BENADERINGSWYSES IN DIE LITERATUURWETENSKAP

Die studieterrein wat populêrweg (literêre) teorie genoem word, vertoon op die oomblik 'n verwarrende, maar vrugbare verskeidenheid van benaderings, "paradigmas", terme en teorieë. Sommige mense praat van 'n goue teoretiese eeu en beskou die literêre teorie as een van dissiplines waarin daar vandag in die wêreld baanbrekende teoretiese werk gedoen word. (Vgl. Mitchell, 1987.)

Dissipline is hier kwalik gepas, omdat die literêre teorie weinig dissipline vertoon, eerder venynig gis en kook en hom aan min grense of norme steur. Die grondslae van die literatuurstudie is in die afgelope twee dekades oor en oor bevraagteken uit verskillende hoeke: o.a. feministies, dekonstruktief, marxisties, psigoanalities, resepsie-esteties, strukturalisties. Die literêre teorie het van sy manel ontslae geraak en vertoon radikale livrei, 'n guitige, uitdagende narrepak of slegs 'n skaamteloos gapende kledingstukkie hier en daar. Dit lyk of alles kan en mag. Die eens veilige laer van die teks dreig om oorspoel te word deur hordes gay-, feministiese, ideologiekritiese of tekstatiese lesers. Die ou grense bestaan amper nie meer nie. Vandaar dat literatore hulle nie meer tot die LITERATUUR in die gewone sin van die woord beperk nie, maar aandag durf gee aan politieke METAFORE en AKTANSÏELE rolle, films en televisieprogramme as TEKSTE of populêre literatuur soos strokiesprente, popmusiek en James Bond-verhale. (Vgl. Eco, 1979.)

Hierdie ontwikkelinge in die ALGEMENE LITERATUURWETENSKAP (om voorlopig nog die manel-naam te gebruik) kan vaagweg toegeskryf word aan 'n verskeidenheid faktore, waaronder die ontwikkeling van die literatuur self, die wetenskaplike, sosiale, politieke en filosofiese omwentelinge van die 20e eeu. Soos ander dissiplines maak die literêre teorie ook 'n PARADIGMAWISSELING of derde golf mee, waarvan die kwantumfisika, relatiwiteit, die rekenaar- en informasierevolusie en prosesse van hibridisering, karnavalisering, dekolonialisering en bevryding miskien maar die opvallendste verskynsels vorm. Tekste is in die sg. global village van kardinale belang vir kommunikasie en onderlinge begrip – dinge wat deur die eksponensiële groei van die massa tekste eerder moeiliker word as makliker. Tekste word hier in 'n breë sin verstaan as feitlik al die produkte van menslike betekenisvorming, van advertensies, oor verkiesingspamflette heen tot by films en romans. (Vgl. LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISMETEKS EN KONTEKS en TEKSTUALITEIT.)

'n Deursnit deur alles wat vandag as literêre teorie deurgaan, sou vermoedelik iets soos 'n polisisteem oplewer. Nes die hedendaagse literatuur, kan die literêre teorie beskou word as 'n SISTEEM  van sisteme in voortdurende kompetisie met mekaar, waarin die een teorie nie soseer deur 'n ander verplaas of vervang word nie, maar nuwer teorieë oueres in hulle opneem en vervorm na hulle eie behoeftes en die oueres nog as 't ware "ondergronds" voortbestaan.

Die aard van literêre teorieë

Die student kry dus te doen met 'n bab(b)el van benaderings in komplekse interaksie waarbinne terme en probleme verskillend hanteer en geformuleer en die klem dikwels op totaal verskillende plekke gelê word. Die vraag ontstaan of die verskillende benaderings nog versoenbaar is. Die tradisionele siening dat 'n literêre teorie 'n arsenaal van "universele" of minstens algemene terme en konsepte moet ontwikkel, waarmee die afsonderlike literêre gegewens beskryf en verduidelik kan word, kan nouliks meer gehandhaaf word. Teorieë of benaderingswyses is nie soseer stelsels van wette of aksiomas nie, maar eerder soekligte wat 'n studieterrein afbaken en (deels) bepaal wat in daardie terrein gevind word. Literêre "feite" lyk bv. heel anders in 'n marxistiese as in 'n strukturalistiese raamwerk. Daarom word die kriteria waarmee die terrein van die literêre teorie oorskou kan word, ook erg problematies, al sou 'n mens tog graag, saam met Fokkema & Kunne-Ibsch (1978: 9), wou meen dat daar binne die verskillende opvattings sekere deurslaggewende verhoudings bestaan waarmee hulle gekarakteriseer kan word, hoeseer die soort en die aantal verhoudings ook verander.

Literêre teorieë is altyd in 'n bepaalde rigting georiënteer. Nes kreatiewe werk vertoon hulle o.m. spore van verborge of versweë filosofiese veronderstellings of ideologiese sisteme. Die klemverskuiwings wat in bepaalde teorieë manifesteer, is telkens die resultaat van bepaalde vakfilosofiese oortuigings wat seker weer verband hou met 'n sekere filosofiese klimaat of rigting. Andersyds moet die invloed van nuwe tekste op die ontwikkeling van nuwe teorieë nie geringgeskat word nie.

Aan die begin van die 20e eeu wou die literatuurstudie homself losmaak van twee sterk 19e-eeuse wetenskapsbeskouings, nl. die POSITIVISME en die geistesgeschichtliche metode. In die laaste helfte van die 19e eeu het die invloed van die Positivisme (vgl. die werk van A. Comte) op die literatuurstudie gelei tot 'n werkwyse wat die identifisering, hantering en verwerking van empiriese gegewens beklemtoon het. Veral die kousale verbande tussen die literêre werk en die race, milieu of moment waarbinne dit ontstaan het, en sy outeur, kry besondere aandag. Monumentale *literatuurgeskiedenisse word geskryf waarin al hierdie "feite" opgeslaan word.

Die geistesgeschichtliche metode (wat veral in Duitsland baie prominent was – vgl. die werk van Wilhelm Dilthey) was vanaf laat in die 19e eeu tot ongeveer 1925 die ander toonaangewende benadering. Hiervolgens is die uniekheid van 'n bepaalde kunswerk beklemtoon en gepoog om die literêre werk te verstaan d.m.v. intuïsie, belewenis en begrip van die tydsgees. Hierteenoor is die strewe van die Positivisme om die kunswerk uit universele wette te verklaar.

Reeds vroeg in die 20e eeu was daar skerp reaksie teen hierdie twee benaderingswyses, waaruit 'n reeks sterk en dinamiese literêr-teoretiese paradigmas in die loop van die eeu ontwikkel het.

'n Tipologie van teoretiese benaderings

Enige poging om die uiteenlopende benaderingswyses van die 20e eeu te klassifiseer, sou gebrekkig wees. M.H. Abrams (1953) het 'n poging aangewend om wel enigsins 'n oorsig oor hierdie veelheid te gee. Abrams onderskei vier basiese komponente waaraan die meeste adekwate literêre teorieë aandag gee: die literêre werk self, sy wêreld (die werklikheid), die skrywer (OUTEUR) en die leser (ontvanger). Op grond van watter een van hierdie komponente in 'n bepaalde teorie domineer, onderskei hy dan vier hoofgroepe teorieë in die 25 eeue waarin daar al literêre teorie geskryf is:

• In MIMETIESE teorieë val die klem op die verhouding tussen die kunswerk en die afgebeelde werklikheid. Hierdie teorieë is volgens Abrams die eenvoudigste teorieë omdat hulle kuns basies beskou as 'n afbeelding van aspekte van natuurlike dinge.

Plato en Aristoteles se teorieë is die bekendste voorbeelde van hierdie soort teorieë, maar die idee van kuns as nabootsing word tot laat in die 18e eeu teruggevind (bv. by Charles Batteux (1747)). In Lessing se Laokoon (1776) word Nachahmung beskou as die essensie van kuns. In hierdie teorieë word woorde soos uitbeeld, reflekteer, representeer, naboots, kopieer, weergee, verdig of versin baie aangetref. Die meeste MARXISTIESE benaderings val ook hieronder.

• By PRAGMATIESE teorieë val die klem op die uitwerking wat die kunswerk op die leser het. Hierdie soort teorieë kan beskou word as die belangrikste estetiese benadering in die Westerse beskawing. Vanaf Horatius se Ars Poetica loop die lyn deur die MIDDELEEUE en die RENAISSANCE. Sir Philip Sidney defineer poësie in sy The Apologie for Poetry (1580) as "... an arte of imitation ... to teach and delight ..." en dit sluit aan by Horatius se uitspraak dat die digter se doel is om dit wat genoeglik en verruklik is te laat saamsmelt met dit wat nuttig is. Die kunswerk word beskou as iets wat 'n middel tot 'n doel is en die waarde van die kunswerk word bepaal deur vas te stel of die doelstelling bereik is. Die stigtelike aard van die godsdienstige kuns van die Middeleeue is die resultaat van hierdie kunsbeskouing. (Vgl. PRAGMATIEK (LITERÊRE).)

• Ekspressiewe teorieë stel die verhouding tussen die kunswerk en die skrywer sentraal. Die ontwikkeling van hierdie soort teorie val saam met die bloei van die ROMANTIEK. Wordsworth se Preface by sy Lyrical Ballads (1800) word as 'n kernteks vir hierdie be­nadering beskou. Die verskuiwing van die klem in literatuurstudie vanaf die uitwerking van die kunswerk na die kuns as draer en ekspressie van die kunstenaar se emosie vind laat in die 18e eeu plaas, maar dit was in elk geval 'n geleidelike proses wat nie met 'n datum aangedui kan word nie. In hierdie soort benadering staan die kunstenaar sentraal en die kunswerk is in alle aspekte – inhoud en vorm en betekenis – die produk van die kunstenaar se gees in Wordsworth se woorde: "Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings". (Vgl. ROMANTIEK.) Die resultaat van die ekspressiewe benaderings is dat LIRIESE poësie hoër geag word as ander soorte literatuur, dat spontaneïteit 'n kriterium vir gehalte word, dat enige nabootsende elemente as onpoëties beskou word en dat die gehoor of ontvanger van kuns irrelevant is omdat kuns gevoel en ekspressie is wat om die kunstenaar self sentreer.

• Objektiewe teorieë wat die teks of werk self in die sentrum van die belangstelling plaas en dit as 'n outonome opsigselfstaande geheel beskou, het voor die 20e eeu baie selde voorgekom. Hoewel Aristoteles in die sentrale gedeelte van die Poëtika wel die drama as 'n selfbepalende geheel of eenheid beskou, is daar eers in die laat 18e en 19e eeu tekens van teoretiese beskouings wat die kuns as ʼn doel op sigself beskou. Kant praat van doelmatigheid sonder doel: "... the contemplation of beauty without regard to utility" (Abrams, 1953:27) en volgens Poe sou die ideaal wees "to consider the poem per se ..." (Abrams, 1953: 27). (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK en ERGOSENTRIESE BENADERING.)

Aan die einde van die 19e eeu kry hierdie siening groot momentum met die werk van o.a. die SIMBOLISTE en die Tagtigers wat "kuns ter wille van die kuns" eis. (Vgl. L'ART POUR L'ART.) Die objektiewe teorieë geniet groot aanhang in die eerste helfte van die 20e eeu. Die Amerikaanse NEW CRITICISM, die Engelse PRACTICAL CRITICISM, die RUSSIESE FORMALISME en die Duitse werkimmanente Methode is almal teoretiese beskouinge wat die kunswerk self, die artistieke produk as outonome entiteit, as 'n selfregulerende matrys van betekenisvolle strukture, in die sentrum van wetenskaplike ondersoek plaas. Daarom word hulle ook outonomistiese skole genoem.

