SIKLUS IN DIE PROSA

Die begrip siklus (van die Gr.: kuklos) beteken oorspronklik "kring" en dui in die algemeen op 'n in sigself geslote geheel. Hieruit volg logies dat die term siklus gebruik word om 'n groep verhale of gedigte te tipeer wat om 'n middelpunt "kring", 'n "in sigself geslote reeks van werke wat saamhoort" (redaksionele vertaling), aldus Von Wilpert (1969: 865) in Sachwörterbuch der Literatur. Hierdie middelpunt of sentrale kern kan 'n tema, gebeure, motief of figuur wees (bv. Koning Arthur).

Hierdie in sigself geslote geheel bestaan uit dele wat 'n samehang vertoon, gekenmerk word deur 'n sterk vormwil en in 'n bepaalde verband gegroepeer is: "a regular order of succession" kenmerk die geheel (Oxford English Dictionary, 1933: 1298).

Hierdie dele ontwikkel telkens die grondmotief of herhaal die tema (in die musiek is dit bv. "a musical composition that employs the same theme in several movements") (Websters' Third New International Dictionary of the English Language, 1961: 563), maar geen enkele deel druk die sentrale (oorkoepelende) tema ten volle uit nie. Voorts kan die siklus gekenskets word as 'n dinamiese proses, 'n omloop of kringloop, waarin die begintoestand weer bereik word na die deurloping van 'n paar fases (Websters, 1961: 563). In die Arthur-siklus is die gemeenskap waartoe koning Arthur behoort "the point of departure as well as the final goal to which the individual hero returns as a perfect knight after a series of adventures" (in Cassell's Encyclopaedia of World Literature, 1 (1973: 154)). Maar dit is nie bloot 'n terugkeer na die beginstadium nie – 'n ontwikkelingsgang het hom voltrek (Websters, 1961: 573). Daarom is daar nie slegs sprake van "wiederholen" nie, maar ook van "erneuern" (Meyers grosses Konversations-Lexikon, 1908: 1052). Dit impliseer verder dat daar 'n duidelik markeerbare begin en einde aan 'n siklus moet wees, anders sou die begintoestand en die terugkeer daarheen nie onderskeibaar wees nie. Hierdie proses sou eerder 'n spiraalbeweging as sirkelbeweging genoem kon word, want dit is feitlik 'n terugkeer na 'n vroeë stadium wat (telkens weer) die ontwikkeling laat voortstu (Strydom, 1976: 103).

As "outonoom" begryp word as selfstandig in eie reg, soos 'n literêre werk selfstandig is, hoewel dit raakpunte het met die tyd van ontstaan én realisasie, met die werklikheid, met die literêre periode waarin dit staan, met die ander werke in dieselfde oeuvre – m.a.w. onafhanklik maar tóg afhanklik is – dan sou die volgende definisie van die begrip siklus gegee kon word: "Die siklus is 'n sigself geslote geheel van outonome dele wat kring om 'n sentrale kern (tema; persoon; gebeure; idee) en die standhoudende kern voortdurend ontwikkel en herhaal in chronologiese, onverwisselbare volgorde, om oplaas, ná die ontwikkeling voltrek is, weer onafwendbaar terug te keer na die beginpunt, en wel in 'n gewysigde vorm sodat 'n totaalbetekenis daargestel word wat in geeneen van die afsonderlike dele ten volle gerealiseer is nie."

