VERWYSING IN DIE LITERATUUR
Verwysing in die literatuur het, volgens die opvattings van die tradisionele teksgerigte kritiek betrekking op die tekstueel gemotiveerde verband van 'n uitdrukking-in-'n-situasie met (a) 'n fenomeen in die buitetalige ervaringswerklikheid of (b) 'n uitdrukking of begrip in dieselfde konteks of situasies of (c) 'n aspek van 'n ander teks of daardie teks as 'n geheel.
Die hantering van 'n kwessie soos verwysing in die literatuur moet uiteraard daarmee rekening hou dat verwysing as sodanig in die teksgerigte kritiek 'n funksie van taalgebruik in die algemeen is: dit is die vermoë om m.b.v. taal fenomene (sake of saketoedragte) in die werklikheid "uit te wys" (om hulle "te noem") en om oor hierdie benoemde sake of referente te kommunikeer.
Die basiese maniere waarop d.m.v. taal verwys kan word na referente waaroor gekommunikeer word, is deur eiename, soortname en/of deur bepaalde omskrywings (beskrywings van spesifieke eienskappe van die referent). So kan na 'n bepaalde historiese figuur verwys word deur hom/haar te noem: "Eugène Marais", of deur 'n gepaste beskrywing: "skrywer van Die siel van die mier".
Die verwysing as taalverskynsel is natuurlik veel meer gekompliseer as wat so 'n kort verduideliking laat vermoed; trouens die verskynsel verskaf boeiende materiaal vir sowel die filosofie en logika as vir verskillende linguisties-semantiese skole én die literatuurwetenskap. John Lyons (1977), een van die talle semantici wat al geskryf het oor die verhouding tussen 'n talige uitdrukking en nie-talige referent, sê bv. van die verwysing "... (it) has to do with the relationship which holds between an expression and what that expression stands for on particular occasions of its utterance". Omdat 'n uitdrukking in 'n kommunikasiesituasie minstens gedeeltelik sprekergebonde is, maak Lyons se beskouing voorsiening daarvoor dat suksesvol verwys kan word sonder dat daar noodwendig korrek verwys word. Dit is waar die waarnemende subjek inkom. As Leipoldt die konsentrasiekamp by Aliwal-Noord aan die "Vaal"-rivier situeer, dan weet die ingeligte leser dat hy die Oranjerivier bedoel, hoewel hy 'n verkeerde eienaam gebruik. Hoewel Leipoldt in sy gedig bloot 'n fout begaan het met sy lokaliserende verwysing, kan hierdie "vermoë" om taal in spesifieke situasies so te gebruik dat die korrekte referent met skynbaar "foutiewe" eiename of "onvanpaste" beskrywing aangedui word, in die literatuur met groot effek benut word, veral met SATIRIESE en IRONIESE effek.
Wat die verwysing in die literatuur egter 'n selfs komplekser verskynsel as in die nie-literêre kommunikasie maak, is die feit dat die situasie waarbinne 'n literêre werk begryp moet word, deur en in die taal self geskep moet word. In hierdie woordgeskape situasie kan taal gebruik word om a) na sake of toedragte te verwys wat in die eerste plek en selfs uitsluitlik in die totstandgekome situasie tuishoort, byvoorbeeld KARAKTERS, slot, e.d. Omdat die literêre situasie dinamies is, kan daar vanuit so 'n situasie terugverwysings na vroeëre gebeurtenisse en selfs vooruitwysings na latere gebeurtenisse aangetref word, of selfs verwysings na vroeëre of latere fases van dieselfde gebeurtenis. Omdat hierdie gebeurtenisse deur die taal self in aansyn geroep word, kan die formele aspekte van die taal benut word om bepaalde versweë aspekte van die verwysing te releveer. So gebruik Leroux stereotiepe naam-epiteta, soos bv. "die 'slank' Mrs Silberstein", om in 'n veranderde situasie, waar Mrs Silberstein nie meer so slank is nie, nie alleen die veranderde situasie te releveer nie, maar ook die feit dat dit eenmaal anders was.
