POSTMODERNISME
Die term Postmodernisme is na die Tweede Wêreldoorlog aangewend om 'n nuwe rigting in die kunste en letterkunde te beskryf. Postmodernisme is nie 'n absolute wegbeweeg van die *Modernisme af nie. Die Modernisme het ontstaan toe kritiek teen die lineariteit, die oorsaaklikheid, die essensie, die transendentale, die objek, die nie-problematiese betekenisgewing van die vorige era ontstaan het. Dit het gebeur omdat die Modernisme van die relatiwiteitsbeginsel bewus geword het, en uit hierdie relatiwiteitsbewussyn het die postmoderne legitimasiekrisis ontstaan. Die Postmodernisme se verwerping van legitimasie het dus sy wortels in die Modernisme se kritiek teen totaliserende sisteme. Hierdie verwerping van legitimasie lei daartoe dat die Postmodernisme 'n topologiese aard vertoon.
Teenoor die mimetiese aard van tradisioneel-realistiese fiksie en die relatiwiteitsbewussyn van die Modernisme, vertoon die Postmodernisme op sy beurt 'n topologiese veranderlikheid.
Die verskil tussen die Postmodernisme en tradisioneel-realistiese fiksie kan verduidelik word m.b.v. die twee verskillende logikas waarop dié twee rigtings berus. Julia Kristeva (Moi, 1986: 41; Zepp, 1982: 81) het 'n Zero-1-logika van 'n Zero-2-logika onderskei wat gebruik kan word om die verskil te verduidelik.
Zero-1 is die tradisioneel-dialektiese logika wat uit duidelik teenoormekaarstaande dualiteite bestaan waarvan die een komplement dié waarheid of dié essensie bevat. Die "1" is dus die wet of die definisie waarvolgens die logika hom rig. Dit is 'n sisteem van die "uitgeslote derde". Hierdie wet het konformisme tot gevolg, wat verskille onderdruk. Hier is die basis van betekenis dus 'n grondliggende sisteem, 'n outoritêre stem. Dit is die grondliggende logika van tradisioneel-realistiese fiksie.
Zero-2-logika oorskry die "1" van Zero-1 en bevat dus nie 'n wet wat die logika rig nie. Dit is 'n transgressie van die wette, definisie, monologisme van die Zero-1-sisteem. Die outoritêre element is hier uit die weg geruim, die basiese wet van opposisies en klassifikasies is versteur. Daar is dus veel meer moontlikhede as sisteme wat basies òf waar òf vals is. Dit is die grondliggende logika van postmodernistiese fiksie. Ons sien dit in die feit dat die Postmodernisme legitimasie ontken. Die Postmodernisme weier om aan enige enkele sisteem 'n beherende posisie toe te ken.
Totaliserende sisteme word hier nie toegelaat nie, en meestervertellings oorheers nie meer nie. Ons sien hoedat die Zero-2-logika van postmodernistiese fiksie die Zero-1-interval oorskry in sy verwerping van die grondbeginsels van tradisionele fiksie, nl. "selfgenoegsame betekenisvorming" en "mimesis". Met *mimesis as basis was tradisionele fiksie vir die leser verstaanbaar en betekenisvol, en op die basis hiervan en van die voortgang na die uiteindelike "betekenis van die teks" is die PLOTSTRUKTUUR gevorm. "Mimesis" en "betekenis" was die twee ankerpunte van tradisioneel-realistiese fiksie — die wet, die 1 van die Zero-1-logika. Die verwerping van die ankerpunte lei daartoe dat die teks "drywend" word, en in die soeke na "betekenisvorming" begin drywende stelsels topologies optree: omdat daar geen rigtinggewende ankerpunte meer is nie, verval die duidelike afbakening van grense, en neem die Postmodernisme sy posisie op die oorskryding van grense in. Vandaar die wêrelde binne wêrelde wat ons in postmodernistiese fiksie vind, die oorskryding van grense tussen "binne" en "buite", die betreding van die kunswerk deur skrywer en leser. Omdat die ouktoriële DISKOERS in postmodernistiese fiksie 'n onopgeloste interaksie van diverse diskoerse word wat oor grense heen kommunikeer, het ons hier 'n topologiese denkwyse wat op Zero-2 gegrond is.
