ANGRY YOUNG MEN

Die angry young men was 'n groep jong Britse dramaturge en romanskrywers waarvan die meeste werkende middelklasmans was. Die groep het in die vyftigerjare van die 20ste eeu bekendheid verwerf. Die leiersfigure van die groep was John Osborne (oorlede: 1994) en Kingsley Amis (oorlede: 1995).

Die term “angry young men” is deur 'n persattaché van die Royal Court Theatre gemunt na aanleiding van John Osborne se drama Look Back in Anger (1956); 'n ander opinie is dat die term teruggevoer kan word na Leslie Paul se outobiografie Angry Young Man (1951) waarin die invloed van talle politieke bewegings bespreek word. Nadat Osborne se drama Look Back in Anger sukses behaal het, het die pers na hierdie groep jong skrywers as die “angry young men” verwys omdat hulle werk gekenmerk word deur geweldige ontnugtering in die Britse sosiale opset. Dit was nie net 'n 'literêre' woede nie, dit was ook 'n persoonlike onver­ge­noegdheid. Hulle was nie net “angry” nie – hulle was woedend!

Met die verloop van tyd het die term – wat altyd 'n bietjie losweg gebruik is – se relevansie toe­nemend vaag geword omdat die oorspronklike angry young men se werk al hoe uiteen­lopender (en meer volwasse) geword het sodat die term in onbruik verval het. Trouens, die angry young men het geen eenvormige groep gevorm nie en het self nie van die bena­ming “angry young men” gehou nie. 'n Paar van hulle was wel vriende, maar baie 'lede' van die groep het dikwels antagonistiese artikels oor mekaar geskryf.

Die angry young men was intellektuele wat verwag het dat daar na die Tweede Wêreldoorlog ingrypende veranderinge in die sosiale bestel sou plaasvind. Dit het nie gebeur nie. Ná die oorlog het die Engelse regering tussen 1945 en 1951 beurse aan jongmense uit die laer sosiale klasse beskikbaar gestel sodat hulle verder kon gaan studeer. Ná hulle univer­siteits­opleiding het dié jongmense egter probleme ondervind: hulle kon nie werklik aan hul oorspronklike milieu ontsnap nie, maar het nie meer tuis daarin gevoel nie. In die hoër sosiale kringe het hulle eweneens nie tuis gevoel nie. Hulle lewens is deur middel­matigheid gekenmerk: hulle het nie van die honger omgekom nie – hulle kon hulle selfs 'n paar tweede­handse luukshede veroorloof, maar hulle toekoms het nie rykdom en bekend­heid in die hoë sosiale kringe voorspel nie.

Die groep jongmans het hulle woede ten opsigte van hulle maatskaplike lot in hulle litera­tuur verwoord. Hulle het in opstand gekom teen die samelewing, die politiek en die litera­tuur. In The Angry Years: the Rise and Fall of the Angry Young Men sê Colin Wilson terugskouend van hulle groep dat dié ontevrede jong skrywers 'n mens aan bedorwe stout kinders laat dink omdat hulle oor feitlik alles ontevrede was; min dinge kon hulle beïndruk. Baie mense het geïrriteerd deur hulle sanikende optrede en uitsprake gevoel. Alles het ook net by praat en skryf gebly: hulle het self niks daadwerkliks gedoen om die dinge te ver­ander wat hulle verander wou hê nie. Hulle literatuur is egter van belang, want dit bevat sosiale kritiek en het die Engelse literatuur vernuwe.

“Angry young men” in die literatuur is bv. Charles Lumley in John Wain se Hurry on down (1953), Jim Dixon in Kingsley Amis se Lucky Jim (1954), Joe Lampton in John Braine se Room at the Top (1957) en Jimmy Porter in John Osborne se drama Look Back in Anger (1956).

Sommige kritici het die spot met Osborne se werk gedryf en gesê sy stellings getuig dikwels van onvolwassenheid. Dit het aanleiding tot 'n debat oor sy politiek en dié van die sg. beweging gegee. Osborne het 'n “Engeland, gaan bars!”-houding aangeslaan.

Deur hulle opstandigheid het die angry young men in hulle werk 'n nuwe soort held geskep. Hy staan skepties teenoor alles; hy is nie 'n esteet nie, ook nie 'n intellektueel nie, want hy beskou niks hiervan as die moeite werd nie. Die hoofkarakters in die angry young men se werk is emosioneel koersloos; hulle kom uit die laer middelklas of middelklas en kyk met 'n sardoniese en ontevrede blik na die sosiale opset. Hulle kom voortdurend teen gesag in opstand, maar wil graag 'n suksesvolle lewe lei. Dié tipe karakter is dus 'n BUITESTAANDER en 'n ANTIHELD.

Ironies genoeg het die oorspronklike angry young men in hul later lewens die bekendheid en roem verwerf waarna hulle as jong skrywers so gesmag het: John Osborne het byvoorbeeld 'n ingrypende invloed op die teater gehad. Almal het met verloop van tyd 'n groot, multidi­mensionele oeuvre opgebou. Kingsley Amis (later Sir Kingsley Amis) was uiteindelik nie net 'n dramaturg nie; hy het ook gedigte, essays, kritiese stukke, kortverhale, artikels oor kos en drank, versamelbundels en romans in subgenres soos wetenskapfiksie en speurverhale geskryf. Sy bekendste roman wat binne die kader van die angry young men se 'filosofie' pas, is die reeds genoemde Lucky Jim (1954) wat handel oor 'n jong geskiedenisdosent wat in die akade­miese wêreld opgang probeer maak.

'n Hele aantal skrywers kan met die groep se perspektiewe geassosieer word: John Arden, Stan Barstow, Edward Bond, John Braine, Harold Pinter, Michael Hastings, Thomas Hinde, Stuart Holroyd, Bill Hopkins, Alan Silitoe, David Storey, Kenneth Tynan, John Wain, Keith Waterhouse, Arnold Wesker en Colin Wilson. Buiten Edward Bond, Stuart Holroyd en David Storey is al die angry young men al oorlede.

Anna-Marie le Roux

(Bygewerk Januarie 2017)

Bibliografie

Aerts, J, et al. 1963—1977. Moderne encyclopedie der wereldliteratuur. Gent: Story-Scientia. 9 dle.

Gilleman, L. 2008. From Coward and Rattigan to Osborne. In: Modern Dramatist 51, (1): 104—124.

Carpenter, H. 2002. The Angry Young Men: A Literary Comedy of the 1950s. Amazon Bookstore.

Fussell, P. 1994. The Anti-Egotist: Kingsley Amis, the Man of Letters. London: Oxford University Press. (Ook beskikbaar by Amazon.co.uk) `

Langford, L. 1997. The Unsocial Socialism of John Osborne. In: English Studies 12(4): 285—288.

Leader, Z. 2006. The Life of Kingsley Amis. London: Jonathan Cape.

Ritchie, H. 1988. Success Stories: Literature and the Media in England, 1950—1959. Boston: Faber and Faber.

Wilson, C. 2007. The Angry Years. London: Robson Books.

Kyk ook https://www.google.com.na/?gws_rd=ssl#q=angry+young+men