ABSURDE DRAMA

Die absurde drama of teater van die ABSURDE soos dit ook genoem word, is 'n tipe drama wat in die vyftiger- en sestigerjare van die 20e eeu 'n besondere opbloei beleef het. Dit weerspieël veral die opvatting dat die menslike lewe absurd, m.a.w. sinloos is. Hierdie soort pessimistiese lewensbeskouing kan in die letterkunde baie ver teruggevoer word, maar in die geval van die absurde teater spruit dit voort uit die filosofiese strominge van die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog, veral uit die EKSISTENSIALISME  van Sartre e.a. Die skrywer Camus het dit treffend getipeer toe hy die lot van die mitiese figuur Sisuphos, wat gedurig besig is om tevergeefs 'n rots teen die berg uit te stoot, as simbool van die menslike lewe beskryf het.

Ten gevolge van hierdie lewensbeskouing kom sekere temas herhaaldelik in die absurde dramas voor. Die lewe is sinloos omdat daar geen erkende sisteem van waardes meer is nie. Daar is geen geloof in God se voorsienigheid wat die wêreld op sinvolle wyse bestuur nie. Daarom is die mens se lewe doelloos; hy weet nie waarvandaan hy kom of waarheen hy gaan nie. Sy lewe bestaan uit die gedurige herhaling van sinlose handelinge. Hy probeer homself nog soms wysmaak dat sy lewe betekenis het en dat daar iets sal gebeur wat alles sal verander, maar daar gebeur nooit iets nie. 'n Doellose gewag is tipies van hierdie dramas, soos in Waiting for Godot van Beckett. Daarom word die lewe dikwels as 'n sinlose spel gesien. Vanweë hierdie gevoel van ontnugtering ondervind die mens 'n groot vrees vir mense of dinge of selfs 'n onbestemde vrees vir die lewe in die algemeen, 'n "metafisiese angs". Hy is diep onder die indruk van die onafwendbaarheid van die dood wat die nietigheid van alles beklemtoon, soos in Die koning sterf van Ionesco. Tussen die mense onderling is daar geen samehorigheidsgevoel nie en hulle kan nie met mekaar kommunikeer nie; die mens is eensaam en op sy eie, en hy is nie eens altyd van sy eie identiteit seker nie.

Hierdie pessimistiese temas sou op sigself nog nie van die absurde drama iets besonders gemaak het nie, want hulle kom ook by dramaturge soos Sartre, Anouilh en Camus voor. Laasgenoemde skrywers gee egter 'n logiese en beredeneerde uiteensetting daarvan sodat die toeskouers maklik kan volg. Die dramaturge van die absurde aan die ander kant, glo dat die sinloosheid van die lewe ook konkreet in die struktuur van die drama tot uiting moet kom. Hulle praat nie oor die absurde nie, maar laat die toeskouer dit sien. (Vgl. IKOON EN IKONISITEIT)

Gevolglik is daar dikwels geen logiese samehang in die intriges van hierdie dramas nie, want daar is skynbaar geen kousale verband tussen die verskillende episodes nie. Daar is slegs 'n doellose kom en gaan van mense, en sekere raaisels word nooit opgelos nie. Daar is ook geen sprake van progressie in die normale sin van die woord, nl. dat die handeling al hoe meer verwikkeld raak en tot 'n klimaks voer nie. In plaas daarvan vertoon die intrige dikwels 'n sirkelgang en aan die einde van die drama is die situasie feitlik dieselfde as aan die begin. Daarom is daar geen duidelike besef van die voortgang van die tyd nie en staan die horlosies meestal. Dikwels bring die karakters hulle lewens deur in 'n geslote ruimte waarin hulle hul van 'n vyandige buitewêreld afsonder. Die Vreemdeling of Besoeker wat in hierdie geslote ruimte indring en groot ontnugtering veroorsaak, is 'n telkens terugkerende gestalte. Verder gebeur daar in hierdie dramas die onsinnigste dinge: 'n lyk hou aan met groei of mense verander in renosters. Sommige kritici praat in hierdie verband van 'n "direkte metafoor": 'n figuurlike uitdrukking word letterlik op die toneel voorgestel.