Topologiese vorme wat gebruik kan word om die Postmodernisme mee te demonstreer, is "homeomorfiese transformasies", die "Klein-vorm", en die "Moebius-strook". Geometriese figure wat topologiese transformasies van mekaar is, is homeomorfies. 'n Sirkel, 'n vierkant, 'n sfeer of 'n kubus is bv. homeomorfies, want die een kan topologies verander word in die ander deur dit te buig of te rek, sonder om dit te skeur, te sny of te vou (Keen, 1987: 363). Die Klein-vorm is volgens Brodey (1971: 4) 'n bottel of 'n wurm wat in homself invou sonder om 'n opening te laat by die plek waar hy in homself inbeweeg. Die Klein-vorm se binnekant is ook sy buitekant.
In die topologiese vorm kan enige deel van die vorm 'n ander deel aanraak, kontak daarmee maak of daarmee kommunikeer. Die een deel kan in die ander vloei, en die dele en geheel vloei mettertyd deurmekaar. Die vorm het 'n kwaliteit van deurlopendheid en terselfdertyd binne-insluiting of invouing. Vir die eerste keer het ons 'n vorm wat jou toelaat om oor iets te praat wat in sigself bevat is. Die homeomorfiese vormveranderings van die topologie, die topologiese invou van die Klein-vorm en die ononderskeibaarheid tussen binne en buite van die Klein-vorm en die Moebius-strook, demonstreer dit wat in die postmodernistiese fiksie gebeur, baie goed. "Realiteit" vloei die "Klein-bottel" se opening binne. Daar is dus nie meer 'n waterdigte skeiding tussen binne en buite nie. Daar gebeur ook verskillende dinge met die begrensings tussen ontologiese entiteite: die een vervorm topologies in die ander, superponering vind plaas ('COLLAGE"), inbedding ("Chinese boxes"), ens.
Hierdie topologiese aard kan uit die verskillende beskrywings van heel wat skrywers oor die Postmodernisme afgelei word.
Verskeie skrywers soos Jean-Francois Lyotard, Gerald Graff, Victor Burgin, Douwe Fokkema, David Lodge, Brian McHale, Diab Hassan, Andreas Huyssen, Fredric Jameson, Terry Eagleton, Linda Hutcheon, Hal Foster en Leslie Fiedler het die Postmodernisme beskryf. Omdat die Postmodernisme self nie 'n enkelvoudige begrip is nie, het hierdie teoretici die klem dan ook op verskillende aspekte daarvan laat val. Jameson, Graff, Huyssen, Foster, Fiedler, Hutcheon en Hassan beklemtoon die manier waarop die Postmodernisme die gaping tussen die Modernisme en populêre kultuur oorbrug het. Fokkema, Lodge, Lyotard, Burgin, Hutcheon, Hassan, Jameson en Graff lê klem op die wantroue teenoor meestervertellings en die vooropstel van heterogeniteit in die plek van enige totaliserende sisteem. Graff, Hassan, Eagleton, Fokkema en McHale beklemtoon op hul beurt die verdwyning van die onderskeiding fiksie/realiteit.
Wilhelm Liebenberg (1988: 274) onderskei drie dominante temas wat hy uit bg. teoretici van die Postmodernisme se benaderings geabstraheer het, nl.:
1. Wantroue teenoor meestervertellings
Terwyl die modernis nog probeer om chaos te orden, staan die postmodernis skepties teenoor die oplegging van enige orde op die wêreld. Die Postmodernisme gee voorkeur aan kontradiksie, onsamehangendheid, toeval, permutasie, enumerasie en 'n heterogeniteit van style wat uit verskillende genres en periodes geneem is.
