ANEKDOTE

 

Die woord “anekdote” (Gr.: anekdota: ongepubliseerde dinge) is die eerste keer in die titel van 'n versameling humoristiese verhale (kyk HUMOR) oor die Oos-Romeinse keiser Justinianus I gebruik (regeringstyd: 527-565 v.C.)

'n Anekdote is 'n kort amusante of interessante vertelling wat gewoonlik om 'n bekende historiese figuur of historiese insident geweef is. 'n Anekdote het dus 'n historiese kern, maar nie alles wat in die anekdote vertel word, is noodwendig histories juis nie. Anekdotes word nie tot spesifieke onderwerpe beperk nie – dit handel oor enigiets onder die son. 'n Anekdote was oorspronklik 'n vertelling wat uit bedagsaamheid en respek nie op skrif gestel en gepubliseer is nie; dit was dus oraal van aard. Selfs vandag bly iets van hierdie oordragmetode bewaar wanneer iets met 'n historiese inslag nie op skrif gestel word nie omdat dit die sentrale figuur se status skande kan aandoen.

Gedurende die Middeleeue was die anekdote 'n retoriese stylfiguur, maar in die RENAISSANCE het dit tot 'n afsonderlike genre ontwikkel. Dit het sy hoogtepunt in die werk van Heinrich von Kleist ('n 18de-eeuse Duitse dramaturg) bereik. Dit het deur die loop van die eeue 'n gewilde stylmiddel in verskeie genres (o.a. in die letterkunde, films, televisie, teater, selfs in alledaagse gesprekke) geword om daardeur 'n spesifieke effek te skep. Ander genres waarin anekdotes dikwels gebruik word, is historiese geskrifte (bv. 'n geskiedenishandboek), vlugskrifte en in die SATIRE waar dit as lughartige afwisseling in 'n ernstige kommunikasie dien. Selfs predikers is lief om anekdotes te gebruik om op 'n lughartige manier 'n religieus inspirerende waarheid oor te dra. Die volgende anekdote is 'n illustrasie hiervan:

'n Ouerige pastoor – hy was jare lank al 'n wewenaar – lê een nag rustig en slaap. Hy het die geestelike gawe gehad om bonatuurlike verskynsels en verskynings te sien. Een nag word hy daarvan bewus dat iets vreemds in sy slaapkamer aangaan. Toe hy regop sit, sien hy die duiwel langs sy bed staan. “O,” sê die pastoor, “dis net jy.” Hy draai om en slaap rustig verder.

Die doel met dié anekdote is om aan gelowiges te illustreer wat 'n sterk geloof in die Here vir 'n mens kan doen: jy het geen vrees vir die Bose nie, want jy weet die Here se beskermende hand rus op jou.

Soos reeds uit bostaande beredenering blyk, het anekdotes verskillende funksies en word in talle genres gebruik om 'n sekere voordragstyl te skep – ook wanneer dit 'n gepubliseerde anekdote is, byvoorbeeld:. 'n Historikus lewer 'n lesing oor die lewe van die beroemde fisikus Albert Einstein. Deur die gebruik van 'n anekdote kan hy 'n humoristiese effek skep om sodoende 'n 'vonkelende' oomblik in 'n andersins swaarwigtige onderwerp te skep – Einstein was 'n formidabele wetenskaplike wat vandag steeds talle goeie wetenskaplikes se werk in die skadu stel.

Die hooffunksie van 'n anekdote is egter om gesprekke (in watter vorm ook al) interessant te maak en die gehoor soms oor iets te laat nadink. So word vertel dat die genoemde Einstein en sy bestuurder op 'n keer op die soveelste lesingtoer was. Einstein was al moeg, veral omdat hy 'n bepaalde lesing 'n hele paar keer moes herhaal. Dié dag het hy nie lus gehad om wéér oor 'n bepaalde onderwerp te praat nie. Hy wend hom tot sy bestuurder: “Luister, jy is altyd in die gehoor as ek my lesings lewer. Jy ken die lesingmateriaal al byna net so goed soos ek. Bowendien weet die mense in die dorp waarheen ons nou op pad is glad nie hoe ek lyk nie.” Einstein was in hierdie stadium nog nie die bekende figuur wat hy later geword het nie.

“Kyk,” sê hy verder, “vanaand lewer jý die lesing terwyl ek in die gehoor ontspan.”

Die bestuurder stem in – Albert betaal immers sy salaris.

Alles verloop goed met die lewering van die lesing, maar tydens vraetyd beland die bestuurder in die moeilikheid: 'n man in die gehoor verwag 'n antwoord op 'n vraag wat die bestuurder hoegenáámd nie kan beantwoord nie. 'n Oomblik lank huiwer hy, maar kom dan met die volgende vorendag: “Kyk, dit is 'n geweldig eenvoudige vraag wat u stel; om dit vir u te illustreer gaan ek vir my bestuurder – wat vanaand hier in die gehoor sit – vra om u te antwoord!”

Deur hierdie prettige anekdote word aangetoon dat 'n mens nie moet toelaat dat jou voete onder jou uitgeslaan word nie – geen situasie is onberedderbaar nie.

