L'ART POUR L'ART

Die beginsel van l'art pour l'art (Fr.: kuns om die kuns; Eng.: art for art's sake) word in Duits geformuleer as: Kunst für die Kunst (Stefan George). Die term word in Latyn as ars gratia artis deur die Amerikaanse mediamaatskappy Metro-Goldwyn-Mayer (MGM) as leuse gebruik, wat beteken dat hulle hulle films ter wille van die films maak, en nie vir die politieke of sosiale waarde daarvan nie. Die ironie lê daarin dat baie akteurs se kans om 'gehuur' te word van die politieke of sosiale opset afhang.

Daar bestaan nie eenstemmigheid oor die ontstaan van die term l'art pour l'art nie. Volgens sommige bronne het die term by Gotthold Ephraim Lessing ontstaan wat dit die eerste keer in sy Laokoon (1766) gebruik het. 'n Ander bron sê die term is “klaarblyklik” die eerste keer deur Théophile Gautier gebruik, maar dat dit is eers vroeg in die 19de eeu deur die Franse filosoof Victor Cousin, die Switserse filosoof Benjamin Constant en Edgar Allan Poe op skrif gestel is. Nog 'n bron is van mening dat Constant die term gemunt het. Gautier was egter die eerste kunstenaar wat dit gebruik het, en wel as leuse in die voorwoord van sy boek Mademoiselle de Maupin (1835). Later (1854) gebruik Cousin dit in Du vrai, du beau, du bien (1836, Van die werklike, die mooie, die goeie). Flaubert en Baudelaire was ook belangrike Franse eksponente van hierdie beginsel. In Engeland was Oscar Wilde (The Picture of Dorian Gray, 1890), Walter Pater, Samuel Taylor Coleridge en Arthur Symons belangrike eksponente. L'art pour l'art het die slagspreuk van die kuns gedurende hierdie tyd geword.

Hierdie estetiese teorie hou in dat kuns selfgenoegsaam is en dat die intrinsieke waarde van “ware” kuns geen didaktiese, morele of polititieke funksie het nie, m.a.w. kuns word vir niks gebruik nie; dit bestaan net omdat dit 'n kunswerk is. Dié tipe werk word soms as outotelies (Gr.: autoteles: in sigself voltooi) beskryf. Volgens Poe is 'n gedig niks meer as 'n gedig nie; James McNeill Whistler het gesê kuns moet onafhanklik funksioneer en het niks te doen met emosies soos toewyding, bejammering, liefde of patriotisme nie. Kuns moenie in diens van die staat of religie staan soos wat dit sedert die Kontra-Reformasie (16de eeu) die geval was nie.

Die estetiese uitgangspunt van l'art pour l'art is sterk gekritiseer deur skrywers soos die boheemse George Sand (pseud. van Aurore Dupin) en Friedrich Nietzsche wat klem op die funksionaliteit van die kuns gelê het.

In Duitsland was die digter Stefan George een van die eerste Duitse kunstenaars om die slagspreuk as Kunst für die Kunst weer te gee. Hy het dit in sy literêre program in die eerste volume van sy literêre tydskrif Blätter für die Kunst (1892) gebruik.

In die Nederlandse literatuur was die beginsel l'art pour l'art ook 'n belangrike punt in die poëtiese program van die Tagtigers (Willem Kloos, Herman Gorter, Frederik van Eeden en Albert Verwey) (kyk SIMBOLISME) en die kunstenaars wat bydraes in Nu en Straks gelewer het; laasgenoemde was 'n Vlaamse literêre en kulturele tydskrif wat deur August Vermeylen in 1893 gestig is. Die “Nu en Straksers” het nie 'n homogene groep gevorm nie, maar almal was voorstanders van die l'art pour l'art-beginsel.

Die doktrine het sy wortels in die Duitse Romantiek wat klem op die oorspronklikheid van die kuns lê. L'art pour l'art is veral die credo van die Estetisisme, die Dekadensie, die Parnassiërs en die Realisme.

Die l'art pour l'art-siening is vandag steeds te bespeur in die opvatting dat die kunswerk iets outonooms is; dit vorm die basis van die outonomiebewegings in die moderne literatuurteorie. (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK en ESTETISISME.)

Literatuur

Abrams, M.H. 1953. The Mirror and the Lamp: Romantic Theory and the Critical Tradition. New York: Oxford University Press.
Brandt Corstius, J.C. 1968. Het poëtische programma van Tachtig: Een vergelijkende studie. Amsterdam: Athenaeum; Polak & Van Gennep. Brookner, Anita. 2000. Romanticism and its Discontents. New York: Farrar, Straus & Giraux.
Dowling, Linda. 1998. Aestheticism. In: Kelly, M. (ed.) Encyclopedia of Aesthetics. Oxford: Oxford University Press. 4 vols.
Edwards, O. 2006. Refined Palette. In: Southsonian Magazine 29.
Jordan, J. A. 1985. Aestheticism and Decadence in four novelists of the twenties: Dell, Van Vechten, Hecht, Fitzgerald. Dissertation Abstracts International, 45(9).
Poe, E.A. 1850. The Poetic Principle. In: Home Journal 36, August 31.
Sartwell, C. 1998. Art for Art's Sake. (In: Kelly, M. (ed.) Encyclopedia of Aesthetics. Oxford; Oxford University Press. 4 vols.

 

Kyk ook https://www.britannica.com/topic/art-for-arts-sake en
http://witcombe.sbc.edu/modernism-b/artsake.html

Anna-Marie le Roux

 (Hersien Februarie 2017)