ALLEGORIE
Breedweg gestel, en in ooreenstemming met 'n insig van Goethe, kan die allegorie beskryf word as 'n verhaaltegniek waarin die algemene voorgestel word d.m.v. die besondere. Die karakters en hulle handelinge funksioneer in 'n allegorie op twee vlakke: hulle bestaan op 'n eerste, konkrete verhaalvlak, maar wys ook heen na 'n stel gebeure of 'n stel morele, geestelike of psigologiese konsepte/idees agter die verhaal. Vir 'n interpretasie van die allegorie is hierdie tweede vlak die belangrikste. Leemtes wat in die verhaal self dalk voorkom, is relatief onbelangrik, aangesien die allegoriese betekenis voorrang geniet bo die storie. In 'n bekende allegorie soos Bunyan se Pilgrim's Progress is daar bv. soms "insinkings" in die verhaal sonder dat daar afbreuk gedoen word aan die werk as allegorie.
Die allegorie is 'n narratiewe tegniek. Selfs 'n allegoriese gedig sal verhalend wees. Vergelyk Dante se klassieke EPOS Divina commedia en in Afrikaans die gedig "Vergewe en vergeet" van Totius. Laasgenoemde gedig is al deur kritici as 'n simboliese gedig beskou. 'n Belangrike onderskeid tussen SIMBOOOL en allegorie waarop o.a. N.P. van Wyk Louw (1970: 30-31) wys, is egter die feit dat die allegorie 'n "ondubbelsinnige 'tweede betekenis' " het, terwyl die simbool se diepere betekenis nie presies vasstelbaar is nie (alhoewel die simboliese betekenis ook nie heeltemal onbegrens is nie).
Op ondubbelsinnige en deurlopende wyse word daar in die allegorie 'n parallel opgebou tussen die verhaalgegewens en die stel gebeure of idees onder die oppervlakte. Daar is 'n punt-vir-punt-ooreenkoms tussen die twee betekenisvlakke. Van Wyk Louw sê: "By die allegorie ontstaan die vraag na die dieper betekenis skaars; die betekenis bied homself onmiddellik saam met die oppervlakte-betekenis aan" (1970: 31).
In dié stadium moet daar egter gewaarsku word teen 'n te simplistiese siening van die allegorie, as gevolg waarvan dit eintlik 'n ongewilde literêre soort geword het en op grond waarvan dit beskou word as minderwaardig teenoor die simboliese kuns. Dit is nie 'n eenvoudige spel van slegs die punt-vir-punt-gelykstelling van sake nie, maar 'n wyse waarop essensies uitgebeeld word (Pretorius, 1972: 3). Afgesien van ooreenkomste tussen die verskillende vlakke is daar 'n innerlike samehang en betekenisvolle verhoudings. Die Middeleeuse allegorie was alles behalwe 'n "verstandelike konstruksie"; dit was volgens Coghill (Pretorius, 1972: 3), "a whole way of looking at experience. It was based on the belief that the universe was all of a piece, that the greater was reflected in the less, that one thing could be understood through another, and that God could be known through his works ... Man was made in His image. Thus what is true on one plane of meaning must reveal some truth on another".
Sommige werke is nie volstrekte allegorieë nie, d.w.s. die allegoriese verwysings vind nie op 'n deurlopende grondslag plaas nie maar kom as 't ware met tussenposes voor. So 'n werk vertoon slegs allegoriese trekke en kan nie as 'n allegorie getipeer word nie. Daar is talle voorbeelde van sulke werke. In Afrikaans kan Mahala van Chris Barnard as voorbeeld dien. Luc Renders (1979: 68—80) wys op allegoriese trekke in dié roman. Volgens hom verteenwoordig die verskillende karakters aspekte van die persoonlikheid van die hooffiguur Max Delport. Ritter tree bv. op as Delport se alter ego: " 'Ek wil jou vertel van Ritter,' het hy gesê. 'Het ek jou al van hom vertel?' 'Vertel my van jouself.' 'Dis presies dieselfde.' " (Barnard, 1971: 172). Delport probeer van Ritter, wat die skadusy van homself voorstel, wegvlug. Hy wil nie tot 'n konfrontasie met homself kom nie en kan dus nie deurbreek tot 'n "deurleefde bestaan as mens" (Renders, 1979: 77) nie. Ook die ander karakters tree op as allegoriese figure in die verinnerlikingsproses van Delport.
Op grond van die wyse waarop die allegoriese in 'n literêre werk funksioneer, kan die allegorie nie beskou word as die benaming van 'n literêre genre nie; dit is nl. 'n strukturele beginsel in verhalende literatuur (Preminger, 1975: 12). 'n Allegoriese interpretasie gaan van dié beginsel uit; die allegoriese word dus nie deur die kritiese interpretasie bybetrek nie, maar is deel van die struktuur van die werk.
Die vernaamste middel waarmee die allegorie werk, is PERSONIFIKASIE. 'n Karakter stel 'n abstrakte idee voor. Fowler (1973: 5) wys egter daarop dat dit misleidend is om te sê karakters "verteenwoordig" deugde en ondeugde. In 'n suksesvolle allegorie is hulle jaloesie, vraatsug, nederigheid, ens., met "intervals of neutrality where they get the plot moving or are spectators to the obsessions of other characters".
