COMMEDIA DELL'ARTE
Die commedia dell 'arte (It.: komedie van die gilde) was 'n toneelgenre van 'n toneelgilde wat in Noord-Italië teen 1550 deur 'n klein groepie beroepstoneelspelers gestig is. Die commedia dell'arte is waarskynlik Romeins van oorsprong. Soos die naam aandui, het hulle KOMEDIES opgevoer.
Die kunstenaars van die commedia dell 'arte het nie van 'n amptelike teks af gewerk nie. Die dialoog is in 'n groot mate geïmproviseer. Daar is wel 'n paar repetisies gehou om die basiese besonderhede uit te werk. Karakters wat uitgebeeld is, was stereotipes. Die manlike karakters was bv. die nar, die kaptein, die dokter; die bediendes was die harlekyne, Brighella en Scapino. Die vrouekarakters was o.a. Inamorata, die bediende (Isabella, Celia, e.a.) – sy was gewoonlik verlief op een van die bediendes, asook die canterina en die ballerina wat tussenspele gelewer het. Een speler het dikwels voortdurend dieselfde rol vertolk.
Die PLOT (meestal ontleen aan Plautus, Terentius en hulle Italiaanse navolgers) waarmee hulle gewerk het, het gewoonlik met liefdesintriges te doen gehad. Karakters van alle ouderdomme en klasse was daarby betrokke. Die sukses van 'n bepaalde opvoering het dikwels van die spelers se vernuf afgehang. Gedigte was dikwels vervleg met die dialoog en handeling en die gebeure het gewoonlik ook 'n gelukkige einde gehad.
Die kostuums was gewoonlik ook stereotiep. Die hansworse en ou mans het maskers gedra; die nar het 'n rooi en swart langbroek gedra, met 'n mantel en pet; Arlecchino (harlekyn) het veelkleurige klere gedra, 'n pet met 'n haasstert en 'n houtswaard; die dokter het 'n universiteitstoga gedra en 'n masker gevlek met wyn; die minnaars was gewoonlik modieus geklee.
Die lede van die commedia dell 'arte het hulle inspirasie meestal uit die volkshumor geput. Die stukke het dikwels 'n boertige karakter gehad. Die toneelgroepe het gewoonlik uit agt of nege mans en drie of vier vroue bestaan.
Die commedia dell'arte was 'n vorm van lae komedie. Later kry 'n mens die gemaskerde komedie waarin die akteurs gewoonlik maskers gedra het en elkeen sy eie dialek gepraat het.
Die commedia dell'arte het 'n groot invloed op die Europese DRAMA gehad, bv. op die 18e-eeuse Engelse pantomime. Die invloed staan ook i.v.m. die feit dat die akteurs van die commedia dell'arte baie gereis het, veral na Frankryk. Die commedia dell'arte het ook 'n groot invloed gehad op dramaturge soos Shakespeare (bv. Comedy of Errors), Lope de Vega, Jonson, Molière, Goldoni en die Weense volkstoneel van Stranitzky tot Raimund en Nestroy.
Die hoofgeselskappe van die commedia dell'arte was die Confidenti, die Uniti en die Gelosi.
Teen 1700 het daar verval by die commedia dell 'arte ingetree toe dit verdring is deur die Franse toneel en MELODRAMA. Slegs in Kopenhagen het dit tot in die 20e eeu bly voortbestaan.
(Vgl. ook BAROK.)
Raadpleeg ook:
Pandolfi, V. 1957. La commedia dell'arte. Firenze: Edizioni Sansoni Antiquarito.
Taviani, F. 1969. La commedia dell'arte e la societa barocca. Roma: Bulzoni Editore.
Oreglia, G. 1968. The commedia dell'arte. London: Methuen.
Hoyle, M.L. 1984. "Commedia dell’Arte: The Image of Comedy". In: Cowan, L. (ed.). The Terrain of Comedy. Dallas: Dallas Inst, of Humanities & Culture.
Ekelof, G. 1984. Commedia dell'arte. Sallskapet: Bokvannerna.
Esrig, D. et al. 1985. Commedia dell'arte: Eine Bildgeschichte der Kunst des Spektakels. s.l.: Delphi.
Gordon, M. 1981. Lazzi: The Comic Routines of the Commedia dell'arte. Performing Arts Resources, 1.
Mariti, L. & Baratto, M. 1980. Alle origini del teatro moderno: La commedia dell'arte. Atti del convegno di studi. Pontedera, 28, 29, 30 maggio 1976.
Anna-Marie Bisschoff