2. Fiksionalisering van die realiteit
In hierdie opsig verskil die Postmodernisme aansienlik van die REALISME. Die Postmodernisme probeer nie meer die buitewêreld of die bewussynswêreld vasvang nie. Dit staan selfs skepties teenoor die bestaan van so 'n realiteit. Dit wil nie meer die buitewêreld verteenwoordig nie, maar begin sy eie wêrelde skep. Die skeidslyn tussen werklikheid en illusie, droom en FANTASIE vervaag.
3. Die omarming van massakultuur
Hier wyk die Postmodernisme radikaal van "high-modernism" af, deur sy hooghartige houding teenoor massakultuur uit te daag. Dit wend modernistiese en AVANT-GARDE-strategieë vir populêre genres aan, en vorm so 'n skeppende verhouding met die populêre kultuur.
Bogenoemde drie dominante temas wat Liebenberg uit die definiërings van die verskillende teoretici van die Postmodernisme geabstraheer het, kan na 'n dominante modus van die Postmodernisme teruggevoer word, nl. topologie. Die eerste dominante tema, "wantroue teenoor meestervertellings", dui op 'n staat waarin geen meestervertelling oorheersend is nie, en dit is 'n topologiese toestand: hier is geen gietbak meer wat vormbepalend is nie, en ons kry topologiese vervloeiing, of homeomorfiese veranderlikheid. Die tweede dominante tema, nl. "die fiksionalisering van realiteit", is vergelykbaar met die topologiese "Klein-vorm" of "Moebius-strook" waar daar nie meer 'n onderskeid tussen binne en buite is nie. Die derde tema, nl. "die omarming van massakultuur", is soos die Klein-vorm met sy opening wat nie gesluit is vir hoë of lae vorme nie.
Deur van die topologiese begrip gebruik te maak om die Postmodernisme te identifiseer, kan die twee belangrikste fasette van die Postmodernisme gelyktydig gedemonstreer word. Dit demonstreer die opheffing van dit wat eie was aan tradisioneel-realistiese fiksie, en terselfdertyd demonstreer dit ook die Postmodernisme se eie onbegrensdheid. Kyk mens na Hassan (1986: 504) se identifisering van die dekonstruktiewe en rekonstruktiewe kenmerke van die Postmodernisme, word hierdie twee topologiese fasette duidelik gedemonstreer. Die dekonstruktiewe kenmerke oorskry die wette wat onderliggend was aan tradisioneel-realistiese fiksie, nl. die wette van bepaaldheid, totalisering, kanonisering, selfheid en diepte, en die verteenwoordigingsbeginsel. Die oorskryding van hierdie wette lei dan tot wat Hassan as dekonstruktiewe kenmerke van die Postmodernisme beskou het, nl. onbepaaldheid ("indeterminacy"), fragmentasie ("fragmentation"), dekanonisering ("decanonization"), ontkenning van geslotenheid, eenheid en die self ("selflessness, depthlessness"), ontkenning van representasie ("the unrepresentable unrepresentable").
Hierdie vyf dekonstruktiewe kenmerke van Hassan kan na die twee hoofbeginsels waarop tradisionele fiksie gebaseer is, gereduseer word. nl. "eenledige betekenisvorming" en "die metafisika van verteenwoordiging (mimesis)": Die verbreking van eenledige betekenisvorming lei tot onbepaaldheid, fragmentasie, dekanonisering en die ontkenning van geslotenheid, terwyl die verwerping van mimesis tot die ontkenning van REPRESENTASIE lei. Dit is dan juis die ontkenning van hierdie twee grondbeginsels van tradisionele fiksie wat tot die topologiese aard van postmodernistiese fiksie lei.
Hassan se ses rekonstruktiewe kenmerke demonstreer op hul beurt die topologiese aard wat deur die postmodernistiese fiksie aangeneem word, nl. IRONIE (in die vorm van spel, binnespel, selfrefleksie), hibridisering ("hybridization") ('n vermenging, verbastering van vorme oor genregrense heen), die karnavaleske ("Carnavalization") (waarin gevestigde norme opgehef word deur die karnaval se wette), handeling en deelname ("performance, participation"), konstruktivisme ("constructionism") (die klem val op die kunsmatig-gekonstrueerdheid van die werke) en immanensie ("immanence") (waarin kultuur 'n immanente semiotiese sisteem word).
