VORM EN INHOUD: STRUKTUUR EN MATERIAAL

Die oorsprong van die begrippepaar vorm en inhoud kan na die antieke denke teruggevoer word. Persone wat helderheid oor hierdie begrippe soek, keer dan ook dikwels terug na die uitsprake van veral Plato en Aristoteles.

Ten spyte daarvan dat die geskiedenis van die begrippe taamlik noukeurig nagevors kan word in die beskouings van verskillende denkers, én miskien juis omdat hulle reeds so 'n lang geskiedenis het, is dit nie so maklik om hulle helder en ondubbelsinnig te gebruik nie. Die definisies van vorm en inhoud wat bv. in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics gelys is, gee 'n aanduiding van die verskillende maniere waarop hulle gebruik word.

In sommige van die algemene beskouings word vorm bv. omskryf as "die wyse van komposisie van 'n werk" en inhoud, daarteenoor, as "dit waaroor 'n werk handel": die referent of die (fiktiewe) werklikheid waarna verwys word. Manifestasies van die taalgebruik in literêre tekste, soos klank, ritme, woordvorm en sintaksis, styl én komposisie, hoort hiervolgens tot die vorm van 'n teks. Soms word hierdie vorm ook gekwalifiseer as 'n "leë vorm".

In verwante beskouings word veral die verskillende genres – epiek, liriek, dramas, tesame met hulle onderverdelings – óók sg. leë vorme, as literêre vorme hanteer. Vorm in hierdie geval dui op "soort": dié generiese eienskappe wat tekste met mekaar gemeen het.

Volgens ander beskouings word vorm egter gekonstitueer deur die argument of die abstrakte skema wat as vertrekpunt vir die kunsskepping dien. Die teks waarmee die leser te doen kry sodra hy/sy begin lees of na 'n voorlesing, voordrag of dramatisering luister, die woordgestalte of struktuur waarin die oorspronklike argument of skema verwesenlik word, is die "substansie" of inhoud van die teks.

In nog ander opvattings funksioneer vorm as die organiserende en integrerende beginsel van 'n literêre teks. In die konteks het vorm betrekking op sowel die wyse van integrasie van al die momente van 'n teks in 'n samehangende geheel, as die geïntegreerdheid of eenheid van die geheel. Hierdie soort vorm word dikwels ook "organiese vorm" genoem.

Sommige van die bg. voorbeelddefinisies uit Preminger is duidelik teenstrydig. Die redes hiervoor is deels dat die terme in verskillende tydperke verskillend gebruik is: dat hulle dikwels binne die konteks van opponerende teoretiese raamwerke gebruik word, wat deur bepaalde, dikwels strydende werklikheidsbeskouings gevoed en gerig word.

Die wyse waarop vorm en inhoud binne bepaalde kunsfilosofiese kaders gebruik word, veronderstel 'n sekere standpuntinname t.o.v. die werklikheid. Hierdie werklikheidsbeelde is in 'n beslissende mate ook bepalend vir die gebruiksmoontlikhede en selfs vir die bruikbaarheid van die begrippe in verskillende literatuurteorieë.

Die Westerse denke is die afgelope 2 000 jaar bv. gekenmerk deur 'n *logosentristiese denke, wat oorvereenvoudig daarop neerkom dat Westerlinge die bestaan van idees en vorme onafhanklik van die uitdrukking daarvan (in een of ander mensgemaakte vorm) min of meer onbevraagteken aanvaar (het). Sekere eienskappe wat met die oorspronklike idees en verskynsels vereenselwig is, is bv. God, Natuur, Waarheid, Sin (Betekenis-inhoud).

Uit 'n historiese oogpunt gesien is die houdings t.o.v. die werklikheid wat die klassieke denke van Plato en Aristoteles verteenwoordig, tot in die 20e eeu invloedryk.

Vir Plato bv. het die (essensiële) werklikheid betrekking gehad op die oorspronklike, onveranderlike idees en vorme soos God hulle eenmalig geskep het, en nie soseer op die terrein van die waargenome en ervaarde verskynsels (appearances) nie: die objekte wat sintuiglik waargeneem en ervaar word, is, volgens Plato, nabootsings van die oorspronklike idees.

Kunsskepping is dan volgens die denke van Plato nóg verder verwyder van die oorspronklike idees en waarheid, want dit is die mens se rede wat hom in aanraking met hierdie idees en met die waarheid bring, maar die kunsskepping is waarskynlik nie 'n redelike aktiwiteit nie; boonop word die kunstenaar se nabootsings (kyk MIMESIS) toegespits op die terrein van sintuiglik waarneembare verskynsels. Die kunswerk is m.a.w. 'n nabootsing van 'n nabootsing.

In die denke van Plato is daar dus 'n pertinente verskil tussen die mensgemaakte vorm: die nabootsing van die werklikheid, én die inhoud van daardie nabootsing; m.a.w. tussen die werklikheid of waarheid van die oorspronklike idees en vorme én die ervaringswerklikheid of waarheid op die Platoniese eerste vlak van nabootsing.

