BUITESTAANDER
Daar word gewoonlik aanvaar dat die buitestaander 'n tipiese verskynsel van die moderne literatuur is, maar eintlik kom hy al baie lank voor. Don Quijote uit Cervantes se roman Don Quijote (1605, 1615) is as ANTIHELD ook 'n buitestaander. Die buitestaanderfiguur het in 1956 besondere prominensie verkry met die verskyning van Colin Wilson se studie The Outsider. Hiermee word die benaming buitestaander ook as 'n term bevestig.
Die verskynsel van die buitestaander hang in die moderne literatuur saam met die mens se toenemende vereensaming in 'n gemeganiseerde wêreld en 'n toenemende afname in kommunikasie met die medemens.
Een van die opvallendste kenmerke van die buitestaander is dat hy nêrens tuishoort nie. Hy vorm nie deel van enige groep of 'n familie nie. Wanneer hy wel daarin opgeneem word, is dit feitlik altyd onwillig, en is dit ook net tydelik van aard.
Die buitestaander is dikwels 'n sensitiewe persoon wat probleme ondervind om in die lewe self aan te pas. Dit hang saam met die feit dat hy nie maklik in een of ander kring opgeneem word nie, bv. David in Karel Schoeman se By fakkellig. Afgesien daarvan dat die buitestaander moeilik in die lewe aanpas, distansieer hy hom partykeer selfs willens en wetens daarvan, bv. Philip Taads en sy pa in Cees Nooteboom se Rituelen.
Die buitestaander is nie baie kommunikatief nie. Hy praat nie graag oor homself nie en veral nie uit eie beweging nie, bv. Nikolaas in Die hemeltuin (Karel Schoeman). Die buitestaander is dus 'n geslote figuur.
Vanweë sy onbetrokkenheid kom die buitestaander dikwels ongevoelig voor, bv. Meursault in Camus se L'étranger.
As gevolg van die feit dat die buitestaander 'n randfiguur is, ondervind hy dikwels 'n gevoel van vreemdheid en onwerklikheid. Daarom gee hy dikwels pad uit 'n bepaalde situasie en is hy menigmaal 'n reisende figuur. Die situasie waaruit hy padgee, is soms die lewe self, bv. Andreas in die televisiedrama Die buitestaander van Frans Marx.
'n Ander soort buitestaander wat 'n mens aantref, is die onpraktiese romantiese dromer, soos vergestalt in Goethe se Die Leiden des jungen Werthers.
Die buitestaander is soms nie uit eie keuse 'n buitestaander nie; hy is 'n randfiguur omdat die gemeenskap hom om een of ander rede uitstoot, bv. die reus van Welgevonden in Etienne Leroux se romans oor die Silbersteinfamilie. Soms dwing bepaalde gebeure 'n persoon om 'n buitestaander te wees, soos Max Delport in Mahala (Chris Barnard) wat a.g.v. van een of ander gebeurtenis uit sy verlede iewers in Afrika wegkruip en nie met ander mense wil assosieer nie. Die buitestaander is soms 'n uitgeworpene a.g.v. die soort wêreld waarin hy beweeg, bv. die ek in André P. Brink se kortverhaal "Dertien" wat a.g.v. sy nagwerk en die gemeganiseerde syferwêreld waarin hy leef met geen mens kontak maak nie.
Kinders is dikwels buitestaanders, soos die kind in Mahala wat alleen speel en met niemand praat nie. Smuts (1975: 18) noem ook die voorbeelde van die kind in Die onterfdes en Mens-alleen (Jan Rabie).
Die EKSISTENSIëLE buitestaander is 'n figuur wat voortvloei uit die filosofie van Kierkegaard en Nietzsche. Hierdie buitestaander het geen lewenswaardes nie. Hy leef in 'n soort niet en bestaan net van oomblik tot oomblik. Die verlede of toekoms is nie vir hom van belang nie. Keuses wat gemaak word, word gemaak op grond van die gegewe in die situasie van die betrokke oomblik waarin hy hom bevind. Meursault kan as 'n eksistensiële buitestaander beskou word.
Die buitestaander is gewoonlik ook 'n antiheld, bv. Max Delport, Nikolaas, Meursault en die reus Adam Kadmon in die Silbersteinromans.
(Vgl. ook ANTIHELD.)
Bibliografie
Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria: Academica.
Smuts, J.P. 1975. Karakterisering in die Afrikaanse prosa. Kaapstad: HAUM.
Anna-Marie Bisschoff