Hassan se dekonstruktiewe eienskappe verwys dus na die vernietiging van die grondliggende sisteme van tradisionele fiksie, met eienskappe van 'n topologiese aard wat in die plek daarvan gestel word, terwyl die rekonstruktiewe eienskappe duidelik op topologie dui.
Die postmodernistiese literêre teks se "onrealistiese" kommunikasie tussen skrywer en karakter, die inbeweeg van die fiksie binne homself, die vermenging van sprokie en realiteit, kan slegs begryp word as die topologiese aard van hierdie fiksie ingesien word. Die topologie word hoofsaaklik gevind in die oorskryding van grense tussen ontologiese wêrelde, en in die pluralistiese diskoerse van die dialogisme waar dikwels ook 'n topologie van diskoerse aangetref word.
Grense tussen ontologiese wêrelde word op verskillende maniere in die postmodernistiese teks oorskry. Wanneer die wet wat binne van buite skei, verontagsaam word, m.a.w. wanneer die grense tussen skrywer, teks en leser oorskry word, het dit die vorming van 'n topologiese subjek tot gevolg. Hierdie subjek kan slegs binne die topologie van die teks bestaan omdat skrywer en leser deur die topologiese opening verdwyn het en deel geword het van die bioptemiese sisteem binne die teks self. In hierdie situasie kan die skrywer selfs deur die "karakters" bedreig word! In Flann O'Brien (1971) se At swim-two-birds beplan die karakters 'n muitery teen die skrywer, Trellis. Nadat hulle uitgevind het dat Trellis nie "absolute beheer" kan hê in sy slaap nie, voer hulle hom met verdowingsmiddels en tree nie op soos die skrywer beplan het nie. Die muitery bereik sy klimaks as hulle die skrywer verhoor. Trellis sou dan ook aan die hand van sy karakters omgekom het, was dit nie vir 'n diensmeisie van die hotel wat daardie bladsye van die manuskrip verbrand het nie. Soos in die Klein-vorm, word binne en buite nie meer geskei nie.
Wanneer die skrywer die teks (Klein-vorm) selfrefleksief betree, kry ons 'n topologiese invou in die teks self in, en dit kan lei tot bioptemiese interaksie tussen die verskillende ingebedde vlakke. Die wêrelde van primêre en ingebedde tekste raak soms so vermeng dat daar dikwels nie meer tussen hulle onderskei kan word nie. In Die hemel help ons van Koos Prinsloo (1987) kry ons doelbewuste verwarring tussen primêre en ingebedde wêrelde. Teen die einde is die wêrelde heeltemal inmekaargeskuif: Die *karakter is die skrywer en die werklikheid is die storie.
In Theresa se droom van Fransi Phillips (1988) sien ons hoe die grense tussen die verskillende ingebedde vlakke verbreek is, en topologiese invloeiing oorneem: Die diamant uit haar droomwêreld in vlak drie help haar om uiteindelik haar droom in die werklike wêreld van vlak een te laat waar word. Ons kry hier dus nie slegs 'n topologiese inbeweeg van die onderskeie vlakke in mekaar nie, maar hulle reageer op mekaar sodat die hele proses en ook die uitkoms van die verhaal daardeur aangetas word.
Topologiese verandering vind ook tussen die verteldaad en die leesdaad plaas. In "Die bruid" van A.H. de Vries (1988) werk die primêre verhaal op die ingebedde verhaal in as die grense tussen skryf- en leesdaad oorskry word, en die gegewens vanuit die primêre verhaal deur die leser reagerend op die ingebedde verhaal inwerk. Die ingebedde verhaal kan nie sonder die leser tot stand kom nie, en die leser verkry eers die volle betekenis uit die primêre vlak wat slegs deur die skryfdaad van die skrywer geskep word.