Die konsekwensies van die Platoniese mimetiese instelling vir die kunskritiek was uiteenlopend. In sommige mimetiese kunskritiese benaderings het die onderskeid tussen vorm en inhoud die vraag na die akkuraatheid van die nabootsing of kopie op die voorgrond gestel. In ander mimetiese benaderings het die onderskeid tussen vorm en inhoud in die sin wat Plato dit hanteer het, uitgeloop op 'n skeiding van die literêre vorm en die kommunikatiewe inhoud, met dikwels 'n gevolglike geringskatting van die formele aspekte van 'n werk. In hierdie benaderings is die literêre vorm meermale die verbruikbare aspek van die werk wat sy funksie verloor sodra die transendente Idee of die oorspronklike kommunikatiewe inhoud daaruit herwin is.

Aristoteles se mimetiese instelling verteenwoordig 'n ander lyn van denke. Anders as Plato aanvaar hy dat verandering en dinamiek 'n fundamentele proses van die natuur is; en natuur is vir Aristoteles 'n doelgerigte skeppende krag. In Hazard Adams (1971: 47) se woorde: "Reality, for Aristotle, is the process by which a form manifests itself through the concrete and by which the concrete takes on meaning working in accordance with ordered principles."

As aanvaar word dat proses, en gevolglik verandering, 'n fundamentele kenmerk van die werklikheid is, kan die sintuiglik waarneembare verskynsels nie bloot oppervlakkige nabootsings van onveranderlike idees wees nie. Ook die literere skeppingsproses wat vir Aristoteles analoog aan die natuurlike prosesse is, is nie 'n oppervlakkige nabootsing nie.

In die literêre skeppingsproses word die natuurlike vorm in 'n ander inhoud (matter), in 'n ander medium herskep. Dit is die medium wat die reëls vir die interne orde van die werk bepaal en wat die werk van slaafse nabootsing red. Die essensiële vorm van aksies word in en deur die skeppingsproses ontdek. Om Adams (1971: 47) weer eens aan te haal: "The poet makes the meaning of events by making their structure, and he does this in a medium, which is words. Art is thus a sort of improvement on nature in that the poet has brought to completion what nature, operating with different principles of order, is still endeavoring to complete."

Aristoteles se benadering en werkwyse het getoon dat dit moontlik is om die literêre werk sinvol te hanteer in terme van sy formele struktuur.

Tussen die mimetiese opvattings van Plato en Aristoteles is daar 'n grondliggende verskil in uitgangspunte, wat die beste verduidelik kan word deur 'n terminologiese onderskeid in te voer tussen vorm en inhoud én struktuur en betekenis.

Waar die Platoniese situasie waarin die sintuiglike kunsskepping op sy beste 'n afskynsel van die ewig onveranderlike essensiële werklikheid bly, duidelik genoeg gernaak word deur die onderskeid tussen vorm en inhoud, is dit anders gesteld met die Aristoteliaanse situasie: in die situasie word die (Aristoteliaanse) opvatting dat die literêre teks 'n transformasieproses is waardeur materiaal uit die werklikheid in die literêre medium (taal) opgeneem en deur die ordenende prinsipes van die medium in 'n nuwe, relatief selfstandige verband of geheel georganiseer word, die beste verduidelil; deur die begrip struktuur. Die betekenis van die afsonderlike elemente uit die werklikheid word bepaal deur die nuwe verband waarbinne hulle opgeneem is, en die betekenis van die geheel word bepaal deur die samewerking van al die verskillende onderdele. Wat natuurlik nie beteken dat Aristoteles die bestaan van essensiële vorme onafhanklik van hulle uitdrukking in die kunswerk ontken nie.

Die invloed van die beskouings van Plato en Aristoteles is steeds merkbaar in verskillende VARIANTE van die sg. correspondence-en coherence-teorieë onderskeidelik. Variante van die eg. opvatting is geneig om die referensiële funksie van taalgebruik of die inhoud van 'n taaluiting te beklemtoon ten koste van die formele aard van die teks. Onder invloed van die logiese positivisme (kyk POSITIVISME EN LOGIESE POSITIVISME) in die 19e eeu en die omskrywing van vorm en inhoud in sekere strominge van die REALISME en NATURALISME, is die literêre teks dikwels gereduseer tot bv. sosiologiese of historiese dokument of tot morelê of politieke manifes.

Variante van die samehangsbeskouing aanvaar dat die formele struktuur 'n teks se betekenis bepaal. Adams (1971: 6) se uiteensetting van die basiese opvattings van die literêre teorieë van samehang is verhelderend: die werklikheid wat deur die literêre werk uitgedruk word "is implicit in its (the work's – RJ) total form rather than in a collection of its discrete parts. Coherence theories, then, assume that the relation of symbols to reality is more indirect than we usually assume. Symbols are referable first to each other, and then the total system is referable to the outer world. Thus the poem's formal order dominates over what the form (in a cruder sense) would seem to contain".

