VERTALING VAN LITERêRE TEKSTE
Enigiemand wat vertaling wil bestudeer, betree 'n terrein waarin geleerdes nie alleen in beginsel oor die teorie van mekaar verskil nie, maar ook oor die professie en die status van die vertaler. Daar bestaan meningsverskille oor byna elke aspek van vertaling, vanaf norme tot tegnieke, en van vertaalbaarheid tot die evaluering van vertalings. 'n Mens hoef slegs 'n boek oor vertaling oop te slaan om te besef dat skrywers van meet af aan klagtes gehad het oor die stand van die dissipline. Savory (1968: 9) verklaar bv. uit die staanspoor dat vertalers mekaar weerspreek "about almost every aspect of their art". Nog verder (1968: 49) wys hy op die gevolge van die meningsverskille as hy byvoeg dat daar geen universeel aanvaarde kriteria vir vertaling bestaan nie, omdat die enigste mense wat in staat is om sodanige kriteria te formuleer so dikwels en so volgehoue van mekaar verskil, dat 'n ongeëwenaarde verwarring tans t.o.v. vertaling heers.
Meer onlangse werk gaan steeds in hierdie trant voort. Holmes (1972) verklaar kategories: "Most of the theories that have been produced to date are in reality little more than prolegomena to such a general translating theory." Hy som dit op met 'n verklaring dat 'n groot gedeelte van die teorieë nie die benaming teorie waardig is nie, aangesien dit bestaan uit blote aksiomas, postulate en hipoteses. Selfs nog meer onlangs het Toury (1980a: 7) vir Holmes in die inleiding tot sy boek, met die veelseggende titel In Search of a Theory of Translation, soos volg aangehaal: "In the years that have elapsed since, very much has been done in the young but rapidly developing discipline of translation studies, but in spite of the growing number of publications on various aspects of the discipline and of its subject matter alike, the awaited general theory of translation is still very much wanted."
Baie teorieë random interlinguale vertaling, om Roman Jakobson (1959: 232) se term te gebruik, is heel gepas gebaseer op die vergelykende taalwetenskap (Toury, 1980a: 20-25) (soos bv. die verband tussen die brontaal en die doeltaal). Deur "transfer operations performed on one semiotíc entity, belonging to a different system, to generate another semiotic entity, belonging to a different system" ontstaan verskeie sisteme wat verband hou. Hierdie sisteme moet geanaliseer word om o.a. vertaalbaarheid vas te stel en die ontdekking van moontlike oplossings van vertaalprobleme op die linguistiese vlak te bewerkstellig.
Maar mag 'n mens werklik aanneem dat die prosedure ('n blote vergelykende analise) wat voldoende was vir 'n linguistiese teks ook sal voldoen aan die eise van 'n literêre teks? Dit bring ons by die vraag of daar 'n verskil is tussen natuurlike taal en literêre taal.
So vreemd as wat dit in ons tyd mag klink, is dit 'n geregverdigde vraag. André Lefevere, 'n lid van die sg. Lae Landegroep (die ander is Even-Zohar, Toury, Holmes, Van den Broeck en Lambert) het in 1981 in 'n artikel oor die vertaling van literêre tekste te kenne gegee dat daar nie regtig 'n groot verskil tussen hierdie twee taalvorme is nie. Hy grond sy stelling op die feit dat skrywers soos Brecht en Camus in hulle werk van "very ordinary language" gebruik maak. Hy stel dan die vraag of die werke om hierdie rede as nie-literêr beskou moet word.
Dit is in hierdie stadium geregverdig om twee vrae, waarvan die een 'n uitloper van die ander is, te stel: hoe definieer Lefevere die begrip literariteit en hoe onderskei hy tussen literêre en nie-literêre werke? Verder kan van Lefevere se gebruik van die uitdrukking "very ordinary language" afgelei word dat hy impliseer dat die woordeskat van 'n teks die bepalende faktor in die onderskeiding tussen literêre taal en nie-literêre taal is, 'n kriterium wat baie min hedendaagse geleerdes bereid sal wees om te aanvaar.