Hoewel die anekdote (wat per definisie informeel van aard is) die indruk skep dat dit “sommer so in die loop saamgeflans is”, het dit 'n generiese struktuur. Dit bestaan uit vyf komponente waarvan een (die vyfde) opsioneel is. Eerstens: die samevatting wat aandui dat die vertelling 'n hérvertelling is – die verhaaltjie word van persoon tot persoon oorgedra. Dus: niemand weet wie die storie oor Einstein eerste vertel het nie. Dit hou vanselfsprekend in dat 'n mens later “stories met stertjies” het – toe die soveelste persoon die anekdote oor Einstein vertel, is dit nie sy bestuurder wat die lesing namens hom lewer nie, maar sy sekretaresse wat hom oral vergesel. Dit alles maak 'n anekdote interessant en soepel. Tweedens: in die oriëntering word die agtergrond van die gebeure geskets: Einstein en sy bestuurder was op pad na 'n dorp waar eersgenoemde 'n akademiese lesing moes lewer. Derdens: in die insident word die besonderhede van die gebeure vertel: wat daartoe aanleiding gegee het dat Einstein nie self sy lesing gelewer het nie en hoe die voordrag daarvan verloop het. Vierdens: die gehoor van die anekdote se reaksie (of gewaande reaksie in die geval van 'n geskrewe anekdote) op die vertelling: baie toehoorders/lesers van die Einstein-verhaaltjie sal waardering vir Einstein se vindingryke bestuurder hê. Vyfdens: die koda is opsioneel, want die vertelling lei nie noodwendig daartoe dat die gehoor oor die inhoud van die anekdote nadink of 'n les daaruit leer nie. Dit is bloot 'n lagwekkende storie. In die Estoniese, Litause, Boelgaarse en Russiese anekdotes ontbreek die koda gewoonlik: in hierdie kulture is 'n anekdote bloot 'n kort humoristiese storie – 'n grap.

Die oudste Nederlandse anekdoteversamelings dateer uit die 16de eeu, bv. Een nyewe clucht boeck (1554). 'n Bekende versameling uit die 17de eeu is dié van Aernout van Overbeke: Anecdota sive historiae jocosae. Ander beroemdes in wie se werk anekdotes figureer, is o.a. Hebel en Schäfer; Disraeli het graag anekdotes versamel en in 1812 is John Nichols se eerste deel van sy negedelige anekdoteversameling gepubliseer. In 1975 verskyn 'n moderne anekdoteversameling, nl. The Oxford Book of Literary Anecdotes.

Die anekdote speel 'n belangrike rol in die strukturering van die kortkuns waar dit as "vertelsels" aangebied word, bv. Herman Charles Bosman se Mafeking Road (1947), Hennie Aucamp, "In die leegte" (Dooierus, 1976), "'Neem dié beker, drink dié bloed'" (Op die Stormberge, 1971), "Vir vier stemme" (Volmink, 1981), asook verskillende tekste in T.T. Cloete se Die waarheid gelieg (1984). Jan Spies wat in sommige kringe as "volksverteller" bekendstaan, se skriftelike vertellings kan in baie gevalle as uitgebreide anekdotes beskou word (bv. in Spieserye – versamelde vertellings, 1988).

Resenter voorbeelde van anekdotes is Die dominee en die doktor en ander stories (Kys de Wet; dit is ook as e-boek beskikbaar). Voorts bevat Koos Prinsloo se Slagplaas (1992) anekdotes; anekdotes oor 'n dirigent se wedervaringe: David Tidboaldse People I Made Music (2009); dit is ook as e-boek beskikbaar. Hein Willemse gebruik anekdotes in sy toespraak “Op pad na 'n ruim Afrikaans – 'n bydrae oor nierassigheid in Afrikaans” (2011); dit maak deel uit van die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks wat tydens die Burger-Suidoosterfees by die Skiereiland Technikon in Bellville gelewer is. Wim van der Berg se publikasie Die uitsonderlike boek van rugby (2012) vertel anekdotes uit die rugbywêreld, so ook Willie Esterhuyse se boek Eindstryd (2012). In 2015 verskyn Karel Schoeman se roman Imperiale somer waarin anekdotes figureer.

'n Subgenre van die anekdote is die pseudobiografie. Dit bestaan uit humoristiese verhale oor 'n pseudo historiese figuur wat die vorm van 'n biografie aanneem. So 'n 'biografie' begin gewoonlik met die geboorte van die 'historiese figuur' en eindig met sy dood. Die literêre bestaan van die figuur is egter tydloos, bv. Tyl Uilspieël en die pastoor van Kalenberg.

Die Middeleeuse Exemplum is 'n vorm van die anekdote. 

Teenoorgestelde subgenres van die anekdote is die annale, BIOGRAFIE, KRONIEK, geskiedenis en MEMOIRES, want in hierdie geskrifte is niks “bygelieg” nie.

 

Bibliografie

Bas, A, & De Jong, J. 2005. De anecdote als stijlmiddel in toespraakinleidingen. (In: Tijdschrift voor taalbeheersing 27, p.172—197.

Cuddon, J.A. 1992. (3rd ed.) Penguin Dictionary of Literary Terms and Literary Theory. London: Penguin Books.

Delabastita, D., Van Gorp, H., Verkruijsse, P.J. & Vis, G.J. 2012—2016. Algemeen letterkundig lexicon.Van Bork.

Franssen, P.J.A. 1995. Virgilius de tovenaar in het genre van de anekdotenbiografie. (In: Literatuur 12, p. 83—89.)

Grothe, H. 1971. Anekdote. Stuttgart: Metzler.

Jurgen, H. 1981. Die Anekdote. In:Knorrich, O. Formen der Literatur in Einzeldarstellung. Stuttgart: Kroner.

Kennedy, X.J. 2005. (3rd ed.) Handbook of Literary Terms. Upper Saddle River, NJ: Pearson Education.

(Hersien Januarie 2017)

 

Anna-Marie le Roux