IMAGISME
Die Imagisme (Imagism) was 'n digterlike skool met 'n kort maar invloedryke bestaan waaraan Britse en Amerikaanse digters behoort het. Hierdie groep het die volgende digters ingesluit: Ezra Pound, Amy Lowell, William Carlos Williams, Richard Aldington, H(ilda) D(oolittle) en F.S. Flint. T.E. Hulme was nie 'n lid van die groep nie, maar het heelwat van die teoretiese begronding vir die beweging verskaf. Die invloed van die Franse SIMBOLISTIESE digkuns en die toentertydse onlangs "ontdekte" versvorme en tegnieke van die Japannese en Chinese digkuns is ook van belang.
Pound het die imagistiese opvatting van die digkuns vir die eerste maal in 1912 aangekondig en in samewerking met F.S. Flint heelwat reklame daarvoor gemaak in die tydskrif Poetry wat gestig is in die daaropvolgende jaar. In 1914 publiseer Pound die eerste versameling verse in hierdie styl, nl. Des Imagistes: an Anthology. Pound het spoedig ander bewegings gestig, en Amy Lowell het haar leierskap bevestig deur die publikasie van drie verdere versamelwerke (almal met die titel Some Imagist Poets) in die loop van die tydperk 1915 tot 1917. Pound het in hierdie periode daarvan gehou om neerhalend na die beweging te verwys as Amygism. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die groep uitmekaargespat en het die Imagisme as 'n onafhanklike beweging in die poësie opgehou om te bestaan.
Indien 'n mens die Imagisme slegs as 'n episode in die Engelse poësie beskou, was die bestaan daarvan te kort om van veel belang te wees; die term het eintlik slegs bly voortbestaan omdat 'n hele paar van die aanvanklike lede later groot statuur as digters verwerf het. Die werklike belangrikheid van die Imagisme kom duidelik na vore as dit gesien word as 'n fase binne die algemene ontwikkeling van die MODERNISTIESE poëtiek oor die digkuns, 'n fase waartydens rigtinggewende norme en opvattinge uitgewerk en opgeklaar is.
Die programmatiese artikels in Poetry en die voorwoorde tot die bloemlesings verskaf saam die manifesto van die Imagisme. Wat daaruit aan die lig kom, is 'n selfbewuste revolusionêre houding t.o.v. die digterlike taal en struktuur. Die Imagisme verwerp die poësie van die stelling of die boodskap, en poog om diskursiewe kommentaar te vervang met skerp afgeëtste beelde. Aan helderheid, bondigheid en konkreetheid is in beginsel 'n hoë waarde toegeken, hoewel dit nie konsekwent in die praktyk verwesenlik is nie, terwyl die bespiegelende, veralgemenende styl van die laat 19e-eeuse poësie verwerp is.
Terwyl die fundamentele strekkings in die Imagisme duidelik genoeg is, het nòg die skool, nòg sy voortbrengsels voldoende uniformiteit of outonomie besit om die Imagisme volledig van ander strominge binne die algemene poëtiese gistingsproses van die periode te onderskei. 'n Gedig soos Pound se "In a station of the metro" is 'n voorbeeld van die Imagisme in sy kernagtigste vorm en toon ook spore van die Oosterse invloed wat so 'n beslissende rol gespeel het: "The apparition of these faces in the crowd: / Petals on a wet, black bough". Dog nie alle poësie wat onder die vaandel van die Imagisme gepubliseer is, was soos hierdie voorbeeld nie. Die betekenis van die Imagisme vir die ontwikkeling van die 20e-eeuse poësie in Engels lê nie soseer in sy direkte invloed nie as in sy beklemtoning van die *beeldspraak, sy eksperimentering met die vorm en die *ironie, asook in sy vermyding van die tradisionele digterlike segging en sintaksis. Feitlik alle moderne Engelstalige poësie, met inbegrip van die latere werk van Yeats, is deur hierdie norme gevorm.
(Vgl. EKSPRESSIONISME en SIMBOLISME.)
Bibliografie
Aldington, R. 1914. Modern poetry and the Imagists. The Egoist, 7.
Hulme, T.E. 1924. Speculations. New York: Harcourt & Brace.
Pratt, W.C. 1963. The Imagist Poets. New York: Dutton.
N.W. Visser