PARADOKS
'n Paradoks (Gr.: paradoxes: para: naas + doxa: mening) is 'n uitspraak wat aanvanklik lyk of dit 'n teenstrydigheid bevat, maar by nader beskouing tog versoenbaar is, bv. "koue vuur" of "om te lewe moet jy sterwe". Die paradoks staan ook in noue verband met IRONIE omdat ironie met teenstellings werk.
Die term is aanvanklik in die logika gebruik vir 'n stelling wat van die gangbare denkpatrone afgewyk het maar wat nie as onjuis bewys is nie. Dit kom dikwels in die Stoïsynse filosofie voor.
Deur middel van 'n paradoks word 'n denkbeeld op 'n ongewone manier geformuleer. Dit vestig dus die aandag op die formulering as sodanig (in die SEMIOTIEK word daarna as linguistiese vooropstelling verwys). Die paradoks "startles us out of an accustomed attitude" (Brooks & Warren, 1950: 438) en "tends to provoke a certain mental alertness" (Brooks & Warren, 1950: 387). In Moderne encyclopedic der wereldliteratuur (1970: 384) noem Janssens die paradoks slagvaardig. Dit is egter nie 'n geskikte redenasiemiddel nie. Dit is die stylmiddel van die denker, die digter en die profeet, maar die redenaar, die wetenskaplike en die rasionalis maak baie min daarvan gebruik. Brooks (1949: 3) stel dit so: "Paradox is the language of sophistry, hard, bright, witty; it is hardly the language of the soul. ... Our prejudices force us to regard paradox as intellectual rather than emotional, clever rather than profound, rational rather than divinely irrational." Hy spreek dus 'n teenoorgestelde mening as Janssens uit wat die paradoks juis sien as die werktuig van die irrasionele.
Die paradoks was 'n geliefde stylmiddel in die klassieke retoriek. Die Grieke het die term ook daarbuite gebruik om te verwys na opvallende en buitengewone aangeleenthede. 'n Mens tref dit bv. in die Odusseia en elders by Homeros aan. Die beoefenaars van die paradoks is paradoksograwe genoem. Die paradoks is ook dikwels deur die humaniste gebruik. Erasmus van Rotterdam se werk Lof der Zotheid is gebaseer op 'n paradoks, nl. dat die dwaasste mens ook die wysste mens is. 'n Mens tref dieselfde idee in Cervantes se Don Quijote aan. In die BAROK het die paradoks ook sterk gefigureer, veral in die MARINISME, GONGORISME en die METAFISIESE DIGKUNS. In die ROMANTIEK het die paradoks eweneens dikwels voorgekom, bv. in Multatuli se Ideën. Filosowe soos Nietzsche en Kierkegaard se geskrifte wemel ook van paradokse. Dit kom ook voor by Shaw en Chesterton. Die paradoks kom verder volop voor in die moderne Angelsaksiese literatuurkritiek en die NEW CRITICISM, veral by Cleanth Brooks wat dit as 'n fundamenteel poëtiese element sien: "... the language of poetry is the language of paradox" (Brooks, 1949: 3). Volgens Brooks is die kunstenaar se benadering nooit direk nie, maar altyd indirek, vandaar dat hy baie meer dikwels van paradokse gebruik maak as wat 'n mens vermoed of wat dit op die oog af lyk. Selfs die digter wat dinge op die direkste manier stel "is forced into paradoxes by the nature of his instrument" (Brooks, 1949: 10). Hy sien die gebruik van die paradoks as "an extension of the normal language of poetry, not a perversion of it".
Bibliografie
Brooks, C. 1949. The Well-wrought Urn: Studies in the Structure of Poetry. London: Dobson.
Brooks, C. & Warren, R.P. 1950. Understanding Poetry. New York: Holt.
Daiches, D. 1957. Poetry and paradox. In: Daiches, D. Critical Approaches to Literature. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.
Anna-Marie Bisschoff