Jefferson & Robey (1982) stel vyf vrae voor waarvolgens literêre teorieë geklassifiseer kan word. Die onderliggende opvatting is dat wetenskaplike aktiwiteit nie 'n intuïtiewe reaksie is nie, maar 'n doelbewuste proses wat as sodanig ook beskryf en geanaliseer kan word sodat die metodologiese en inhoudelike winste beskikbaar kan kom vir alle beoefenaars van die vak. Die vyf vrae is:

  1. Hoe word die literêre kwaliteite van die werk self gedefinieer?
  2. Watter status gee die teorie aan die medium van die teks, nl. taal?
  3. Watter verhouding veronderstel die teorie tussen die teks en die skrywer?
  4. Watter rol ken die teorie aan die leser toe?
  5. Hoe word die verhouding tussen die teks en die werklikheid beoordeel en hanteer?

'n Sesde belangrike vraag wat hierby moet kom, is:

   6. Waarop berus betekenis binne hierdie teorie? Wat is die basis van betekenis?

Met behulp van Roman Jakobson (1964) se kommunikasiemodel kan 'n mens 'n meer gedetailleerde onderskeiding tussen teorieë maak, afhangend van watter een van die ses soorte taalgebruik wat Jakobson omskryf, in 'n bepaalde teorie dominant is. Sommige teorieë soos die New Criticism, Russiese Formalisme en die Duitse werkimmanente Methode plaas die klem op die teks self, in die model dus op die boodskap. RESEPSIETEORIEë plaas die klem op die ontvanger, al die ekspressiewe teorieë plaas die klem op die sender soos ook sommige vorme van PSIGOANALITIESE literatuurteorie. Linguistiese benaderings plaas klem op die KODE, die taal, en dit vind 'n mens ook by die SEMIOTIEK. Die IDEOLOGIESE benadering beklemtoon die verhouding tussen teks en konteks. In die wyer sin bestudeer die Semiotiek wel die kode, maar ook die kanaal, bv. die manier waarop kommunikasie tot stand gebring word en behou word deur tekens soos in TELEVISIEDRAMAS en films.

Om die oorsig oor die benaderings enigsins bevatlik te maak, word hieronder 'n tipologie gebruik wat Jakobson se klassifikasie kombineer met Jefferson & Robey se ses kernvrae. Daarvolgens word onderskei tussen OUTONOMISTIESE (of teksgerigte), linguistiese (of taalsentriese), lesergesentreerde (of pragmatiese) en referensiële benaderings. Hierby kom 'n aantal ander nuwe benaderings wat saamgevat kan word onder die noemer wederkeer van wat onderdruk was. Om verveling teen te werk, word bg. vrae nie volledig of altyd in dieselfde volgorde beantwoord nie.

Die 20e-eeuse literêre teorie het so veelvuldig en veelfasettig vertak dat 'n mens aan die einde van die eeu 'n groot aantal teorieë het wat gelyktydig beoefen en ontwikkel word. Die paradigma van die laaste kwart van die 20e eeu is dus eintlik teoretiese pluralisme.

Die veranderinge en ontwikkelings van veral die laaste helfte van die 20e eeu is meer grondliggend as blote klemverskuiwings. 'n Mens sou moes praat van 'n paradigmawisseling. Globaal gesproke het daar twee groot paradigmawisselings in die loop van die 20e eeu in die literêre teorie plaasgevind. Aan die begin van die eeu (onder invloed van die Positivisme en die geistesgeschichtliche metode) is die historiese inslag baie sterk en word die teks gesien as dokument, d.w.s. as resultaat van wat in die skrywer gebeur, wat in sy gees werk en die invloed wat persoonlike, sosiale en historiese faktore op sy werk het. Hierdie benaderings is deur Wellek & Warren (1968) gebrandmerk as ekstrinsieke teorieë omdat hulle die literatuur bestudeer vanuit invalshoeke buite die teks self. (Vgl.BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING en HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING.)

In reaksie op hierdie sg. ekstrinsieke benaderings word die teks in die teksgerigte benaderings beskou as 'n monument, d.w.s. as 'n afgeronde geheel van afgehandelde artistieke betekenis waaraan niks toegevoeg of weggeneem kan word nie. Sedert die sewentigerjare word gepraat van die nuwe paradigma waarin die teks gesien word as teken sodat die teks as teken en as bestaande uit tekens betekenis kan genereer op 'n verskeidenheid maniere. (Vgl. Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978.)

Tekssentriese (outonomistiese) benaderings

In die eerste kwart van die eeu ontwikkel die outonomistiese benaderings as reaksie teen die HISTORISME en die Positiwisme van die laat 19e eeu. Daar is veral drie intrinsieke benaderings of objektiewe teorieë wat baie prominent is, nl. die New Criticism, die Russiese Formalisme en die Duitse werkimmanente metode. In Afrikaans en Nederlands was die STILISTIEK OP TAALKUNDIGE GRONDSLAG baie belangrik. 'n Leidende gedagte van al hierdie skole is dat die werk die primêre objek en fokuspunt van die literatuurstudie moet wees. Daarom word hulle ook ERGOSENTRIESE BENADERINGS genoem.

New Criticism

Hierdie basies Amerikaanse benadering – in Engeland is verkieslik gepraat van Practical Criticism – oorheers die Anglo-Amerikaanse literatuurstudie meer as 50 jaar lank (vanaf ongeveer 1910 tot 1960).

Enkele eienskappe van die New Criticism is die volgende:

  1. Hulle reageer teen die historiese en biografiese benadering en impressionistiese kritiek.
  2. Wetenskap en tegniek kan nie alle antwoorde gee nie; literatuur is 'n spesiale vorm van kennis deur ervaring, 'n vollediger uitdrukking van menslikheid.
  3. Deur analise van die opbou en organisasie van die literêre werk kan die uiteindelike betekenis en waarde van die teks vasgestel word.
  4. Hulle bepleit 'n objektiewe wetenskaplike benadering: "close reading" en "analytical and interpretative reading".
  5. Die kunswerk is outonoom en opsigselfstaande: "The natural and sensible starting point for work in literary scholarship is the interpretation and analysis of the works of literature themselves" (Wellek & Warren, 1968: 139).
  6. Hulle verwerp die "intentional fallacy" (die intensie van die outeur is nie ter sake nie) en die "affective fallacy" (die uitwerking op die leser is nie bepalend nie). Die literêre werk het intrinsieke waarde, bied homself as maatstaf van sy eie beoordeling aan: "a self-defining and self-sufficient matrix of formal structures".

Belangrike kritici wat hierdie benadering onderskryf en beoefen het is o.a. I.A. Richards, John Crowe Ransom, W.K. Wimsatt, M.C. Beardsley, Cleanth Brooks, René Wellek en Austin Warren. Standaardwerk van hierdie benadering is o.a. Brooks & Warren se Understanding Poetry (1938) en Wellek & Warren se Theory of Literature (1949). (Oor die New Criticism kan geraadpleeg word Rabinowitz (in Ryan & Van Zyl, 1982). Hulle opvattings word uiteengesit in Brooks (1949), Hyman (1948), Ransom (1941) en Wimsatt (1954). Wellek & Warren (1949) was 'n baie belangrike kodifisering van hulle denke.)

Russiese Formalisme

Die Russiese Formalisme ontwikkel uit twee besprekingsgroepe, nl. die Moskouse Linguistiekkring aan die Universiteit van Moskou en Opojaz (Die vereniging vir die studie van poëtiese taal) in St. Petersburg. Die ontwikkeling van die beweging word gestimuleer deur die opbloei in die poësie van die *futuriste en hulle bydrae word algemeen beskou as van die belangrikste en rigtinggewendste opvattings van die 20e eeu. Hulle werk egter slegs vanaf ongeveer 1914 tot 1915 tot 1930 openlik en aktief. Hierna word die beweging op grond van politieke onaanvaarbaarheid tot stilswye gedwing.

Kenmerke

  1. Die formaliste is heftig in verset teen voorafgaande metodes in die literatuurstudie. Die literêre werk en net die literêre werk is relevant vir die literatuurstudie: geskiedenis, sosiologie en biografie is irrelevant.
  2. Hulle wil die literatuur op wetenskaplik-verantwoorde wyse ondersoek en hulle resultate sistematiseer.
  3. Hulle aanvaar die volgende uitgangspunte:
    1. In die literêre werk is VORM EN INHOUD onskeibaar en vorm 'n eenheid. Die bepaalde kombinasie van elemente skep 'n nuwe eenheid wat artistieke waarheid bevat. Artistieke waarheid is onderskeie van transendentale waarheid (bv. religieuse waarhede) en empiriese waarheid (wetenskaplik-bewysbare feite), soos deur die filosoof Spet verduidelik.
    2. Literatuur word onderskei deur die eienskap van literariteit. Literariteit is daardie eienskappe wat literatuur literatuur maak, wat dit as estetiese werk onderskei van ander taaltekste.
    3. Literariteit word bewerkstellig deur kunsgrepe wat artistieke werkwyses is waardeur die literatuur sy eiesoortigheid bewerkstellig en bevestig. Tegniek en KUNSGREEP vorm sentrale terme in hulle woordeskat.
    4. Die uitwerking van literêre kunsgrepe is dat hulle VERVREEMDING teweegbring. Vervreemding is die vermoë van 'n bepaalde literêre werk om die leser in staat te stel of hom te lei om die werklikheid wat in die teks beskryf word, op 'n totaal nuwe manier te sien. Sy outomatiese en afgestompte reaksies moet deurbreek word sodat hy met nuwe oë kyk en intens beleef wat in die literatuur aangebied word.
    5. 'n Teks of periode is 'n hiërargiese sisteem wat gewoonlik deur een oorheersende of sterk eienskap bepaal word. Daardie eienskap word die dominant genoem.
    6. Die literatuurgeskiedenis kan beskryf word as die aflossing van verskillende sisteme. (Vgl. VERANDERING (LITERêRE).) Belangrike formaliste was Roman Jakobson (leier van die Mos­kouse Linguistiekkring), Viktor Sklovskij, Boris Tomasevskij, Jurij Tynjanov, Boris Ejxenbaum. (Vgl. ook FABULA EN SJUŽET.) (Die standaardwerk oor die Russiese formaliste is Ehrlich (1980). Nuwer werke daaroor is Steiner (1984) en Striedter (1989). Tekste van die Russiese formaliste is versamel en in Duits vertaal in Striedter (1969). Lemon & Reis (1965) en Matejka & Pomorska (1971) bevat Engelse vertalings van belangrike opstelle.)

Duitse werkimmanente metode

In hierdie benadering word die teks ook sentraal geplaas en as 'n outonome en opsigselfstaande eenheid ontleed. Gunther Müller (1968), Wolfgang Kayser (veral Das sprachliche Kunstwerk, 1971) en Eberhard Lämmert (1968) se werk is hiervan voorbeelde. Die stilistiese benadering van Leo Spitzer (o.a. 1948) kan ook as 'n werkimmanente benadering beskou word. Franz Stanzel se Theorie des Erzählens (1979) is nog 'n voorbeeld van hierdie benade­ring, hoewel hy veel meer as suiwer intrinsieke teoretiese uitgangspunte in sy werk inkorporeer. (Vgl. ANACHRONIE OF TEMPORELE VERHOUDINGE IN NARRATIEWE TEKSTE en PERSPEKTIEF IN DIE PROSAKUNS.)

Die outonomistiese bewegings is verwant aan die fenomenologiese benadering waarvan Roman Ingarden die dominante figuur in die literatuurstudie is. Sy werke, The Literary Work of Art (1973) en The Cognition of the Literary Work of Art (1937), het groot invloed uitgeoefen. Ingarden se werk word soos volg beskryf: "The notion of the literary work of art as an 'intersubjective, intentional object' is central to Ingarden's application to aesthetics of the epistemological apparatus developed by Edmund Husserl" (Ryan & Van Zyl, 1982: 163). (Vgl. KONKRETISERING.)

Die werk van Ingarden het groot invloed uitgeoefen op die ont­wikkeling van die resepsieteorie en moet onderskei word van die latere sg. "tweede skool van die fenomenologie" of eksistensialistiese fenomenologie wat ook as die Geneefse Skool bekend staan. Hierdie skool het hoofsaaklik in Franssprekende lande ont­wikkel na die Tweede Wêreldoorlog en die bekendste name hier is Marcel Raymond, Georges Poulet, Jean Starobinski, Jean Rousset en die vroeë werk van J. Hillis Miller. (Ryan, "The Geneva School" (in Ryan & Van Zyl, 1982), en Miller (1966) is oorsigte oor hierdie skool. Voorbeelde van hulle werk is Miller (1958), Poulet (1967) en Starobinski (1957).)