Nog 'n lid van die Lae Landegroep, Gideon Toury (1980a: 36), gaan nie heeltemal so ver nie: omdat 'n literêre teks per definisie ook 'n linguistiese teks is, sê hy, sal al die algemene kenmerke van vertaling ook daarop van toepassing wees. Hy kwalifiseer egter onmiddellik sy stelling deur te sê dat die literêre KODE, wat 'n sekondêre modelvormende sisteem is ('n uitdrukking wat aan Jurij Lotman (1977) se terminologie herinner), op die linguistiese teks inwerk en "may alter or modify the identity it acquired by virtue of its position within the overall linguistic system".
Al aanvaar Toury (1980a: 35-40) dus dat daar 'n verskil tussen die alledaagse gebruikstaal en literêre taal bestaan, vind 'n mens nêrens in sy artikel met die titel "Translated literature: system, norm, performance" 'n duidelike definisie van die begrip literariteit of 'n aanduiding van hoe 'n vertaler die "identiteitsverandering" wat deur die sekondêre modelvormende sisteem (die literêre kode) teweeggebring word, moet raaksien nie. Hoewel daar verder melding gemaak word van die verhoudings van elemente binne 'n sisteem in die teks, is daar geen aanduiding vir die vertaler hoe om hierdie verhoudings te gebruik om tot 'n geldige interpretasie van die teks te kom nie – 'n proses wat noodwendig 'n vertaling vooraf moet gaan.
'n Mens is bewus daarvan dat Toury se teorie eerder op die doelteks as op die bronteks gerig is, en dat sodanige teorie meer begaan is oor die vraag of B as die vertaling van A funksioneer asof dit 'n vertaling van A is. Nogtans mag 'n mens vra hoe dit van 'n vertaler verwag kan word om 'n doelteks voort te bring wat as 'n ekwivalent van die bronteks funksioneer, as dit vir hom onmoontlik is om deur HERMENEUTIESE interpretasie die sistematiese verband wat uit die "relevant features" van die teks ontstaan (om Toury se terminologie te gebruik) raak te sien.
Afgesien van Lefevere se voorkeur vir die vertaalproduk eerder as die verkenning van die vertaalproses (1981: 19-20), moet 'n mens toegee aan die hipotese dat 'n hermeneutiese vertolking noodwendig die vertaalhandeling moet voorafgaan. (Wat die rol van interpretasie betref, vgl. Leal, 1982.)
Aan die ander kant spreek dit vanself dat 'n hermeneutiese interpretasie 'n kennis van die kenmerke van die literêre teks (teenoor die linguistiese teks), d.w.s. van literariteit, vereis.
Hoe sou 'n mens dan die begrip literariteit definieer?
D. Fitts (1959: 37) bespreek in sy artikel "The poetic nuance" o.a. die verskil tussen 'n gedig en sy parafrase en voer aan dat 'n mens nie kan sê dat die parafrase die algemene riglyn of selfs die "betekenisinhoud" van die gedig weergee nie. Iets kom kort, "and what is missing of course is the complex detail that establishes a poem and distinguishes it from any other kind of utterance".
In "Third Thoughts on Translating Poetry" skryf Jackson Matthews (1959: 73) die volgende: "Poetry is a kind of writing that uses all (kurs. van my) the resources of language. It is involved bodily in the particular language of which it is made and does not evolve out of it."
Wellek en Warren (1963: 23) in hulle Theory of Literature meen dat die verskil tussen 'n literêre en nie-literêre teks geleë is in die taal self, in "the awareness of the sign itself. Verder kom hulle tot die gevolgtrekking dat "a literary work of art is not a simple object but rather a highly complex organisation of a stratified character with multiple meanings and relationships" (Wellek & Warren, 1963: 27).
