional message" in 'n werk, d.w.s. 'n siening of filosofie wat uit 'n spesifiek lokale leefwyse ontspring. Hy dui verder op die belangrike funksie van die VERTELPERSPEKTIEF. Die spreker se verbondenheid met die streek kan nl. wissel van 'n "binne-situasie" (die normale by regionale literatuur), waar 'n "ingewyde" aan die woord kom, tot dié van 'n outsider, twee pole wat volgens hom dikwels in die New England-skrywer Robert Frost se werk spanning veroorsaak, maar ook bydra tot die kwaliteit daarvan (Kemp, 1979: 205—206 e.v.). 'n Herinneringsituasie is algemeen, dié van 'n verteller wat herwaarderend terugkyk na die streekstoestande waarvan hy vroeër deel was.

Die kunswaarde van regionale literatuur is 'n omstrede saak. Enersyds gaan dit hier meestal om lokaal-begrensde verskynsels of gebeure met dus 'n begrensde strekking en in 'n mate selfs 'n gerigtheid op 'n beperkte leserspubliek. Andersins verteenwoordig die kleine dikwels die grote, is die streek middel om tot universele probleme en waardes deur te dring (o.a. Brink, 1963: 8). A. Enstice (1979: ix e.v.) bevind bv. dat die "regionale romanskrywer" Thomas Hardy toenemend "the narrower aspects of regionalism" verwerp het. Dat die regionale 'n poort vorm tot die universele blyk kennelik ook in sommige werke van o.a. Faulkner (oor die suidelike Verenigde State van Amerika), C.G.S. de Villiers (die Suid-Afrikaanse Overbergstreek), Boerneef en ander skrywers.

Die vraag na "universaliteit" word dus dikwels as kriterium op hierdie soort literatuur toegepas. Hierteenoor betwyfel A.P. Grové (in Van Niekerk, 1981: 4) dit egter of 'n mens nog van "kontreikuns" kan praat wanneer aan dié kriterium voldoen word.

Die regionale is sedert die vroegste tye 'n faktor in die literatuur. In die Romeinse tyd bereik die sg. pastorale of landelike poësie bv. 'n hoogtepunt in Vergilius se Bucolica (39 v.C.) en Georgica (47 v.C). In die 19e eeu kom dit deels as uitloper van en ook as reaksie op die REALISME en NATURALISME sterk na vore in die Wes-Europese literatuur en daar is selfs sprake van 'n regionalistiese stroming. Gepaard met die sg. NEO-ROMANTIESE stroming word die boerelewe, die kleindorpse bestaan, ens. geïdealiseer, terwyl dit soms weer inskakel by naturalistiese elemente wat die omgewing tot 'n magtige deterministiese faktor laat uitgroei (vgl. later die Vlaming Stijn Streuvels se De vlaschaard, 1907). Met die vitalistiese stroming van na die Eerste Wêreldoorlog kry dit 'n nuwe inspuiting, en in Duitsland loop die Heimatkunst van die vorige eeu uit op Blut und Boden-werke binne die groter opset van die Nazi-verheerliking van die landelike lewe, iets waarby selfs die Noorse skrywer Knut Hamsun hom sterk aansluit.

In die Verenigde State van Amerika ontstaan ná die Burgeroorlog die sg. American local color movement (nagenoeg 1865—1900), wat hoofsaaklik neerslag vind in die kort tydskrifverhaal en in die proses onafskeidbaar verbonde raak met die opkoms van die Amerikaanse kortverhaal. Onder andere Harriet Beecher Stowe, Mark Twain en O. Henry lewer werk van dié aard. Die begrip heal color word wel dikwels gebruik t.o.v. die inspan van streekselemente ter versiering sonder behoorlike integrasie in die literêre werk, maar R.D. Rhode (1975: 172 e.v.) toon o.m. oortuigend aan dat die beskuldiging nie deurgaans geregverdig is by hierdie beweging se werke nie. In pas met die literêre ontwikkelinge in Europa ontstaan teen die jare twintig 'n pertinente regionalistiese beweging in die Verenigde State van Amerika, wat volgens Rhode (1975: 27—28) onderskei moet word van sectionalism (lg. is meestal aggressief polities, met 'n propagandistiese toon) en wat algemeen beskou word as uitloper van die local color movement maar 'n groter "diepte" en tradisiebewustheid vertoon, bv. in die werk van Faulkner.

By 'n breë afbakening spesifiek van die Suid-Afrikaanse literatuur is regionale elemente natuurlik belangrik. In sowel Nederlands (Jan de Marre e.a.) en later Engels (beginnende by o.a. Thomas Pringle) word die "nuwe streek" vroeg reeds literêr verken. Juis om die outentieke lokale werklikheid en komiek uit te druk, sorg die Engelse skrywer A.G. Baines vir een van die eerste tekste wat Afrikaans gebruik, Kaatje Kekkelbek, or life among the Hottentots (eerste opvoering 1838). Wiehahn (1965: 1—47) toon voorts aan dat die eis van pertinente Suid-Afrikaansheid in literêre werke (dus deels 'n regionale kriterium) baie prominent is in die Afrikaanse literêre kritiek tot omstreeks 1925. Die regionale bly so 'n belangrike faktor in die Afrikaanse prosa dat o.a. Elize Botha (1980: 327) verwys na 'n tradisie van "anekdotiese en beskrywende realisme" waarbinne sy die "kontreikuns" van A.A.J, van Niekerk, C.G.S. de Villiers, Boerneef, ens. inpas. 'n Soortgelyke tradisie is kennelik aanwesig in die Engelse Suid-Afrikaanse prosa (Olive Schreiner, Herman Charles Bosman, ens.). In die Afrikaanse poësie van die jare vyftig is regionale elemente ook besonder belangrik (Boerneef, N.P. van Wyk Louw, e.a.).
(Vgl. NASIONALE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Botha, E. 1980. Prosa. In: Cloete, T.T. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Bloemfontein: Nasou.

Brink, A.P. 1963. Nota van die vertaler. In: Bourliaquet, L. Verhale uit Limousin. Kaapstad: Human & Rousseau.

Enstice, A. 1979. Thomas Hardy: Landscapes of the Mind. London: Macmillan.

Grové, A.P. 1981. Inleiding. In: Van Niekerk, A.J.J. Verlange is verniet. Kaapstad: Tafelberg.

Kemp, J.C. 1979. Robert Frost and New England: The Poet as Regionalist. Princeton: Princeton University Press.

Maatje, F.C. 1970/1974. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Maritz, A. 1983. Streekliteratuur as kunsprosa: 'n ondersoek van geselekteerde tekste van Boerneef, C.G.S. de Villiers, Dot Serfontein en Hennie Aucamp. M.A.-verhandcling, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Rhode, R.D. 1975. Setting in the American short story of local color, 1865—1900. The Hague: Mouton.

Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek: 'n historiese beskouing. Kaapstad: Academica.

 
W. van Zyl