Hoewel daar baie raakpunte en ooreenkomste tussen hierdie outonomistiese bewegings is, is daar net soveel verskille. Die Duitse Literatuurwetenskap ontwikkel in die eeue-oue hermeneutiese tradisie en toon sterker fenomenologiese trekke. Waar die New Criticism ingewikkelde artistieke literêre kritiek beoefen, uiters tradisiebewus is en die literêre kritiek as die hoogs gespesialiseerde taak van 'n akademiese elite beskou, is die Russiese formaliste se werk duidelik en sistematies, hoewel met 'n uitgesproke wetenskaplike oogmerk. Die formaliste is as 'n groep egter ook boheems en rebels en baie sterk ten gunste van vernuwing.

Stilistiek op taalkundige grondslag

Die invloedrykste outonomistiese skool in Afrikaans was die Stilistiek op taalkundige grondslag of sg. Amsterdamse skool waarvan W. Gs. Hellinga die inspireerder was. Die meeste vooraanstaande Afrikaanse literatore van 'n ouer geslag is daar opgelei, nl. Elize Botha, T.T. Cloete, C.J.M. Nienaber, Merwe Scholtz en F.I.J, van Rensburg. (Vgl. STILISTIEK OP TAALKUNDIGE GRONDSLAG.) Hellinga se vertrekpunt was dat die Stilistiek ondersoek wat taalvorms doen in konkrete situasies. Desondanks het die Stilistiek, gemeet aan die resultate van die pragmatiek in die afgelope twee dekades (vgl. PRAGMATIEK (LITERÊRE)), baie min aandag aan situasionele faktore gegee en net op die taal van individuele tekste gefokus. Hulle het selfs die sender en ontvanger eksplisiet buite rekening gelaat.

Hellinga en Scholtz (1955) onderskei tussen taalverbruik, waarin die taal deursigtig is en die "feite" direk oorgedra word, en taalgebruik, waarin die taalvorm self ook aandag trek en gekommunikeer word – in hulle term: "medeversaaklik" word. Daarmee het hulle vroeg reeds die belangrike beginsel ontdek dat ook gewoonlik nie-betekenisdraende taalelemente binne 'n literêre kode (kragtens die beginsel dat alles in 'n literêre werk met alles saamhang) betekenisvol kan word. Dit is ook interessant dat hulle metode – "kreatiewe antisipasie" – die werk van o.a. Iser oor die rol van skemas in die lees van 'n teks vooruitgeloop het. (Die opvattings van die Amsterdamse Skool is uitgewerk deur Hellinga en toegepas in 'n reeks baanbrekende proefskrifte, waaronder Scholtz (1950) en Cloete (1953). Hellinga & Scholtz (1955) vat hierdie beginsels programmaties saam.)

Linguistiese (taalsentriese) benaderings

In die ontwikkeling en geskiedenis van die Literatuurwetenskap, het die linguistiek nog altyd 'n groot rol gespeel. Taal en die taal van die teks is die sentrale bemoeienis van baie eietydse benaderings. Die linguistiese benadering, wat veral insigte uit die taalkunde gebruik vir die analise van literêre tekste, word vandag nog baie druk beoefen, getuie die jaarlikse stilistiekbibliografie van die tydskrif Style en onlangse inleidings soos Fowler (1986) en Haynes (1989). Hierby kan ook genoem word die teksteorie van mense soos Teun van Dijk (1985a) en Janos Petöfi (Conte, Petöfi & Sozer, 1989), asook die taalkundige tradisie van diskoers-analise (vgl. Van Dijk, 1985b). (Vgl. ook DISKOERSSINTAKSIS (VAN DIE POëSIE) en SINTAKSIS (VAN DIE PROSA).)

Daar is 'n groot verskeidenheid linguistiese benaderings. Chomsky se Transformasioneel-Generatiewe Grammatika, wat die strukturele patrone in die taal uitvoerig ontleed, is uiters gewild in die sestigerjare. Dit lei tot pogings om ook vir die literatuur sulke patrone te vind. Gerald Prince (1973, 1982) se STORIEGRAMMATIKA is hiervan 'n voorbeeld. Teun van Dijk (1972, 1980) gaan verder en wend pogings aan om teksgrammatikas te ontwikkel wat die struktuur van tekste MIKROSTRUKTUREEL, MAKROSTRUKTUREEL en SUPERSTRUKTUREEL, wil beskryf, verklaar en selfs voorspel. Die idee van teksgrammatikas gaan ver terug na die werk van Propp en Jolles, maar in die laaste fase van die Strukturalisme bereik dit groot kompleksiteit en spesialisasie, hoewel die nut daarvan beperk blyk te wees.
Die hedendaagse taalkundige pragmatiek, wat veral die uitwerking van die situasie op taalgebruik ondersoek, het veral sy invloed laat geld in literêre toepassings van die taalhandelingsteorie van Austin en Searle. Hierdie benadering maak groot en waardevolle bydraes tot die literatuurstudie. Mary-Louise Pratt (1977) en Susan Lanser (1981) ontleed verhalende tekste en aspekte daarvan as taalhandelinge. Die basiese uitgangspunt is dat literêre taal nie soos in die meeste ander literêre teorieë gesien word vanuit die verskille met gewone taal nie, maar juis vanuit die ooreenkomste met gewone taal. (Vgl. TAALHANDELING EN DIE LITERATUUR en PRAGMATIEK (LITERÊRE).)

Vrugbaarder en radikaler vir die literatuurstudie was egter die werk wat geïnspireer is deur die strukturalistiese linguistiek van Ferdinand de Saussure. In die breë is die taal die sentrale gegewe van hierdie benaderings en Saussure se linguistiek die metodologiese model wat gevolg word. Die kern van hierdie model is die maniere waarop die studieterrein van die linguistiek omlyn en hanteerbaar gernaak is (Posner, 1982: 113-114). Die linguistiek fokus op die stel onderliggende reëls (taalsisteem, langue) ten koste van werklike taalgebruik en die buite-linguistiese faktore wat die toepassing van hierdie reëls beïnvloed. Tweedens val die klem op die grammatikaliteit van uitings ten koste van die gespreksvoorwaardes waaraan sprekers en hoorders moet voldoen. Derdens is hoofsaaklik op geskrewe tekste gekonsentreer. Daarby kan 'n mens voeg dat die geskiedenis uitgeskakel word ten gunste van 'n sinchroniese kyk op die sisteem.

Strukturalisme

Die Strukturalisme word voorafgegaan deur studies waarin die klem reeds sterk op die morfologie van die teks val. Hiervan is André Jolles se EINFACHE FORMEN (1929) en Vladimir Propp se Morphology of the Folktale (1927) van die bekendstes.

Die Praagse Skool

Na die onderdrukking van die Russiese Formalisme in Rusland het van die formalistiese teoretici na Praag gevlug. Van hierdie mense is Roman Jakobson die bekendste en invloedrykste. Uit die samewerking en wedersydse stimulering van die Praagse estetiek, veral in die werk van Jan Mukařovský, en die Formalisme met die spesifieke klem op die linguistiek, veral in die bydrae van Jakobson, ontwikkel die Tsjeggiese Strukturalisme. Die Tsjeggiese Strukturalisme (ook bekend as die Praagse Skool) is enersyds 'n voortsetting van, maar ook 'n reaksie op die Russiese Formalisme. Felix Vodička is nog 'n bekende teoretikus uit die Praagse Skool.

Jan Mukařovský is die belangrikste Tsjeggiese strukturalis in die literatuurstudie. Van sy belangrikste bydraes is die onderskeid tussen ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK . Die artefak is die konkrete materiële artistieke voorwerp. Die estetiese objek is die realisering van die artefak in 'n bepaalde ervaring deur 'n bepaalde individu. Die estetiese objek is dus die betekenis van die bepaalde artefak vir iemand in 'n bepaalde ervaring van die artefak. Die estetiese objek kom tot stand deurdat die veelvuldige verhoudinge tussen die elemente in die teks vir 'n bepaalde leser betekenisvol word. Hierdie proses is individueel sowel as kultureel van aard sodat die persoonlike bewussynsinhoude van die leser daarin 'n rol speel maar ook die kollektiewe bewussynsinhoude van die gemeenskap waarvan hy deel vorm.

Vir Mukařovský (1977) is die literêre teks 'n outonome entiteit wat egter wel kommunikeer. In sy signifikasie is die teks artefak en in sy kommunikasie is hy estetiese objek. Die vermoë van die taalteks om aandag op homself te vestig noem Mukařovský vooropstelling, wat nogal ooreenstem met die formaliste se begrip vervreemding. Hy beklemtoon egter ook dat die teks 'n semiotiese feit is wat outonoom en kollektief is en tussen individu en samelewing bemiddel.

Die Tsjeggiese Strukturalisme vorm uiteindelik een van die brûe tussen die STRUKTURALISME en die Semiotiek. Dit is veral duidelik uit die semiotiese bydraes van die sg. Moskou-Tartu-skool, waarvan Jurij Lotman die bekendste verteenwoordiger is.

Die Praagse Skool het 'n besondere bydrae gelewer tot die teater-en dramasemiotiek. Teoretici soos Petr Bogatyrev, Jiři Veltruský, Karel Brušák, Jindřich Honzl en Jan Mukařovský het reeds in die dertiger- en veertigerjare die vernaamste semiotiese beginsels van drama- en teaterkommunikasie vasgestel. Dit sluit dinge in soos dat alles op die verhoog tekens word (gesemiotiseer word) en dat die teaterteken uiters veranderlik en transformeerbaar is.

Die rykdom aan konnotasies van tekens in die teater verklaar waarom met betreklik min middele 'n groot rykdom aan betekenisse oorgedra kan word. Hulle beskou die opvoering as 'n dinamiese hiërargie van elemente wat gewoonlik deur die akteur as dominante tekendraer oorheers word. Vooropstelling in die teater vind daarom plaas wanneer daar afgewyk word van hierdie hiërargie deur bv. ander elemente te laat domineer of teen hulle gekodifiseerde funksies in te laat gebruik. Hulle werk wys ook heen na die belangrike beginsel dat die teaterteken wesenlik sinekdogeïes is. Daarmee word bedoel dat 'n deur bv. 'n hele huis aandui of 'n tent 'n militêre kamp. Die geheel word m.a.w. op alle vlakke in die opvoering deur die deel voorgestel. (Vgl. DRAMATEKS EN OPVOERING en RUIMTE IN DIE DRAMATEKS EN IN DIE OPVOERING.) (Vergelyk oor hierdie werk van die Praagse Skool Elam (1980: hfst. 2) en Mouton (1989: afdeling 2). Matejka en Titunik (1976) bevat Engelse vertalings van die Praagse Skool se vernaamste opstelle, o.a. ook oor dramasemiotiek.)

Die Franse Strukturalisme

Uit die herontdekking van die werk van die Russiese Formalisme in Frankryk in die middel van die vyftigerjare (veral n.a.v. die vertaling van Propp se Morphology of the Folktale en Claude Lévi-Strauss se inleiding by die vertaling) en die sterk invloed van Saussure se linguistiek, ontwikkel die Franse Strukturalisme. Hier­die vorm van literatuurstudie kom sterk in reaksie teen die heersende literatuurpraktyk in Frankryk. Die groep teoretici, waarvan Roland Barthes een van die vroeë prominente figure is, staan bekend as die NOUVELLE CRITIQUE. Hulle wil die nuwe strukturalistiese metodes van literatuurstudie in Frankryk bevorder.