Met die radikale epistemologiese verskuiwing wat in die laat 18e eeu plaasgevind het, het die siening van die literêre kunswerk in sy verhouding tot die "werklikheid" begin verander, omdat die siening van die mens in sy verhouding tot die "werklikheid" verander het. Die veranderde siening het sy oorsprong gehad in die gedagte wat ontstaan het dat die menslike gees data (feitelike gegewens) nie alleen maar passief ontvang en kombineer nie; dat die subjek minstens gedeeltelik ook 'n skepper van die natuur is.

Hierdie werklikheidsbeskouing het ook die kunskritiek radikaal beïnvloed. Creatio-teorieë het sterk op die voorgrond getree, met die klem op die gedagte van die kunswerk as skepper of konstitueerder van die "werklikheid" en op die vermoë van die taal om hierdie skeppings- of vormingsproses te voltrek.

Die samehangsteorieë, wat deel uitmaak van die objektiewe benadering van die kuns wat minstens die eerste helfte van die 20e eeu die toneel oorheers het as deel van 'n reaksie teen die reduksionisme van die 19e-eeuse Positivisme, benadruk die verbesondering (particularity), uniekheid en interne gerigtheid (die Kantiaanse selfgenoegsaamheid, "disinterested purposiveness") van die literêre werk. (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK.)

Die objektiewe of tekskritiek, wat aanvaar dat die literêre werk sy eie unieke vorm genereer waarbinne die skrywer se intensie/subjektiwiteit/insig/visie betekenisvol konkrete gestalte aanneem, probeer die vorm-inhoud-digotomie ophef deur sy ondersoek van die literêre werk op die struktuur (internaliteit) daarvan toe te spits en die eenheid van hierdie struktuur vas te stel.

Die verwantskap tussen die objektiewe creatio-teorieë en Aristoteles se besondere mimesis-skeppingsopvatting is duidelik. Daar is egter een belangrike verskil, en dit het te make met die verhouding kunswerk en werklikheid. Waar die kunswerk volgens die denke van Aristoteles die leser nog in aanraking kon bring met die essensiële werklikheid, het die verhouding werk en werklikheid sedert die sg. epistemologiese revolusie gekompliseer en meer indirek geraak. 'n Gedagterigting wat Immanuel Kant in die 18e eeu uitgewerk het, nl. dat die mens nooit direkte toegang tot "dinge in sigself" het nie, maar dat alle waarnemings in vorme van tyd en ruimte geprojekteer word, versterk deur die tipies 20e-eeuse opvatting dat die werklikheid self oorweldigend onoorsigtelik, ondeurgrondelik, onseker, relatief en kompleks geword het, het ook in die kunsopvattings neerslag gevind. Die "werklikheid" van die literêre werk is nie noodwendig en onvoorwaardelik die ekwivalent van die werklikheid buite die werk nie. Wat in die literêre werk aangebied word, is hoogstens 'n interpretasie van die werklikheid, 'n ervaringswerklikheid.

In die nuwere kunsopvattinge, wat onder invloed van die filosoof Jacques Derrida se opvattings en vertolking van die teoretiese beskouings van die filosoof Friedrich Nietzsche en die linguis Ferdinand de Saussure begin posvat het, word die onafhanklike bestaan van die werklikheid, van idees en betekenis vóórdat hulle in taal, in tekste gegenereer of geproduseer word, betwyfel.

Volgens hierdie opvattings bestaan daar geen inhoud buite *tekstualiteit (teksproduksie) nie, wat terselfdertyd ook inhou dat daar geen betekenis of betekende (signifié, signified) of inhoud in die teks self aanwesig is nie. Betekenis word in werklikheid voortdurend uitgestel omdat dit net in die ruimte tussen twee of meer tekste of signifiants (kyk SIGNIFIANT EN SIGNIFIÉ) of vorme kan ontstaan, en daarvoor is voortdurende teksproduksie nodig, want elke teks of vorm wat geproduseer word, kan alleen in terme van ander tekste of vorme waarin die spore vertoon, "geïnterpreteer" word.

Oor die geskiedenis van die terme kan u meer lees in Adams (1971) en Preminger (1965/1975). Kyk ook in Fokkema & Kunne-Ibsch (1977).

 

Bibliografie

Adams, H. 1971. Critical Theory since Plato. New York: Harcourt Brace Jovanovich.

Erlich, V. 1955/1981. Russian Formalism. New Haven: Yale University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Harari, J.V. (ed.). 1979. Textual Strategies. London: Methuen.

Hawkes, T. 1978. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Lentricchia, F. 1980. After the New Criticism. London: Methuen.

Macksey, R. & Donate, E. (eds). 1979. The Structuralist Controversy. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Norris, C. 1982. Reconstruction. London: Methuen.

 
Ronèl Johl