Dit is dus duidelik dat die siklus as literêre soort 'n eenheid waarborg. As 'n duidelik gemarkeerde geheel sal dit aandag opeis vir die totaalbetekenis wat in die samehang van alle dele daarvan aanwesig is. R.K. Belcher se opmerking ten aansien van die sonnettesiklus in die poësie is hier relevant: "Terwyl elke sonnet 'n geïsoleerde, in-en-deur-homself fungerende eenheid moet wees, is die bedoeling van die siklus dat die sonnette as siklus gelees word ... Dit impliseer dat elke afsonderlike sonnet baie nou verwant moet wees aan sy twee medesonnette; so nié, sal die siklus in sy doel faal. Dit bring ons by die dilemma waarin die sonnettesiklus verkeer: die sonnette moet òf só afhanklik van mekaar wees dat die siklus as geheel gelees kan word, òf elkeen van die sonnette moet afsonderlik en onafhanklik fungeer, waarby die samegroepering in 'n siklus sinloos en onnodig is. Twee ideale, dus, wat nie in een en dieselfde siklus verwesenlik kan word nie. Dit spreek vanself dat ieder sonettesiklus òf in die een òf in die ander opsig sal misluk, en om hierdie rede onverantwoord is" (Belcher, 1969: 49). Belcher is te ekstreem in sy oordeel, maar hy raak in ieder geval 'n kernprobleem aan: die botsing tussen die outonomie van die afsonderlike werk en die eenheid wat die groter geheel vereis. Vergelyk ook die volgende definisie: 'n siklus is '"n aantal verse wat in hulle onderlinge verband 'n groter eenheid tot stand bring as dié van die enkel gedig, maar met die behoud van die selfgenoegsaamheid van die afsonderlike verse" (Spies, 1978: 73). Verse wat buite die groter verband niemendalletjies is, fungeer binne sikliese verband as belangrike skakelgedigte (Deudney, 1971: 2, 81). Met ander woorde: of dit 'n gedigte- of prosasiklus betref, die totale betekenis is groter as die som van individuele betekenisse. Die interpretasie van enkelwerke word dus ook beïnvloed deur die funksie wat dit vervul binne die groter geheel. Dit is nie altyd duidelik wat presies met die begrip "outonomiteit" aan medeveronderstellings geïmpliseer word nie. Die sg. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK bly in 'n groot mate 'n hipotese.

In die poësie is hierdie probleem egter nie so belangrik nie, want die groter geheel waarbinne die enkelgedig begrepe is, word as geheel aan die leser gegee. Hierdie groter verband val gewoonlik des te makliker op omdat die verband veelal in bundelverband voorkom. Dit het 'n ander LESERROL tot gevolg, analoog aan die van 'n bundel as strukturele eenheid, waar die leser "veronderstel dat die bundeltitel 'n uiters gedronge prefigurasie is van die gedigte in die bundel" (Strydom, 1976: 47). As sodanig rig dit die ondersoek. In elk van die afsonderlike gedigte vind ons 'n presisering van dit wat deur die bundeltitel opgeroep is. Die implikasie is duidelik: die leser sou ook 'n bundel as 'n geheel kon benader.

Met die prosa is dit anders gesteld. Siklusse word selde of ooit eensklaps as 'n geheel gepubliseer. Die leser rig hom primêr op die enkelwerk, óók a.g.v. die feit dat veel meer tyd verloop tussen die verskyning van prosawerke as tussen die aparte gedigte van 'n siklus of bundel. Prosawerke doen dus meer outonoom aan a.g.v. hulle periodieke en afsonderlike verskyning. Daar sal dus ook wat die evaluering betref veel meer klem gelê word op die enkelwerk, en daar sal dikwels uit die oog verloor word dat 'n werk deel uitmaak van 'n groter geheel. Verder is daar dikwels geen oorkoepelende of samevattende titel om die leser te rig in sy realisasie soos in die geval van 'n bundel nie. In hierdie moeilike speurtog word die leser se rol nog onbenydenswaardiger wanneer hy gekonfronteer word met die nog onvoltooide werk van 'n kontemporêre outeur, waar die werk nog nie deur tydsverloop as 'n geheel gemarkeer is nie. Die leser moet dus as 't ware die einde van 'n siklus én die begin van 'n nuwe siklus kan bepaal.