  1. Die Strukturalisme is 'n benadering in wetenskaplike ondersoeke in 'n verskeidenheid dissiplines waaronder ook die literatuurstudie.
  2. Strukturalistiese metodes vertoon 'n baie sterk en opvallende band met taal en die strukturalistiese bestudering van taal in die linguistiek. Strukturalisme wil menslike stelsels ondersoek op grond van die patrone wat hulle in die taal vind. Taal is die sg. "master pattern" vir die mens. Dit kan dus as vertrekpunt gebruik word om menslike maaksels te ondersoek.
  3. Die literatuur is net soos ander vorme van sosiale of kulturele aktiwiteit 'n stelsel of sisteem en word ondersoek deur die elemente waaruit dit bestaan en die kombinasie van die elemente tot sisteme na te gaan.
  4. Die veronderstelling is dus dat literatuur soos taal georganiseer is, maar dit is ook van taal gemaak, wat die band tussen die Linguistiek en die strukturalistiese Literatuurwetenskap nog sterker maak.
  5. Maar die literatuur is nie net van taal gemaak nie, dit leer ons ook die moontlikhede en beperkinge van taal ken.
  6. Saussure onderskei drie vlakke van bestaan van taal: langage, die totale taalvermoë wat fisiese en psigiese aspekte insluit; langue, die taalstelsel soos dit in formele grammatikale strukture ondersoek kan word; parole, die persoonlike taaluitinge van individue.
  7. Die basiese element in die taalstruktuur is die teken. Die taalteken is 'n kompleks met 'n tweeledige aard omdat die teken die verband tussen twee konsepte aandui.

Volgens Saussure verbind die teken 'n begrip, die SIGNIFIÉ ('n abstrakte psigiese konsep) met 'n akoestiese beeld (eweneens psigies), die SIGNIFIANT. Die teken is 'n totaliteit wat die verband tussen signifiant en signifié aandui.

Die volgende eienskappe van die taalteken is belangrik:
7.1 Die verband tussen die signifiant en die signifié is arbitrêr van aard, d.w.s. die woord lyk nie soos die betekenis nie en ons koppel die twee op grond van konvensie, van sosiale afspraak.

7.2 Signifiante is lineêr meetbaar, d.w.s. hulle volg op mekaar sodat taal uit opeenvolgende elemente bestaan.

7.3 Tekens dui betekenis aan omdat hulle van ander tekens verskil. Die betekenis kom tot stand op grond van ooreenkomste met die verskille van ander tekens. Betekenis is dus diakrities.

8. Saussure staan sinchroniese taalstudie voor wat die taal bestudeer soos wat dit op 'n bepaalde tydstip in die geskiedenis bestaan. Die diachronie, d.w.s. die historiese ontwikkeling, word buite rekening gelaat.

9. Elke element in die taalsisteem word bepaal deur sy plek in die sisteem. Elke element het 'n plek in 'n paradigma, 'n stel tekens wat op grond van ooreenkomste saamgegroepeer kan word. Uit die paradigma word bepaalde elemente gekies en gekombineer in 'n sintagma, 'n lineêre reeks van opeenvolgende elemente.

'n Paradigma is bv. die stel voornaamwoorde waaruit gekies word om 'n bepaalde persoon aan te dui: hy, sy, hulle, ens. Na die keuse uit die seleksie-as of vertikale as, word 'n kombinasie gemaak op 'n horisontale of diachroniese as: hy slaap.

Uit die oorsig hierbo kan afgelei word dat daar vanaf die sestigerjare verskillende teoretiese benaderings langs mekaar ont­wikkel en mekaar wedersyds beïnvloed.

Die belangrikste bydrae van die strukturalistiese literatuurstudie in Frankryk is veral die strukturalistiese NARRATOLOGIE, wat op die analise van verhalende tekste konsentreer. Hier is veral die werk van Claude Bremond (1977), A.J. Greimas (1972), Tzvetan Todorov (1977) en ook die vroeë bydraes van Roland Barthes belangrik. Gérard Genette (1980) kom uiteindelik met 'n omvattende narratologiese teorie, waarop die narratologiese werk van mense soos Mieke Bal (1980) en Shlomith Rimmon-Kenan (1983) sterk steun. Hulle gebruik egter ook veel van die ander Franse strukturaliste se uitgangspunte. (Vgl. ook AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL, DIëGESIS, FOKALISASIE, KODE, NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSEPLOT en SEEM.)

Post-strukturalisme

Die Franse Strukturalisme het ook in 'n heel ander rigting ont­wikkel. Op grond van die aanname dat die verband tussen die signifiant en die signifié arbitrêr is, word die klem verplaas van die studie van die verhoudings tussen signifiant en signifié en die verhoudings tussen en rondom tekste, na die teks self. Daar word gekonsentreer op die teks as 'n versameling signifiante wat intertekstueel deur 'n oneindige aantal relasies met ander tekste verbind is. Betekenis is slegs diakrities, meer nog, betekenis berus op différance, waarin albei betekenisse van die woord relevant is: dit beteken dat betekenis oneindig uitgestel word en op grond van 'n oneindige aantal verskille van ander tekens en ander tekste altyd relatief en onbepaald bly. Betekenis is dus temporeel en ruimtelik relatief en in 'n groot mate onbepaalbaar.

Hierdie sg. POST-STRUKTURALISTIESE teorie staan ook bekend as DEKONSTRUKSIE. Roland Barthes se later werk is suiwer dekonstruktief en baie sterk gerig op kreatiewe en vrye lees (vgl. S/Z, 1974).
Die belangrikste figuur hier is Jacques Derrida (1976, 1978), wat verskeie konsepte ontwikkel om die dekonstruktiewe denke en 'n kreatiewe leesaktiwiteit mee te beskryf (bv. différance, trace, supplement, ens.).
Dekonstruksie is allesbehalwe eenvormig. Daar word 'n verskeidenheid van aksente gevind wat telkens met sekere dekonstruktiewe uitgangspunte werk, maar wat die klem anders plaas.

In Amerika is die sg. Yale Critics baie produktief en mense soos Paul de Man (1986), Harold Bloom (1973), J. Hillis Miller en Geoffrey Hartman (1980) plaas elk 'n eie stempel op die dekonstruktiewe omgaan met literêre tekste. Bloom et al. (1979) is 'n soort program van Dekonstruksie.

In Frankryk is daar ook Julia Kristeva (1977) wat dekonstruktief te werk gaan terwyl haar werk ook 'n sterk psigoanalitiese en feministiese inslag het. (Vgl. SEMANALISE.) Hierdie dekonstruksioniste kan beskryf word as teksgerigte dekonstruksioniste. Daar is ook die konteksgerigte dekonstruksioniste soos Michel Foucault (1969), wat nie net literatuur dekonstrueer nie, maar alle samelewingstrukture en sisteme aan dekonstruktiewe denke onderwerp. Deur die voortdurende ondermyning van hiërargieë moet die ontstaan van nuwe hiërargieë voorkom word. (Vgl. DEKONSTRUKSIE, INVLOED (LITERÊRE), METAROMANPOST-STRUKTURALISME en TEKSTUALITEIT.)

Semiotiek

Die Semiotiek is verwant aan en groei uit die Strukturalisme. Die Semiotiek, die wetenskap van tekens, gebruik dikwels die metodes van die Strukturalisme, maar waar die Strukturalisme primêr as 'n metode, 'n wyse van ondersoek beskryf kan word, dui die Semiotiek 'n terrein van ondersoek aan.
In die Dekonstruksie is die semiotiese basis van taal steeds die vertrekpunt, maar waar die Derridiaanse Dekonstruksie die band tussen signifiant en signifié heeltemal deursny, is daar ander semiotici wat die klem van die tekens verplaas na kodes. Umberto Eco is 'n semiotikus wat nie net die Saussuriaanse tradisie erken nie, maar ook die Peirceaanse.

Volgens Eco is "Semiotics concerned with everything that can be taken as a sign. A sign is everything that which can be taken as significantly substituting for something else ... Thus semiotics is in principle the discipline studying everything which can be used in order to lie (Eco, 1976: 5-7, sy kursivering). Die Se­miotiek bestudeer alle tekenstelsels, van verkeerstekens tot literatuur en "zoosemiotics".

Vir die Semiotiek is die literatuur 'n stelsel van tekens waar die teks as geheel ook 'n teken is. Charles Sanders Peirce, die Amerikaanse pragmatiese filosoof, word ook as een van die vaders van die Semiotiek beskou.
Om die wye veld van die Semiotiek enigsins te orden, het Peirce 66 klasse tekens onderskei. Veral een van sy onderskeide was invloedryk, nl. die onderskeid tussen ikone, indekse en simbole. Ikone is tekens wat lyk soos die objekte waarna hulle verwys, soos foto's of diagramme. Daar is dus 'n verhouding van gelykenis tussen teken en objek. (Vgl. IKOON EN IKONISITEIT.) Indekse is tekens wat op 'n verhouding van assosiasie of aanliggendheid met hulle objekte berus, soos padwysers. Rook is bv. 'n indeks van vuur. Simbole is tekens waarvan die verhouding tussen teken en objek arbitrêr is en op konvensie berus, soos taaltekens.

Eco (1976, 1979) ontwikkel 'n semiotiese literêre teorie waarin hy 'n verskeidenheid komponente huisves. Hy respekteer die vryheid van die leser en plaas sterk klem op kreatiewe lees met sy konsep van die modelleser en die onderskeid tussen OOP EN GESLOTE TEKSTE. Hy erken steeds die gesag van die teks, juis omdat die teks dekodeerbaar is in terme van kodes. Die Semiotiek in die Peirceaanse tradisie verskuif die klem vanaf die teken en verhoudinge tussen tekens, na kodes en uiteindelik na die intertekstuele spel van kodes oor tyd en ruimte heen.

Belangrike semiotiese werk, veral oor die poësie, word ook gedoen deur Michael Riffaterre (1978, 1990).

Lesersentriese benaderings

Die "terugkeer na die leser" is heel eksplisiet deur Hans Robert Jauss (1967) geponeer as 'n paradigmawisseling in reaksie op die doodloopstraat waarin die outonomistiese benaderings geraak het. Die Resepsie-estetika van die sg. Konstanz-skool het 'n teenhanger in Amerika, die Reader Response Criticism.

Resepsie-estetika

In dieselfde periode as die Strukturalisme en Semiotiek ontwik­kel die Duitse resepsieteorieë. Die RESEPSIETEORIE staan in die HERMENEUTIESE tradisie wat in Duitsland en Oos-Europa baie sterk is, en 'n mens vind in hulle werk sterk invloed van Mukařovský en Vodička. Hulle steun sterk op die fenomenologiese uitgangspunte van Husserl en die estetiese en literêr-teoretiese werk van Ingarden.

Resepsieteorieë ondersoek primêr die resepsie van literêre tekste, d.w.s. in hierdie ondersoeke val die klem op die rol van die leser. Daar is twee hoofbenaderings binne hierdie teorie:

  • In die Resepsie-estetika word die teks bestudeer met die oog op die reaksie van die implisiete leser as die geïmpliseerde ontvanger van die teks. Wolfgang Iser (1972) se werk oor die leë plekke en die implisiete leser kan hier genoem word. (Vgl. LESERROL en LESERTIPES.)
  • Resepsie-ondersoeke word op tweërlei wyse onderneem. Daar is bv. die werk van Jauss wat die literatuurgeskiedenis wil beskryf in terme van verskillende momente in die historiese resepsie van tekste. Daar word egter ook empiriese ondersoeke onderneem om werklike lesersreaksies d.m.v. vraelyste vas te stel.

Uitgangspunte:

  1. Die verhouding tussen die teks en die individuele leser word ondersoek. Die teks word beskou as dinamies – dit kan dus verskillende betekenisse genereer by verskillende lesers. Die klem val dan ook op die "werking" van die teks.
  2. Iser is 'n belangrike teoretikus wat die aandag vestig op die teks as appèlstruktuur: daar word 'n appèl gemaak op die leser deur die teks om 'n bepaalde konkretisering van die teks te maak. In die teks is daar leë plekke (Unbestimmtheitstellen), wat beteken dat daar oop plekke is wat deur die leser gevul kan word. Die leser is dus kreatief betrek in die leesproses en bring deur die invulling van die leë plekke 'n bepaalde kreatiewe lesing tot stand. (Vgl. LESERROL en LESERTIPES.)
  3. Jauss (1967) beklemtoon die belang van resepsiegerigte ondersoeke vir die LITERATUURGESKIEDSKRYWING. 'n Teks word geskryf en gelees met 'n bepaalde VERWAGTINGSHORISON in gedagte en die geskiedenis moet kennis neem van die oorspronklike verwagtingshorison waarteen die teks in sy eie tyd gelees is. Die oorspronklike verwagtingshorison word gerekonstrueer en wanneer dit in verband gebring word met 'n bepaalde leeservaring, word gepraat van 'n versmelting van horisonne. Die verwagtingshorison is 'n komplekse begrip wat o.m. te make het met genreverwagtinge, die verhouding van literatuur tot fiksie en die verhouding tussen gewone en literêre taal, asook met die leser se algemene lewenservaring.

