SAGE
Die woord sage beteken "wat gesê word". Dit is dus 'n verhaal wat mondeling oorgelewer word. 'n Sage is 'n oorgelewerde verhaal met 'n historiese agtergrond, maar dit word so deur die verbeelding aangevul "dat die historiese kern haas verlore raak, sodat 'n mens aan 'n soort onbetroubare geskiedskrywing kan dink", aldus Grové in die Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans (1976: 98).
So bestaan daar sages oor Alexander, die Trojaanse oorlog, koning Arthur, Faust, en die vlieënde Hollander (vgl. LEGENDE).
Die uitbreiding van die werklikheid in die sage is realisties. Daardeur verkry dit geloofbaarheid. Tog speel die bonatuurlike dikwels 'n rol daarin. 'n Mens kry dus in die sage pratende diere en plante, kabouters, dwerge en reuse. Op hierdie manier ontstaan 'n tweedimensionaliteit waarin, soos Van Gorp (1986: 366) in Lexicon van literaire termen dit stel, "de gewone sterveling het onderspit (zal) delven". Omdat die hoofpersoon die onderspit delf, het die sage 'n tragiese karakter. Die held neem 'n sentrale plek in die sage in. Hy is altyd iemand wat oor buitengewone gawes beskik, hy verrig wonderlike heldedade maar sterf nogtans jonk en op 'n geheimsinnige wyse. In hierdie opsig verskil dit van die SPROKIE, wat altyd 'n gelukkige einde het. 'n Sage verskil van die MITE in die opsig dat 'n mite geheel en al 'n produk van die verbeelding is. In die sprokie voer die fantasie die botoon terwyl die sage wel 'n historiese basis het.
'n Onderskeid kan getref word tussen die volgende sages: geestewêreldsages wat handel oor aard-, water-, lug- en vuurgeeste; towerwêreldsages of sprookgeskiedenisse wat handel oor hekse, towenaars en towerboeke; historiese sages wat bv. handel oor rowers, historiese figure (bv. die heldesage oor Siegfried en Karel die Grote) en geboue en verklarende of etimologiese sages wat die name van diere, plekke en plante verklaar.
LEGENDE en sage word dikwels as sinonieme gebruik, soms ten onregte. Die sage en legende is wel verwant aan mekaar, omdat die legende ook 'n historiese basis het wat deur die verbeelding aangevul is.
(Vgl. EINFACHE FORMEN.)
Raadpleeg ook:
Jeggle, U. 1987. Die Sage und ihre Wahrheit. Der Deutschunterricht, 39(6).
Rohrich, L. 1984. Märchen – Mythos – Sage. In: Siegmund, W. (Hrsg.). Antiker Mythos in unseren Märchen. Kassel: Roth.
Anna-Marie Bisschoff