In die driehoeksverhouding sender-boodskap-ontvanger is die leser se rol vroeër genegeer, maar in die moderne SEMIOTIESE benaderings van bv. Van Dijk of Lotman staan dit sentraal. Die dekoderende (vgl. KODE) funksie raak nie alleen belangriker in die moderne literatuurwetenskap nie, dit word ook moeiliker, gesien die moeiliker literêre werke wat die hele era van die MODERNISME kenmerk (vgl. Levin, 1966: 271–296). Die moderne prosasiklus stel hoë eise aan die leser vanweë o.a. die feit dat 'n ROMAN veel groter in omvang is as 'n gedig, maar veral deurdat 'n prosasiklus nie simultaan as 'n geheel tot stand kom nie.

Die rol van die sender sal ook noodwendig verander in die geval van 'n prosasiklus. Hy beheer die kommunikasiekanaal ten volle en hy sal dus informasie in sy boodskap moet inbou om die leser se aandag te skerp vir die feit dat dit gaan om 'n groter geheel.

Die belangrikste hulpmiddel by die ontleding van 'n prosasiklus is 'n verfynde kritiese apparatuur (wat noodsaaklik is in so 'n gerigte ondersoek). En dan is hierdie verfyning juis op die terrein van die vertelpunt/verteller nodig. In die poging om die totale boodskap te realiseer, is dit nodig om die outeursvisie baie duidelik te agterhaal. En waar prospeksies en retrospeksies as noodsaaklike bindmiddels in 'n roman fungeer, sal dit ook in die groter geheel, wat die siklus is, so wees. Prospeksies en retrospeksies is by uitstek geskik om die outeur se visie, idee of tema te benadruk of deur die skep van afwagting (prospeksie) of deur die gee van die teken van verwesenliking òf albei.

In die onderstaande geskematiseerde weergawe van die instansies wat betrokke is by en/of aanwesig is in die verhalende literêre werk (Schmid, 1973: 29), word verskillende vlakke weergegee waarop die literêre gesprek plaasvind. Die sprekers aan die linkerkant van die skema rig hul boodskappe aan die "hoorders" (lesers) regs in die skema. Verskeie "gesprekke" kan só gekonstrueer word.

=>geadres      
seerde      
vanger     
Konkrete

SKEMA VAN DIE INSTANSIES BETROKKE BY EN/OF AANWESIG IN DIE VERHALENDE LITERÊRE WERK


Buite die literêre werk as sodanig staan die konkrete outeur (bv. S.P.D. le Roux). Van hom is sekere aspekte in die werk aanwesig, maar dit is nie wetenskaplik bepaalbaar nie; daarom staan hy self buite die literêre werk en die literêre ondersoek. Aan die ander kant van die skema, eweneens buite, is die persoon tot wie die boodskap gerig is, die geadresseerde. Sodra hy die werk realiseer, word hy die ontvanger.

Vervolgens die werk self. Die eerste gespreksvlak is die tussen die abstrakte outeur en abstrakte leser.

Die abstrakte outeur is as organiseerder van die gehele werk binne die werk aanwesig en is nie s.m. gelyk te stel aan die konkrete outeur of die vertelsinstansie nie. Die abstrakte outeur kommunikeer, streng gesproke, nie alleen d.m.v. taal nie. Sy kommunikasiemedium is vormtaal (vgl. ook Iser, 1978). Die abstrakte leser is in werklikheid die ideale leser wat 'n medegegewe ideale moment binne die literêre werk is. (Vgl. OUTEUR (EPIEK), LESERTIPES.)

Voorts word die gerepresenteerde wêreld onderskei. Dit is veel groter as wat dit lyk en omvat in werklikheid die totale wêreld van die werk. Ook die sg. verteller of vertelsinstansie behoort tot die gerepresenteerde wêreld. Hy rig sy boodskap tot die fiktiewe leser wat òf uitdruklik genoem word ("beste leser") òf implisiet aangespreek word.

Die vertelinstansie kan binne die werk geïroniseer word deur die abstrakte outeur wat terselfdertyd beteken dat die abstrakte leser dan ironiserend moet optree. In Max Havelaar moet die vertelsinstansie Droogstoppel bv. deur die abstrakte leser verwerp word.

