BLITSVERKOPER (LITERêRE)

Dit het gebruiklik geword om die begrip betrokke literatuur (verbonde literatuur; Fr.: littérature engagée) te omskryf as die teenoorgestelde van l'art pur ("suiwer kuns") of L'ART POUR L'ART ("die kuns om die kuns"). Volgens Cloete (1978: 70) bejeën die een beskouing die literatuur "primêr as iets nutteloos, 'n luukse ... Die ander ... primêr as iets wat diensbaar moet wees aan een of ander, meestal duidelik omlynde saak, dus: literatuur as praxis". Dit is 'n voortsetting van 'n onderskeid wat Aristoteles al getref het, 'n splyting van Horatius se dulce et utile.

In 'n eersterangse studie dui Ellis (1974: 243) egter aan dat die digotomie vals is: "If we look at the old formula that defines the function of literature as 'instruire et plaire', then the history of the subsequent argument can be described as an attempt to choose between two factors instead of seeking their correct relation".

 

Die probleem is dat die betrokke literatuur te maklik en deur te veel kritici sonder meer gelykgestel word (en selfs verwar word) met twee ander begrippe: tendensliteratuur en aktualiteitsliteratuur.In die mate waarin tendenswerk 'n bepaalde omskrewe standpunt propageer, lê dit die leser se keusevryheid aan bande (dit wil die outeur se beskouing op 'n leser afdwing): in dié essensiële opsig is dit die presiese teenoorgestelde van die beskouings van die vernaamste eksponente van betrokke literatuur, vir wie die vryheid (juis ook die vryheid van die leser) die bepalende faktor is. Tendenswerk, dui Weideman (1981: 265) aan, is wesenlik "verbruikbaar", "geleentheidstekste", waarin daar van " 'n 'eenheid' tussen die 'etiese' en die 'estetiese' ... klaarblyklik geen sprake (is) nie", omdat die estetiese daar geen rol in speel nie (of hoogstens 'n toevallige en verdiskonteerbare rol). Betrokke literatuur is nié agitprop of proletkult nie. ("Proletkult," sê Eagleton (1976a: 39), "regarded art as a class weapon and completely rejected bourgeois culture".)

 

In tendensliteratuur is daar 'n enkelvoudige verhouding tussen die werklikheid in die werk en die herkenbare, omskrewe stuk van die werklikheid daarbuite waarna eksplisiet verwys word: die buitenste werklikheid stroom as 't ware sonder weerstande deur die teks om die leser tot praktiese optrede t.o.v. daardie bestel te beweeg (vgl. Hoogenhout se "Vooruitgang" uit die Eerste Taalbeweging).

 

Ook is die blote herskep van 'n herkenbare stuk aktualiteit nog geen waarborg dat dit betrokke literatuur word nie. Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein is 'n aktuele roman, maar nie sonder meer 'n betrokke werk nie, al is die aktualiteit van Suid-Afrikaanse rasseverhoudinge daaruit afleesbaar. Nie die stof as sodanig bepaal betrokkenheid nie (dit sou ons terugvoer na 'n uitgediende beskouing van "vorm-en-inhoud"), maar die gerigtheid van die teks: J.M. Coetzee se voorstelling van 'n wêreld vol ongeregtigheid wil met die energie van sy komplekse geladenheid die leser "beweeg" tot die vrye wilskeuse om ook sý volle menslike verantwoordelikheid t.o.v. sy wêreld vol ongeregtigheid te aanvaar.

