BRIEF
Die brief (Lat.: breve scriptum: kort geskrif) was oorspronklik 'n geskrewe mededeling wat van private of amptelike aard was. Dit het 'n tiperende styl gehad wat van welsprekendheid getuig het. Dit is soms deur 'n boodskapper voorgelees aan die ontvanger. Wanneer die brief in geskrewe vorm aan die ontvanger oorgedra is sonder die tussenkoms van 'n boodskapper of ander tussenganger, het dit die plek van 'n intieme, informele gesprek ingeneem "and so came in theory to be regarded as essentially informal and familiar", aldus Shipley (1964: 249) in Dictionary of World Literature.
Die brief kan ook literêre waarde hê: dan word soms daarna as die espitolêre genre verwys.
Die brief kan beskou word as een van die oudste kultuurdokumente – so oud soos die skrifteken. Daar bestaan bv. Babilonies-Assiriese briefversamelings in spykerskrif en Egiptiese briefversamelings wat op papirus geskryf is.
Die Klassieke Oudheid besit sedert die 4e eeu 'n ryke skat aan briefliteratuur. 'n Baie beroemde versameling briewe is dié wat gewissel is tussen Cicero en Plinius die Jongere. Ander bekende briefversamelings uit hierdie tyd is die briewe van Libanius en keiser Julianus.
Die brief is ook as literêre genre beoefen. Verder is dit gebruik as vorm vir verhandelings oor literêre en wetenskaplike aangeleenthede, bv. deur Seneca, Plato en Dionisos van Halikarnassos. Die fiksionele brief het in die Hellenistiese tyd ontstaan. Dié soort brief was veral gewild in die RENAISSANCE, bv. Vondel se Brieven der heilige maagden en Martelaressen.
Die klassieke retoriek het die persoonlike vriendskaplike brief as norm gestel: dit moes in 'n informele en vriendskaplike styl geskryf wees. Veral van belang hier is Demetrius se handleiding oor die skryf van 'n brief. Hy stel dit as 'n vereiste dat 'n brief opreg, eenvoudig, kort en duidelik moet wees. 'n Onderskeid is ook gemaak tussen die persoonlike brief of personalis en die formele brief of negotialis.
'n Paar Egiptiese briewe uit die Oudheid het in hulle oorspronklike vorm bewaar gebly. Hulle verskaf belangrike inligting omtrent die taal en die sosiale en ekonomiese opset van die tyd.
In die Vroeg-Christelike tyd is die brief dikwels gebruik om te onderrig en te vermaan, bv. die briewe waarin gemeentelike aangeleenthede bespreek is, soos Paulus se briewe in die Nuwe Testament en die briewe van kerkvaders soos Hieronimus en Augustinus. Sommige briewe het nie werklik 'n briefkarakter gehad nie, maar was eerder teologiese verhandelings, soos die Barnabas-brief en die sg. Tweede Clemensbrief, wat beskou word as een van die oudste voorbeelde van 'n Christelike preek. Vermeldenswaardig is ook die biskoplike sendbriewe, bv. van Dionisios van Korinthe (ca. 170 n.C.) en die keurig versorgde briewe van die Kappadosiese kerkvaders.
Gedurende die MIDDELEEUE is briewe veral van en na die kloosters en koninklike howe gestuur. 'n Beroemde briefwisseling is dié tussen Abaelardus en Héloise, geskryf in Latyn. Daar bestaan ook briewe van MISTICI (soos Hadewijch) wat soms in Latyn en soms in die moedertaal geskryf is.
Amptelike briefwisseling was in die Middeleeue 'n belangrike saak en talle handleidings het verskyn. Die redevoering is vervang deur die skryf van briewe, en baie verhandelings wat handel oor die redevoering is eintlik verhandelings oor die skryf van briewe: "The doctrine of these treatises is not the classical one of friendly feeling and plain style: they contain a universal rhetoric for letters of affairs as well as private letters, and they emphasize the distinctions in style prescribed by ancient decorum to fit the distinctions of persons addressed, so that letters are by no means confined even ideally to the plain style" (Shipley, 1964: 250).
Gedurende die Renaissance en die BAROK het 'n hele briefkultuur ontstaan. Die redevoering het in die Renaissance nog steeds geskied in die vorm van die brief. Die brief beleef in hierdie tyd veral 'n bloei in Frankryk. Ook uit die 18e eeu kom 'n aantal bekende briefversamelings uit Frankryk, bv. van Diderot, Voltaire en Rousseau.
In Engels is die briewe van Swift, Addison en Pope voorbeelde van bekende briefversamelings.
Uit die 19e eeu is die briefwisseling tussen George Sand en Flaubert bekend, asook die briewe van Scott, Byron en Keats. In Duits is daar die baie bekende briefwisseling tussen Goethe en Schiller.
Uit die 20e eeu kan die briefwisseling tussen Ter Braak en Du Perron genoem word maar, soos Bomhoff in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur skryf, "de nieuwere tijd, zakelijk en onpersoonlijk, is voor de briefcultuur weinig bevorderlijk".
In Afrikaans word die briewe van o.a. N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman in argiewe bewaar.
Die briefwisseling tussen skrywers of tussen 'n skrywer en vriende en familie kan van literatuurhistoriese belang wees, omdat dit soms inligting verskaf aangaande sy lewe en sy werk.
Dit is nie altyd maklik of moontlik om 'n onderskeid te tref tussen die brief as persoonlike dokument en die brief as literêre dokument nie.
Verder kan onderskei word tussen die brief en die epistel. Briewe "present personal and natural relationships among friends, whereas epistles are more usually formal documents with a view to their being read by some public" (Holman (1981: 244) in A Handbook to Literature). Die epistel is dus 'n doelbewus literêre vorm, bv. Pope se epistels in versvorm (Moral Essays, 1731-1735). Die term epistel word veral geassosieer met die sendbrief.
Bibliografie
Classen, A. 1988. Female Epistolary Literature from Antiquity to the Present: an Introduction. Studia Neophilologica: A Journal of Germanic and Romance Languages and Literature, 60 (1).
Meyer, E., Engstrom, T.H. & Golz, S.I. 1987-1988. Letters on the autobiography of writing. Discourse: Journal for Theoretical Studies in Media and Culture, 10(1).
Schmidt, I. 1988. Was ist ein Brief? Zur Begriffbestimmung des uellen kündlichen Gattung. Internationales Jahrbuch für Editionswissenschaft, 2.
Woester, W 1988. Vorschlage für ein Normierung von Briefeditionen. Internationales Jahrbuch für Editionswissenschaft, 2.
Anna-Marie Bisschoff