TEKS EN KONTEKS

Teks word tans, onder invloed van veral die Peirceaanse SEMIOTIEK, taamlik algemeen gesien as 'n stuk taalgebruik wat sintakties, semanties en pragmaties 'n samehangende eenheid vorm. 'n Definisie met dieselfde strekking kom voor in Van Gorp (1986) se Lexicon van Literaire Termen: volgens die definisie is 'n teks 'n geordende opeenvolging van sinne wat as 'n samehangende eenheid geproduseer en/of geïnterpreteer word. Daar is in die semiotiese konteks dan verskillende soorte tekste, soos literêre tekste, reklametekste, joernalistieke tekste, wetenskaplike tekste, ens.

Oor die status van die teks, spesifiek dan die literêre teks, is daar meningsverskil. Die meerderheid standpunte kan egter onder een van twee groot denkrigtings tuisgebring word. Volgens die een denkrigting word die (literêre) teks gesien as 'n funksie van een of ander buitetekstuele konteks. Volgens die ander rigting van denke is die literêre teks 'n selfstandige, OUTONOME entiteit. Binne die raamwerk van die lg. denkpatroon is konteks die teks "in die omgewing van" 'n woord of sin of fragment wat nodig is vir die verstaan van die juiste betekenis van die woord, sin of fragment. Konteks kan derhalwe gebruik word om soveel teksinterne as -eksterne situasies aan te dui.

'n Kort voëlvlug oor die ontwikkeling van die verskillende denkrigtings m.b.t. teks lewer die volgende op:

Onder invloed van die REALISME en die POSITIVISME in die 19e en vroeg 20e eeu is die literêre teks grotendeels gesien as 'n "weergawe van die werklikheid". Konteks het dan gedui op "die sosiale opset waarbinne die literêre werk funksioneer". Die literatuurbenadering aanvaar dat, sover dit betekenis betref, die literêre werk en sy Umwelt op dieselfde kontinuum lê, deurdat taal 'n uitdrukking van 'n kultuur op 'n gegewe oomblik is en betekenis 'n funksie van taal. Die "inhoud" of "betekenis" van 'n spesifieke teks word derhalwe bepaal deur die kulturele en persoonlike konteks waarbinne die werk funksioneer, net soos die woordbetekenis deur hierdie kultureel-persoonlike situasie gereguleer word.

Onder invloed van die ekspressionisme van die ROMANTIEK weer is die literêre teks beskou as "'n uitdrukking van die gewaarwordinge en emosies van die outeur". In die biografiese kritiek van die tydperk het die visie en sensibiliteit van die skrywer gefunksioneer as konteks vir die vasstelling van die betekenis van sy/haar werke. Daar is aanvaar dat elke afsonderlike teks 'n funksie is van daardie "wêreld van betekenisse" wat deur die skrywer se waarnemings, ervarings en opvattings uitgemaak word.

Verskeie kritiese metodes wat in die 20e eeu nog aandag geniet, soos o.m. die mito-poëtiese en die tradisionele psigoanalitiese kritiek (vgl. BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING en FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR), is as 't ware voortsettings van benaderings wat die teks beskou as 'n funksie van een of ander buitetekstuele konteks wat die raamwerk en grense van die teks se betekenis stel.

In reaksie teen wat ervaar is as 'n reduksionistiese strewe van die Positivisme en HISTORISME het gedurende die eerste helfte van die 20e eeu verskillende kritiese metodes ontstaan wat die literêre teks as 'n selfstandige, selfregulerende, objektief-beskryfbare entiteit of objek beskou. Hierdie eienskappe het die teks te danke aan 'n insig dat sy medium, die taal, en sy onderwerp, die menslike natuur, tot die openbare domein behoort.

In die metodes van die outonomistiese literatuurbenadering van die RUSSIESE FORMALISMENEW CRITICISM en die STILISTIEK op linguistiese grondslag, staan die taligheid van die teks voorop. In sommige kringe en sekere fases in die geskiedenis van hierdie metodes is selfs pogings aangewend om die taal van die literêre kunswerk in opposisie tot "nie-literêre" taalgebruik te definieer in 'n poging om die eiesoortigheid van die literêre werk te releveer.

Onderliggend aan die benadering van die literêre teks as taalkunswerk lê 'n spesifieke taalopvatting. Nie die pre-Saussureaanse opvatting van taal as 'n versameling eenhede of "woorde" waaraan vaste, onveranderlike "betekenisse" "geheg" is, en wat op 'n eenvoudige en direkte manier gebruik kan word om 'n wêreld van onafhanklike bestaande objekte te beskryf nie, m.a.w. nie 'n "substantiewe" taalbeskouing nie, maar 'n relasionele opvatting waarvolgens die taalsituasie self – die relasies wat woorde binne die verbale struktuur aangaan – die konteks is waarbinne betekenis gegenereer word.