Die KARAKTERS in die absurde drama is geen volledig getekende individue wie se motiewe deeglik ontleed word nie. Hulle word baie vaag geteken en is meestal nie veel meer as tipes nie. Dit is nie duidelik waarom hulle op 'n bepaalde wyse optree nie en hulle reaksie is dikwels bloot meganies – simbolies van die massamens van ons tyd. Daarom het hulle meermale geen name nie maar word bloot aangedui as Man, Vrou of selfs Man 1, Man 2, ens. Soms is hulle nie duidelik van mekaar te onderskei nie en lyk dit of hulle manifestasies van dieselfde persoonlikheid is, soos die Man/Heer en Vrou/Dame in Die koffer van André P. Brink. Oor hul eie identiteit het hulle dikwels geen sekerheid nie en gevolglik het hulle ook geen identiteitsdokumente nie. Dit is ook tipies van hierdie dramas dat die karakters gewoonlik liggaamlik moeg, swak en oud, en dikwels nog verstandelik swak bedeeld ook is.

Een van die opvallendste kenmerke van die absurde drama is die aard van sy dialoog. Die karakters kan nie werklik gesels nie, maar praat by mekaar verby sonder dat die een deur die ander se woorde beïnvloed word. Daar is geen logika of redelikheid in hulle gesprekke te bespeur nie; soms ontaard dit in 'n spel met woorde wat hoegenaamd geen betekenis het nie, soos Lucky se toespraak in Waiting for Godot van Beckett. In ander gesprekke is daar 'n veelheid van geykte uitdrukkings wat geen betekenis meer het nie. Meganiese herhaling kom baie voor, sodat dit lyk of die woorde vanself, sonder die toedoen van die spreker ontstaan. In uiterste gevalle is daar 'n algehele disintegrasie van die taal, wat 'n sinlose gestamel word, soos aan die einde van Die stoele van Ionesco.

Sommige kritici beweer dat die absurde drama begin het by Ubu Roi (1896) en die ander Ubu-dramas van Jarry, en Die borste van Teiresias (Les Mamelles de Tiresias) (1917) van Apollinaire. Die ontwikkeling van hierdie tipe drama begin egter eintlik met die dramas van Beckett en Ionesco in die vyftigerjare in Frankryk; dit het veral in Parys gefloreer, waar baie absurde dramas in eksperimentele teatertjies op die linkeroewer van die Seine aangebied is. Franse dramaturge soos Adamov, Arrabal en Genet het ook 'n bydrae gelewer. Gou het die absurde drama oor die hele wêreld gewild geword, met dramaturge soos Pinter en Simpson in Engeland, Albee in die Verenigde State en Günter Grass in Duitsland. Vanweë die beperktheid van sy temas en die toenemende aandrang op politieke betrokkenheid in die drama het dit in die loop van die sestigerjare geleidelik sy gewildheid verloor. Dit het egter 'n blywende invloed op die ontwikkeling van die moderne drama gehad, veral t.o.v. die afbreek van die realistiese tradisie.

Ook in Afrikaans het die absurde drama 'n kort bloeityd beleef met dramas van André P. Brink, Chris Barnard, George Louw, Dranus Vermeulen en, heelwat later, Hennie Aucamp. Absurde elemente word egter ook in baie ander Afrikaanse dramas aangetref.

Oor die absurde drama gee Esslin (1961/1968) die volledigste studie. Kyk verder na Pronko (1962) en Styan (1968). Die absurde drama word bespreek in artikels van Conradie (1974) en Odendaal (1974, 1978).

 

Bibliografie

Brink, A.P. 1974. Aspekte van die nuwe drama. Pretoria: Academica.

Conradie, P. J. 1974. Spanning en ewewig. Pretoria: Academica.

Odendaal, L.B. 1974. Die absurde in die drama en die neerslag daarvan in twee Afrikaanse dramas. In: Grové, A.P. (red.). In en om die letterkunde. Pretoria: HAUM.

Odendaal, L.B. 1978. Die drama van die absurde in Afrikaans. In: Senekal, J.H. (red.). Beeld en bedryf. Pretoria: Van Schaik.

Pronko, L.C. 1962. Avant-garde: The Experimental Theatre in France. London: Cambridge University Press.

Styan, J.L. 1968. The Dark Comedy: The Development of Modern Comic Tragedy. London: Cambridge University Press.

 

P.J. Conradie