BOERDE

Die boerde (Prov.: borda; Fr.: bourde; Mnl.: boerde: grappig, luimig, boertig) is 'n MIDDELEEUSE verhaal. Hierdie literêre vorm het in die 14de eeu tot aan die begin van die 15de eeu in die Middelnederlandse letterkunde voorgekom. 'n Boerde is 'n komiese verhaal wat deur sprooksprekers (storievertellers) in die vorm van 'n kort toneelstuk, lied, voordrag of nierymende teks voorgedra is. Willem van Hildegaersberch (“Meester Willem”) was 'n beroemde sprookspreker.

Die boerde word as 'n subgenre van die vertelling beskou; die twee genres lyk tegnies dieselfde: die narratief is kort (gemiddeld 200 reëls) en is in koeplette geskryf, maar anders as die vertelling het die boerde 'n komies-erotiese of satiries-komiese inslag met 'n nie té kiese inhoud nie.

Dit het dikwels 'n simboliese of ALLEGORIESE karakter gehad en het een of ander morele boodskap oorgedra. Die boerde is verwant aan die FABLIAU en die SCHWANK-Mären wat ook 'n boertige inslag het. Baie Middelnederlandse boerdes het trouens ontstaan na die voorbeeld van die Franse fabliau.

Die stof vir boerdes is gewoonlik ontleen aan die etiek van die laer klasse of burgery: vleeslike luste het hoogty gevier, die (dommerige) mans het gewoonlik bedroë daarvan afgekom terwyl monnike en priesters dikwels nie hulle verhewe roeping eer aangedoen het nie. Van Mierlo (1946) noem dit die chronique scandaleuse van die tyd.

Die boerde was 'n internasionale genre, maar baie min boerdes het in Middelnederlands bewaar gebly – omtrent net 15 is oorgelewr. Dit was nie 'n genre wat hoog aangeslaan is nie; daar bestaan nie aparte handskrifte vol boerdes nie. Dié wat wel bestaan, vorm deel van groter versamelings, soos die sg. Hulthemse handskrif waarin agt boerdes opgeteken is. Die vroegs bewaarde boerdes is die drie wat in 'n Brusselse handskrif verskyn, nl. "Vanden vescher van parijs", "Van heilen beersele" en "Vanden vrouwen die boven haren man minde". Verder is twee boerdes opgeneem in die handskrif wat bekend staan as die Van vrouwen ende van minne-handskrif. Ander voorbeelde van boerdes is “Van eenre baghinen ene goede boerde”; “Een bissel van .ij. clerken, ene goede boerde” en “Vanden cnape van Dordrecht ene sotte boerde”. Die term “boerde” is waarskynlik deur die kopieskrywer in die Hulthemse handskrif bygevoeg. Sommige van Boccaccio se verhale in Il Decamerone is boerdes en ook sommige van Chaucer se verhale uit The Canterbury Tales. Baie van hierdie tipe verhale kan teruggevoer word na Indiaanse of Arabiese legendes.

Bibliografie

Cuddon, J.A. 2013. A Dictionary of Literary Terms and Literary Theory. 5de uitgawe. Oxford: Blackwell Publishing.
Knuvelder, G.P.M. 1970. Handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde, 1. 's-Hertogenbosch: Malmberg.
Kruyskamp, C. 1957. De Middelnederlandse boerden. 's-Gravenhage: Nijhoff.
Lodder, F.J. 1997. Lachen om list en lust. Studies over de Middelnederlandse komische versvertellingen. Kaapstad: Struik.
Van Mierlo, J. 1940/1946. Beknopte geschiedenis van de Ouden Middelnederlandsche letterkunde. Antwerpen: Standaard-Boekhandel.
Van Oostrom, F. 2013. Wereld in woorden, geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1300-1400. Amsterdam: Bakker.

(Bygewerk Mei 2017)

 
Anna-Marie le Roux