Die belangrikste teoretici van die vroeë resepsieteorie is Jauss en Iser. Daar is egter voortreflike werk gedoen deur latere resepsiegerigte teoretici soos J.J.A. Mooij, Horst Ruthrof (1981), Rien Segers en vele ander.

Reader Response Criticism

In Amerika het ook 'n aantal verskillende lesergesentreerde benaderings ontwikkel. Waar die Resepsie-estetika nog in hoofsaak fenomenologies is, kan in Amerika subjektivistiese en strukturalistiese variante onderskei word (vgl. Davis, 1986: 346 e.v.). Die werk van David Bleich en Norman Holland is sterk subjektief ingestel en reduseer die teks tot 'n matrys waarvan die leser sin moet maak deur sy persoonlike, psigologiese en literêre assosiasies daarop te laat inwerk. Die eenheid en betekenis van die teks lê heeltemal in die leser se gees. Holland (1980: 372) bepleit 'n transaktiewe kritiek "in which the literent builds the response, and the text simply changes the consequences of what the liferent brings to it", omdat hy meen 'n mens kan nie tussen die aandeel van die leser (literent) en die aandeel van die teks in die uiteindelike reaksie onderskei nie. Hy meen dit vind in 'n aaneenlopende terugvoerlus plaas, maar dit is vir hom altyd die literent wat met sy skemas, konvensies of kodes en sy unieke identiteit op die teks inwerk en die lus begin. Net so 'n teorie kan die "human truth" van die teks handhaaf en die oorspronklikheid en uiteenlopendheid van literente se reaksies verklaar, meen hy. Die literent is dus die belangrikste agent in die leesproses en die teks verloor sy tradisionele "literariteit". Vir Holland is, uit die psigoanalitiese tradisie waarbinne hy werk, die leesproses eerder psigies (deur persoonlikheid) gestruktureer as tekstueel.

Die strukturalistiese variant word verteenwoordig deur die werk van Jonathan Culler en Stanley Fish. Hulle probeer nog struktuur gee aan die teorie deur lees te beskou as 'n vrye aktiwiteit wat feitlik glad nie deur die teks bepaal word nie, maar wat wel gemedieer word deur 'n struktuur wat louter subjektiewe willekeur minstens beperk. Fish beroep hom op interpretative communities wat grense stel aan wat as geldige interpretasies van 'n teks beskou word. Culler (1975: 113-130) voer die idee van 'n literêre *kompetensie in: 'n implisiete stel reëls of konvensies waaroor die "opgeleide" leser beskik om sin te maak van 'n teks. Hierdie idees verplaas egter net die probleem van subjektivisme. Interpretasiegemeenskappe en kompetensie is minstens net so vaag en problematies soos die konsep teks self. Sit die intensie in die teks of in die leser? Albei gee baie aandag aan die taal van die teks. Fish, veral, maak baie van die struktuur van die sin en die verwagtings wat dit op verskillende punte soos verseindes by die leser opwek en die verskillende interpretatiewe togte waarop die leser gestuur word (vgl. bv. Fish, 1980a).

Referensiële benaderings

Soos reeds gesê, is die sentrale gedagte van die referensiële of mimetiese benaderings dat die teks, die literatuur, op die een of ander wyse 'n weerspieëling van die werklikheid is en daaraan sy betekenis en gesag ontleen. "Weerspieëling" dek hier 'n wye verskeidenheid verhoudings tussen teks en werklikheid. (Vgl. MIMESIS en REPRESENTASIE.) Hoewel die marxistiese tradisie die bekendste en invloedrykste referensiële teorieë opgelewer het, is daar verskillende ander tradisies wat eerder onder die LITERATUURSOSIOLOGIE tuisgebring moet word, m. n. die sg. kultuurkritiese werk van Raymond Williams in Engeland. (Vgl. KULTUURKRITEK.) Dié onderskeid is egter glad nie waterdig nie.

Literatuursosiologie

Oor die algemeen kan ondersoeke wat raakpunte tussen die literatuur en die samelewing empiries ondersoek as literatuursosiologies beskou word. Dit dek 'n omvangryke terrein wat die sosiologie van produksieprosesse, die verspreiding en die resepsie van literêre tekste insluit, maar ook die rol bestudeer van ander spelers in die literêre lewe soos kritici, onderwysers, sensors en ander sg. hekwagters. Die sosiale funksie van die literatuur staan dikwels in die sentrum. Baie belangrik is ook die studie van die literatuur self en literêre dinge soos METRUM, simboliek, GENRES, kodes as sosiale instellings. Nog 'n belangrike deel daarvan is die studie van massamedia en kommunikasie. (Vgl. verder LITERATUURSOSIOLOGIE.)

Marxistiese benaderings

Sedert die vroeë "vulgêre" marxistiese opvattings van die dertigerjare in Rusland het hierdie benadering tot die literatuur geweldig ontwikkel. Die meganistiese opvattings van vroeër is opgevolg deur 'n gesofistikeerde marxistiese ideologiekritiek.

Marx en Engels se opvattings vorm die basis van die marxistiese sienings. Hulle beskou die geskiedenis as 'n dialektiese proses waarin die mens homself maar ook sy eie opposisie produseer. Sy kultuurprodukte kan beskou word as blote skimme, afskynsels van hierdie produksieproses, d.w.s. van die verhouding tussen sy arbeid en die grondstowwe en gereedskap wat hy daarvoor nodig het. Hierdie ekonomiese basis (onderbou) bepaal (in die laaste instansie) sy denke, sy ganse kultuur. Die heersende kultuur kom meestal neer op 'n vervalsing van die werklike produksieverhoudings ('n vals bewussyn of IDEOLOGIE). Deur so 'n ideologie word menslike verhoudings voorgestel as verhoudings tussen dinge (reïfikasie) en word die mens van sy wesenlike self, sy arbeid, vervreem.

Hoe streng Marx en Engels die begrip weerspieël opgevat het, is onduidelik, maar vyf modelle vir die verhouding tussen literatuur en sosiale werklikheid kan in die marxistiese benaderings onderskei word (Forg«cs, 1982: 139 e.v.). Die weerspieëlingsmodel is die sterkste uitgewerk deur die Georg Lukács (1964-). Hy lê veral klem op die korrekte vorm en die tipiese in sy teorie. Korrekte vorm word gevind in werke wat die werklikheid objektief weerspieël, d.w.s. daaraan 'n estetiese vorm gee wat reg laat geskied aan die dialektiese voortgang van die geskiedenis. Die tipiese kom neer op 'n eis dat die besondere so uitgebeeld word dat dit 'n brug slaan tussen die individuele en die algemene in die geskiedenis en dus iets van die totaliteit laat blyk. Tipies is bv. die wyse waarop Walter Scott se Waverley drie histories belangrike sosiale groepe in homself saamtrek en die konflikte tussen hulle uitbeeld. Lukács werk dus 'n gesofistikeerde refleksiemodel uit waarin twee algemene idees oor literatuur met mekaar versoen word, nl. dat dit oor die lewe gaan, maar tog 'n eie werklikheid vorm (Forg«cs, 1982: 143). (Vgl. verder MARXISME EN DIE LITERATUUR en LITERATUURSOSIOLOGIE.)

'n Model waarin klem gelê word op produksie is ontwikkel deur Pierre Macherey (1978). Hy beklemtoon die produktiewe arbeid wat 'n outeur moet verrig deur tekens en kodes, van binne uit, om te werk tot iets anders. In die proses word hy self ook "geskryf". Dit kombineer hy met 'n "simptomatiese" leesteorie waarvolgens tekste noodwendig onvolledig, teenstrydig en ideo­logies gelaai is. In die foutiewe, onvolledige teks kan die teoreties geskoolde leser raaklees wat die teks ideologies vir homself wegsteek, nes 'n psigoanalitikus die drome van sy analisant kan uitlê en verklaar. Die leser kan dan die gapings en weersprekings vanuit sy marxistiese teoretiese raamwerk verklaar. Die outeur kry dus minder klem: hy weet self nie mooi wat hy doen nie.

Lucien Goldmann (1977) beskryf sy model as genetiese strukturalisme, omdat hy belangstel in hoe patrone van ideë en konsepte (wêreldvisies) histories gevorm word en in hoe die historiese situasie van 'n groep getransponeer word in literêre tekste via die bemiddeling van sulke wêreldvisies (Eagleton, 1976: 33). Hy aanvaar dat 'n literêre teks 'n eenduidig omskryfbare konseptuele sisteem bevat wat enersyds die eenheid van die werk organiseer en andersyds die kollektiewe bewussyn, die wêreldvisie, van 'n bepaalde groep uitdruk. Hy aanvaar ook dat daar strukturele homologieë bestaan tussen die geskiedenis, die wêreldvisie van 'n groep en die konsepsuele sisteem van die teks. So het Goldmann (1964) bv. in die werke van Racine die historiese situasie van die noblesse de robe herken, die hofamptenare wat hulle mag toenemend moes inboet namate die monargie in Frankryk al meer absolute mag verkry het. Vir hom toon Racine se dramas die tragiese verskeurdheid van hierdie groep tussen hulle historiese afhanklikheid van die monargie en die gees van individualisme. Die vernaamste probleem met sy opvatting is juis dat hy te maklik aanvaar dat daar wel sulke strukturele homologieë tussen teks en wêreldvisie bestaan.

By die Frankfurtse Skool vir marxistiese estetiek ontwikkel Max Horkheimer, Theodor Adorno en Herbert Marcuse 'n meer gesofistikeerde en geskakeerde teorie vir die literatuur, waarin die literatuur egter steeds gesien word as 'n produk van die gemeenskap en die tekortkominge van die gemeenskap. Hierdie model staan bekend as die negatiewekennis-model (Forgecs, 1982: 156), veral omdat Adorno (1986: 160) kuns omskryf het as die negatiewe kennis van die wêreld. Alleen deur 'n estetiese distansie teenoor die aktualiteit te handhaaf, kan die kuns 'n platform bied waarvandaan die aktualiteit gekritiseer kan word. Negatiewe hermeneutiek of negatiewe dialektiek is Adorno se kenmerkende metode. Hierdeur definieer hy begrippe vanuit hulle teenoorgesteldes en laat hulle betekenis juis setel in die sirkulasie rondom hierdie teenoorgesteldes. So word identiteit bv. as 'n ossilasie rondom non-identiteit gedefinieer en *betrokkenheid in sy opstel daaroor (Adorno, 1973) juis as onttrokkenheid en die dialektiek daarvan: albei uiterstes is waar en hulle konvergeer.

Ideologiekritiek

Hoewel ideologiekritiek ook uit ander raamwerke gelewer kan word, kan dit deesdae beskou word as die vrugbaarste toepassing van marxistiese konsepte in die literatuurstudie.

Die Bakhtinskool

Minstens deels het die Bakhtinskool grondliggende werk vir die ideologiekritiek gedoen. Mikhail Bakhtin en die medewerkers van sy groep, Pavel Medvedev en Valentin Voloshinov het, hoewel hulle sterk standpunt ingeneem het teen die Formalisme, tog bande met die artistieke vertrekpunte van die Formalisme behou. Hulle was egter daarvan oortuig dat taal en literatuur nooit van die gemeenskap en veral van die ideologie van 'n gemeenskap losgemaak kon word nie; toumens, vir hulle is alle ideologie (taal)tekens: sosiaal en materieel (Forgács, 1982: 160).