 

As 'n wêreldbeskouing wat hom veral met die mens se stoflike en sosiale (sosio-politiese; sosio-ekonomiese) dimensies bemoei, het die MARXISME veel te doen gehad met die evolusie van die begrip betrokke literatuur (hoewel dit belangrik is om daarvan kennis te neem dat belangrike marxistiese kritici gereeld die engheid en lokaalgebondenheid van die sg. "Sosiale Realisme" veroordeel), nl. as teks wat deel vorm van 'n komplekse en dinamiese verhouding tussen maker en ontvanger, binne 'n konteks van talle konsentriese sirkels: "Written words, with their continuing but not necessarily direct relation to speech, are a form of material production, adapting non-human resources to a human end", sê Raymond Williams (1977: 169). Die literatuur word in dié benadering gesien as produsent van betekenisse; en insgelyks word die leesaksie nie bejeën as passiewe verbruiking nie, maar as medeskepping, medeproduksie, afronding van 'n sosiale kontrak. Die jongste beskouings, dié van die STRUKTURALISME, DEKONSTRUKSIE, die RESEPSIE-ESTETIKA en veral die sg. IDEOLOGIEKRITIEK kan ge­sien word as direkte ontwikkelinge uit 'n omvaftende besef van die implikasies van die literatuur as betrokkenheid.

 

In resente ontwikkelinge in die literatuurbeskrywing word die begrip "betrokke literatuur" in der waarheid byna vervang deur 'n verskuiwing van fokus na die prosesse van literêre produksie (vgl. Macherey, 1978) en die uitwys van 'n "political unconscious" wat eintlik in alle literêre tekste werksaam is (vgl. o.a. Jameson, 1981).

 

Nadat die term littérature engagée die eerste keer deur André Gide gebruik is, het die begrip veral gangbaar geword in Jean-Paul Sartre se reeks essays getitel "Qu'est-ce que la litterature?" (“Wat is literatuur?"), opgeneem in Situations II (Sartre, 1948).

 

Hiervolgens begin betrokkenheid by die feit van die taal se tekenwaarde, sy verwysingswaarde, wat die literatuur (vir Sartre ver­al die prosa) dadelik onderskei van ander kunsvorme. In die taal wil die skrywer dinge en ervarings "in hulle waarheid" (Sartre, 1948: 73) onthul – nie as 'n meganiese proses van "weergawe" nie, maar as iets wat tot stand gebring word, 'n beweging wat deur blote woorde verbystroom. In daardie werk begewe die skrywer hom "met volledige betrokkenheid ... as vasberade wilsdaad en as keuse, as dié totale onderneming om te lewe wat elkeen van ons kenmerk" (Sartre, 1948: 84).

 

Skryf is in beginsel 'n daad van vrye keuse – wat uiteindelik ook 'n beroep doen op die leser se vryheid. Dit is 'n daad wat begin by 'n besef van die menslike werklikheid, sodat daar ook 'n dialektiek tussen mens en werklikheid bestaan – nie ingestel op oppervlakkighede nie, maar op die mens se nood om te voel "dat hy essensieel is m.b.t. die Wêreld" (Sartre, 1948: 90) – ʼn dialektiek wat dan ook tot die leser deurwerk. Mens het die keuse om te lees of nie: kies jy dit wel, dan aanvaar jy ook die verantwoordelikheid van jou keuse. Die konsep van verantwoordelikheid – die mens se omgee vir die wêreld – is dan 'n sleutel tot die hele konsep van betrokke literatuur.

 

Daarom lê daar in die skryfdaad, soos in die leesdaad, ook 'n intrinsieke waarde: anders gestel, die estetiese is nooit los te dink van die mens se etiese verantwoordelikheid teenoor die wêreld nie. Hierin lê die "estetiese vreugde" – wat vir Sartre méér is as "suiwer outonomie" (1948: 108): dit lê nl. in die leser se skeppende meewerk aan die ontstaan van 'n objek. Dit is die "taak" wat aan die leser se vryheid opgelê word. Deur die leesdaad word iets buite die ek (die teks) in die ek self ingedra: maar daardie teks bestaan in sy heenwysing na en verhouding tot die wêreld: die lees daarvan dra dus die wêreld self as "taak" aan die leser op – wat steeds die vryheid het om sy eie reaksie daarop te bepaal en te verantwoord.