F.C. Maatje (1977: 13) verwys na die literêre werk as 'n taaluiting wat uit taaltekens bestaan. Maar die verskil tussen die alledaagse gebruikstaal en literêre taal is dat die tekens in die lg. geval nie referensieel van aard is nie, volgens Maatje.
Yakoubinski (in Todorov, 1965: 39) het in 1916 die verskil tussen die twee vorme van taal ondersoek: "Taalverskynsels behoort geklassifiseer te word uit die oogpunt van die doel wat die sprekende subjek in elke spesifieke geval beoog. As hy hulle gebruik vir 'n suiwer prakties kommunikatiewe doel, behels dit die sisteem van die alledaagse taal (die verbale denke) waarbinne die taalformante (klank, morfologiese elemente, ens.) nie 'n outonome waarde het nie en niks anders as 'n kommunikasiemiddel is nie. Maar 'n mens kan jou ander taalsisteme indink (en hulle bestaan inderdaad) waar die praktiese doel terugskuif na die tweede vlak (maar natuurlik nie heeltemal verdwyn nie) en die taalformante dan 'n outonome waarde verkry" (eie vertaling).
Jurij M. Lotman (1977: 8) het in The Structure of the Artistic Text taal gedefinieer as "any communication system employing signs which are ordered in a particular manner". Hy het dan ook onderskei tussen drie tipes taal: natuurlike tale: Russies, Frans, ens.; kunsmatige tale: die tale van die verskillende wetenskappe, METATALE, die tale van padtekens, ens.; sekondêre tale (sekondêre modelvormende sisteme): kommunikatiewe strukture wat inwerk op die natuurlike linguistiese vlak (MITE, religie, kuns).
Omdat literatuur 'n kunsvorm is, is dit dus 'n sekondêre modelvormende sisteem. Lotman (1977: 10-11) se beskouing oor literêre of poëtiese taal is so kernagtig dat dit liewer aangehaal as geparafraseer moet word: "Poetic speech is a structure of great complexity. It is considerably more complicated than natural language. And if the volume of information in poetic speech (verse or prose – here the distinction is unimportant) and in ordinary speech were identical, artistic speech would lose its right to exist and, indisputably, would die out. But the case is somewhat different. A complicated artistic structure, created from material of language, allows us to transmit a volume of information too great to be transmitted by an elementary, strictly linguistic structure. It follows that the information (content) given can neither exist nor be transmitted outside this artistic structure."
Dit kom presies ooreen met Schleiermacher se bewering van meer as 'n eeu gelede. Hy (vgl. Gadamer, 1975: 165) beweer dat dit wat in 'n literêre werk gesê word, nie geskei kan word van die manier waarop dit gesê word nie.
Uit al die bg. beskouings kan die gevolgtrekking gemaak word dat 'n literêre teks van 'n nie-literêre teks verskil omdat al die potensialiteite van die taal in die literêre teks ten volle benut word. Om Lotman (1977: 29) se uitdrukking te gebruik: daar vind "SEMANTISERING" van die nie-semantiese elemente van die natuurlike taal (bv. op die vlak van die fonologie, die sintaksis, ens.) plaas wat 'n dinamiese verhouding tussen die verskillende elemente binne die georganiseerde struktuur bewerkstellig, wat dan 'n sekondêre of gesimboliseerde betekenis aan die teks verleen.
Die onvertaalbaarheid van die literêre teks geld veral in die gedig. In die ROMAN en DRAMA is die onvertelbare elemente soos bv. die taalklank en -ritme minder geëksploiteer as in die gedig en die onoordraagbare versvorm ontbreek in die roman en drama.
Die voorgaande opmerkings maak dit noodsaaklik om die vraag te vra of poësie inderdaad vertaalbaar is. Dit is 'n kontroversiële onderwerp en baie beroemde geleerdes het hulle al vir én teen die vertaling van literêre tekste uitgespreek.