Die gerepresenteerde wêreld is nie gelyk aan die volgende vlak, nl. die vertelde wêreld, nie. Eersgenoemde word gerig tot die abstrakte leser, lg. tot die fiktiewe leser. In die vertelde wêreld is personasies (romanfigure) teenwoordig. Dit kan ook 'n ek-figuur as belewende ek wees. Die gesiteerde wêreld bestaan uit dit wat die KARAKTER sê, dink en voel, en die visie van verhaalkarakters kan heeltemal verskil van dié van die vertelsinstansie, en uiteraard van die abstrakte outeur – onderskeidinge wat in die SATIRE uiters belangrik is.

Die konkrete outeur (buite die werk) rig dus sy boodskap tot 'n konkrete leser (die geadresseerde).

Die abstrakte outeur rig sy boodskap (naamlik die gerepresenteerde wêreld) tot die abstrakte leser.

Die vertelsinstansie praat met die fiktiewe leser, en personasies met mekaar. Elk van hierdie vlakke kan sodoende as 'n ander taalhandeling, as 'n ander gesprek gesien word met telkens 'n ander doel, en 'n ander stel sprekers en hoorders. Op elke vlak kan verskillende waardestelsels en feite aan die orde gestel word sodat 'n abstrakte en fiktiewe leser bv. heeltemal verskillend sou kon reageer op die taalhandeling van 'n vertelsinstansie.

Ons eerste aanname n.a.v. bostaande is dat in die geval van die romansiklus die rol van die abstrakte outeur uiters belangrik is a.g.v. die feit dat hy die organiseerder van die geheel is. Die realiseerder sal bedag moet wees op die subtiele verskil tussen die abstrakte outeur en die vertelsinstansie om die mislees van die boodskap te vermy. By 'n satirikus soos Etienne Leroux is dit van deurslaggewende belang om die visie te agterhaal, aangesien dit ook 'n visie is van ons eie tyd wat in die loop van 'n hele aantal werke tot stand kom (vgl. Van Rensburg, 1972: 13).

As gevolg van die feit dat ons siklusdefinisie inhou dat dit 'n "geheel van outonome dele" is, is dit duidelik dat romans onderling geskakel sal wees. Waar hierdie skakeltekens in die poësie duideliker waarneembaar is, is hul as 'n geheel waarskynlik ook meer; en hulle lê nie net op die terrein van die betekenismomente van die woord nie maar ook op dié van die nie-betekenismomente. Die prosa is egter hoofsaaklik aangewese op werkimmanente aspekte, daar is selde sprake van 'n bundelgeheel, van simultane verskyning, ens.

Ons tweede aanname is dat prospeksies en retrospeksies van die uiterste belang is in 'n prosasiklus. Daardeur word werke onderling geskakel en as 'n geheel gepresenteer. Voor-die-hand-liggende pro- en retrospeksies sal op die vlak van die verhaalgebeure, karakterisering, ens. lê; meer subtiel en moeiliker is dit op die vlak van die vertelsinstansie en die abstrakte outeur. Omdat daar in die siklus veral sprake is van ontwikkeling, sal daar noulettend gekyk moet word na die TYD, wat by uitstek ontwikkeling aandui, en na die RUIMTE, wat naas herhaling ook dikwels tydsverloop aandui. Dit is waarskynlik dat kategorieë soos RYM en METRUM (basies formele faktore) dieselfde rol in die gedigsiklus vervul as wat kategorieë soos ruimte, personasies, ens. (basies nie-formele, materiële faktore) in die geval van die prosasiklus vervul.