Bakhtin lê vir verskeie latere konsepte die fondament. Sy siening van die dialogiese beginsel in alle taal en literatuur en sy beskrywing van die sg. polifoniese roman sluit nou aan by latere omskrywings van INTERTEKSTUALITEIT en die vryheid inherent in kreatiewe lees. Vir hom is elke woord (of uiting) wesenlik dialogies: dit is 'n klein drama waarin die spreker, die hoorder, die objek van die diskoers en vorige diskoerse (of stemme van ander sprekers) 'n rol speel (Todorov, 1988: 52-53). Dit bring mee dat literatuur beskou word as 'n refleksie van ideologies. Verskillende stemme, diskoers bots daarin met mekaar (dit is m.a.w. polifonies). (Vgl. Bakhtin, 1984b.) Daardeur ondermyn dit die heersende orde en skep dit nuwe konsepte waarmee die werklikheid verstaan kan word. Bakthin se "metode" is dan ook om hierdie polifoniese momente, soos vrye indirekte rede waarin die verteller en die karakter se stemme vermeng word, te ontleed. Die literatuur is dus uiteindelik 'n samelewings- of ideologiekritiese prakryk (Forgács, 1982: 162-165).

Die Bakhtinskool het in onguns geraak omdat hulle uitsprake nie radikaal genoeg ten gunste van die heersende politiek was nie. Bakhtin het bly skryf oor die literatuur, al is sy werk eers veel later en soms glad nie gepubliseer nie. ('n Goeie inleiding tot die werk van Bakhtin is Todorov (1988). Raadpleeg verder die werke van Bakhtin self in die bibliografie.)

In die ontwikkeling van die marxistiese Strukturalisme en Post-strukturalisme speel die werk van Louis Althusser uiteindelik 'n bepalende rol. Kontemporêre teoretici wat die ideologiekritiese benadering beoefen, is mense soos Fredric Jameson (1981), Catherine Belsey (1980) en Terry Eagleton (1986, 1990).

Samevattend kan gesê word dat die ideologiekritiese benaderings dit gemeen het dat hulle die literatuur nie slegs tematies ondersoek met die oog op die ideologiese aard daarvan nie, maar dat hulle poog om die literatuur te verstaan in al die komplekse en indirekte verhoudinge tussen literêre werke en die ideologiese wêrelde waarin hulle "leef". Hierdie verhoudinge kom na vore nie slegs in temas en onderwerpe nie, maar ook styl, RITME, metaforiek, kwaliteit en vorm. (Vgl. BETROKKE LITERATUURIDEOLOGIE en IDEOLOGIEKRITIEK.)

Wederkeer van wat onderdruk was

Hieronder word 'n aantal benaderings saamgevat wat deur die tekssentriese opvattings onderdruk is, maar weer in 'n ander gedaante opduik: die psigoanalitiese benadering self, die terugkeer van die positivistiese metodologie in die empiriese literatuurwetenskap en die terugkeer na die geskiedenis in die New Historicism en dan natuurlik die FEMINISME.

Psigopoëtika

Die groot ontwikkelinge wat vanaf die begin van die 20e eeu in die psigologie plaasgevind het, het steeds 'n groot invloed op die literatuur en die literatuurstudie. Die invloed van Sigmund Freud is haas onberekenbaar en dieselfde geld vir C.G. Jung. Tans is die literêr-teoretiese bemoeienis van Jacques Lacan bepalend vir baie van die psigoanalitiese literatuurstudie. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR en POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

Freud se groot ontdekking (of hipotese) was dat verskillende psigiese verskynsels soos drome, versprekings of vergeetagtigheid nie maar lukraak en onverwant is nie, maar verenig en verklaar kan word met 'n beroep op 'n latente psigiese struktuur, die onbewuste. Die onbewuste kan voorgestel word as 'n groot stoomketel vol instinktiewe drifte wat gedurig dreig om te ontsnap, maar in bedwang gehou word deur 'n soort sensor. Alleen daardie drifte wat verdraaid en verdoesel by die sensor verby kan kom, kan tot die bewuste deurdring. Hier is daar vir Freud verskillende psigiese prosesse aan die werk waardeur die onbewuste en onformuleerbare dinge vorm aanneem. Hiervan is verskuiwing en verdigting (wat veral uit drome baie duidelik blyk) die belangrikstes. Psigiese wanbalanse ontstaan wanneer die (hoofsaaklik seksuele) drifte nie op 'n gesonde manier uitgedruk kan word nie. Dan word hulle gemanifesteer as simptome en versteurings. Die terapie bestaan uit die verligting van die psigiese druk deur die onderdrukte konflikte uitgespreek te kry. (Vgl. Freud, 1917.)

Die Psigoanalise is dus eintlik ʼn hermeneutiese dissipline, omdat die analis uit die analitiese gesprek die verlede moet rekonstrueer. Hy het met 'n verminkte teks te make, 'n teks wat die resultaat is van psigiese verskuiwing en verdigting. Die psigoanalitiese proses kom dus neer op die herstel van die oorspronklike teks. Uit die manifeste inhoud moet die analis die latente inhoud rekonstrueer. Daardeur word die analisant genees. Die interpretasie word egter bemoeilik deurdat oordrag en teenoordrag tussen analis en analisant plaasvind.

Die psigoanalitiese lees van 'n teks is analoog hieraan. Dit beteken dat Freud se opvatting van kuns en die kunstenaar nie so reduksionisties was as wat algemeen gedink word nie. Dit blyk veral uit sy studies van die droom en van grappe (resp. Freud, 1900 en 1905) wat op die meganismes en prosesse van die teks self fokus. Ten spyte van sy berugte uitspraak dat die kunstenaar 'n besondere soort neuroot is wat sy wense plaasvervangend bevredig sien deur dit op sy ryk, aantreklike en suksesvolle helde te projekteer (Freud, 1908), lê die waarde van Freud se opvattings veral in die idee dat die teks, die produksie en die werking daarvan deels ook deur onbewuste prosesse bepaal word.

Elizabeth Wright (1987) onderskei ses verskillende soorte psigoanalitiese kritiek. Daar is klassieke psigoanalise (id-psigologie) wat die teks beskou as 'n simptoom of dagdroom waarin die skrywer se onbewuste begeertes uitgedruk word en dus 'n psigoanalise van die outeur maak, soos Marie Bonaparte (1949) van Poe gemaak het. Onder egopsigologie kan die werk van Ernst Kris (1964) en Holland (kyk Reader Response Criticism hierbo) geklassifiseer word. Die egopsigologie verwerp die idee van Freud dat kuns uit 'n neurotiese kinderwens spruit. Vir hulle lê die genot van kuns eerder in die spel met infantiele materiaal o.l.v. die ego, opgevat as 'n vaste identiteit wat deur sosialisering versterk word.

Met argetipiese kritiek word hoofsaaklik die werk van Jung en Northrop Frye bedoel. Jung verwerp Freud se eensydige klem op seksuele begeertes en beskou die libido eerder as 'n abstrakte energie wat in verskillende kanale gestuur word en o.a. in sekere unieke simbole (argetipes) kondenseer. Kuns is vir hom nie 'n neurose nie, maar 'n universele kreatiewe uiting van 'n kollektiewe bewussyn, los van individu, tyd en plek, waarin die argetipes voortdurend terugkeer. Hierdie argetipes vorm 'n taal bokant taal en taalgrense heen en speel 'n belangrike rol in die proses van individuasie waardeur die self sy drome van almag met die eise van die samelewing versoen en psigies heel word. Dit is hierdie proses wat dikwels in tekste ontdek word, soos in die werk van Etienne Leroux (vgl. bv. Malan, 1978).

Objekverhoudings kry veral die klem in benaderings wat gebaseer is op die werk van Melanie Klein. Hulle stel veral belang in die psigiese prosesse wat die verhouding tussen self en wêreld bemiddel. Objekte verkry deur introjeksie en projeksie besondere betekenis vir die self, wat dan die basis vorm van simbole en persoonlike assosiasies. Dit is daarom belangrik vir die simboliseringsprosesse in die kuns. Adrian Stokes (1978), Anton Ehrenzweig (1970), D.W. Winnicott (1974) en André Green (1979) is skrywers wat op hierdie teorie voortbou.

Die groot bydrae van Jacques Lacan kan beskryf word as strukturalistiese psigoanalise. Lacan het die Psigoanalise gesemiotiseer en van die onbewuste 'n teks gemaak, of ten minste dan iets wat soos 'n taal gestruktureer is. Hy lê 'n interessante verband tussen Freud se droomwerk en Jakobson se onderskeid tussen metafoor en metonimia. Vir hom raak die subjek van homself vervreem sodra hy begin praat, omdat die taal nie aan hom behoort nie, maar kollektief is en "besmet" is met die begeerte van die Ander. In elke woord praat hierdie "ander" begeerte saam, sodat die taal eintlik een lang ketting van metaforiese en metonimiese verplasings is van die gemis aan die oorspronklike signifiant (die fallus) (vgl. Lacan, 1977a). Hierdeur word die gemis voortdurend verplaas, maar ook onvernietigbaar gemaak. Wat gesê word, dryf op 'n oseaan van wat nie gesê word nie. Alleen deur sulke verskuiwings en verdigtings, wat van elke woord 'n simptoom maak, kan die begeerte deur die tralies van die diskoers sypel. (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) (Oor psigoanalise en literatuur kan verder geraadpleeg word Van Zyl (1990), Skura (1981), asook die spesiale uitgawes van Poetics, 13 (1984) en Style, 18(3) (1984), albei geredigeer deur Mieke Bal. Mooij (1983) en MacCannell (1986) handel spesifiek oor die werk van Lacan.)

Feministiese literatuurstudie

Freudiaanse teorieë is ook belangrike impulse agter die eiesoortige feministiese literatuurstudie. Hierdie benadering ontwikkel uit die bemoeienis met die onderdrukkende posisie waarin die vrou in die algemeen en veral die skryfster of akademies-gerigte vrou haar bevind het vir die grootste gedeelte van die geskiedenis tot op hede. Feministiese literatuurstudie sluit nouer aan by die ontwikkeling van die feministiese bewegings as by die tradisie van die literêre teorie as sodanig. Die benadering het geen eenvormige teoretiese werkwyse of voorkeur nie. Sommige feministe is polities aktivisties en werk graag met die ideologiese benadering. Veral die Franse feministiese teorie staan sterk onder die invloed van Lacan en Freud (meer in reaksie teen Freud). Simone de Beauvoir se boek De tweede sekse (1949) is vir hierdie benadering 'n rigtinggewende werk. Die lang ry vroulike skrywers wat vir die vrou 'n plek in die wêreld van die literatuur opgeëis en verwerf het, bly hier altyd relevant: vanaf George Eliot, die Brontë-susters tot by Virginia Woolf, Gertrude Stein en Sylvia Plath. Teoretici wat tans prominent is in die feministiese benadering is Julia Kristeva, Elaine Showalter, Kate Millet, Ellen Moers en Annette Kolodny. (Vir die student is 'n goeie beginpunt die oorsigte oor feministiese literatuurstudie van Driver (1982), Showalter (1975), Kolodny (1976) en Kaplan (1979). Mary Eagleton (1986) het 'n belangrike inleidende leesboek saamgestel. Belangrike teoretiese bydraes is dié van Showalter (1979), Kolodny (1980) en Kristeva (1980). Raadpleeg ook Kauffman (1989).)

Die feministiese literatuurstudie leef 'n omvattende program uit. Enersyds word die manlike ideologie (seksisme) in bestaande kulturele instellings soos die literatuur en heersende voorstellings van die vrou en haar rol, aan kritiek onderwerp (feminist critique). Andersyds soek hierdie beweging na 'n teoretiese onderbou vir die outentieke ervaring van vroue en vir vroueskryf (die Sg. ginokritiek, Showalter, 1979). Hierdie program hou in dat literêre begrippe en standaarde herondersoek, die literatuurgeskiedenis herskryf, die verlore kanon herontdek en die heersende kanon grondig hersien moet word (Driver, 1982: 205). Dit is so omdat die literatuur grootliks 'n manlike instelling is, gedomineer deur mans en ingestel op manlike begeertes en behoeftes (aan selfdefinisie, bv.). Die pen en die penis word nie verniet nie sterk met mekaar geassosieer. Hierdie program beteken ook 'n skerp bewustheid van die talle maniere waarop die literatuur en die beeld van die vrou in die literatuur en in die samelewing deur sosiale inramings en stereotiperings (meestal uit 'n manlike perspektief) bepaal word. Dit wissel van die dualistiese stereotipe van die vrou as hoer en heilige maagd tot by die stereotipe van die Great American Bitch en die algemene konsepsie van die skoonheid, die natuur, die grond of die Ander as vroulike. Dit het dus 'n sterk sosio-politieke dimensie.