Dante, een van die wêreld se grootste digters, was reeds in die 13e eeu van mening dat dit onmoontlik is om poësie te vertaal "(without) destroying all its sweetness and harmony" (Erbe, 1964: 5). 'n Soortgelyke standpunt word deur meer onlangse digters soos Valéry en Nabokov gehuldig. In lg. se On translating "Eugene Onegin" staan die volgende: "What is translating? On a platter / A poet's pale and glaring head / A parrot's screech, a monkey's chatter / A profanation of the dead" (Steiner, 1975: 329).
Sekere hedendaagse geleerdes is dit ook met mekaar eens dat dit onmoontlik is om poësie te vertaal. Jack Matthews het bv. in sy "Third thoughts on translating poetry" onomwonde verklaar dat "to translate a poem whole is to compose another poem". Roman Jakobson (1959: 238) beweer dat, aangesien die poësie bepaal word deur die verband tussen foniese en semantiese eenhede, poësie uiteraard onvertaalbaar is.
KLANK is een van die elemente van die poësie wat die hardnekkigste weerstand bied teen vertaling. Selfs met 'n goeie hermeneutiese interpretasie is dit selde moontlik om die volle simboliese implikasies en kommunikasie, soos dit in die klankpatroon gerealiseer word, op die doelteks oor te dra. Met verwysing na die belangrikheid van die klank sê Maatje (1977: 236) dat dit as struktuurelement "zo zwaar weegt" dat vertaling onmoontlik word.
In Boris Schnaiderman (1980: 9) se bespreking van 'n gedig wat voorkom in Poesjkin se kortverhaal "Die koningin van skoppens" wys hy op talle verbande tussen die klank en semantiese elemente van die gedig: die "nienástnie dni" wat "dae met gure weer" beteken, word gesimboliseer in die voortdurende herhaling van die foneme n, s en t. Die uitwerking hiervan grens vir hom aan die onomatopeïese.
Onomatopeë is in die meeste gevalle onvertaalbaar. Met verwysing na die probleem, merk Wolfgang Kayser (1976: 106-107) op dat die Germaanse tale ryker is aan onomatopeiese woorde as die Romaanse tale. Met behulp van 'n "onomatopeïese" gedig van Anette von Droste-Hulshoff illustreer hy die onvertaalbaarheid van 'n Duitse gedig in 'n Romaanse taal: "Der schwankende Wacholder flüstert, / Die Binse rauscht, die Heide knistert / Und stäubt Phalänen um die Meute, / Sie jappen, klaffen nach der Beute ..." (kurs. van my).
Ook die RITME, wat in die eerste plek bestaan uit 'n afwisseling van beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe (of lang en kort lettergrepe) leen hom nie tot vertaling nie. Die probleme word onoorkomelik as 'n mens in gedagte hou dat daar, behalwe hierdie soort ritme, ook 'n ritme bestaan wat die gevolg is van sinsintonasie, en 'n ritme wat Eichenbaum (1978: 76) die harmoniese ritme noem (bv. as gevolg van alliterasie).
Die gedig "Danca" ("Dans") van Carlos Gabriel (in Cautela & Ferreira, 1965: 113) steun swaar op die drie soorte ritmes wat hierbo genoem is en is inderdaad 'n goeie voorbeeld van die onvertaalbaarheid van die ritme. Die onwelluidenheid van die gedig wat aan die presiese herhaling van die eerste tien versreëls ná die eerste punt gekoppel kan word, simboliseer die onaangename eentonigheid van die lewe. Die belangrikheid van die ritme as 'n integrale struktuurelement van die gedig maak dit onmoontlik om die woorde bloot semanties om te sit in 'n ander taal. In so 'n geval sal die doelteks nie as 'n ekwivalent van die bronteks kan funksioneer nie.
