PARNASSIËRS

Die term Parnassiërs (Fr.: les Parnassiens) is ontleen aan die naam van hierdie groep skrywers se tydskrif Le Pamasse con-temporain. Die Pamassiërs was 'n groep digters wat van 1865 tot die einde van die 19e eeu in Parys bedrywig was. Hulle was veral gekant teen die.oormatige klem op die gevoel in die werk van die ROMANTICI (soos Hugo, De Vigny en Lamartine) en keer terug na die gebruik van tradisionele versvorme. Tiperend van hulle poësie is die beklemtoning van die bou van die gedig, noukeurigheid, die gebruik van statiese beelde en objektiwiteit. Temas is ontleen aan die geskiedenis, die natuurwetenskappe, die filosofie en die kontemporêre lewe. Die Parnassiërs was geweldig toegewy aan die digkuns dit was vir hulle 'n religie. Die digters van die Pléiade (16e eeu) het as hulle model gedien. Hulle het veral 'n groot bewondering vir Ronsard gekoester.

Sommige kritici en historici beskou Théophile Gautier as die vestiger van die Parnassiërbeweging; ander sê dat die beweging deur die ewe invloedryke Leconte de Lisle begin is. Laasgenoemde het uiteindelik die grootste invloed op die ander Parnassiërs uitgeoefen. Gautier was 'n voorstander van die beginsel L'ART POUR L'ART (vgl. sy voorwoord by sy roman Mademoiselle de Maupin); vir hom was die kuns iets selfgenoegsaams; daarby moes die kunstenaar objektief wees. Gautier het verder gesê dat 'n gedig iets byna tasbaars moet wees, vandaar die ooreenkoms tussen die beeldende kunste en die Parnassiërs se poësie. Na aanleiding van Gautier se siening van die kunswerk as OUTONOME entiteit het I'art pour I'art een van die slagspreuke van die Parnassiërs geword. Ander Parnassiërs was mense soos Catulle Mendès, Louis-Xavier de Richard, Théodore de Banville (hy oefen ook 'n taamlike groot invloed op die ander Pamassiërs uit, veral met sy Petit traité de poésie francaise van 1872), Sully Prudhomme, Francois Coppée, Léon Dierx, Jean Lahore en José-Maria de Heredia (hy is veral bekend vir sy sonnette in Thropées, 1895). Ook Baudelaire, Verlaine en Mallarmé, wat die groot SIMBOLISTE was, het aan die Parnassiër-beweging behoort.

In 1865 stig die Parnassiërs hulle tydskrif Le Pamasse contemporain. Die eerste uitgawe het op 3 Maart 1866 verskyn. Elke uitgawe het uit sestien bladsye bestaan en het Saterdae verskyn. Hierin het die Parnassiërs hulle sienings van die digkuns uiteengesit en van hulle werk gepubliseer. In 1869 verskyn 'n tweede reeks van die tydskrif onder leiding van Alphonse Lemerre. Ander digters het hulle by die Parnassiërs aangesluit, bv. Nina de Callias, Louis Siéfert, Louise de Laprade, Anatole France, Léon Cladel en Georges Lafenestre. Ouer digters soos Sainte-Beuve en Auguste Barbier is genooi om in Le Pamasse contemporain te publiseer. In 1876 verskyn die laaste reeks van die tydskrif. Die reeks het 'n meer konvensionele voorkoms as die vorige twee reekse gehad.

Die volgende aanhaling gee mens 'n idee van die opvattings van die Parnassiërs:

 

"Le monde du Beau, l'unique domaine de I'Art, est, en soi, un infini sans contact possible avec toute autre conception inférieure que ce soit

 

Le Beau n'est pas le serviteur du Vrai, car il contient la vérité divine et humaine. II est le sommet commun où aboutissent les voies de l'esprit

 

Le reste se meut dans le tourbillon illusoire des apparences"

 

(Die wêreld van Skoonheid, die unieke domein van die Kuns, is op sigself 'n oneindigheid sonder enige moontlike kontak met watter ander minderwaardige opvatting ook al.

 

Die Skoonheid is nie die dienaar van die Waarheid nie, want dit bevat die goddelike en menslike waarheid. Dit is die algemene hoogtepunt waarop die weë van die gees uitloop.

 

Die res bots in die denkbeeldige orkaan van verskynsels. (Eie vertaling.))

 

Die Parnassiërs het wye reaksie uitgelok, meestal negatief van aard. Hulle is ook "Le vilains bonhommes" genoem. Hulle het later op gesette tye saamgeëet; dit is "La dîner des vilains bonhommes" genoem. Omdat die Parnassiërs so gekant was teen die sonnette wat grootskaals voorgedra is, is later na die maaltye verwys as "Le dîner des Sans-sonnets".

 

Deur middel van De Banville se alombekende Petit traité de poésie francaise het die Parnassiërs 'n invloed uitgeoefen op 'n paar Engelse kunstenaars soos Austin Dobson, Swinburne, Edmund Gosse en Andrew Lang. Net soos die Parnassiërs in Frankryk, was die Engelse Parnassiërs voorstanders van die gebruik van ouer Franse digvorme soos die "ballade, die *rondeel en die *villanelle. Hoewel hulle soos die Franse die bou van die gedig en 'n objektiewe benadering beklemtoon het, het die beginsel van I'art pour I'art nooit werklik by hulle inslag gevind nie.

 

Bibliografie

 

Kramer, C. 1925. André Chénier et la poésie parnassienne. Leconte de Lisle. Paris: Champion.

 

Lelleik, L. 1961. Der 'Parnasser' Leconte de Lisle als Theoretiker und Dichter. Proefskrif, Rheinische Friedrich-Wilhelms-Universitat, Bonn.

 

Martino, P. 1925. Parnasse et symbolisme, 1850—1900. Paris: Colin.

 

Raadpleeg ook:

 

Pich, E. 1986. Pour une relecture des textes parnassiens. Bulletin des Etudes Pamassiennes, 8.

 

Bristol, E. 1988. The Acmeists and the Parnassian heritage. In: Harris, J.G. (ed.). American Contributions to the Tenth Internation Congress of Slavists, Sofia, September 1988: Literature. Columbus: Slavica.

 

Anna-Marie Bisschoff