'n Verdere oorskryding van ontologiese grense in postmodernistiese fiksie vind ons in die topologiese integrasie van die geskiedenis. In hierdie verband maak McHale (1987: 84-96) 'n onderskeid tussen apokriewe geskiedenis, skeppende anachronisme en historiese fantasie. Historiese grense word oorskry, verlê, of oor mekaar geplaas, of geskiedenis en die fantastiese word met mekaar geïntegreer. In The Public Burning van R. Coover (1977) word geskiedenis en die fantastiese selfs binne 'n enkele karakter geïntegreer wanneer die historiese president Eisenhower die inkarnasie van Uncle Sam gemaak word.
Die topologiese aard van Postmodernisme kom ook na vore as bekende ruimtelike grense so oorskry word dat nie-aangrensende sones aangrensend word, vreemde ruimtes in bekende ruimtes ingetrek word, en ruimtes oor mekaar geplaas word. In Italo Calvino (1978) se Invisible Cities kry ons geen afbakening nie, geen spesifiek afsonderlike ruimtes vir elke stad nie. Blykbaar lê hulle oormekaar en inmekaar. Dit word 'n topologiese sone.
Uit bostaande is dit duidelik dat die Postmodernisme dikwels in die oorskryding van grense fungeer. Hierdie werking oor grense heen kan slegs in 'n topologiese situasie geskied, en daar spruit ook dikwels, a.g.v. die topologiese werking, iets nuuts daaruit voort: uit die topologie van skrywer en leser ontstaan die postmodernistiese subjek; die topologiese werking binne die mise-en-abyme affekteer nie net die proses van die verhaal nie, maar ook die uitkoms van die verhaal; uit die oorskryding van historiese en ruimtelike grense word nuwe sones en topologiese tydperke gevorm.
Naas die topologie van ontologiese wêrelde kry ons ook 'n topologie van diskoerse in die postmodernistiese teks. Ons het reeds gesien dat die Postmodernisme homologisme verwerp en dialogisme akkommodeer. Binne hierdie pluralistiese diskoers vind ons 'n verdere topologiese manifestasie as daar 'n vloeibare oorganklikheid tussen die diskoerse plaasvind en die teks sodoende binne 'n sisteem van hegte interkonneksie geplaas word: die teks staan nou binne gebeure wat gebeure affekteer, en ons kry 'n topologie van diskoerse.
In Louoond van Jeanne Goosen (1987) kom die topologie van diskoerse duidelik na vore. Daar vind 'n topologie tussen die diskoerse van godsdiens en revolusie plaas as die Armeense vrou se kerk uit aktivistiese massas bestaan. Ons vind die topologie ook tussen die diskoerse van revolusie en evolusie, kuns en revolusie, kuns en evolusie. In die teks gaan hierdie topologieë oor in die vorming van 'n nuwe diskoers, nl. die diskoers van "lewe", wat teen die einde in die proses van revolusie/evolusie lê, en teen die verstarring van dogma gestel word. Die topologie wat tussen veral die diskoerse evolusie/revolusie plaasvind, het 'n nuwe diskoers, nl. die diskoers van "lewe", wat ook as onvoltooidheid getoon word, tot gevolg. Die diskoers wat uit die topologie gevorm is, maak die titel van die roman duidelik: Die louoond is die plek waar bevrugting kan plaasvind, sodat lewe kan ontstaan. Sonder bevrugting bly die stoof 'n "swygende maagd". En bevrugting vind plaas d.m.v. die pen wanneer die geskrewe manuskrip in die louoond geplaas word. In die skryf van die teks lê die lewe daarvan, hetsy deur skrywende of lesende subjekte.