In gedigte waarin sekere woorde 'n noue verbintenis met ander woorde aangaan om nuwe semantiese strukture te vorm en nou samehangende tekstemiese verhoudinge te bewerkstellig, word vertaling ook 'n probleem. "Solimão" van Norberto Avila (in Silveira, 1977: 306-307) is 'n voorbeeld van so 'n gedig. Die woord "Solimão" (die naam van die sultan) kan sonder twyfel geassosieer word met die woorde "Só limão" ("slegs 'n suurlemoen"), wat met die onaangenaamheid van sy dood verband hou, sowel as met "Sol e mão" ("son en hand"), wat verwys na die sultan se desperate poging om die lewe te behou. Trouens, die woord "Solimão" bevat in homself reeds altwee die ander betekenisse, en kan verder op grond van klankooreenkomste geassosieer word met die woord "Solidão", wat "eensaamheid" beteken.
Nie-semanties kommunikatiewe gedigte en onsinrympies is op leksikale vlak ook uiteraard onvertaalbaar. Dieselfde geld vir eksperimentele gedigte, soos bv. Ana Hatherly se "O escritor" ("Die skrywer"), waarin letters en tekens byna na willekeur oor die bladsy gesaai lê. Vergelyk in Nederlands die onvertaalbare visuele elemente in Van Ostaijen se gedigte.
'n Sinryke vertaling van poësie wat al die implikasies van die poëtiese struktuur sal bevat, is onmoontlik. Nogtans is daar vir elke stem teen vertaling van literêre tekste ook 'n voorstander. Een van die hedendaagse ondersteuners van vertaalde poësie, André Lefevere, het onlangs geskryf dat die vertaling van 'n literêre werk meer waarde het as die werk van die kritici, omdat dit 'n groter mate van wetenskaplikheid vertoon. Lefevere (1981: 24) ontken nie dat daar 'n "verlies" met enige vertaling gepaard gaan nie, maar by beskou hierdie "verlies" as deel van enige kommunikasieproses en daarom nie 'n afdoende rede om die bestaansreg van 'n vertaling te bevraagteken nie.
Popovič (1977) huldig 'n gematigder standpunt. Hy gee toe dat 'n vertaling nie altyd op alle vlakke van die teks (fonologies, morfologies, sintakties, leksikaal, ens.) gerealiseer word nie, maar dat dit deur die opbou van die doelteks m.b.v. die verbintenisse wat tussen die verskillende struktuurvlakke ontstaan, tog moontlik is om 'n meer aanvaarbare vorm van herkodering tot stand te bring.
Die standpunt oor die vertaalbaarheid of onvertaalbaarheid van die gedig hang af van ons opvatting van die poësie. As 'n mens 'n onderskeid tref tussen VORM EN INHOUD, en lg. as die waardevolste komponent beskou, en ook aanvoer dat daar geen verskil tussen literêre taal en nie-literêre taal bestaan nie, dan is poësie inderdaad vertaalbaar. As 'n mens egter die vorm as die inhoud beskou, en sake soos klank, tipografie en die semantisering van nie-semantiese elemente onlosmaaklik as die manifestering van die konsepte van die gedig beskou , dan is poësie, soos Jakobson gesê het, uiteraard onvertaalbaar.
Maar watter argumente 'n mens ook al mag aanvoer ter ondersteuning van die feit dat poesie in vertaalde vorm maar 'n powere afskynsel is van die oorspronklike, sal vertalers voortgaan om poësie te vertaal. Soos Alan Ross dit nogal pittig gestel het (Weissbort, 1981: 5): "I learnt something else from the Oxford book. There are translators of poetry lurking under every stone, quite ferocious in their urge for self-promotion. Translation can become a soothing mechanical habit for non-poets – something like knitting."
Wat hierbo van die vertaalbaarheid of onvertaalbaarheid van die gedig gesê is, geld mutatis mutandis ook vir die VERSDRAMA.