Hierdie "obsessies" raak die kwessie van eensydige, onvolledige, selfs karikatuuragtige karakterisering aan wat dikwels as kritiek teen die allegorie ingebring word. Pretorius (1972: 6) wys enersyds daarop dat die karakters egter tog nie heeltemal ontdaan is van "menslike fasette" nie (hy verwys o.a. na Bunyan se pelgrim en Dante se selfportret in die Divina commedia), en andersyds wys hy op die funksionaliteit van die eensydigheid en obsessiwiteit: "Deur sy demonies-gedrewe aard in die basiese psigomagie, kry die allegoriese karakter 'n kosmiese dimensie. Sy 'onmenslikheid' verwys as 't ware na 'n bo-aardse orde. Dit is belangrik om te onthou dat die tipe karakter in die sfeer van die profetiese, die apokaliptiese beweeg waar vrae na gewone psigologiese handeling irrelevant is" (Pretorius, 1972: 6).
Daar is verskeie vertelvorme wat verwant is aan die allegorie en selfs 'n allegoriese werkwyse het. 'n Bekende allegoriese vorm is die FABEL, waarin diere gepersonifieer word om waarhede omtrent die mens en sy lewe te openbaar. Dit is meestal 'n eenvoudige vorm van die allegorie en daarom sterk afgestem op die "sedeles" agter die verhaal. (Dit is egter belangrik om te onthou dat die allegorie nie altyd wil moraliseer nie. Dit kan o.a. op SATIRE en ontmaskering en ook bloot op vermaak (entertaining the reader) ingestel wees.) Ook die MITE word nie op die woord af gelees nie, maar t.w.v. 'n sin/sinvolheid buite die woorde om. In dié sin is dit allegories. Die sterk sedeles van die fabel is by die mite afwesig. Van Wyk Louw noem dat die simbool 'n noue verwantskap met die mite het, terwyl die fabel en die allegorie nader aan mekaar staan (1970: 34). 'n Ander allegoriese vorm is die GELYKENIS, waarvan die verhaal primêr vertel word om 'n godsdienstige waarheid weer te gee. Die allegorieskrywer is verder ook dikwels satirikus, deurdat die karakters en handelinge in die allegoriese werk satiriese kommentaar is op die mens se gebreke. Vergelyk hier Swift se Gulliver's Travels.
Die allegorie het 'n omvangryke geskiedenis deur die eeue. Enkele belangrike historiese fases kan uitgelig word.
Vroeg reeds is die mites deur die Grieke allegories geïnterpreteer. Die mitologiese verhale van die gode in o.a. Homeros se werk is deur sommige Griekse filosowe as nie ernstig genoeg beskou vir die godsdiens nie; gevolglik is die gode en hulle handeling geïnterpreteer as personifikasies van morele beginsels of natuurlike kragte (Preminger, 1975: 13). Die didaktiese en morele eise wat aan die poësie gestel is, het ook tot die allegorisering van die mites bygedra.
Met die koms van die Christendom het daar 'n aksentverskuiwing in die allegoriese interpretasie gekom (Pretorius, 1972: 12). Die allegorie het nou "al meer opgetree as bemiddelaar tussen die ou godepanteon en die filosofie en gesofistikeerde denke wat nie meer van die immorele Homeriese gode gehou het nie" (Pretorius, 1972: 12). Die immorele dade van die ou Griekse gode is dus allegories verklaar. Ook die Latynse mitologie, soos dit veral voorkom in die werk van Vergilius en Ovidius, word in dié tyd by die allegoriese interpretasie betrek.
Aanvanklik het die allegorisering berus op 'n siening dat die digkuns waar moes wees en nie valshede moes verkondig nie. Met die herontdekking van Aristoteles en die toenemende aanhang wat sy beskouings oor die poësie verwerf het, is die aandag verskuif na die opvatting van literatuur as "an imitation of nature which expresses the general and the typical rather than the specific and the particular" (Preminger, 1975: 14). In die lig hiervan het allegoriese interpretasies geleidelik minder gewild geword.
Gedurende die Romantiek ontwikkel die opvatting dat die allegorie 'n wyse is waarop 'n nie-poëtiese struktuur omgeskakel word in poëtiese beelding (Preminger, 1975: 14). Die allegorie word gekontrasteer met die simbool en as die minderwaardiger beeldingsmiddel van die twee beskou – 'n opvatting wat tot in die moderne tyd voortduur.
Onder die invloed van Freud en Jung se werk in die sielkunde het daar sedert 1900 werke ontstaan wat as psigologiese allegorieë gelees kan word. Mahala van Chris Barnard is 'n Afrikaanse voorbeeld hiervan.
Alle goeie literêre ensiklopedieë en woordeboeke bied verklarings vir die term allegorie. Fowler (1973) en Preminger (1975) kan uitgesonder word. Standaardwerke in verband met die allegorie is dié van Fletcher (1964), Lewis (1936) en Tuve (1966). In Afrikaans is Van Wyk Louw (1970) en S.J. Pretorius (1972) se werk onontbeerlike leesstof. Renders (1979) se bespreking van Mahala as allegorie bevat belangrike insigte.
Bibliografie
Barnard, C. 1971. Mahala. Kaapstad: Tafelberg.
Fletcher, A. 1964. Allegory: The Theory of a Symbolic Mode. New York: Cornell University Press.
Lewis, C.S. 1936. The Allegory of Love. London: Oxford University Press.
Louw, N.P. van Wyk. 1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.
Pretorius, S.J. 1972. Die stryd tussen hemel en hel: 'n poging tot 'n verklaring van Vondel se Christelike epos Joannes de Boetgezant. D.Litt.-tesis, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
Renders, L. 1979. Mahala of die mite van Siva. Tydskrif vir letterkunde, 17(3).
Tuve, R. 1966. Allegorical Imagery: Some Medieval Books and their Posterity. Princeton: Princeton University Press.
Raadpleeg ook:
Coetser, J.L. 1986. Die struktuur van die allegorie. Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 2(2).
O'Connell, L.C. 1988. Traditional allegory and its postmodernist use in the novels of J.M. Coetzee. D.Litt.-thesis, PU for CHE, Potchefstroom.
Regina Malan