Die soeke na 'n outentieke vrouetradisie is een van die vrugbaarste terreine van ondersoek van die feminisme, al lok dit ook baie verskil van mening uit. Hier word die literatuurgeskiedenis o.a. herbedink in vroulike terme (die moeder i.p.v. die vader, bv.). Die tipiese trekke van vroulike diskoers – ook dit wat onsegbaar was of bly – word nagevors, ook in die werk van swart vroueskrywers of vroueskrywers uit die Derde Wêreld. Daar is egter 'n anomalie in hierdie soort studie, omdat dit teenstrydig is met die kritiek dat geslag 'n sosio-politiese en psigologiese konstruk is. (Vgl. FEMINISME.)

New Historicism

Nog iets wat 'n klompie dekades lank onderdruk was, het onlangs weer na vore getree, nl. die geskiedenis. Die sg. New Historicism is een van die mees opspraakwekkende ontwikkelings in die literatuurwetenskap in die onlangse verlede. In hulle soeke na alternatiewe vir die spektrum ortodokse formalisme, van die New Criticism tot die Frans-Amerikaanse literêre teorie, laat val die aanhangers van hierdie benadering die fokus op historiese gebeure en magstrukture. Die benadering het sy wortels in die middel sewentigerjare toe die teksgerigte benaderings uitgeput geraak het en daar 'n terugkeer was na die historiese (vandaar "new" historicism, in teenstelling met die "ou" historisme). Vandag word die term egter hoofsaaklik gebruik vir hedendaagse tendense in die studie van Renaissance-letterkunde. Dit het veral in die VSA sterk ontwikkel met die ondersoeke na die representasie van magstrukture in Renaissance-literatuur (vgl. Dollimore, 1984; Mullaney, 1988; Tennenhouse, 1986). Hierdie magstrukture sluit in die interaksie tussen staatsgesag en kulturele vorme gedurende die Renaissance in die algemeen, en meer spesifiek in die verskynsels waarin die interaksie die duidelikste sigbaar was, soos in die literêre patronaat, die herwaardering van die dominante ideologieë en hulle opposisies, die konflik tussen sosiale klasse en die Staat, ens.

Die basiese aannames van die New Historicism kan soos volg saamgevat word:

  1. Elke ekspressiewe handeling is in 'n netwerk van materiële praktyke ingebed.
  2. Elke daad van ontmaskering, kritiek en opposisie gebruik die instrumente wat dit veroordeel en loop daarom die risiko om die prooi te word van die praktyk wat dit juis wil aanval.
  3. Literêre en ander tekste sirkuleer op 'n onafskeibare manier.
  4. Geen diskoers, hetsy kreatief of argivaal, kan toegang tot onveranderlike werklikhede verleen of die onuitspreeklike, tydlose essensies en waarhede van die menslike bestaan weergee nie, aangesien alle "waarhede" histories vasgelê word.
  5. Die kritiese metode en die taal wat gebruik word om kultuurverskynsels onder kapitalistiese stelsels te beskryf, is deelnemers aan die ekonomie wat hulle probeer beskryf.
  6. Daar is 'n streng bewustheid van die feit dat literatuur maar een kulturele praktyk naas vele ander is; literêre tekste het geen transendentale waarde en geen onkreukbare integriteit nie.
  7. Literêre tekste word nie begrens deur die skrywers se ingebedde intensies nie, en is ook nie deursigtig vir 'n histories-bewuste en ingeligte leser nie; die literêre teks word gekonstitueer deur 'n individuele leser vanuit 'n spesifieke perspektief.
  8. Die aanname is dat die geskiedenis gesien moet word as 'n stryd en 'n ingewikkelde spel van magsrelasies.
  9. Ten spyte van die feit dat die New Historicists 'n baie gesofistikeerde bewustheid van die kontemporêre literêre teorie het, veroorsaak hulle aandrang op die aanname dat 'n litetêre teks histories gefundeer is, dat hulle "anti-"teorie is in soverre teorie 'n aggressiewe totaliserende impuls het om 'n bevoorregte posisie van afsydigheid teenoor die praktyk op te eis (Veeser, 1989: ix-xvi; Cheadle, 1988: 33-35).

Die New Historicist-metodologie is gebaseer op dig van kulturele antropoloë soos Clifford Geertz, Victor Turner e.a. en behels die "thick" beskrywing van "culture in action". Die fokus val op die analise en historisering van 'n staaltjie, 'n skynbaar onbelangrike brief, ens., kortom, op 'n onthullende besonderheidjie, waarmee die gedragskodes, logika en motiewe wat die hele samelewing oorheers, ontmasker word. Veeser (1989: xii) skryf dat New Historicism tradisionele terme soos mimesis, simbolisering of allegorie verwerp, omdat hulle die literêre teks op die voorgrond plaas teen die agtergrond van die geskiedenis, en poog om die verhouding tussen teks en ander betekenisgewende prak­tyke te herformuleer. Daardeur word die teks weer "opgelos" in die geskiedenis, terwyl die metodes behoue bly wat aan die tradisionele literatuurstudie sy groot gesag verleen het.

Die werk van die New Historicism is ook sterk beïnvloed deur die "cultural materialism" van Raymond Williams, die literatuursosiologie, asook die belangrikste ontwikkelings in die Feminisme, marxistiese, strukturalistiese en post-strukturalistiese teorie, met name die werk van Althusser, Macherey, Gramsci en Foucault.

Empiriese literatuurwetenskap

Sedert 1973 het mense soos Siegfried Schmidt (1980, 1982) en Peter Finke (1982) 'n empiriese benadering tot die literatuurstudie ontwikkel. Dit word genoem Empirical Science of Literature (ESL) en die oogmerk daarvan is om die literatuur empiries te bestudeer en die verkreë kennis relevant of nuttig (sosiaal toepasbaar) te maak, o.a. vir die onderrig en evaluering van die literatuur. Hulle strewe na resultate wat kortom intersubjektief getoets en eksplisiet geformuleer kan word. Hulle streef ook daarna om die literatuurwetenskap 'n teoreties-geleide dissipline te maak binne 'n raamwerk van funksionele konstruktivisme. Daarvolgens is teoretiese begrippe konstrukte waarmee aspekte van die literatuur empiries hanteer kan word, maar korrespondeer hulle nie noodwendig met dinge wat werklik bestaan nie. Binne hierdie raamwerk kan dan probleme ondersoek word soos die persoonlikheidsamestelling van skrywers (aan die produksiekant), die aard van estetiese ervaring (aan die resepsiekant) of hoe tekste wat as literatuur ontvang word deur werklike lesers gelees word.

Ten slotte

Al hierdie kontemporêre teorieë bestaan langs mekaar, beïnvloed mekaar en stimuleer 'n voortgaande, verwikkelde en dikwels verwarrende teoretiese gesprek. Daar kan ook nie rigiede skeidslyne tussen benaderings getrek word nie. Daar bly bv. veel van die New Criticism in die Amerikaanse teksgerigte dekonstruksie oor. Dekonstruksie en ideologiekritiek word saam gebruik om versweë ideologieë mee te ontmasker en te ondermyn. Die feministe gebruik enige teorie wat hulle bepaalde doel dien en uiteindelik kan taal en literatuur nooit geskei word nie. Feit is dat die dinamiek van die taal en die literatuur steeds nuwe teoretiese moontlikhede sal stimuleer en so sal die wetenskaplike gesprek oor die literatuur aan die gang bly.

 

Bibliografie

Abrams, M.H. 1953. The Mirror and the Lamp. New York: Oxford University Press.

Adorno, T.W. 1965/1973. Engagement. In: Adorno, T.W. Noten zur Literatur III. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Adorno, T.W. 1977/1986. Reconciliation under duress. In: Bloch, E. et al. 1986. Aesthetics and Politics. London: Verso.

Bakhtin, M.M. 1965/1984a. Rabelais and his World. Bloomington: Indiana University Press.

Bakhtin, M.M. 1929/1984b. Problems of Dostoevsky's Poetics. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Bakhtin, M.M. 1975/1988. The Dialogic Imagination; Four Essays. Austin: University of Texas Press.

Bakhtin, M.M. & Medvedev, P.M. 1978. The Formal Method in Literary Scholarship. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Bal, M. 1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Barthes, R. 1970/1974. S/Z.. New York: Hill & Wang.

Barthes, R. 1977. Image-Music-Text. Glasgow: Fontana/Collins.

Barthes, R. 1964/1984. Elements of Semiology (transl. A. Lavers and C. Smith). New York: Hill & Wang.

Belsey, C. 1980. Critical Practice. London: Methuen.

Bloom, H. 1973. The Anxiety of Influence. New York: Oxford University Press.

Bloom, H., De Man, P., Derrida, J., Hartman, G., & Miller, J. Hillis. 1979. Deconstruction and Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

Bonaparte, M. 1933/1949. The Life and Works of Edgar Allan Poe. London: Imago.

Bremond, C. 1977. De logica van de narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek algemene literatuurwetenscltap. Baarn: Amboboeken.

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek algemene literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Brooks, C. 1949. The Well-wrought Urn. London: Dennis Dobson.

Brooks, C. & Warren, R.P. 1938/1960. Understanding Poetry. New York, etc.: Holt, Rinehart and Winston.

Buursink, M., Hupperetz, K., Licher, E., De Roo, K. & Schönau, W. 1978. De wetenschap van het lezen. Assen: Van Gorcum.

Cheadle, B. 1988. The 'New Historicism': Approaching Shakespeare's practice. Shakespeare in South Africa, 2.

Cloete, T.T. 1953. Trekkerswee en Joernaal van Jorik. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.

Conte, M.-E., Petöfi, J.S. & Sozer, S. (eds). 1989. Text and Discourse Connectedness. Amsterdam: Benjamins.

Culler, J. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge & Kegan Paul.

Culler, J. 1981. The Pursuit of Signs. London: Routledge & Kegan Paul.

Davis, R.C. (ed.). 1986. Contemporary Literary Criticism; Modernism through Poststructuralism. New York & London: Longman.

De Beauvoir, S. 1949/1972. De tweede sekse. Utrecht: Bijleveld.

De Man, P. 1986. Blindness and Insight. London: Methuen.

Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Derrida, J. 1978. Writing and Difference. London: Routledge & Kegan Paul.

Saussure, F. de. 1966 Course in General Linguistics. London: Peter Owen.

Dollimore, J. 1984. Radical Tragedy: Religion, Ideology and Power in the Drama of Shakespeare and his Contemporaries. Brighton: Harvester Press.

Dowling, W.O. 1984. Jameson, Althusser, Marx. London: Methuen.

Driver, D. 1982. Feminist literary criticism. In: Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Ducrot, O. & Todorov, T. 1979. Encyclopedic Dictionary of the Sciences of Language. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Eagleton, M. (ed.). 1986. Feminist Literary Theory; A Reader. Oxford: Basil Blackwell.

Eagleton, T. 1976. Marxism and Literary Criticism. London: Methuen.

Eagleton, T. 1983. Literary Theory. Oxford: Basil Blackwell.

Eagleton, T. 1986. Criticism and Ideology. London: Verso.

Eagleton, T. 1990. The Ideology of the Aesthetic. Oxford: Basil Blackwell.

Eco, U. 1976. A Theory of Semiotics. Bloomington: Indiana University Press.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.

Eco, U. 1984. Semiotics and the Philosophy of Language. Bloomington: Indiana University Press.

Ehrenzweig, A. 1970. The Hidden Order of Art: A Study in the Psychology of Artistic Imagination. London: Paladin.

Ehrlich, V. 1980. Russian Formalism. History — Doctrine. The Hague: Mouton.