Hoewel die nie-vertaalbaarheid van die literêre werk waarskynlik die beste aan die hand van die poësie geïllustreer kan word, is die vertaalbaarheid van literêre prosa (en dit sluit die prosadrama in) ook nie sonder probleme nie. Daar is sekere areas van die literêre prosa wat die vertaler beslis koudsit. Die volgende paar voorbeelde behoort dit te illustreer.
Eiename, bv., kan gewoonlik nie bevredigend in die doeltaal omgesit word nie, aangesien hierdie name betekenisvol in die totale teks van 'n roman mag wees. Die hoofkarakter in Eça de Queirós se roman A reliquia (Die relikwie) se naam is Raposo, wat "jakkals" beteken. Dit is 'n goeie beskrywing van sy sluwe en skynheilige geaardheid. In ander gevalle, soos in O primo Bazilio (Neef Basilio) van dieselfde outeur kan die funksie van die eienaam weer anders wees; een van die karakters staan bekend as D. Felicidade, wat "mevrou Geluk" beteken, terwyl sy inderdaad 'n baie ongelukkige vrou is. Omdat eiename gewoonlik nie vertaal word nie, sal die ironie in haar naam beslis in 'n vertaling verlore gaan, net soos die implikasies van Raposo se naam in 'n vertaling aan die leser sal verbygaan.
Verkleinwoorde en vergrotende vorme word soms met 'n spesifieke doel gebruik. In O crime do Padre Amaro (Die sonde van vader Amaro) ook deur Eça de Queirós, word altyd na een van die karakters, Libânio, verwys in die verkleiningsvorm van sy naam, Libaninho; sy spraak wemel ook van verkleinwoorde; "Coitadinho", "filhinha", "gordinha", "Mélinha", "Adeusinho", ens. Hoewel die leser eers later in die roman besef dat hy 'n homoseksueel is, het die verteller dit reeds vanaf die eerste voorstelling van die karakter op subtiele wyse, deur die oordrewe gebruik van verkleinwoorde in Libânio se spraak, aan die leser uitgewys. Omdat dit in 'n vertaling baie moeilik is om sulke nuanses weer te gee, sal dit vir 'n leser onmoontlik wees om teen die einde van die roman voorbedag te wees op die onthulling van Libânio se homoseksualisme. Nie alleen sal die trefkrag verlore gaan nie, maar die hele proses van *karakterisering sal oneg aandoen.
Byname, wat dikwels beskrywend is, is ook moeilik vertaalbaar. In Eça de Queirós se A ilustre casa de Ramires (Die roemryke huis van Ramires) kry Castanheiro die bynaam Patriotinheiro, wat 'n verkleinerende afleiding van die woord "patriot" is. Hiermee word die beheptheid van die Romantiek met die nasionalisme sterk gekritiseer. Die simboliese betekenis word versterk deur die klankooreenkoms tussen Castanheiro en Patriotinheiro. T.T. Cloete (1980: 16) toon aan dat die belangrikheid van klank inderdaad nie net beperk tot die poësie is nie – dit het ook implikasies vir die prosa. Nog 'n voorbeeld hiervan is die name van die twee hooftarakters in Die sonde van vader Amaro, Amaro en Amelia. Die klankooreenkomste verbind die twee karakters, selfs nog voordat vader Amaro op die jong meisie, Amelia, verlief raak. In Die relikwie kry Raposo die bynaam Raposào (wat 'n negatiewe betekenis aan die naam toevoeg) nadat hy begin omgaan met dames van twyfelagtige sedes en terselfdertyd die skyn van godsdienstigheid probeer voorhou.