Die woord "gesprek" is vroeër gebruik om die literêre kommunikasieproses te tipeer. Verskillende ondersoekers soos W. Iser (1978: 54 e.v.) en U. Eco (1979: 11) het die literêre gespreksituasie al as 'n TAALHANDELING bestempel. 'n Taalhandeling is 'n linguistiese verbintenis tussen 'n spreker (ek) en sy hoorder (jy) en kan beskryf word as 'n manier waarop 'n mens met taal iets kan dóén; 'n taalhandeling, nie 'n fisiese handeling nie.

'n Taalhandeling bestaan uit 'n lokusie, illokusie en perlokusie. Die lokusie, die uiting, is die blote taalproses of taaldaad. Die illokusie is wat die spreker doen deur iets te sê, die spreker se basiese semantiese bedoeling. Austin (1962) onderskei ook 'n perlokusie. "This amounts to the consequences or effects upon the addressee, the addressee's reaction" (Campbell, 1975: 3). Dit lê alles ingebed in 'n koherente sisteem van gespreksvoorwaardes wat ongeveer gelyk is aan konteks en situasie.

Vir elke soort taalhandeling is daar 'n ander stel gespreksvoorwaardes wat daarmee gepaard gaan.

Bevele impliseer bv. outoriteit, vrae is gemik op die inwin van informasie, en versoeke wil 'n reaksie tot gevolg hê – fisies of verbaal.

Campbell beweer bv. dat die outeur van 'n literêre werk 'n bepaalde perlokusie by sy ontvangers wil bereik, dat hy m.a.w. 'n sekere bedoeling het. Dit skep uiteraard probleme vir die literêre gespreksituasie waar die outeursintensie selde kontroleerbaar te agterhaal is. Waar dit wel die geval is (soos bv. in dagboeke, manifeste, ens.), is daar geen relasie 1:1 nie. Die swakste werke is immers al met die beste bedoelings geskryf! Die taalhandelingsraamwerk is 'n hoogs kontroleerbare beskrywing van betekenisoordrag, óók in literêre werke. Bedoeling is ongeveer gelyk aan illokusie, die geslaagdheid daarvan is die perlokusie, en die literêre teks is die lokusie. Deur te let op die vorm van die illokusie en die gespreksvoorwaardes, sou die bedoelde perlokusie afgelei kon word. Literêre gespreksvoorwaardes het o.m. te doen met kennis van konvensies, die seleksie- en kombinasieprinsipes wat in 'n bepaalde periode dominant is, die sg. periodekode.

Hierdie benadering bied 'n moontlike invalshoek waaruit prosasiklusse benader sou kon word.

Illokusies gaan bv. gepaard met 'n bepaalde seggingskrag wat om interessante redes kan slaag of misluk. Indien die illokusiekrag nie slaag nie, volg daar nie 'n perlokusie of, korrekter, die bedoelde perlokusie nie. Die abstrakte outeur in Isis Isis Isis (Etienne Leroux) verwag dat die abstrakte leser 'n sekere afstand moet handhaaf t.o.v. die knolskrywer wat die vertelsinstansie is. Maar van die abstrakte leser word tewens verwag om Isis in sikliese verband te lees as slegs een fase van 'n oorkoepelende tema, nl. 'n individuasieproses. Die bedoelde perlokusie kan aangetoon word deur die illokusieverwagtinge te ondersoek en die belangrikste gespreksvoorwaardes te rekonstrueer.