 

Nie 'n "sedeles" of "boodskap" in die teks "beweeg" die leser nie, maar die digtheid van die romanwêreld self (Sartre, 1948: 111). Die swak roman sal net die status quo van die wêreld weergee soos hy "lyk"; die geslaagde kunswerk beweeg met soveel energie in die leser in dat hy beleef word as "eis en geloofsdaad" (Sartre, 1948: 112). Daarom is die geslaagde roman ook nooit net propaganda nie, sekerlik nooit blote voorstander van 'n eng-politieke "saak" nie; dit het te doen met die totale menslikheid.

 

"Wáárby is die literatuur dan betrokke?" vra Sartre dan pertinent – en antwoord pront: "By die verdediging van die vryheid" (1948: 114).

 

Die kern van sy betoog lê in die feit dat begrippe soos vryheid, liefde, geregtigheid nooit in 'n vakuum, abstrak of absoluut, kan bestaan nie, maar alleen in *konteks: in situasie. ("Die vryheid is nie ...: dit word binne 'n historiese situasie verower," 1948: 119.) Vandaar die bepaalde sosiale of ander "inkleding" van die waaragtig betrokke roman. Maar altyd gaan dit om die uiteindelike, groot, menslike waarhede – bowenal die menslike vryheid – wat binne 'n sekere konteks ondersoek of verwerf word ... Die universele, ja: maar alleen kenbaar danksy 'n "local habita­tion and a name".

 

Deur sy ingryping gee die skrywer aan sy samelewing 'n "ongelukkige gewete" (Sartre, 1948: 129): hy versteur die ewewig, hy is onvermydelik die antagonis van die behoudende, verstarrende magte in die samelewing. Vir Sartre, soos vir Brecht, is die gegewene van die samelewing dat dit deur – en vir – mense tot standgebring is en daarom ook deur mense verander kan word.

 

Vir Brecht lê die kern van die betrokke literatuur in die gerigtheid téén alles wat die establishment kenmerk, en met die waarheid as uiteindelike instelling: 'n aktiwiteit wat 'n reeks struikelblokke ("Schwierigkeiten") in die skrywer se weg lê wat slegs oorkom kan word deur 'n vyftal kwaliteite: moed, intelligensie, vaardigheid, 'n gesonde oordeel en lis (Brecht, 1967: 222-239) – eienskappe en voorwaardes wat terselfdertyd ook literêre digtheid waarborg (soos Brecht se eie werk ten oorvloede bewys).

 

Die begrip betrokkenheid is verder verdiep deur die belangrike bydraes van Albert Camus, met 'n besondere uitkristallisering in "L'artiste et son temps" ("Die kunstenaar en sy tyd") en sy "Discours de Suède" ("Sweedse rede"), albei uitgespreek by die ontvangs van die Nobelprys in 1957. Vir Camus is die uitgangspunt verset, opstand – téén onmenswaardigheid, vir die waarheid en die vryheid, in solidariteit met die mens – besonderlik die lydende mens, 'n proses van "gevaarlik" leef, "gevaarlik" skryf. Sinvol hierby is die uitspraak van Marcuse (1979: 72-73): "If people were free, then art would be the form and expression of their freedom. Art remains marked by unfreedom; in contra­dicting it, art achieves its autonomy."

 

Op stuk van sake, soos Sartre al benadruk het, bly die skrywer menslik, nie 'n Vestaalse Maagd of 'n Ariel nie: sy menslikheid lê in dit wat hy met alle ander mense deel – "wondbaar maar hardnekkig, onregverdig maar verslinger op geregtigheid, besig om sy werk te verrig sonder skaamte of trots, oop vir almal om te sien, altyd verskeur tussen lyding en skoonheid, toegewy aan die taak om uit sy dubbele wese skeppings voort te bring wat hy hardkoppig oprig binne die vernietigende beweging van die geskiedenis" (Camus, 1967: 1074). Die sleutel tot dié funksie lê in die verantwoordelikheid wat die skrywer in sy werk vir die wêreld aanvaar: en die verantwoordelikheid wat die leser, vanuitsy bemoeienis met die werk, teenoor die wêreld opneem.

