CONTE

Die term conte (Fr.: vertelling) word dikwels in verskeie en botsende betekenisse gebruik. Dit kan op tweërlei wyse verstaan word. In die wydste sin van die woord verwys conte na enige VERTELLING; in 'n enger sin verwys dit na 'n kort vertelling in prosa- of poësievorm. Die conte is korter as 'n ROMAN maar langer as 'n NOVELLE. Die term het oorspronklik in Frans verwys na 'n kort verhaal of 'n avontuur. Gedurende die 19e eeu was die conte in Frankryk 'n kort verhaal met 'n hegte PLOT, 'n Voorbeeld hiervan is die werk van Guy de Maupassant. Dit is dus 'n verhaal met 'n hegter konstruksie as 'n novelle. In Engeland word die term dikwels gebruik om te verwys na enige verhaal wat langer as 'n KORTVERHAAL maar korter as 'n novelle is. Sedert die 19e eeu word conte gebruik om na enige kort verhaal te verwys, bv. Flaubert se Trois contes.

 

Die mees aanvaarbare siening is dat die conte verwant is aan die novelle, maar dat dit daarvan verskil in die opsig dat by die con­te die eis van waarskynlikheid verval. Daarom word die term gewoonlik gebruik om te verwys na vertellings waarin die fantasie 'n rol speel. Hulle word contes merveillieux genoem en sluit die SPROKIE in (contes de fées), bv. Perrault se Contes de ma mère l'Oye; contes philosophiques (verhale met 'n didaktiese inslag wat veral in die 18e eeu gewild was), bv. Voltaire se Candide; en contes fantastiques, bv. die contes van Guy de Maupassant en Poe.

 

Die conte is dikwels ALLEGORIES en moraliserend van aard. Hier kan die contes van La Fontaine genoem word, bv. Amours de Psyché et Cupidon, Swift se Gulliver's Travels, Voltaire se Zadig en Johnson se Rasselas.

 

Bibliografie

 

Castex, P-G. 1951. Le conte fantastique en France de Nordier à Maupassant. Paris: Corti.

 

Joasson-de Villiers, E. 1985. Metamorphoses du conte, du conteur et du conte dans 'La fleur sacrée' de George Sand. In: Glas­gow, J. (ed.). George Sand: Collected Essays. Troy, N.Y.: Whitson.

 

Propp, V. 1968/1979. Morphology of the Folktale (revised and edit­ed by Louis A. Wagner and a new introduction by Alan Dundes). Austin: University of Texas Press.

 

Anna-Marie Bisschoff