Taal in 'n literêre teks kan egter ook gebruik word om afgesien van verwysings na die totstandgekome situasie, b) na ander tekste te verwys, en om ander taalsituasies só in die literêre situasie van die eg. teks te betrek. 'n Verstommende groot deel van ons kennis kom in taal verwerk en geprosesseer na ons toe. Voorbeelde hiervan is bv. die oor 'n historiese figuur soos Demosthenes en die mitiese figuur Herakles na wie Leroux in Die derde oog verwys, of die historiese skrywersfigure Cervantes en Eugène Marais, asook die literêre figuur (karakter) Kiesjót (Quijote) na wie Van Wyk Louw in sy gedig "Cervantes: Hommage à Eugène Marais" verwys. Omdat die kennis oor hierdie figure in so 'n hoë mate deur die taal gekanoniseer is, kan Van Wyk Louw bv., nadat hy die referente as 't ware geïdentifiseer en gelokaliseer het, kennis oor die figure kommunikeer wat in terme van die "werklike" (tradisioneel aanvaarde) toedrag van sake "foutief" is. Omdat hierdie gekommunikeerde "feite" deur die verwysing op die oorspronklike feite geprojekteer word, kan die "fout" in die konteks van die nuwe situasie relevant wees of funksioneel betekenis-implikatief optree: in die Cervantes/Kiesjót-geval is die rolverwisseling bv. ironies-implikatief.
Taal in die literêre situasie word nie net gebruik om na ander taalsituasies of TEKSTE te verwys nie: dit kan ook gebruik word om die taalgebruik in daardie tekste te herhaal ("aan te haal") en derhalwe ook die taalgebruik in die nuwe literêre situasie, soos in die geval van refreine. Die aanhalings kan woordelike herhalings van die bron wees soos die aanhaling uit Totius se Trekkerswee in Opperman se "Ballade van die Grysland", of noukeurige weergawes of min of meer vry bewerkte aanhalings soos Opperman se aanhaling van 'n anonieme vertaling van "Liid fan di diamant" in "Blom van die baaierd".
Sulke aanhalings kan dikwels op die een of ander manier, deur eiename (titels, skrywersname) of omskrywings (sinspelings) gelokaliseer word, maar dikwels word dit bloot deur sfyl of tipografiese aanbieding van die konteks onderskei en as aanhaling geïdentifiseer, d.w.s. sonder dat die bron self aangedui word. In Isis Isis Isis word Larousse bv. aangedui as die bron van die knolskrywer se kennis van die Isis-Osiris-mite, en in Magersfontein, o Magersfontein! word Muecke en Glicksberg (weliswaar "Muelcke" en "Glicksburg" gespel!) aangegee as die verteller se bronne oor die ironie. Daarteenoor is die Dante-verwysings in Opperman se "Nagedagtenis aan my vader" alleen in styl te onderskei van die konteks waarin hulle voorkom.
Taalgebruik in literêre situasies hoef natuurlik nie net na die totstandgekome woordsituasie of selfs ander tekste te verwys nie; die taal kan ook gebruik word om c) mededelings van 'n algemener aard, wat in verskillende situasies toepaslik kan wees, te maak, maar ook d) mededelings wat pertinent na die aktuele ervaringswerklikheid verwys en wat op die een of ander manier en in 'n mindere of meerdere mate kontroleerbaar is. So is daar in Brink se politieke romans verwysings na die Soweto-onluste van 1976, voorvalle van die dood in aanhouding van politieke gevangenes, die Bram Fischer-verhoor, ens.
Sowel tekstuele as aktualiteitsverwysings kan ingespan word om die "resonansie-ruimte" van die literêre kommunikasie te vergroot, maar of hulle dit wel doen en die wyse waarop hulle dit doen, kan eers vasgestel word wanneer hulle funksies binne die teks bepaal is. 'n Uitspraak soos dié dat die mitiese sisteem onderliggend aan Leroux se romans die norm of oer- of INTERTEKS is waarteen 'n deurlopende tema soos "die mens op soek na 'n geldige mite" gestalte kry, word dus eers werklik sinvol wanneer die funksies van die mitiese verwysings in 'n teks of selfs sy gehele oeuvre vasgestel is. Eers dan staan die mitologeem as geïmpliseerde norm "agter", maar tewens ook "in" die werk.