Elam, K. 1980. The Semiotics of Theatre and Drama. London: Methuen. (New Accents.)

Felperin, H. 1985. Beyond Deconstruction. Oxford: Clarendon.

Finke, P. 1982. Konstruktiver Funktionalismus. Die wissenschafts-theoretische Basis einer empirischen Theorie der Literatur. Braunschweig-Wiesbaden: Vieweg.

Fish, S. 1980a. Interpreting the Variorium. Critical Inquiry, 2(3).

Fish, S. 1980b. Is there a Text in this Class? Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Forgecs, D. 1982. Marxist literary theories. In: Jefferson, A. & Robey, D. (eds). Modern Literary Theory. London: Batsford.

Foucault, M. 1969/1972. The Archaeology of Knowledge. New York: Pantheon Books.

Fowler, R. 1986. Linguistic Criticism. London & New York: Oxford University Press.

Freud, S. 1900. The Interpretation of Dreams. In: Freud, S. The Standard Edition of the Complete Psychological Works. London: The Hogarth Press. Vol. IV and V.

Freud, S. 1905. Jokes and their Relation to the Unconscious. In: Freud, S. The Standard Edition of the Complete Psychological Works. London: The Hogarth Press. Vol. VII.

Freud, S. 1908. Creative writers and daydreaming. In: Freud, S.The Standard Edition of the Complete Psychological Works. Lon­don: The Hogarth Press. Vol. IX.

Freud, S. 1917. Inleiding tot de studie der psychoanalyse. Amsterdam: Wereldbiblioteek.

Freud, S. 1953. The Standard Edition of the Complete Psychological Works. London: The Hogarth Press. 24 vols.

Garvin, P.L. (ed.). 1964. A Prague School Reader on Aesthetics, Literary Structure and Style. Washington, DC: Georgetown University Press.

Genette, G. 1972/1980. Narrative Discourse. Oxford: Basil Blackwell.

Goldmann, L. 1964. The Hidden God. London: Routledge & Kegan Paul.

Goldmann, L. 1977. Towards a Sociology of the Novel. London: Tavistock.

Green, A. 1979. The Tragic Effect. Cambridge: Cambridge University Press.

Greenblatt, S. 1980. Renaissance Self-fashioning. Chicago: University of Chicago Press.

Greenblatt, S. 1988. Shakespearean Negotiations. Berkeley: University of California Press.

Greimas, A.J. 1966/1972. Sémantique stucturale. Paris: Larousse.

Hartman, G.H. 1980. Criticism in the Wilderness. New Haven & London: Yale University Press.

Hawkes, T. 1977. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Haynes, J. 1989. Introducing Stylistics. London: Unwin Hyman.

Hellinga, W.G. & Scholtz, H. v.d. M. 1955. Kreatiewe analise van taalgebruik. Amsterdam: Noord-Holland.

Holland, N.N. 1980. Recovering "The purloined letter": Reading as a personal transaction. In: Davis, R.C. (ed.). Contemporary Literary Criticism; Modernism through Poststructuralism. New York & London: Longman.

Holub, R.C. 1984. Reception Theory: A Critical Introduction. London & New York: Methuen.

Hyman, S.E. 1948. The Armed Vision. New York: Knopf.

Ingarden, R. 1968. Vom Erkennen des literarischen Kunstwerks. Tübingen: Max Niemeyer Verlag.

Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art. Evanston: North­western University Press.

Iser, W. 1971. Die Apellstruktur der Texte. Konstanz: Universitätsverlag.

Iser, W. 1972. Der implizite Leser. München: Fink.

Iser, W. 1975. The Implied Reader. Baltimore & London: Johns Hopkins University Press.

Iser, W. 1978. The Act of Reading. London: Routledge & Kegan Paul.

Jakobson, R. 1964. Closing statement: Linguistics and poetics. In: Sebeok, T.A. (ed.). Style in Language. Cambridge, Mass.: MIT Press.

Jameson, F. 1981. The Political Unconscious; Narrative as a Socially Symbolic Act. Ithaca, NY: Cornell University Press.

Jauss, H.R. 1967. Literatuurgeschiedenis als een provocatie voor de literatuurwetenschap. In: Buursink, M.e? al. De wetenschap van net lezen. Assen: Van Gorcum. (Engelse vertaling in New Literary History, 2(l).er al.)

Jauss, H.R. 1974. Literaturgeschichte als Provokation. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Jefferson, A. & Robey, D. (eds). 1982. Modern Literary Theory. London: Batsford.

Kaplan, S.J. 1979. Review essay: Literary criticism. Signs, 4.

Kauffman, L. (ed.). 1989. Gender and Theory; Dialogues on Feminist Criticism. Oxford: Basil Blackwell.

Kayser, W. 1948/1971. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke. 15. Auflage.

Kolodny, A. 1976. Review essay: Literary criticism. Signs, 2.

Kolodny, A. 1980. Dancing through the minefield: Some observations on the theory, practice and politics of a feminist literary criticism. Feminist Studies, 6.

Kris, E. 1964. Psychoanalytic explorations in Art. New York: Schocken Books.

Kristeva, J. 1977/1984. Desire in Language. Oxford: Basil Blackwell.

Kristeva, J. 1980. Motherhood according to Giovanni Bellini. In: Kristeva, J. Desire in Language. Oxford: Basil Blackwell.

Lacan, J. 1977a. The agency of the letter in the unconscious or reason since Freud. In: Lacan, J. Ecrits; A selection. New York & London: Norton.

Lacan, J. 1977b. Ecrits; A Selection (transl. A. Sheridan). New York & London: Norton.

Lacan, J. 1977c. The Four Fundamental Concepts of Psycho­analysis (transl. A. Sheridan). Harmondsworth: Penguin.

Lämmert, E. 1968. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzler.

Lanser, S. 1981. The Narrative Act: Point of View in Prose Fiction. Princeton, NJ: Princeton University Press.

Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). 1965. Russian Formalist Criticism. Four Essays. Lincoln: University of Nebraska Press.

Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text. Michigan: University of Michigan Press.

Lukecs, G. 1964-1971. Probleme des Realismus. Neuwied und Berlin: Luchterhand. 3 Bde. Werke Bd 4, 5 en 6.

MacCannell, J.F. 1986. Figuring Lacan. London & Sydney: Croom Helm.

Macherey, P. 1978. A Theory of Literary Production. London: Routledge & Kegan Paul.

Malan, C. 1978. Misterie van die alchemis. Kaapstad en Pretoria: Academica.

Malan, C. (red.). 1983. Letterkunde en leser. Durban: Butterworth.

Matejka, L. & Pomorska, K. (eds). 1971. Readings in Russian Poetics: Formalist and Structuralist Views. Cambridge, Mass.:Ä MIT Press.

Matejka, L. & Titunik, I.R. (eds). 1976. Semiotics of Art: Prague School Contributions. Cambridge, Mass.: MIT Press.

Miller, J. Hillis. 1958. Charles Dickens: The World of his Novels. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Miller, J. Hillis. 1966. The Geneva School ... Critical Quarterly, 8.

Mitchell, W.J.T. 1987. The golden age of criticism. London Review of Books, 25 June.

Mooij, A. 1983. Taal en verlangen. Lacan's theorie van de psychoanalyse. Meppel: Boom.

Mouton, M. 1989. Dramateorie vandag: die bydrae van die teater-en dramasemiotiek. Potchefstroom: PU vir CHO. Mukařovský, J. 1970. Kapitel aus der sthetik. Frankfurt: Suhrkamp.

Mukařovský, J. 1977. De kunst als semiotisch feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek algemene literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Mullaney, S. 1988. The Place of the Stage: Licence, Play and Power in Renaissance England. Chicago: University of Chicago Press.

Müller, G. 1968. Morphologische Poetik. Gesammelte Aufsätze. Tübingen: Niemeyer.

Posner, R. 1982. Rational Discourse and Poetic Communication. Berlin, New York & Amsterdam: Mouton.

Poulet, G. 1967. The Metamorphoses of the Circle. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Pratt, M.L. 1977. Towards a Speech Act Theory of Literary Discourse. Bloomington: Indiana University Press.

Prince, G. 1973. A Grammar of Stories. The Hague: Mouton. Prince, G. 1982. Narratology: The Form and Function of Narrative. Berlin: Mouton.

Propp, V. 1927/1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Ransom, J.C. 1941. The New Criticism. Norfolk, Conn.: New Directions.

Riffaterre, M. 1978. Semiotics of Poetry. London: Methuen.

Riffaterre, M. 1990. Fictional Truth. Baltimore & London: Johns Hopkins University Press.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poetics. London: Methuen.

Ruthrof, H. 1981. The Reader's Construction of Narrative. London: Routledge & Kegan Paul.

Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Scholes, R. 1974. Structuralism in Literature. New Haven: Yale University Press.

Scholes, R. 1982. Semiotics and Interpretation. New Haven: Yale University Press.

Schmidt, S. 1980/1982. Grundriss der empirischen Literaturwissenschaft. Braunschweig: Vieweg. 2 Bde.

Schmidt, S. 1983. The Empirical Science of Literature. ESL: A new paradigm. Poetics, 12.

Scholtz, H. v.d. M. 1950. Sistematiese verslag van 'n stilistiese analise: Eugene Marais: Die Towenares. Pretoria: HAUM.

Selden, R. 1985. A Reader's Guide to Contemporary Literary Theory. Sussex: Harvester Press.

Segers, R.T. (red.). 1985. Vormen van literatuurwetenschap. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Showalter, E. 1975. Review essay: Literary criticism. Signs, 1.

Showalter, E. 1979. Towards a feminist poetics. In: Davis, R.C. (ed.). Contemporary Literary Criticism: Modernism through Post-structuralism. New York & London: Longman.

Skura, A.M. 1981. The Literary Use of the Psychoanalytic Process. New Haven & London: Yale University Press.

Spitzer, L. 1948. Linguistics and Literary History. Princeton: Princeton University Press.

Stanzel, F.K. 1979. Theorie des Erzahlens. Gottingen: Vandenhoek & Ruprecht.

Starobinski, J. 1957. Jean-Jacques Rousseau: la transparence et I'obstacle. Paris: Plon.

Steiner, P. 1984. Russian Formalism: A Metapoetics. Ithaca: Cornell University Press.

Stokes, A. 1978. The Critical Writings of Adrian Stokes. London: Thames and Hudson. 3 vols.

Striedter, J. (Hrsg.). 1969. Texte der russische Formalisten. Müchen: Fink. 2 die.

Striedter, J. 1989. Literary Structure, Evolution, and Value; Russian Formalism and Czech Structuralism Reconsidered. Cam­bridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Tennenhouse, L. 1986. Power on Display: The Politics of Shakespeare's Genres. London: Methuen.

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Basil Blackwell.

Todorov, T. 1988. Mikhail Bakhtin: The Dialogic Principle. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Tompkins, J.P. (ed.). 1980. Reader-response Criticism: From Structuralism to Post-structuralism. Baltimore & London: Johns Hopkins University Press.

Van Dijk, T. 1972. Foundations for typologies of texts, Semiotics, 6.

Van Dijk, T. 1980. Macrostructures. Hillsdale, NJ: Erlbaum.

Van Dijk, T. (ed.). 1985a. Discourse and Literature. Amsterdam: Benjamins.

Van Dijk, T. (ed.). 1985b. Handbook of Discourse Analysis. London: Academic. 4 vols.

Van Gorp, H., Ghesquiere, R. & Segers, R.T. (reds.). Receptieonderzoek mogelijkheden en grenzen. Leuven: Uitgeverij Acco.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1982. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Van Zyl, S. (red.). 1990. Psigoanalise en literatuur. Spesiale nommer van Tydskrifvir Literatuurwetenskap, 6(1).

Veeser, H.A. (ed.). 1989. The New Historicism. London: Routledge.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1968. Theory of Literature. London: Penguin.

Winnicott, D.W. 1974. Playing and Reality. Harmondsworth: Penguin.

Wright, E. 1987. Psychoanalytic Criticism: Theory in Practice. London & New York: Methuen.

 

Heilna du Pooy en Hein Viljoen
(met A.M. de Lange oor New Historicism)