Die gespreksvoorwaardes in die geval van 'n prosasiklus soos dié van Etienne Leroux is net so dwingend as in enige ander gesprek; word daaraan nie gehoor gegee nie, misluk die gesprek. Na 'va, die afsluitingswerk van Leroux se derde siklus, moet bv. gelees word in sy sikliese verband. In die voorafgaande romans is die knolskrywer voortdurend gestigmatiseer. Die "mitologiese prostitusie" (Brink, 1973) in Na 'va is op rekening van die vertelsinstansie, die knolskrywer, wat juis deur die abstrakte outeur gekies en in die hele siklus as 'n hulpelose sinsoeker (ook in mitologiese sin) aan die kaak gestel word. Hierdie belangrike onderskeid tussen die instansie wat al organiserende kommunikeer deur sy vormtaal en die sprekende instansie in 'n literêre werk is een van die belangrikste gespreksvoorwaardes wat hierdie siklus betref, en ontkenning hiervan is in hoë mate verantwoordelik vir die talle afwysende besprekings van werke uit hierdie siklus. Die romansiklus van Etienne Leroux is 'n goed verteenwoordigende voorbeeld van hierdie literêre soort in die Afrikaanse literatuur. Anders as die Ampie-reeks van Jochem van Bruggen sentreer Leroux se negedelige siklus nie in 'n sentrale karakter nie – 'n reeks karaktertipes word in die opeenvolgende kleiner siklusse ten tonele gevoer. Leroux probeer ook nie om soos F.A. Venter in sy tetralogie 'n historiese tydperk te rekonstrueer nie. Sy siklus is weliswaar vrye dokumentering van 'n era, maar ook veel meer; elke roman reik deur sy tydsgebonde bolaag tog uit na 'n tydlose, ewigdurende toestand. Die onderlinge skakeling tussen romans is heg én kompleks. Vorige romans word gedurig aangevul en dikwels retrospektief geïnterpreteer, geëvalueer, gerelativeer, geïroniseer en gesatiriseer. Maar meer nog: kernromans, soos bv. Sewe dae by die Silbersteins, bevat reeds die grondplan van daardie betreffende onvoltooide siklus. Romans word sodoende prospektief gegenereer en as 't ware in vooruitsig gestel. Leroux se siklus behoort derhalwe in sy onderlinge sikliese verbande en moontlik in sy totale verband geïnterpreteer én geëvalueer te word. Die skynbare profane werke soos Die derde oog en Isis Isis Isis kry sodoende hulle staanplek in 'n geheel wat die waarheid van reddende hergeboorte verkondig.

In die wêreldliteratuur tref 'n mens talle groot siklusse aan, bv. van Durrell: Alexandria Quartet; Proust: A la recherche du temps perdu; Zola: Les Rougon-Macquart; Balzac: La comédie humaine; Galsworthy: The Forsyte Saga; Vestdijk: Anton Wachter-reeks en Couperus: De boeken der kleine zielen.

 

Bibliografie

Austin, J.L. 1962. How to do Things with Words. Oxford: Clarendon Press.

Belcher, R.K. 1969. Grondslae van die sonnetvorm. Kaapstad: HAUM.

Brink, A.P. 1973. Resensie: Na'va. Rapport, Mrt. 4.

Campbell, B.G. 1975. Toward a workable taxonomy of illocutionary forces, and its implication to works of imaginative literature. Language and Style, 8(1).

Cloete, T.T. 1970. Tetralogie van F.A. Venter. Kaapstad: Tafelberg.

Deudney, E. 1971. Die siklus as kompositoriese probleem met besondere verwysings na twee siklusse van D.J. Opperman. M.A.-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader: Explorations in Semiotics of Texts. Bloomington: Indiana University Press.

Iser, W. 1978. The Act of Reading: A Theory of Aesthetic Response. London: Routledge & Kegan Paul.

Levin, H. 1966. What was Modernism? In: Levin, H. Refractions: Essays on Comparative Literature. New York: Oxford University Press.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in der Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Spies, L. 1978. Belydenis en gestalte: W.E.G. Louw se "Die passie van ons Heer". In: Britz, E.C., Kannemeyer, J.C. & Pheiffer, P.H. (samests.). Skanse teen die tyd. Kaapstad: Tafelberg.

Strydom, L. 1976. Oor die eenheid van die digbundel – 'n tipologie van gedigtegroepe. Pretoria: Academica.

Van Coller, H.P. 1980. Etienne Leroux as siklusbouer. D.Litt.-proefskrif, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Van Rensburg, F.I.J. 1972. Etienne Leroux as siklusbouer. Standpunte, 25(6).

 
H.P. van Coller