Omdat die betekenis van 'n teks volgens hierdie beskouing nie van kennis van die referent – indien daar hoegenaamd na buitetekstuele situasies verwys word – afhanklik is nie, maar deur die taalkonteks self gegenereer (gerig en beperk) word, kan betekenis objektief beskryf word.

In die taalopvattings van die Franse STRUKTURALISME en POST-STRUKTURALISME word van die beskouings van die strukturalistiese teksbenaderings, wat die kritiese metodes van die latere Formalisme, die New Criticism en die Stilistiek onderlê het, in 'n sekere sin tot hulle logiese konsekwensies deurgevoer.

Saussure se opvattings dat betekenis diakrities is en dat daar in die taalsisteem slegs verskille sonder positiewe (substantiewe) eenhede is, word as grondslag aanvaar vir 'n teksopvatting waarvan 'n kernbeginsel die vrye spel van betekenis, 'n oneindige semiose, is. Jonathan Culler (1975: 245) verduidelik die opvatting goed: "If meaning is a function of differences between terms and every term is but a node of differential relations, then each term refers us to other terms from which it differs and to which it is in some kind of relation. These relations are infinite and all have the potential of producing meaning." In die plek van "term" kan ons lees: teks of TEKSTUALITEIT en daaronder moet dus verstaan word: teksproduksie of betekenisproduksie as 'n metodologies selfbewuste strategie of aktiwiteit waarin die prosesse van skryf en lees "saamgedink" word.

Die ekstreemvorm van die outonomistiese teksopvatting, te wete die idee van die teks as "volkome" selfgenoegsame entiteit, word in die Franse Strukturalisme en Post-strukturalisme verder ook nog vervang deur die opvatting van die teks as teks-tussen-ander-tekste. Dit is die gedagte van 'n INTERTEKSTUALITEIT wat die grense tussen 'n unieke en oorspronklike teks aan die een kant en 'n kritiese of kreatiewe metateks aan die ander kant laat vervaag. Hierby kom nog die gedagte van die literêre teks as 'n funksie van die sosiale instelling van skryf (l'écriture), 'n opvatting wat deur die outonomistiese diskreditering van die *outeur voorberei is.

Julia Kristeva se begrippepaar genoteks en fenoteks vervul 'n belangrike rol in die kontemporêre denke om die gedagte van transformasies tussen 'n (universele) onderliggende teks en 'n resulterende oppervlakteteks onder woorde te bring (vgl. ook Van Gorp et al. (1986). Die proses waardeur die feitelike of oppervlakteteks tot stand kom, word gesien as 'n dinamiese, betekenisproduserende proses en die resulterende teks as 'n diskursiewe moment in die (voortdurende) betekenisproduksie. Die genoteks (ook argiteks) kan derhalwe beskou word as die konteks waarvan die fenoteks dan 'n funksie is.

Van Gorp (1986) lys nog 'n hele reeks teks-terme wat gebruik word om verskillende intertekstuele verhoudings te probeer benoem, waaronder hiperteks, hipoteks, periteks, parateks, mesoteks, transtekstualiteit, en ander.

Die teksbeskouing van die Franse Strukturalisme en Post-strukturalisme is self egter nie onproblematies wanneer dit met die teorie en kritiese praktyk van die DEKONSTRUKSIE gekonfronteer word nie. Een van die basiese veronderstellings van die Dekonstruksie, en 'n primêre werkwyse, is om aan te toon dat die teks sy eie teks-wees ondermyn ("ontmantel" is die term wat Van Gorp, 1986 gebruik) deurdat dit sy eie inkonsekwenthede blootlê, waardeur sy eenheid 'n illusie blyk te wees.

Oor Teks en Konteks kan u verder lees in Preminger (1965/1975) en Van Gorp (1986). Kyk ook in Culler (1975) en Hawkes (1978).

 

Bibliografie

Culler, J. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge & Regan Paul.

Erlich, V. 1955/1981. Russian Formalism. New Haven: Yale University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Harari, J.V. (ed.). 1979. Textual Strategies. London: Methuen.

Hawkes, T. 1978. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Lentricchia, F. 1980. After the New Criticism. London: Methuen.

Macksey, R. & Donate, E. (eds). 1979. The Structuralist Controvesy. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Van Dijk, T.A. 1971. Thai, tekst, teken. Amsterdam: Polak & Van Gennep.

 
Ronèl Johl