Een opsig waarin tekstuele en aktualiteitsverwysings waarskynlik verskil, is in hul betekenis-implikatiewe funksies. Waar verwysing na en aanhalings uit ander, geskrewe tekste betrekking het op gekanoniseerde kennis, d.w.s. kennis wat as bewese beskou word, is aktualiteitsverwysings (insluitend die in die nuusmedia) dikwels grotendeels nog nie gekanoniseer op die wyse wat geskiedenis-, vakwetenskaplike handleidings en literatuur kennis in die gemeenskap bestendig of "vaslê" nie. Afwykings van gekanoniseerde kennis in geskrewe bronne kan daarom in die literatuur geredeliker betekenis-implikatief benut word, veral ook omdat die taalaanbod mede-kommunikatief kan optree. Afwykings van kontemporêre nie-vasgelegde gegewens daarenteen, word minstens 'n tyd lank bloot as individuele vertolkings aanvaar. Dit was bv. die geval met die verskillende weergawes van die Soweto-opstande ten tye van die verskyning van Andre P. Brink se 'n Droë wit seisoen. Om hierdie rede moet in aktuele of politieke of dokumentêre literatuur ekstra maatreëls getref word om die "feitelike" status van kontroversiële materiaal te bevestig, soos in die geval van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena of Brink se 'n Droë wit seisoen.
Binne die raamwerk van die teksgeoriënteerde benaderings van die literatuur word aanvaar dat verwysings in die literatuur die "resonansieruimte" van werke betekenisvol kan uitbrei, maar dat elke werk sigself as 'n afsonderlike, selfregulerende geheel of eenheid handhaaf binne 'n groter ruimte of konteks. Oor die hele kwessie van selfgenoegsaamheid van die literêre werk en die verwysing in die literatuur is in die Afrikaanse konteks in die vyftiger- en sestigerjare uitvoerig gesprek gevoer – met insiggewende bydraes van Botha (1966), Grové (1978) en Du Plessis (1963).
Binne die raamwerk van die POSTMODERNISME en POST-STRUKTURALISME word die konsep verwysing in die literatuur vervang deur die idee van INTERTEKSTUALITEIT. Met dié term word eerstens erkenning gegee aan die waarneming dat die literêre teks 'n teks-tussen-ander-tekste is, maar ook aan die feit dat literêre tekste dikwels teruggaan op ander tekste (metatekste). Die literêre teks word beskou as as 't ware "ingeskryf' in die konteks of raamwerk van ander tekste, bv. binne die raamwerk van 'n GENRETRADISIE. 'n Literêre teks kom derhalwe telkens op die kruispunt van 'n menigvuldigheid van ander tekste te staan. Die volkome selfstandigheid van die literêre teks (soos deur die outonomie-benaderings aanvaar) word met hierdie opvatting van intertekstualiteit ontken.
Die kontemporêre benaderings erken egter ook dat die literêre teks bewustelik op ander tekste kan teruggaan d.m.v. byvoorbeeld herhalings, aanhalings of toespelings, of deur PARODIëRING.
Intertekstualiteit het egter nie net op taaltekste betrekking nie. In die SEMIOTIEK word die ganse ervaringswerklikheid as 'teks' beskou, bestaande uit 'n menigte 'subtekste', soos kultuur, religie, ekonomie, politiek en dergelike. Taaltekste, soos literêre tekste, word dan gesitueer t.o.v. hierdie ander 'tekste' wat die betekenis(se) daarvan beïnvloed. Die literêre teks word derhalwe gesien as 'n betekenisknoop wat in die weefproses van die teksgebeure na verskillende kulturele KODES verwys.
(Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK.)
Bibliografie
Botha, E. 1966. Verwysing en vertolking. 'n Studie n.a.v. Etienne Leroux: Een vir Azazel. In: Van Heerden, E. (red.). Smal swaard en blink. Pretoria: Academica.
De Klerk, W.J. 1978. Inleiding tot die semantiek. Durban: Butterworth.
Du Plessis, P.G. 1963. Sakspieëltjies vir 'n raaisel. Standpunte, 16(6).
Du Plessis, P.G. 1968. Die verwysing in die literatuur. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Grové, A.P. 1978a. Die lied van die diamant. In: Grové, A.P. Fyn net van die woord. Goodwood: Nasou.
Grové, A.P. 1978b. Die towenaar in die fles. In: Grové, A.P. Fyn net van die woord. Goodwood: Nasou.
Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Cambridge University Press.
Ronèl Johl