 

Die kritikus Adorno (1973: 29) beaam ook die meerduidigheid wat die betrokke literêre werk onderskei van die enkelduidige en "dun" tendensliteratuur; en die feit dat dit in die aktuele eintlik op soek is na die waarheid. Die beduidende verskil t.o.v. ander literatuurbeskouinge, sê Adorno, lê daarin dat 'n werk se gehalte nie bepaal word deur die betekenis wat "daarin gepomp" word nie, maar in die beweging wat daardeur, as deel van 'n verwikkelde proses, aan die gang gesit word. Eintlik behoort die betrokke literatuur dan ook hand aan hand te gaan met wat S.E. van Zyl (1977) " 'n bipolere 'critique engagée'" noem, 'n instelling wat reg aan die volledige aard van sulke werk sal laat geskied.

 

Hierdie aard vat Octavio Paz (1975: 167) so saam: "The poem, a being of words, goes beyond words, and history does not deplete its meaning; but the poem would have no meaning – or even an existence – without history, without the community that nou­rishes it and is nourished by it."

 

Sulke werk is so oud soos die literatuur self: reeds Aristophanes was 'n volledig betrokke dramaturg. Die roman as genre het sy ontstaan gehad in betrokkenheid (die Don Quijote) en het deur die eeue van sy grootste prestasies juis op dié gebied gelewer ('n lukraak keuse: Fielding, Swift, Dickens, Zola, Malraux, Solzjenitsyn, Marquez, Kundera). In die post-koloniale tydvak het die poësie, veral in die Derde Wêreld, 'n merkwaardige bydrae in hierdie opsig gelewer, soos o.a. Mphahlele (1972) en Gordimer (1973) aantoon. Dit is egter noodsaaklik om te begryp dat betrokke literatuur nie volgens 'n objektiewe "formule" beoordeel kan word nie. Wat Ellis (1974: 42) van die literatuur as sodanig sê ("Liter­ary texts are not defined as those of a certain shape or structure, but as those pieces of language used in a certain kind of way, by the community"), is des te meer geldig vir die betrokke literatuur. In Shakespeare se gemeenskap sou veel van sy werk bv. as betrokke gestempel gewees het, o.a. deur 'n netwerk van KODES waardeur die kontemporêre situasie "gedui" is sonder om dit uit te spel; in ander tydvakke of gemeenskappe is dieselfde teks as  neutraal of selfs onttrokke beskou. Daar is getuienis dat 'n stuk soos Waiting for Godot al in Pole as 'n model van betrokke literatuur bestempel is, terwyl dit elders gewoon as "absurd" bejeën is. Die plek van die bepaalde werk in sy sosiale konteks bepaal self of dit daar gaan fungeer as betrokke of nie.

 

In die Afrikaanse literatuur, gebore uit stryd en verset, het die meeste werk van die vroeë taalbewegings nie by partisanewerk, tendenswerk en plakkaatwerk verbygesteek nie. In die oorlogsgedigte van Oom Gert vertel en ander gedigte het Leipoldt hom wel as een van ons mees betrokke digters geopenbaar (wat natuurlik nie daardie gedigte òf beter òf swakker maak as sy slampamperliedjies nie: insgelyks is Jan F.E. Celliers vandag grotendeels vergete, nie omdat hy 'n betrokke digter sou gewees het nie, maar omdat hy nie 'n digter van formaat was nie).

 

Sedert Sestig het betrokkenheid in Afrikaans 'n polemiese kwessie geword: en des te meer in die loop van die jare Sewentig. By sommige skrywers is van hul beste werk hul "betrokke" tekste, soos Breytenbach se poësie in Skryt (vgl. in dié verband Coetzee, 1980); by ander is dit van hul swakste, soos Jan Rabie se Ons, die afgod. Wat opnuut demonstreer dat die konsep betrokke literatuur op 'n soort kuns en 'n soort kunservaring dui, en nie 'n maatstaf vir literêre gehalte is nie.