Die spraakeienaardighede en maniërismes van sekere groepe, subkulture en periodes is dikwels ook onvertaalbaar, omdat dit deel vorm van die kern van daardie kultuur en moeilik in die doeltaal weergegee kan word, 'n Portugese leser sal Libaninho aan sy spraak onmiddellik as 'n homoseksueel herken, terwyl dit moontlik nie sal gebeur by 'n leser van 'n ander taalgroep wat die werk in 'n vertaalde vorm lees nie. Die karakters in die roman van Aquilino Ribeiro gebruik die streektaal van die Portugese provinsie Beira. Hulle taal gee die leser 'n kykie in die gees van mense wat gevorm is deur die aanraking met die ontberinge van ongunstige klimaatstoestande en 'n harde land. Hulle kommunikatiewe kode kan beswaarlik deur 'n buitestaander begryp word. Die sintaksis van 'n 15e-eeuse Portugese literêre teks openbaar 'n bepaalde gesigspunt wat verlore kan gaan as dit vertaal word, omdat 'n teks nie net kultuurgebonde is nie maar verankerd is in die tyd waarin dit geskryf is.
Woordorde in die prosa is nie slegs 'n saak van die sintaksis nie maar ook van die komposisie (Cloete, 1980: 13-14) en kan daarom implikasies hê waaraan 'n vertaling moeilik reg kan laat geskied, moontlik ook a.g.v. die verskillende sintaktiese strukture van die doeltaal. In Genesis 22 (uit die nuwe vertaling van die Bybel (1983)) word God se opdrag aan Abraham so weergegee: "Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat ek vir jou sal aanwys." In die Hebreeus verskil die woordorde: "Vat jou seun, jou enigste seun, wat jy liefhet, Isak, en gaan ..." Hieruit is dit duidelik dat dit vir die Jode van die tyd belangriker was om God te gehoorsaam as dat Isak geoffer sou word. In die Hebreeuse weergawe maak die menslike perspektief plek vir die meer relevante Goddelike opdrag. Dit gebeur nie in die vertaling nie.
Selfs as spreekwoorde of idiomatiese uttdrukkings wat soms in 'n roman voorkom ekwivalente in die doeltaal het, kan hulle in 'n vertaalde vorm in die totale teks van die roman hulle trefkrag verloor. Hoewel die volgende voorbeeld nie uit 'n roman kom nie, kan dit die probleem uitlig. Die Portugese sê: "puxar a brasa à sua sardinha", wat letterlik beteken: "om die brandende kool nader aan jou sardientjie te trek". In Engels sal die spreekwoord weergegee word met: "to bring grist to one's mill".
'n Mens kan dus tot die gevolgtrekking kom dat hoewel die storie van 'n roman toereikend in die doeltaal omgesit kan word, die simboliese implikasies van die struktuurelemente nie altyd in 'n vertaling tot sy reg kan kom nie; en daarom kan 'n mens nie sê dat die doelteks die ekwivalent van die bronteks is nie. Die kommersiële vertalings van groot romans, waaraan 'n mens mettertyd gewoond geraak het, hou die voordeel in dat dit die gewone mens bekend stel aan goeie literêre werke, maar dit kan op grond van die verliese waarna hierbo verwys is, nie die kenner tevrede stel nie.
(Vgl. LITERATUUR.)
Bibliografie
Ávila, N. 1977. "Solimão". In: Silveira, P. Poesia acoriana do século XVIII a 1975. Lisboa: Da Costa.
Basnett-McGuire, S. 1980. Translation Studies. London: Methuen. (New Accents).
Bausch, K.R. & Gauger, H.M. (Hrsg.). 1971. Interlinguistica-Festschrift zum 60. Geburtstag von Mario Wadruszka. Tübingen: Niemeyer.
Brower, R.A. (ed.). 1959. On Translation. New York: Oxford University Press.
Cautela, A. & Ferreira, S. 1965. Poesia Portuguesa do pósguerra; 1945—1965. Lisboa: Editoria Ulisseia.
Cloete, T.T. 1980. Literêre diskursus. Bloemfontein. (SAVAL-Kongresreferate.)
Eça De Queirós, J.M. s.a. A ilustre casa de Ramires. Lisboa: Livros do Brasil.
Eça De Queirós, J.M. s.a. O crimo do Padre Amaro. Lisboa: Livros do Brasil.