Die topologie van die postmodernistiese teks word dus nie slegs gevorm wanneer grense tussen ontologiese wêrelde oorskry word nie, maar ook wanneer die pluralistiese diskoerse in die teks sodanig op mekaar begin inwerk dat hulle topologies begin ineenvloei. In die topologiese ineenvloeiing van dialogistiese diskoerse word monologisme geheel en al ontken. Die teks is dus vry van voorafbepaalde waardes, en dit gee aanleiding tot die oordadige gebruik van taboevorme. In baie postmodernistiese tekste domineer beelde van steriliteit: miskrame, aborsie, onanie, homoseksualiteit, soos in Naked Lunch van Burroughs (1966) en ook in Koos Prinsloo (1987) se kortverhaalbundel Die hemel help ons. In baie postmodernistiese tekste word 'n obsessionele uitbeelding van die seksdrang gevind, bv. Etienne van Heerden (1988) se kortverhaal "Liegfabriek". Uit hierdie oordadige gebruik van taboevorme spruit 'n verdere selfrefleksiewe strategie: Omdat die grense tussen fiksie en realiteit oorskry is, is dit vir die postmodernistiese skrywer moontlik om die liefdesverhouding op die vlak van die plot oor te plaas na die driehoek tussen skrywer, teks en leser. Op hierdie manier kry ons 'n bedekte selfrefleksiwiteit wat binne die erotiese verhoudings in die fiksie gevind word: deur sy teks wys die skrywer selfrefleksief na die skryfproses. Veral John Barth maak baie van hierdie soort selfrefleksiwiteit gebruik. In sy Lost in the Funhouse (1969) word die teks as 'n saadsel uitgebeeld, en bevrugting moet tussen hom en die leser plaasvind. In Willie Master's Lonesome Wife van William Gass (1971) en in Robert Coover (1969) se Pricksongs and Descants is seks 'n metafoor vir die eenheid van skryf- en leesdade.
In die begrip Postmodernisme vind ons dus eerstens 'n protes teen verinstitusionaliseerde tradisionele gedrag, absolutistiese vorme, homogeniteit. Maar dis juis binne hierdie protes dat die Postmodernisme na die onbegrensde vraag soek, dat hy probeer verhoed dat sy eie diskursiewe en kulturele gewoontes sedimenteer. Dit lei dan tot heterogeniteit, vloeibaarheid, veranderlikheid. Hierdie twee aspekte van die Postmodernisme word in die begrip "topologie" omvat. "Topologie" sluit dus nie net die protes teen die wet in nie, maar ook die vloeibare oorganklikheid waartoe hierdie opstand lei. Weens hierdie oorganklikheid, hierdie oorskryding van grense, staan die Postmodernisme binne gebeure. wat ander gebeure affekteer, en skrywer en leser vorm in die postmodernistiese teks deel van die veranderlikheid, die proses, die "lewe" van die teks, ingebedde vlak affekteer primêre vlak, leser en teks; het onderlinge effekte op mekaar, en dialogistiese diskoerse vervorm topologies en vorm nuwe diskoerse.
Bibliografie
Barth, J. 1969. Lost in the Funhouse. New York: Bantam.
Brodey, W. 1971. Biotopology. Radical Software, 4.
Burroughs, W 1966. Naked Lunch. New York: Grove Press.
Calvino, I. 1978. Invisible Cities (transl. William Weaver). New York: Harcourt Brace Jovanovich.
Coover, R. 1969. Pricksongs and Descants. New York: New American Library.
Coover, R. 1977. The Public Burning. New York: Viking Press.
De Vries, A.H. 1988. Die bruid. In: De Vries, A.H. et al. Die bruid en ander verhale. Pretoria: HAUM-Literêr.
Gass, W. 1971. Willie Master's Lonesome Wife. New York: Alfred A. Knopf.
Goosen, J. 1987. Louoond. Pretoria: HAUM-Literêr.
Hassan, I. 1986. Pluralism in postmodern perspective. Critical Inquiry, 12(3).
Keen M.L. 1987. Topology. Colliers Encyclopedia, 22.
Liebenberg, W. 1988. Postmodernism: Progressive or conservative? JLS/TLW, 4(3).
McHale, B. 1987. Postmodernist Fiction. New York: Methuen.
Moi, T. 1986. The Kristeva Reader. New York: Columbia University Press.
O'Brien, F. 1971. At swim-two-birds. Harmondsworth: Penguin.
Phillips, F. 1985. Sewe & sewentig stories oor 'n clown. Pretoria: HAUM-Literêr.
Phillips, F. 1988. Theresa se droom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Prinsloo, K. 1987. Die hemel help ons. Emmarentia: Taurus.