 

Benewens die reeds vermelde bronne kan die leser 'n duideliker beeld van die marxistiese blik op "betrokkenheid" kry uit o.a. Eagleton (1976) of Jameson (1971); meer spesifiek m.b.t. die ontwikkeling van die roman in Fox (1979); terwyl die Suid-Afrikaanse situasie o.a. belig word deur Brink (1975), Gordimer (1973 en 1988), A.J. Coetzee (1976), J.M. Coetzee (1988), Gerwel (1983) en Mphahlele (1972). Grové (1965) belig op polemiese wyse kortliks die nosie van "aktualiteit". 'n Ongepubliseerde verhandeling van Van Zyl (1977) plaas die konsep in die konteks van die jare Sewentig. Harlow (1987) bestudeer op briljante wyse die onderwerp van "versetliteratuur" in die konteks van die Derde Wêreld.

Bibliografie

Adorno, T.W. 1973. Zur Dialektik des Engagements. Frankfurt: Suhrkamp.

 

Brecht, I& 1967. Fünf Schwierigkeiten beim Schreiben der Wahrheit. In: Brecht, B. Gesammelte Werk 18. Frankfurt: Suhrkamp.

 

Brink, A.P. 1973. Literatuur in die strydperk. Kaapstad: Academica.

 

Camus, A. 1967. L'artiste et son temps. In: Camus, A. Essais. Paris: Collection de la Pléiade.

 

Camus, A. 1967. Discours de Suède. In: Camus, A. Essais. Paris: Collection de la Pléiade.

 

Cloete, T.T. 1978. Betrokkenheid in die letterkunde. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 18(1).

 

Coetzee, A.J. 1976. Poësie en politiek. Johannesburg: Ravan.

 

Coetzee, A.J. (red.). 1980. Viborde teen die wolke. Johannesburg: Taurus.

 

Coetzee, J.M. 1988. White Writing. Sandton: Radix.

 

Daiches, D. 1976. Literature and Society. London: Heinemann Educational Books.

 

Eagleton, T. 1976a. Marxism and Literary Criticism. London: Methuen.

 

Eagleton, T. 1976b. Criticism and Ideology. London: Verso.

 

Ellis, J.M. 1974. The Theory of Literary Criticism. London: University of California Press.

 

Fox, R. 1979. The Novel and the People. London: Lawrence & Wishart.

 

Gordimer, N. 1973. The Black Interpreters. Johannesburg: Ravan.

 

Grové, A.P. 1965. Aktualiteit in die poësie. In: Grové, A.P. Fyn net van die woord. Kaapstad: Nasou.

 

Grové, A.P. 1980. Inleiding tot die literatuur van Sestig. In: Cloete, T.T. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Kaapstad: Nasou.

 

Harlow, B. 1987. Resistance Literature. London & New York: Methuen.

 

Jameson, R 1971. Marxism and Form. Princeton, N.J.: Prince­ton University Press.

 

Jameson, F. 1981. The Political Unconscious. London: Methuen.

 

Mander, J. 1961. The Writer and Commitment. London: Seeker & Warburg.

 

Macherey, P. 1978. A Theory of Literary Production. London: Routledge & Kegan Paul.

 

Marcuse, H. 1979. The Aesthetics of Dimension. London: Macmillan.

 

Mphahlele, E. 1972. Voices in the Whirlwind and Other Essays. New York: Hill & Wang.

 

Paz, O. 1975. The Bow and the Lyre (transl. Ruth L.C. Simms). New York: McGraw-Hill.

 

Sartre, J-P. 1948. Qu'est-ce que la littérature. In: Sartre, J-P. Sit­uations II. Paris: Gallimard.

 

Van Zyl, S.E. 1977. 'n Verkenning van verskeie aspekte van die problematiek rondom die "littérature engagée" en die literêre kritiek, met besondere verwysing na die huidige situasie in Afrikaans. M.A.-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

 

Weideman, G.H. 1981. 'n Ondersoek na aspekte van die verhouding tussen "betrokkenheid" en "universaliteit" in die literatuur. Ph.D.-tesis, Rhodes Universiteit, Grahamstad.

 

Williams, R. 1977. Marxism and Literature. Oxford: Oxford University Press.

André P. Brink