Eça De Queirós, J.M. s.a. O primo Bazilio. Lisboa: Livros do Brasil.
Eça De Queirós, J.M. s.a. A reliquia. Lisboa: Livros do Brasil.
Eichenbaum, B. 1978. A teoria do método formal. In: Todorov, T. (red.). Teoria da literature (vert. I. Pascoal). Lisboa: Edições 70.
Erbe, H. 1964. The Violet in the Crucible: on Translating Poetry. Grahamstown: Rhodes University.
Fitts, D. 1959. The poetic nuance. In: Brower, R.A. (ed.). On Translation. New York: Oxford University Press.
Gabriel, C. 1965. "Dança". In: Cantela, A. & Ferreira, S. Poesia Portuguesa do pós-guerra: 1945-1965. Lisboa: Editoria Ulisseia.
Gadamer, H.G. 1975. Truth and Method. London: Sheed & Ward.
Hatherly, A. 1977. "O escritor". In: Tamen, P. 20 anos de poesia Portuguesa. Lisboa: Moraes.
Holmes, J.S. 1972. The Name and Nature of Translation Studies. Amsterdam: Translation Studies Section, Department of General Literary Studies, University of Amsterdam.
Jakobson, R. 1959. On linguistic aspects of translation. In: Brower, R.A. (ed.). On Translation. New York: Oxford University Press.
Kayser, W. 1976. Análise e interpretação da obra literária Coimbra: Amado.
Leal, L.A. de V. 1980a. Breyten in Portugees het foute. Die Vaderland, Mei. 29.
Leal, L.A. de V. 1980b. Suurlemoene en sonneblomme: Montale in Afrikaans. Die Vaderland, Apr. 24.
Leal, L.A. de V. 1982. Literary structure, interpretation and transation. Potchefstroom. (SAVAL Congress Papers.)
Lefevere, A. 1981. Theory and practice – process and product. Modern poetry in translation, 41-43.
Lotman, J.M. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. R. Vroom). Michigan: Arbor.
Maatje, F. 1977. Literatuurwetenschap. Utrecht: Bohn, Scheltema & Holkema.
Matthews, J. 1959. Third thoughts on translating poetry. In: Brower, R.A. (ed.). On Translation. New York: Oxford University Press.
Nida, E.A. 1959. Principles of translation as exemplified by Bible translating. In: Brower, R.A. (ed.). On Translation. New York: Oxford University Press.
Popovic, A. 1980. Translation as communication. In: Toury, G. (ed.). The Art of Translation – A Reader. Tel Aviv: Department of General Literature.
Savory, T.H. 1968. The Art of Translation. London: Cape.
Schmidt, S.J. 1975. Literaturwissenschaft als argumentierende Wissenschaft. München: Fink.
Schnaiderman, B. 1980. Hybris da tradução, hybris da análise. Colóquio letras, 57.
Silveira, P. 1977. Poesia açoriana do século XVIII a 1975. Lisboa: Da Costa.
Steiner, G. 1975. After Babel. London: Oxford University Press.
Todorov, T. 1965. Théorie de la littérature: textes des formalistes russes. Paris: Seuil.
Toury, G. 1980a. In Search of a Theory of Translation. Tel Aviv: The Porter Institute of Semiotics.
Toury, G. (ed.). 1980b. The Art of Translation – A Reader. Tel Aviv: Department of General Literature.
Weinrich, U. 1953. Languages in Contact: Findings and Problems. The Hague: Mouton.
Weissbort, D. 1981. Editorial. Modern poetry in translation, 41-42.
Wellek, R. & Warren, A. 1949/1963. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.
Wilhelm, J. 1971. Zum Problem der literarischen. Übersetzung. In: Bausch, K.R. & Gauger, H.M. (Hrsg.). Interlinguistica-Festschrift zum 60. Geburtstag von Mario Wadruszka. Tübingen: Niemeyer.
L.A. de V. Leal