Van Heerden, E. 1988. Liegfabriek. In: De Vries, A.H. et al. Die Bruid en ander verhale. Pretoria: HAUM-Literêr.
Zepp, E.H. 1982. The criticism of Julia Kristeva. The Romanic Review, 73.
Postmodernistiese ontwikkelings in literatuur en kritiek kan gevind word in:
Bernstein, R.J. (ed.). 1985. Habermas and Modernity. Cambridge: Polity Press.
Bertens, H. & D'haen, T. 1988. Het postmodernisme in de literatuur. Amsterdam: De Arbeiderspers.
Burgin, V. 1986. The End of Art Theory: Criticism and Postmodernity. London: Macmillan.
Christensen, I. 1981. The Meaning of Metafiction. Borgen: Universitetsforlaget.
Eagleton, T. 1985. Capitalism, modernism and postmodernism. New Left Review, 152.
Fiedler, L. 1971. Cross the border — close the gap. In: Fiedler, L. The collected essays of Leslie Fiedler Wol. 11. New York: Stein and Day.
Fokkema, D. & Bertens, H. 1986. Approaching Postmodernism. Amsterdam: John Benjamins.
Foster, H. 1984. (Post)modern polemics. New German Critique, 33.
Graff, G. 1975. Babbitt at the abyss: The social context of postmodern American fiction. Tri Quarterley, 33.
Hassan, I. 1982. The dismemberment of Orpheus. Toward a Postmodem Literature. London: The University of Wisconsin Press.
Hassan, I. 1986. Pluralism in postmodern perspective. Critical Inquiry, 12(3).
Hudson, W. 1988. Postmodernity and criticism. Poetics, 17.
Hutcheon, L. 1983. The carnivalesque and contemporary narrative: Popular culture and the erotic. University of Ottawa Quarterley, 53(1).
Hutcheon, L. 1984. Narcissistic Narrative: The Metafictional Paradox. New York: Methuen.
Hutcheon, L. 1985. A Theory of Parody: The Teachings of 20th Century Art Form. New York: Methuen.
Hutcheon, L. 1987. Beginning to theorise postmodernism. Textual Practice, 1(1).
Huyssen, A. 1984. Mapping the postmodern. New German Critique, 33.
Jameson, F. 1984. Postmodernism, or the cultural logic of late capitalism. New Left Review, 146.
Jencks, C. 1986. What is Postmodernism? London: Academy editions.
Lentricchia, F. 1983. After the New Criticism. London: Methuen.
Liebenberg, W. 1988. Postmodernism: Progressive or conservative? JLS/TLW, 4(3).
Lodge, D. 1977. Postmodernist fiction. In: Lodge, D. The Modes of Modern Writing. London: Edward Arnold.
Lyotard, J.F. 1984. The Postmodern Condition: A Report on Knowledge. B. Manchester: Manchester University Press.
McConnell, F.D. 1977. Four postwar American Novelists. Chicago: University of Chicago Press.
McHale, B. 1987. Postmodernist Fiction. New York: Methuen. Ryan, P. 1985. The postmodern text in recent American fiction. JLS/TLW, 1(4).
Ryan, R. 1988. Introduction: Postmodernism and the question of literature. JLS/TLW, 4(3).
Said, E.W. 1983. The World, the Text and the Critic. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.
Spires, R.C. 1984. Beyond the Metafictional Mode. Directions in the Modern Spanish Novel. Kentucky: The University press of Kentucky.
Stark, J.O. 1974. The Literature of Exhaustion. Durham: Duke University Press.
Stevick, P. 1981. Alternative Pleasures. Postrealist Fiction and the Tradition. Urbana: University of Illinois Press.
Thiher, A. 1984. Words in Reflection. Modern Language Theory and Postmodernist Fiction. Chicago: University of Chicago Press.
Waugh, P. 1984. Metafiction. The Theory and Practice of Selfconscious Fiction. London: Methuen. (New Accents.)
Young, R. (ed.). 1987. Untying the Text. A Poststructuralist Reader. London: Routledge en Kegan Paul.
M. Müller